Digstring. ” ‘n ontstaan ” (Fransi Nieuwoudt)

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

*

‘n ontstaan

Stephen Hawking – Theory of Everything

 

elke nou en dan

knal

‘n ander heelal

 

uit die aarspat

van vorige spoelsels

 

‘n waterengel met hoewe

skud maanhare

en donker druppels verdrink

verrukte ruiters

alle liggeworde

skeppings dra eers swaar

 

in gelaaide stilte

ontvlug eenhorings

na ‘n buite wat aanhou strek

 

slegs helde of harpies durf

die godesirkel aan

en runnik houtgerus

met ysterkloue

wat die gulsige krop

van binne-af

ingord     oopspalk

 

swart gate sluk

dit wat oud is

spoeg nuwe sterre uit

 

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

In ‘n gelukkige-per-ongeluk-oomblik het my Google-soektog my na die dokumentêr “The Theory of Everything” i.p.v. na die fliek (2014) gelei. Ek was in die sewende hemel, want ek kon die eggo tussen die wetenskap en my eie metafisiese siening voel en hoor.

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar was verskeie, verskeie, verskeie weergawes.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Ek het die swartgat onmiddellik as ‘n roofdier gesien. Oorspronklik as ‘n luislang. Iets wat honger wag vir prooi. En die “slagoffer” uiteindelik as iets wat self tande het. Ek het egter gesukkel om die wetenskaplike terminologie met die inherente passie van ideologie te versoen. Dit was eers met die vraag oor die doel van die gedig wat ek die antwoord in die vorm van die volgende vrae gevind het: “Ek wonder hoe my skeppingsmite klink? Watter storie vertel my Eureka-oomblikke?”

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek hou van vrye vers, die bewussynstroomtegniek en ongewone halfrym (bv. eers met die sesde reël of in die middel of begin van ‘n volgende reël). ‘n Swartkolk wat nuwe sterre vonk, het vir my dieselfde tipe gevoel van onverwags of aweregs.  Ek het o.a. navorsing gedoen oor die storie-elemente van mites, mitologieë, mitologiese monsters soos die Skotse watergees (Kelpie), die Trojaanse Oorlog (eens as ‘n legende beskou), kosmogonieë, Hawking-bestraling, die wet van aantrekkingskrag en gravitasiekolke.

Ek is mal oor die metafisiese reikwydte van mites en argetipes. Dus dalk ‘n eklektiese benadering.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ja, die PP-slypskole was die aanblaser van die vlam en Cordis Trust was my Goeie Fee. Die borgskap het o.a. ‘n digmentor, René Bohnen, asook ‘n redakteur, Dr. Marlies Taljard, ingesluit. Hulle is briljant!

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers het ‘n paar jaar later in my debuutbundel, ‘n vlerkslag van kleur, verskyn wat in 2016 deur Cordis Trust Publikasies uitgegee is.

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die mite (fiksie) verbeeld die wetenskaplike teorie (feit) wat dan op sy beurt weer as die interpretasie (fiksie) vir ‘n eie waarheid/oortuiging (feit) dien. Deurspek en spekskiet… geestesgoed asem disfemisties tog maar altyd die skepper se asem.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die mite dien as ‘n verklaring vir die natuurlike fenomeen (Hawking-bestraling). Laasgenoemde transformeer dan tot ‘n simbool van ‘n eksistensiële waarheid.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die dokumentêr was dalk die nuutste katalisator, maar daar was ‘n boek in my ouerhuis wat tot my eerste gedagtes oor werklikhede as stories en vice versa gelei het. Dit was P.J. Conradie se boek “Avonture van die Griekse helde en gode”. Daar was talle kantaantekeninge wat die ooreenkomste tussen die mitologie en bybelstories uitgewys het.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee, nie werklik nie.  Ek dink kunstenaars skep aanhoudend selfportrette. Ons skep ‘n gelykenis van ons verhouding met Self (egoloos) en daaruit vloei die verhouding/verbintenis/gesprek met ander uiteindelik voort. Dit gaan oor die vreugde en pret van die skeppingsproses. Die vreugde van ewige metamorfose. Terugvoer is beslis ook lekker en goed, maar die proses as sulks is waar die grootste vreugde vir my lê.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Liminale ruimtes mag dalk isolerend voel en dikwels gekenmerk word met angs en onsekerheid, maar volgens Turner is dit ook die ruimtes van potensiaal. “Liminality may perhaps be regarded as the Nay to all positive structural assertions, but as in some sense the source of them all, and, more than that, as a realm of pure possibility whence novel configurations of ideas and relations may arise” (1967: 97).

Ek dink hierdie gedig is een van die enkeles in die bundel wat wel tot by die  drumpel kom. ‘n Drumpel wat bly skuif.  Ek hou van tussenruimtes. Ek hou van die vreugde van vloei wat ‘n mens veral daar kan vind.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee.

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek was op daardie tydstip tevrede met die vers. Daar is ‘n skildery wat al langer as ‘n dekade saam met my groei. Elke nou en dan verander ek iets daaraan. Deesdae probeer ek egter om aan my “voltooide” werke as foto’s te dink: Herinneringe of die springaar vir ‘n nuwe idee.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het nie regtig terugvoer van lesers oor die vers gekry nie, maar Dr. Marlies Taljard het by die bekendstelling kommentaar oor die vermenging gelewer. Haar insig het my baie bly laat voel.

  1. ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek was agt en verlief op Elisabeth Eybers se gedigte en Eugène Marais se “Winternag”. Daar was o.a. “van liefde verlaat” en “‘n verlepte orgidee” in die rympie. Propvol gedwonge paarrym.

*

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.
Bookmark and Share

5 Kommentare op “Digstring. ” ‘n ontstaan ” (Fransi Nieuwoudt)”

  1. webmeester :

    Toets. Die kode vir kommentare is verwyder. Alles werk nou weer soos voorheen. Klik slegs: stuur kommentaar.

  2. Leon Retief :

    Fransi met die dat jy van Hawking-radiasie gepraat het en dat dit die gevolg is van die lukrake verskyn en verdwyn van subatomiese partikels: alhoewel Hawking-radiasie (nog) nie waargeneem kon word nie is die effek van hierdie vlietende virtuele partikels wel al op aarde waargeneem: http://math.ucr.edu/home/baez/physics/Quantum/casimir.html

  3. Fransi :

    Hallo Leon. 🙂 Baie dankie dat jy dit met my gedeel het. Dit is ongelooflik interessant en as ‘n kunstenaar hou ek veral van die ‘n splitsing in simmetrie oftewel die spontane simmetrie verbreking.

  4. Leon Retief :

    Fransi as jy in hierdie tipe goed belangstel dink ek jy moet probeer om Steven Weinberg se “To Explain the World” lees. ‘n Bondige en eenvoudige samevatting van die geskiedenis van fisika met min en maklike wiskunde, uiters leesbaar – ‘n goeie boek om mee te begin as mens wil weet hoe sommige van hierdie konsepte ontstaan het. Moet byvoeg dat Hawking radiasie nie daarin voorkom nie so ver as wat ek kan onthou.

  5. Fransi :

    Fantasties! Baie dankie, ek sal dit beslis lees. 🙂

Los kommentaar