Digstring: Vir die Golden Gate-weduwee (Etienne Terblanche)

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

Vir die Golden Gate-weduwee (Torynesis orangica)

.

En tussen draderige stingels stap ons
saam met die hoppende diepbruin engele
en soms weet ’n mens dit boonop diep
in jou bloed wat in ’n ander verder bons.

.
Soms sit ons saam met engelgaste
aan tafel saans en eet ’n diep vis
uit die diepste oseaan. En weet ons
dit so seker soos ons harte bons.

.

(Etienne Terblanche)

Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Die letterlike bonsende diepbruin vorms van hierdie ongelooflike skoenlapper tussen daardie draderige Merxmuellera-grasse teen die stywe helling bokant Titanic-rots net buite Clarens (op linkerhand wanneer jy Bethlehem toe ry) is die ingewing vir die gedig. Ek het hulle so gereeld besoek as wat ek kon maar dit was te min, ek begeer om weer daar uit te kom wanneer hulle weer vlieg.⌠

Deel van die lus vir die maak van die gedig was dat dié skoenlapper letterlik amper nêrens in die wêreld voorkom nie. Vir my bly dit voel of die bestaan van die skoenlapper wêreldnuus behoort te wees. Net op enkele hoër hellings in die Golden Gate omgewing kry jy ‘n kolonie van hulle, baie laat in die somer, net vir so ‘n paar weke. Hulle voedselgrasse hang beeldskoonmooi soos klassieke kunsvorms van ver teen die hange en van naby. Maar jy kry hulle glad nie oral waar dié grasse groei nie. En om die kombinasie van die skoenlapper en haar habitat te beleef, is magies, het gevra vir ‘n soort mens-antwoord, ‘n gedig.

Hulle is groot en donker, en bons meteens boontoe uit die bolle gras—hulle is regtig vorms. En as jy lief is vir skoenlappers bons jou hart behoorlik wanneer jy hulle sien, sekerlik ook omdat hulle so skaars is. Maar hulle eie harte bons ook—mens vergeet dit maklik. ‘n Skoenlapper het ‘n baie eenvoudige hart (mens kan by hulle leer). Daarom die gedagte aan die spreker se hart “wat in ‘n ander verder bons.” In hierdie geval, die magiese ander.

Een keer het ek ‘n ou ysterpot vol grond en so ‘n Merxmuellera-pol by die huis aangehou in die hoop daarop om die lewenssiklus van die Golden Gate-weduwee te aanskou. Maar hulle is so geheimsinnig! Iets van die geheimsinnigheid het my ook laat voel dat ek die gedig wou skryf. Want in die woord “geheim” sit die woord “heim,” tuiste, woning. Die wêreld is ons woning nié, het Totius alombekend geskryf. Dit het heelwat antwoorde in ons poësie ontlok en die mooiste een is vir my nog steeds die eerste een—wat stel dat hierdie Aarde vir seker ons woning is: Breyten Breytenbach in “7.8.” Maar daar is ‘n ander besef ook: die wêreld is ons woning en ons ken dit skaars, sommer ook op die “gewoonste” konkrete letterlike vlak ken ons dit skaars. Ons bewoon ‘n ge-heim en soms ongelukkig ook vanweë lusteloosheid en onkunde. (Aan die ander kant ook vanweë ‘n verlies aan mitiese verbinding met die onbekende kosmos terwyl ons vreeslik “gegroei” het wat betref die vermoë om die Aarde te verniel.)

En daar is ‘n soort heim-weg of heimwee wat kom met die besef van die grootsheid van die plek waarin ons woon. Dié besef kom makliker via die klein skepsels met wie ons saamwoon. Aa mens! daardie flappende-hoppende donker vorms teen die uitspansel deur die sandsteenvorms omlyn onder die onmoontlike wolke waarheen die draderige graspolle bult. Hoe het dit gekom dat die Aarde vir ons so groen, blou en wit is? Die donker vorms beklemtoon hulle ruimte en die ruimte beklemtoon hulle kloppende vorms en jou bonsende hart, jou “ons-ende” hart, aa mens!, want ek word “ons” met hulle. Hierin setel nog ‘n rede vir die behoefte om die gedig te skryf. Die Golden Gate-weduwee is ‘n ongelooflike kreatuur. Streng gesproke behoort so-iets nie te kan bestaan nie, ook nie as jy al die uiterstes en kragte in die heelal in ag neem nie. Seker ‘n antwoord werd in ‘n gedig, nie waar nie? Sekerlik is die bestaan, die IS, van hierdie lewensvorm nuuswaardig?

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het deur ‘n aantal metamorfoses vorm gekry oor ‘n tydperk van jare. Ek wou met die grootste respek ‘n gedig vir die skoenlapper skryf wat gestand doen aan haar bestaan. Maar die gedig kon eers behoorliker vorm kry met die onverwagse boontoe-kom in my geestesoog van die Bybelbeeld van die onbekende engele wat jou besoek terwyl jy sommer aanneem hulle is net nog ouens of skaars skoelappers. Dit staan in Hebreërs 13:2: “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.” Toe begin die gedig haar plek vind: want soms kom die engele maar jy is boonop bevoorreg om dit te weet. (Terloops, die hartseer van die welkome nuwe Suid-Afrika is dat jy nie jou deure kan oophou sodat die onverwagse engele kan inkom en julle heerlik kan gesels oor die lewe oor ‘n glas aardse wyn nie.)

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Mag ek ‘n bietjie wegbreek met die antwoord hier? (Hierbo het ek reeds aangedui hoe die gedig bestaan het uit so ‘n lang, gehawende sirkel van ingewing én werk.) Van jongs af verstaan ek nie die formules wat mense graag gee oor die kontradiksie (wat met enige skeppende werk kom) dat jy aan die een kant werk met inspirasie en aan die ander met perspirasie nie. “Skryf is 1% inspirasie en 99% persperasie” was ‘n gunsteling slagspreuk oor die radio en in klaskamers toe ek op hoërskool se kant en in my eerstejaar rond was. Maar as ek net een persent inspirasie sou beleef, sou ek sowaar as wragtig ophou skryf. Ek is ook glad nie seker dat inspirasie ‘n soort luiheid of nie-werk-nie beteken. Jy werk vir jou inspirasie en met jou inspirasie. (Hopelik werk jy nie in ‘n eroties-dooie kantoor sonder ‘n enkele potplant nie.) Nog minder kan ek dink aan inspirasie as iets wat in persentasies kom: die teksture bots tussen verbeelding en die alomteenwoordige getalmatigheid waaraan ons deesdae ly. En die woord “wroeg” (soos in die vraag hierbo) val swaar in die gemoed. En om kuns te maak is die belangrikste ding in die wêreld en hoegenaamd glad nie belangrik nie. Dalk: kuns is belangrik omdat dit so “onbelangrik” is. Skoon heilig van die nutteloosheid soos Martin Versfeld dit sou kon sê—of om dus ‘n bladsy uit Breytenbach se Boenk te neem. En tog voed kuns ‘n soort semiotiese honger danksy die harde werk van kunstenaars… ek sal myself hier nie kan ophou weerspreek nie. Om die erns te herwin van ‘n kind wat speel… Aa, Nietzsche, aa, mens!

En dan word Wordsworth so gereeld aangehaal as dat hy sou beweer die digkuns is net die spontane oorkook van emosies. Dié aanhaling beloon ‘n tweede kyk: “Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings: it takes its origin from emotion recollected in tranquility.” Die frase “recollected in tranquility” is deurslaggewend vir die balans van sy stelling. En in die British Library lê sy handgeskrewe manuskripte vol weglatings, veranderinge en deurgeskrapte reëls. Dit was sekerlik deel van die “recollection” en die uitkom by “tranquility.”

Die gedig moet as’t ware tevrede voel omdat jy aan haar gewerk het tot sy die vorm gekry het wat sy moes. Of miskien: die digtheid van die gedig word bepaal deur die hoeveelheid energie wat die digter aan sy kant van die kontrak in die skryfproses kan kompakteer, sekerlik ook deur middel van harde werk. Soos petrol uit steenkool kan die leser aan haar kant van die kontrak daardie energie weer loskry as die oomblik ryp sou wees. En steenkool is woude wat vir miljoene jare gekompakteer is—daarom die beskikbaarheid van ‘n bykans onmoontlike energie (wat ons, terloops, verbruik sonder veel dankie-sê aan die Aarde en asof die bronne onuitputlik is). Maar dalk is ‘n gedig ‘n soort steenkool wat ‘n onmoontlike reis na binne moontlik maak—of is die beeld nog te lelik, nog nie behoorlik gevorm nie?

“[…]the plastic parts of poems/ Crash in the mind” skryf Wallace Stevens in “The Glass of Water” (en toe “plastiek” beteken het “buigbaar,” soos verf) en Eliot skryf “it is not the ‘greatness,’ the intensity of the emotions, the components, but the intensity of the artistic process, the pressure, so to speak, under which the fusion takes place, that counts.” Moontlik stel hy die saak teen emosie (inspirasie?) té sterk omdat hy jonk is en die oorweldigende gewig en krag van die Romantiese digters voel. Maar sy steenkoolagtige beeld van die kompaktering wat saak maak, tref goed.

Hoe dit ook sy, mens weet dat jy inspirasie nodig het én ‘n manier om die impulse wat vanuit die inspirasie boontoe stroom, te kompakteer. Een ding is egter ook seker: jy kan soveel sweet soos wat jy wil maar as jy nie die aanvoeling vir inspirasie het nie gaan jou sweet op onvrugbare grond val. Een of ander tyd moes iemand dit seker ook weer vir ‘n slag noem. Die feit is natuurlik dat van die Romantiese gedigte en Wordsworth s’n nie altyd verby gesteek word deur baie van vandag se sogenaamde gedigte wat eintlik net stokkerige oefeninge van die slimmigheid verteenwoordig nie—hulle grens byna aan daardie lysies op die yskas (ja, ek onthou dat William Carlos Williams van so ‘n soort “yskaslysie” ‘n baie mooi gedig gemaak het). Die vraag is hoeveel ironie vorm toelaat, of die afwesigheid daarvan. Hoe ver kan die sogenaamde “anti-vers” loop voordat sy nie meer ‘n vers is nie? Aan die ander kant is die belangrikheid van vandag se digters juis dat hulle in vandag se dae gedigte skryf. Ek reken oor die algemeen dat die feit dat dit gedig gegee word, beteken jy moet haar nie afdwing nie; die inspirasie moet jou bybly terwyl jy werk. Maar om net “enter” te druk op die rekenaar is nog lank nie om ‘n gedig te skryf met gevoeligheid vir haar vorm nie!

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Ek was vir lank bekommerd dat die gedig te eenvoudig is. Dat die rymwoorde “ons” en “bons” te maklik, te “skoon” of “modern” sou voorkom, veral in Afrikaans. Ek was bekommerd dat ‘n belangrike geykte woord soos “diep” aan die einde van ‘n versreël staan. Maar ek was uiteindelik tevrede met die groter prentjie: dat “ons” en “bons” in die eerste strofe verder van mekaar voorkom en in die slotstrofe hopelik asof met hulle eie energie saam kom terwyl ek die woord “diep” terug versteek in die reëls, soos ‘n geheim, soos die geheim van die Golden Gate-weduwee en die geheim van hier woon. Ek was tevrede toe ek voel dat die enjambement, slotwoorde in die reëls, en dies meer, ‘n balans gevind het tussen vloei en vorm. Ek het gevoel die eenvoudige vorm, ook die jambiese metrum, is die regte “antwoord” op die bestaan van die engel met die eenvoudige hart en die kloppende vlug. Toe ek voel ek kon die belewenis daarvan beskryf om die skoenlappers daar te sien vlieg in hulle eie tuiste op hulle voorwaardes, het ek besluit om nie verder te werk aan die gedig nie. Ek kon ook letterlik nie verder aan haar werk nie. Dit was die beste wat ek met die stof kon doen.Ek was bitter bekommerd oor die feit dat ek in die kwatryntradisie in skryf waarvan ons in Afrikaans briljante komponiste het soos Opperman en die meer speelse maar ewe (selfs méér) kranige Daniel Hugo. Hier het ek gesweet maar nóg vanweë werk nóg vanweë inspirasie; dit was van pure benoudheid. Ek kan nie met hierdie ouer of gevestigde digters “kompeteer” nie—of as ek sou wou, sou ek wou verloor omdat ons reeds weet hoe goed hulle was en is (nuus wat nuus bly). Omdat wat ons skryf net kan bestaan omdat digters soos hierdie geskryf het of skryf.

En al wil of kan ek nie wedywer as praktisyn van die kwatryn nie is die getal “vier” belangrik in my bundel. Daar is vier afdelings soos vier skoenlappervlerke. Die skoenlapper (soos alle insekte) is ‘n lewende mandala, ‘n lewende Jungiaanse kwaternêr (die simbool van die Self). Vier vorms dryf na ‘n sentrum/ ‘n sentrum kring uit in vier vorms. Ek besing openlik die mierleeufee (Neuroptera) as so ‘n mandala in “Plaasnag.” Ek vra om die lewe kortstondig, tydloos te “vier” soos die mier wanneer hy vir een keer in sy lewe kan vlieg om te kan paar en bedoel daarmee fees-vier maar ook vier-vormig gevlerk soos die lewende mandalas—in die gedig “Hy wens byna vir die dood.” Elders in die bundel is daar intense ironie wanneer ‘n man voor ‘n vierde kamer te staan kom waarby hy nie wil ingaan nie en dan weer is daar die tai-tsjie-besef dat die nag reeds die kiem van die dag bevat en andersom sodat jy altyd vier prosesse het waarvan die een besig is om in die ander te vloei—waarvan die afrikafladderpapiertjie verstommend ‘n lewende vorm is—in die gedig “Hy is bly oor die afrikafladderpapiertjie.” Ook in hierdie (swart en wit) skoenlappergedig kom die hart se vier gespierde kamers ter sprake. En dies meer: vier is ‘n soort sleutel van die eenheid wat die bundel probeer bewerkstellig soos die motto ook aandui.

Dit is immers om hierdie rede, hierdie mooie oosterse visuele plantaardige seisoenmatige manier van in-sien in die viervormige aard van die natuur in, dat die verstokking van die oeroue swastika vir Hitler se gebruik pervers is en seermaak—sake wat elders in die bundel aan bod kom. (En vandag dink ons amper aan die swastika as Hitler se simbool—niks kan verder van die waarheid wees nie.) Eendag sou ‘n mens ‘n gedig kon skryf oor hoe die swastika eintlik soos die seisoene rol en hoe Hitler dit ná duisende jare vir ‘n klomp dekades lank gestol het, hoe die stolling sy wreedheid versinnebeeld. Maar ek weet nie of ek daarvoor kans sien nie.

Die vier reëls in elk van die strofes van die gedig waaroor ons hier gesels, eer die Golden Gate-weduwee se bestaan dus ikonies in terme van die bundelgeheel (of die vier seisoene, as mens dit so sou wou) en probeer om die werklikheid van haar betaan te transponeer na die menswêreld. Dat die skoenlapper deur die lug swem en visse deur die water vlieg (soos in Escher se werk) is moontlik ‘n raakpunt tussen die twee strofes en ek wens ek kan eendag ‘n gedig skryf net hieroor, net oor dié vlieg-water-swem-lug beeld, maar dit het my nog nie geluk nie, en die muse het dalk iemand anders in gedagte vir die uitdrukking van dié beeld want ek geniet die beeld nou al letterlik vir dekades lank sonder om dit te kan verdig. Daar is byvoorbeeld ‘n ander bruintjie, Pseudonympha magoides (die vals towerbruintjie), wat in die regte egte lewe presies soos ‘n klein blink vissie lyk wanneer hy deur die Golden Gate grashellings roei omdat sy onderkant visskubberige kleure dra terwyl sy binnekant of bokant donker is. Boonop beteken Lepidoptera—die orde waarin die skoenlappers val—die “skubvlerkiges” omdat hulle mos daardie mieliepitvormige miskroskopiese teëltjies reg oor hulle vlerkspan het wat allerlei kleure en refleksies moontlik maak. Maar dink jy ek kan met hierdie ryke gegewe by ‘n gedig uitkom, soos ek so graag sou wou? Muse, muse, kry ek nog ‘n kans? Ek verbeel my ek hoor hoe sy aan die buurdigter se deur klop. Die muse kan nie besit word nie.

In elk geval, ek moes eers seker maak dat my oer-“kwatryne” hulleself in die openbaar kan gaan plaas, dat hulle nodig was vir die bundel. Maar veral wou ek iets sê oor die Golden Gate-weduwee. Dit het uiteindelik die deurslag gegee oor die besluit oor klaar-werk en uitgee.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

‘n Mens is natuurlik jou eie eerste leser. Die gehalte van jou gedigte staan of val hierby. Ek glo dus nie dis regverdig dat ons resensente soos dit nou gewoonte word die keurder, redakteur of uitgewer blameer vir foute in ‘n bundel nie. “The buck stops here”—by die digter. Die bokkie kom hier tot stilstand onder die boom waar hy sit en skryf. Daar moet ook spanwerk wees, verstaan my asseblief nie verkeerd nie. Shakespeare is ondenkbaar sonder spanwerk en ons weet tog hy was ‘n briljante dief van ander se verhale.In elk geval, jy moet leer hoe om die sake raak te sien wat pla en dié moet jy hopelik suksesvol verander. Jy moet leer om dit wat reeds werk nie te verander nie. Jy moet bewus wees van die regte dinge en onbewus bly van die regte dinge. Jy moet dus ook glo dat die gedig vir die leser gaan werk as dit vir jou werk! Hierdie is seker een van die interessantste, mees komplekse en mees onderbestudeerde sake. Maar soveel daarvan het te make met “vaardighede” wat dalk net nie geleer kan word nie. (Ek voeg graag by: des te meer rede om daardie vaardighede waarvan jy wel by iemand anders kan leer sorgvuldig te slyp! Gaan juis skryfskool toe indien jy sou kon, sou ek dus reken.)

En soos vir baie ander mense in ons globale wêreld sedert “Dover Beach” is my eerste maat en toevallig ook my eerste tweede leser my eerste beminde, my eerste naaste, my vrou, Christien. Sy is geheel en al ‘n ander soort skrywer as ek. Sy het sterk punte waarvan ek net kan droom. Haar skryfwerk is byvoorbeeld amper dadelik helder. Ek werk deesdae hard en voel opgewonde as ek dink ek begin ‘n meer onmiddellike heldherheid van my eie vorm. Ek het die bundel (dus ook hierdie gedig) in een van sy protostadia vir haar gelees en sy het net enkele besware gehad (oor die bundel as geheel)—oor een of twee hiervan het ons verskil—maar het oor die algemeen gevoel die werk is publiseerbaar. Dit het vir my baie beteken. Maar ons het nie in detail vir mekaar terugvoer gegee oor ons werk nie. Moontlik gebeur dit vorentoe meer gereeld.

Sy is ook die meer introverte een (maar helder en vibrant) en ek die ekstrovert (soms ook maar góéd dof en uitgewas). Ek dink dit sal vir my baie gesond en stimulerend wees om my werk en dié van ander meer gereeld te bespreek hoewel daar, soos ek ouer word, al meer behoefte ontstaan aan verinnerliking en tyd-spandeer met myself. Dalk gebeur dit binnekort dat ek my gedigte kan lees en bespreek met ander. Ek het onlangs ‘n aanbod gekry van ‘n mededigter vir wie ek respek het as kunstenaar en mens om ons nuwe pogings te bespreek. Ek moet egter eers herstel van die resensies waarvan veral een ‘n baie harde volstruisskop in die wind was: die persoon beweer dat ek nie daarin kon slaag om ‘n enkele gedig vorendag te bring nie; en dit is in die Afrikaanse digterlike panteon ‘n belangrike persoon. Ek besef mens is idealisties en naïef wanneer jy nog ‘n ongepubliseerde “maagd” is maar daardie resensie is gewelddadig in minstens twee opsigte: dit is slordig aan mekaar gesit en dit is venynig. En omdat dit jou geestesgoedere is—jou siel is, jou drome is—wat jy daar soos ‘n kosmologie vir die leser op die tapyt uitsprei, is dit werklik verbysterend seer as iemand met soveel gewig so hard daarop spring. Dus nog moeilik vir my om weer te waag aan ‘n nuwe reël. Maar bekommer nie en kry my veral nie jammer nie. Want wie het gesê die lewe skuld dit aan enige van ons om ‘n digter te wees?

Hoe lank ná die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Hierdie een het vir die eerste keer in die bundel verskyn. Ek was gelukkig dat die meeste van my gedigte vir die eerste keer só verskyn het, grootliks omdat digters in my gebou bereid was om die bundelkonsep te lees en vir my ‘n oordeel te vel oor die publiseerbaarheid daarvan.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Hulle kom by mekaar in die magiese. Nie magiese realisme nie. Maar hulle kom by mekaar. Omdat ons van gedigte praat sou ek liewer sê “werklikheid” en “droom” kom by mekaar.Ek het reeds een en ander gesê oor die skoenlapper se feite. Maar die grasse is besonders. Dit het nie ‘n gewone naam waarvan ek weet nie: dus Merxmuellera. Elke pol is lekker stewig en bollend en ‘n ent voller en groter as die meeste ander grassoorte se polle. Die stingels is taai en dikkerig soos draad en lyk soms ook daarna met sulke gryserige vlekke. Foto’s van dié gras kan nie vir jou die belewenis vervang van hoe dit voel om met een van hierdie polle en daardie stingels in hulle eie wêreld op hulle eie terme kennis te maak nie, byvoorbeeld so tussen daardie heerlike korrelrige sandsteenplate daar bo, soms met poele helder water in. Terloops, hulle is fotogenies (dit wil sê, ek probeer nou nie hier om die fotofenomeen “af te druk” nie maar om die pol boontoe te hou!):

(Christien en Merxmuellera by Titanic-rots buite Clarens. Uit video deur outeur: https://www.youtube.com/watch?v=4u09h8Dza88)

Hierdie grasse het presence wat skrik vir niks. Gaan ontmoet een as jy eendag kans sou kry, hulle is volop teen die hange in die Golden Gate omgewing en regdeur die Malutis en jy kan hulle sommer van ver af gewaar selfs in die ry op die teerpad langs.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dié gedig se taak (soos ook in die geval van sommige van my ander gedigte) is om te beskryf—daarom brei ek asseblief ‘n bietjie uit al begryp ek heeltemal (soos die formulering van die vraag voorstel) dat die digter soms werklik die minste verstaan van dit waaroor sy gedig handel. Soos Marianne Moore voel ek dat die akkuraatheid van die natuurbeskrywing ‘n kruks uitmaak van die “moral of the story” van ‘n gedig. Sy voer dit tot ‘n lieflike uiterste in haar gedigte. As die beskrywing ráák en dáár is, hou die gedig meteens op—jy is aanvanklik skoon oorbluf totdat jy met ‘n glimlag agterkom, aaaa, dit is wat sy wil bereik, sy wil net hê jy moet sien hoe dit lyk en juis niks meer nie. Haar beskrywings van drake, klein soos die verkleurmannetjie en groot soos die onsigbare Tao-draak, is van die hoogste orde. En van ‘n jellievis. Asof die gedigte sê: sien jy nou vir die eerste keer hoe dit lyk? Dit is genoeg. Terloops, hiermee sluit die skynbaar-puriteinse Moore wetend aan by die sogenaamde foe-tradisie in die Sjinese digkuns.Haar ander definisie van die digkuns—dat dit “heightened prose” is—hang hiermee saam. Dit het my gehelp om die vorm wat party van my gedigte willens en wetens aanneem, te aanvaar. Party van my gedigte bevat doodgewone prosa wat oorgaan in “heightened prose” en van die ander gedigte het vorm maar wil ook gesels soos prosa. In die Sjinese tradisie word daar ook nie so ‘n skerp onderskeid tussen prosa en poësie (of poësie en visuele kuns) getref soos by ons nie—ons samelewing is asof van nature geneig daartoe om te verdeel en selfs op te kap. (En die gedagte aan die sogenaamde “praat-vers” is dus ook nie so nuut soos dit mag lyk nie.) Soms veroorloof ek myself vryhede wat ek by die Sjinese tradisie raaksien via digters soos Cummings wie ek deeglik bestudeer (het). Mens sien ook in die Sjinese tradisie die pragtige/ kragtige verfynde ding dat enige gedig wat oor die natuur gaan altyd alreeds groen is in die politieke sin van dié woord. Want in ‘n wêreld waarin “die nuus” dikwels oorheers word deur kleinlikhede en magspel en geweld is selfs net die aanduiding dat daar ander nuus ook is—nuus van gras en skoenlappers wat op Aarde beweeg—reeds die maak van ‘n stelling sonder om vreeslik “stelling” in te neem. Die hele ryke Sjinese berg-en-riviertradisie is “politiek” van hierdie soort. Jy hoef net die berg te noem en die ingewikkelde Sjinese politieke spel daar te laat om ‘n politieke stelling van formaat te maak. Mag ek noem dat, sover ek kan sien, Johann Lodewyk Marais se oeuvre briljante politiek van hierdie soort bied, buiten vir die ander hoë waardes daarvan? Wat ‘n geurige wyn is sy skynbaar-gewone digkuns nie as jy eers die skakerings daarvan begin beleef!

In elk geval, as jy my gedig laat-Januarie se kant na Titanic-rots sou neem en die Golden Gate-weduwee daar sou sien boontoe bons uit die helling, sou jy nie teleurgesteld voel of twyfel daaraan dat my beskrywing met die werklikheid te doen het nie. In ‘n sekere sin is dit die plek waar die gedig hoort en gelees kan word. Ek noem maar een of twee dinge. Al die skoenlappers in die familie waaraan dié een behoort, geniet hier in Afrika ‘n opvallende bonsende vlugpatroon. Hulle is die sg. “bruintjies” in Afrikaans of “browns” in Engels, die subfamilie Satyrinae. Kevin Cockburn skryf byvoorbeeld van die “characteristic slow to quite rapid, bobbing flight pattern” van een van dié bruintjies! Hier sien jy hoe selfs ‘n natuurwetenskaplike moet begin soek na die regte woord en hoe die vrolike woord “bobbing” meteens in ‘n formele wetenskaplike teks ‘n baie belangrike beskrywende plek vind! Stel dit teenoor André Coetzer se beskrywing van ‘n ander familie skoenlappers, die Charaxinae: hulle vlugpatroon is “strong and direct.” Weer oor die bruintjies skryf David Swanepoel van hulle “peculiar slow and skipping flight, ever up and down, always near the ground.” Kortom, dit is nie ver van die werklikheid nie om te sê dat die Golden Gate-weduwee ‘n bonsende vlugpatroon geniet soos ‘n hart wat op en af klop. Nog ‘n feit in die gedig, soos genoem, is dat die bruintjies se voedselplant gras is (een keer het my broer die ekoloog vir my gesê gras is blomme wat oor miljoene jare gereduseer is tot hulle huidige eenvoudige vorm—daar is ‘n gedig daar)… in die geval van dié soort, die Merxmuellera-gras waarvan ek praat.

Maar daar is soveel dinge wat mens weglaat—veel meer as wat jy kan insluit. In hierdie gedig was daar nie plek vir die feit dat die wyfie haar eiertjies sommer so in die vlieg in die gras in laat val nie! (Wat ‘n gedig sou dit nie kon wees nie.) Of vir die feit dat Suid-Afrika ‘n besondere klompie van die bruintjies het—sowat 75 spesies—onder andere die emblematiese en opvallende bergnooientjie (“table mountain beauty” in Engels), ‘n buitengewone groot en helder bruintjie wat wetenskaplik vernoem is na Ryk Tulbagh (Aeropetes tulbaghia), ons nasionale skoenlapper wat hier in Januarie in al ons bergreekse van die Kaap tot in Limpopo uitbroei (daar is ook ‘n klompie in die Zimbabwe-hooglande).

En buiten vir die veelheid dinge wat jy weglaat, is daar skynbaar-“eksterne” dinge wat jy intrek en integreer, soos die engelbeeld. Voor jy jou oë uitvee, het ‘n beskrywing ‘n metafoor geword. En begin jy skoenlappers aansien vir engele—en mense ook. Neem die beskrywing van ‘n werklike skoenlapper jou op ‘n engelreis terug mense toe—en die saam-eet met die engelgaste moet net so akkuraat en kort beskryf word! As jy my daarom vandag sou vra, sou ek sê dat dit is waaroor die gedig handel.

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Reeds het ek genoem dat die gedig deur die Bybel beïnvloed is, daardie groot boek en bron vir elkeen wie in ons geweste gebore word. En ek kan dit nie verklaar nie, maar Yeats se poësie se vorm was in my geestesoog hiermee. Maar glad nie in enige “kompeterende” of selfs emulerende opsig nie: Yeats het die onskuld van die poësie bereik, dit is poësie in haar volste vorm. Dit is “gewoon” net daar op die bladsy. Jy kan die magiese helderheid van die poësie self in sy gedigte beleef en dit is baie min mense beskore om so te komponeer. Ek weet ook nie of ons tye dit heeltemal meer toelaat om so te dig nie (maar ek laat die moontlikheid oop want iemand is dalk nou iewers besig om sulke gedigte te skryf en ons lees hulle later met blydskap). Ek was heeltemal verbaas dat Yeats in my gedagtes gekom het hiermee. Ek probeer sê dat mens nie eers moet probeer om hom te na-aap nie, dat die digterlike grepe wat jy slim by hom sou kon steel, maar baie gering is. Die feit dat hy met hierdie gedig as’t ware in die geestesoog verskyn het, het te make met sy merkwaardige talent van terughoudendheid in die mees positiewe sin daarvan. My gedig hier laat my toe om, so op my manier, terug te hou in die volheid van terughouding—ekstroversie en al. Miskien weer soos die woord ge-heim.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Soos medeskrywers het ek ook ‘n unieke ideale leser. Ek weet nie wie hy of sy is en wanneer hy of sy my gedig gaan lees nie. Dalk gebeur dit nooit. Maar ek skryf met alles wat ek het vir hom of haar. Ek skryf in die geloof dat, indien hy of sy my gedig “eendag” vanuit die regte hoek sou tref, in die rypheid van ‘n oomblik, eendag, hy of sy dan so ‘n insig sou ontvang, so ‘n geskenk, so ‘n aha-dit-is-nou gevoel binne ‘n ruimte of leegte wat tasbaar diep geword het. Dit is inderdaad die totale omvang van die hoop waarmee ek tans skryf.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

“Skoner?” Sterker afgestem op die rym? Net ‘n graadverskil. Daar is natuurlik somberder gedigte in my bundel. Maar hierdie een vier die bestaan van ‘n pragtige “somber” kreatuur.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, ‘n skoenlapper wat by die gestroopte Vrystaat pas. Die Vrystaat wat ook so gestroop kan lyk en jou dan meteens tref met haar oorweldigende rykdom aan hemel, dat jy weet jy woon op ‘n planeet, ‘n leegheid iewers tussen skaamheid en verleentheid en amper onhanteerbare eerlikheid, alles aan die donkerder vrugbare Aarde verknog onder wuiwende ontvouende flanke rooigras. Die Vrystaat het te doen met die eenvoud van gras. Die Vrystaat is dalk die geheim onder geheime.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek het tevrede gevoel met haar perfekte en onperfekte aspekte. Kuns maak is ook ‘n reis, ‘n groeiproses. Jy moet kan vorentoe beweeg.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie ná die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek het nog geen direkte reaksie op hierdie gedig geniet nie, behalwe dat een leseres wie ek ag, eendag vinnig iets gesê het soos “daai skoenlappergedigte van jou!”Is daar ‘n lekkerder gevoel?

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Van kleins af het ek stories geskryf maar hulle was gewoonlik vol geluide Daar was byvoorbeeld een oor ses kubusvormige kassies wat ‘n orkes gevorm het en die dorp aan die brand gespeel het en genoeg geld gemaak het en rustig gaan slaap het. Liedjies het ek ook gemaak, veral in my tienerjare in Winburg-koshuis, en mense was opgewonde daaroor en daarvan het ek baie gehou. Maar dit was eers hier op sestien-sewentien dat ek wat ons gedigte noem, begin skryf het. Dit was helaas vir ‘n kompetisie. Ek dink ek het derde gekom of ‘n eervolle vermelding gekry. ‘n Tannie in die koshuis wat op haar manier ‘n formidabele leser was, het van die gedigte gehou, veral die een wat gefokus het op die beeld van kerkbanke. Toe ek heel klein was het ek ook so ‘n “biologiese skets” gemaak van ‘n vis-hart, ‘n kombinasie van ‘n visvorm en ‘n menslike hartvorm wat ek in ‘n biologieboek gesien het. Dit was natuurlik ‘n metafoor, ‘n soort gedig.Ek moet liewer hier iewers noem dat my familie wemel van denkende, lesende en skeppende mense. Hierdie denkende, lesende en skeppende mense in my familie is of was oor die algemeen minstens vyftien jaar ouer as ek. Vir my is en was hulle dus “larger than life,” ongelooflike “presences.” En iets daarvan het oorgebly tot nou in my grootmensjare. Ek het dus ook groot geword met die idee dat die lewe hoofsaaklik wentel rondom kuns, denke en die natuur. Vir my was verbeelding die gegewe en nie “snaaks” nie. Maar ek dink van al die kunstige familielede was/ is ek dalk die mees gewone ou. Ek kon/ kan byvoorbeeld maklik lag, en is nou nog in my hart van harte ‘n soort Winnie the Pooh. (Een van my lewensveranderende boeke is juis The Tao of Pooh deur Benjamin Hoff.) Die lewe is vir my oor die algemeen magies en poëties-opheffend van aard, al kan ek natuurlik soos almal die groot donkertes sien en die aansienlike pyn beleef. Vir my kan ‘n verlore dooie tak op die sypaadjie waarby almal net verby loop vol vonke in sy binneste voel.

Daar is ‘n aanhaling wat weer en weer in my lewe spontaan by my opkom. “How do you know but ev’ry Bird that cuts the airy way, Is not an immense world of delight, clos’d by your senses five?” Dit geld ook vir die gewoonste mossie, dalk juis vir die gewoonste grys mossie. En hiermee kan ek rustig saamleef, ek is bly iemand het dit gesê, in Engels of in enige taal.

En soms voel ek ook soos ‘n skrywer sonder ‘n taal. ‘n Skrywer op soek na ‘n taal.

(Nota: ‘n kort video’tjie van die Golden Gate-weduwee in Merxmuellera-grasse, geneem deur die outeur, kan hier gesien word op Youtube: https://www.youtube.com/watch?v=4u09h8Dza88. Of google “Torynesis orangica” en “Youtube” en dit behoort die eerste skakel bo aan die bladsy te wees.)

Merxmuellera macowanii

(Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.)

Bookmark and Share

Comments are closed.