Digstring: “Passasie” Louis Jansen van Vuuren

Digstring: “Passasie” Louis Jansen van Vuuren

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

Passasie

 

Deur ‘n treinvenster:

Rotterdam

Rome

Rietfontein

 

My stede van die lewe

spoel in donker uit.

 

Terugflits:

dromend,

die ewige Pantanassa.

 

Vooruitflits:

man met die flits:

die lig, grafwaarts.

 

Kerkorrel en Von Karajan

suis in binneoorse klankbane;

tonnels lig lok my.

 

In die raserige kaboes lig

die kondukteur sy kardinaalrooi pet

vir die fluitende predikantsvrou:

Rietfontein  Rome  Rotterdam

 

Adieu  Adieu  Adieu

 

*

(Uit: Die kleur van water

Louis Jansen van Vuuren)

 

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Die gedig, Passasie, ritsel reeds vir ‘n geruime tyd in my gedagtes rond en kom verlede jaar met die uitgee van Die kleur van water tot ‘n soort slotsom. Ek was ‘n tyd gelede per trein op spoor van Parys na Chateauroux. ‘n Nagrit waartydens ek het met my kop teen die vensterruit dut.  Meegesleur in ‘n skommelende toestand tussen droom en wakker wees. ‘n Verbygaande trein, wat in die teenoorgestelde rigting spoed, ruk my uit die dromende tussenplek. Dit maak ‘n geweldige geraas.In die ruit se flitsende refleksie herken ek skaars die verwarde ou man wat na my-toe terugkyk. My hart kloppend in my keel.

 

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het redelik gemaklik gebeur. Ek skryf gewoonlik die eerste paar probeerslae met ‘n potlood neer. Ek is verslaaf aan die geluid wat ‘n HB of 2B potlood op ‘n mooi vel papier maak. Ek koop in Parys mooi, goedkoop  notaboekies by Papier+. Geles vir proeflopieverse, bloues vir los gedagtes en betowerende woorde. Ek krap uit, vee uit met ‘n sagte uitveër, (of met ‘n wisser soos ons toentertyd op skool die stukkie rubber genoem het) Ek hersien en skryf die gedig tot vyf of ses maal oor. Daarna tik ek dit op my rekenaar uit, waarna die snoeiproses begin. Dit is altyd vir my ‘n besonderse oomblik wanneer die gedig in ’n formele lettertipe uitgetik word. Ek hou daarvan wanneer die gemeenskap woorde in abstrakte vorms begin saamstaan op die wit ruimte van die blad.

 

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Moontlik 50/50. Die impak van die insident op die trein het die vers in breë hale daargestel. By nabetragting word die simboliek van die lewensreis met bykomende beelde uitgebou. Daar is immer ‘n mate van wroeg en sweet teenwoordig in my skryfproses. Baie dieselfde as met die realisering van ‘n skildery. Party gebeur doodgewoon makliker as ander en word ‘al prima’ daargestel.

 

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “onderdeningsprinsipe” toegepas?

Ek wou graag dat die gedig in verse opgedeel word sodat dit in ‘n string, soos treintrokke kon beweeg, Dit het meet en pas gekos om daarby uit te kom maar ek is relatief gelukkig met die finale progressie van die vers. : met ‘n bietjie verbeelding lyk die gedig soos ‘n treintjie. Met ‘n kaboessie aan die einde. Die herhalings, alliterasie en staccato-agtige woorde herinner aan die geluide op en in die bewegende trein.

 

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Met die saamstel van die bundel was ek bevoorreg om die kundigheid van ‘n besonderse proefleser, redakteur en raadgewer te hê. Haar voorstelle was insiggewend en die poses word ‘n waardevolle leerskool vir my.

 

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers was reeds  ‘n tyd lank voltooi toe daar met die saamstel van die bundel begin is. Dus, so 18 maande, tot publikasie en die eerste verskyning.

 

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Passasie is ‘n mengsel van ‘feit’ en ‘fiksie’. Die feitelikheid talm rondom die  werklike insident wat daartoe aanleiding gee dat ek die gedig wou skryf. Dit was ‘n oomblik van skielike insig: dat die lewensreis sy eindbestemming nader óf dat ‘n groot gedeelte van die reis reeds gereis is. Helfte van die karakters/ beelde wat die vers toelig is feitelik. Die man met die flits dui op die gedig met dieselfde titel deur D. J. Opperman. Kerkorrel en Karajan is werklike musiek figure wat vir die binneoorse klankbaan sorg. Die fluitende predikantsvrou van Riversdal is ook waar. Die Pantanassa, – über koninging/moederfiguur en die kondukteur is verbeelde karakters.

 

  1. Is dit ’n narratiewe vers?

Die vers Passasie het te doen met ‘n deurvaart, ‘n deurtog, ‘n soort oorvaart.

 

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Daar is die Aandlied van die voëls deur die fluitende predikantsvrou, Ryne de Beer, wat as die klankbaan van die vers gedien het. Ek het spesifieke verwysings na die musiek in die vers ingeskryf gehad. Ook van Kerkorrel se ‘Al lê die berge nog so blou’ en Karajan se voortreflike aanbieding van Wagner se Tristan und Isolde. Omdat ek gevoel het dat die verwysings na spesifieke musiekstukke die vers oorlaai het, het ek dit verwyder. Nou dink ek weer dat dit miskien wel kan werk. Miskien sien ‘n Passasie ii die lig.

 

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Om ‘n storie te vertel is vir my anders as om dit te skryf. Wanneer jy met iemand in gesprek is, weet jy (gewoonlik) met wie jy praat. Jy ken dus jou gehoor. Jy kán jou stem intonasie en die spoed waarmee jy praat aanpas soos die storie ontvou. ‘n Mens kan jou boodskap makliker tuisbring. Ek dink dat wanneer ek skryf ek wel ‘n  denkbeeldige gehoor in gedagte het – dit aard van die gehoor bepaal watter informasie ek in die vers wil ‘toelaat’, watter formaat en struktuur die vers gaan aanneem. Ek probeer my verbeel hoe die gehoor/leser die vers gaan sien/voel/hoor.

 

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Passasie is ‘n kaler vers. Gestroop. Minder oordadig? Minder Barok?

 

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Rietfontein (Noord Kaap en Oos Transvaal), man met die flits (D.J. Opperman), Johannes Kerkorrel en natuurlik Ryne de Beer of die fluitende predikantsvrou, is Suid-Afrikaanse verwysings.

 

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” (abandon)?

Die vers voel in ‘n mate ‘afgehandel’ in dié gereduseerde staat. Met hierdie betragting het ek lus gekry om van die verwysings wyer uit te beeld. Iets van die Bolandse blou berge in te skryf…Daar word vertel dat die skilder Jean Welz, wanneer hy by vriende gaan eet of kuier het, hy sy kwaste en verf uit sy motor se kattebak gaan haal het. Dan verf hy, tot sy vriende se ongeloof, n bietjie verder aan die skildery wat hulle by hom by ‘n tentoonstelling gekoop het. Vandag voel ek lus om ‘n paar strofes by te skryf. Dis miskien tyd vir ‘n Passasie nommer ii.

 

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het nog nie spesifiek oor dié gedig terugvoer ontvang nie. Meer oor die bundel in sy geheel.

 

  1. Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?

Op universiteit het ek een van my hoërskool verse wat ek oor my grootouers se plaashuis geskryf het, herskep. Die gedig met die titel Plaas, het in ‘n nuwe gedaante in my debuutbundel Tempermes (2013) verskyn. Twee strofes kom van kinderdae met my saam:

 

… die windpomp kreun sy droë draai.

 

…Verder weg, verby die grensdraad-roes

vlieg swerms trekvoëls in die wolke weg

 

*

 

Bookmark and Share

Comments are closed.