Dewald Koen. Die mooiste vrou op aarde

Ek was nog nooit iemand wat myself as ‘n sogenaamde ‘tree hugger’ beskou het nie. (Die Engelse term klink net soveel beter.) In Suid-Afrika het ons nie ‘n aktiewe Groen Party soos in talle Europese lande nie. Die natuur en omgewingsake is nie aspekte waarop politici fokus wanneer die vyfjaarlikse verkiesingstryd aanbreek nie. Brood-en-bottersake is vanselfsprekend van groter belang vir die meerderheid Suid-Afrikaners. Wie steur hulself aan bome wat afgekap word of perlemoen wat onwettig gestroop word as mense honger ly of werkloos is? Laasgenoemde is ’n belangrike diskoers wat gevoer moet word en vanselfsprekend uiteenlopende menings sal opper.

In November 2016 woon ek die bekendstelling van Susan Smith se nuwe bundel Die aarde is ’n eierblou ark by in Oos-Londen. Aangesien Oos-Londenaars selde die voorreg het om ‘n boekbekendstelling in ons geweste te kan bywoon, is ek so opgewonde soos ’n kind by ’n pretpark. Ek koop vooraf die bundel sodat ek dit tydens die geleentheid deur die digter kan laat teken. Ek lees al die gedigte sodat ek (hopelik) ’n intelligente vraag na afloop van die bekendstelling kan vra. Soos ek saans in my bed lê en die gedigte een vir een lees, drink ek die woorde op soos iemand wat pas ’n oase in die middel van ’n woestyn ontdek het. Talle van die gedigte in die bundel fokus op gebiede in en om Oos-Londen en Smith se fyn waarnemingsvermoë val my dadelik op. As iemand wat nooit sy hand aan die skryf van gedigte sal waag nie, vind ek dit fassinerend hoe Smith daarin slaag om die eenvoudigste plant of lewende wese so beeldryk te beskryf. Ek het groot respek vir digters – dit is myns insiens een van die moeilikste genres om te skryf wanneer dit by kreatiewe skryfwerk kom. Die volgende gedig (wat toevallig ook die slotgedig in die bundel is) het my in vervoering gehad:

MISSA GAIA: ’N HOOGLIED VAN DIE KOMPOS

Ons is van die aarde

en ons sal terugkeer

aarde toe. Ons bemin

die onthegte blomme;

die geknakte stingels

is vir ons mooi. Kyk hoe lieflik

die molmwording van fyngesnaarde

blare; ons hoor die inleidende korale

van nagskoflarwes. Die sonate

van Latour se liewe wurm-

en maaierwerkers het ons lief;

in u wonings van fosfaat-

en kalsiumvlegsels grond

is ons tuis.

 

Wys tog, sielsbeminde, waar u

die takkies neerlê,

waar u die nuwe steggies plant.

 

Ons is die wemeling van donker sterre

onder die grond; die engele

se heilige mikropartikels

wat die kosmos tot kontoer

en gefermenteerde leefspin smee.

 

Ons is van die aarde. Die aarde

het ons gemaak.

 

“Ons is van die aarde. / Die aarde het ons gemaak.” Laasgenoemde woorde het my opnuut bewus gemaak van my (en elke mens) se nietigheid as deel van die groter kosmos waarin ons onsself bevind. Ons wat die natuur daagliks skade berokken. Uitlaatgasse van ons motors wat die lug besoedel en bome wat afgekap word sodat ons papier het om op te skryf. Sakke en sakke vullis wat ons weekliks op ons sypaadjies neerplak vir die vullisverwyderaars om na groot vullishope te neem sodat dit vir dekades in die grond kan verrot. Die euwel siklus sal nooit tot ’n einde kom nie.

Verskeie Afrikaanse digters het al ekopoësie (of natuurgedigte) geskryf. T.T. Cloete, Dolf van Niekerk, Susan Smith, Johann Lodewyk Marais, Marlene van Niekerk, Hennie Nortjé en talle ander dig op gereelde basis oor aspekte wat met die natuur skakel. Danksy digters wat oor die natuur skryf, word belangrike aspekte onder die mensdom se aandag gebring.

 

Die natuur op sy mooiste.

Die natuur is ’n geskenk wat die mens ontvang het. As ywerige tuinier verwonder ek myself in die natuur se deursettingsvermoë. Die vermoë van ’n eenvoudige saadjie om ’n groot boom te word is bloot verstommend. Hoeveel van ons het al langs ’n roosboom of ’n sonneblom gaan staan? Dit versigtig bekyk? Elke kronkeling en kleurdifferensiasie waargeneem? Elke blom is uniek. Asof elke blom ’n vingerafdruk is wat so perfek moontlik geskape is. Susan Smith skryf soos volg in Die aarde is ’n eierblou ark:

SAAD

How do you grow a poet?

ROBERT KROETSCH

I

(die geheim van saad)

in elke chromosoom

die dubbelloop van boontoe

en ondertoe groei

na donker en na lig

die ontploffende saad

is die onthutsende groei

in die tuinmatrys

die windklokke van peule

is die geheue van saad

wat lewe herhaal

[…]

My tuin is my toevlug. My eie ‘Secret Garden’ waarin ek met my eie gedagtes kan verkeer. Elke mens moet daagliks tyd in sy of haar dag maak om stil te raak en tyd in die natuur deur te bring. Besoek ’n park, gaan sit op jou grasperk of onder ’n boom en lees ‘n gedig hardop. Kyk na die voëls rondom jou, asem die reuk van die gras en blomme in en besef die mooiste vrou is moeder aarde. Geen vrou (of man) kan haar natuurlike skoonheid troef nie.

Die aarde is inderdaad ons eie eierblou ark…

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Dewald Koen. Die mooiste vrou op aarde”

  1. Marlise :

    Inderdaad, Dewald, die natuur is die mooiste vrou. Die natuur is vir my altyd heling. Dit vee al die sorge sommer weg. Maar as vure of droogte dit vernietig, of die mens dit besoedel is dit pynlik om te aanskou. Mooi beeld hierdie in Susan se gedig: ..korale van nagskoflarwes… Susan kan maar dig!!

Los kommentaar