Digstring. Vaar-wel (Cas Vos)

 

Digstring. Vaar-wel (Cas Vos)

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 

Vaar-wel          

 

Elke dag het ’n smeersel trane

van die klaagliedere in Sirië.

Grommende siellose bomwerpers

skud die aarde tot aan haar fondamente.

Die wind se hande is vuil gevat

van rookdampe.

Tempels is ashope,

herinneringe aan vervloë dae.

 

Godverlatenes hang hulle liere

aan treurende wilgers op.

Babas word teen klippe verbrysel.

 

Al uitweg uit die doodsdal

is die grys see waar Poseidon

die septer genadeloos swaai.

Derderangse bote word oorstroom,

vlugtelinge hang aan yl draadjies.

Melkdors babas soek tevergeefs –

angs het moederborste laat opdroog.

 

Bote wieg en waggel

uitsigloos teen die gety.

Briesende golwe slaan

die mank bote lendelam.

Poseidon hits die bruisende golwe

tot groter woede en hoogtes aan.

Vlugtelinge klou soos mossels

aan mekaar in die vaar-wel-vaart,

die see sluk oud en jonk in.

 

Dié wat die rampvaart oorleef,

spoel op ’n ander kus uit,

honger met sout in hulle monde

klem hulle aan mekaar se klam lywe.

Dalk is daar uitkoms vir smekelinge

om in vreemde grond wortel te skiet.

 

[Uit: In ’n oomblik, Naledi, 2016.)

 


 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Herfs 2016. Toe die wind die blare begin pluk het. Die ontstaan van die gedig het egter ’n langer aanloop. Woordvrou het vroeg skemer aan my venster getik. Ek het oopgemaak en haar sluipvoet gevolg. Sy het my tot die versomvang van die wêreld waarin ons leef, gelei. En dit is veel groter as net die Suidpunt van Afrika. Soos lig of miere deur barste kruip, dring die lig van ‘n gedig deur die mure van die klein wêreld.

In my vorige bundel, Voor-bode, het ek oor die grenslose ellende van ons wêreld gedigte geskryf. Mespunt (oor die ellende in die Oekraïne) en ISIS. En nou hierdie gedig wat In ’n oomblik verskyn het. Die gedig, Vaar-wel, handel oor die inwoners van Aleppo in Sirië, wie se lewens elke dag en nag bedreig word.

Elke dag het ’n smeersel trane

van die klaagliedere in Sirië.

Grommende siellose bomwerpers

skud die aarde tot aan haar fondamente.

Die wind se hande is vuil gevat

van rookdampe.

Tempels is ashope,

herinneringe aan vervloë dae.

Die merkwaardige is dat Sirië hulle poorte vir talle gode oopgegooi het. Gode het Aleppo oorstroom. Hadad, die kanaalinspekteur van hemel en aarde was die hoofgod, die krygsgod en bewaker van die Eufraat, een wat reën op weilande en riviere giet. Maar hy het in die bloedstroom uur na ander landstreke uitgewyk. Die god het mense in Aleppo, Sirië,  verlaat.

Daar was ook die vroulike godinne. Ishtar, Astarte, Anat en Atargatis, die heerseres oor die wilde diere, die instand-houdster van die vrug-baar-heid tot in ewigheid. Verder was daar Sjamasj, die god van geregtigheid, Nabu, die beskermer van herders en skrywers. Die Aramese Maangod, Sin, het die vyand uit gewoonte met oogsiektes en kwale geteister. Die Maangod was ook gode se lamp wat met nagdou die boorde gelaaf het. Later het die Griekse gode na Aleppo, opgetrek. Zeus, Apollo, Artemis, Athena, Hera, Poseidon en Dionysus, die god van wyn en ekstase.  Voor al die gode het die mense in Aleppo gekniebuig. Hoe meer gode, hoe meer vreugde, was hulle Credo.

Die Romeine het met hulle strooptogte ook hulle gode saamgepiekel: In Sirië bestaan daar sedert die Romeinse heerskappy die inheemse verering van Atargatis en Jupiter Heliopolitanus. Die keiserkultus het veral ’n politieke grein.

Priesters het die band met die keiser gesmee en aan hom alles wat sy hart begeer, gegee. Terwyl moedertjie Aleppo huil en verbrokkel, skitter al die gode se trone in hulle af-wesigheid; hulle is op buitelandse reise. Ishtar het een maal ’n armsalige geliefde, Ischullanu, die dadelversorger, wat met spys en drank na die inwoners omgesien het, in ’n vlaag van onbeskaamde wegwysing, in ’n padda omtoor en nou berym hy uit ’n poel modderbesmeerde refreine vir Aleppo en haar kinders.

Al die gode wat op aanbidding aanspraak maak, het Aleppo in die steek gelaat. Hoe het die waansinniges hulle verkneukel in tye van opperste plundering? Gesinne vlug na klippe en stof in die kelder. Weerloses is lamgeslaan van steekpyn. Hospitale waar weerloses kreun, is sagte teikens.

Daar is geen inspuitings of medisyne om pyn te doof nie. Rondom jou sien jy die sterfvrees in slagoffers se oë, hulle voel die laaste asemsugte snik en pyn klop.

In hierdie donker uur is daar een uitweg: vlug en vlug nogmaals met al jou karige besittings.

Al uitweg uit die doodsdal

is die grys see waar Poseidon

die septer genadeloos swaai.

 

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

My muse was my genadig. Ek het die boot vir die reis gereedgemaak, kind en kraai, man en muis aan boord gekry. En toe is dit na die grys waters toe. Ek het die doodsbenoude vlugtelinge in my geestesoog gesien.

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die historiese gang was voor die handliggend. In my donker drome het ek die angsvalliges gesien spartel en skreeu. Alles was so visueel en tasbaar. Ek moes net die woorde vir die gedig optel, orden en rangskik. Nie die gedig nie, maar die gevaar van die reis en die ellende van die mense het my laat wroeg.

Bote wieg en waggel

uitsigloos teen die gety.

Briesende golwe slaan

die mank bote lendelam.

Poseidon hits die bruisende golwe

tot groter woede en hoogtes aan.

.

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

In so ’n noodvlug word alle ordeningsbeginsels oor boord gegooi. Al orde wat van belang is, is die vlug na ‘n onbestemde uit-koms. Die gevaar, bedreiging, emosionele aftakeling en wanhoop moet verdig word.

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek?

Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek en my muse hou ons geheime dig en weg van ander se oë. Ek het twee

of drie woordgenote wat ‘n ogie oor my gedigte gooi dat my digboot nie op die rotse loop nie. Dikwels is dit net die eggo van ’n woord of reël wat my weer laat dink.

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers

die eerste keer verskyn?

Die gedig het ongeveer ses maande na voltooiing in die bundel verskyn.

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Dit is gegrond op historiese gebeure. Die vlugtelingramp in Aleppo, Sirië, gryp ’n mens aan.

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Siriese wanhopiges vlug uit wanhoop na hoop, uit chaos na orde, uit verwoesting na ’n moontlike nuwe lewe.

Dié wat die rampvaart oorleef,

spoel op ’n ander kus uit,

honger met sout in hulle monde

klem hulle aan mekaar se klam lywe.

Dalk is daar uitkoms vir smekelinge

om in vreemde grond wortel te skiet.

Maar die reis na die toekoms is ’n risiko, ’n dodelike risiko. Die reis self is gelaai met doodsgevare.

Derderangse bote word oorstroom,

vlugtelinge hang aan yl draadjies.

Melkdors babas soek tevergeefs –

angs het moederborste laat opdroog.

Vlugtelinge klou soos mossels

aan mekaar in die vaar-wel-vaart,

die see sluk jonk en oud in.

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Net die stroom berigte en gerugte oor die ellende in Aleppo, Sirië.

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Ek fokus net op die woordflitse wat georden moet word en ’n eie lewe moet lei. Wie oë het om te sien, mag maar lees.

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

In Voor-bode het ek begin om die groter nood en ellende van ons groot wêreld te verken. Hier word die tog voortgesit.

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die wêreld is groter as net Suid-Afrika. Ons behoort ook meer as net kennis te neem van die groot nood in ons wêreld. Dit behoort ons ook te raak.

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek is dankbaar vir die muse se besoek en bystand.

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek is dankbaar vir die onverdiende guns. Met die bekendstelling van die bundel wat pragtig deur Naledi uitgegee is, het Dawid Minnaar groot applous ontlok. Ek het net die laaste wegsterfklanke na my toe afgeskerm.

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Digstring. Vaar-wel (Cas Vos)”

  1. Pieter van Zyl :

    Uitstekende gedig van Cas Vos! Die kragtige beelde versterk die tematiese nagmerrie van die Siriërs. Dis altyd insiggewend om die Ars Poetica van ‘n digter onder die vergrootglas te plaas.

  2. Cas Vos :

    Beste Pieter,ek waardeer jou kommentaar. Baie dankie.