Andries Bezuidenhout. Persea Americana

(offer vir Huitzilopochtli)

“Don’t fence me in,” sing Eddie Sakamura karaoke.
Ek dink aan die son wat te vinnig ryp word
en tot by die pit vrot. O avokadopeer, Meksikaanse fonds,
hulle beweer jy’s sommer net ʼn oorgewig bessie
maar vir my is jy offer aan die god van smaak.
Die Asteke roep jou āhuacatl (verwysing na jou balsakvorm)
al hang jy aan tweeslagtige bome.
Was Spanjaarde hiérvan bewus toe hulle jou sommer aguacate noem?
Blikoor Engelse hoor regsgeleerdes en doop jou avogato pear
en daarna verval jy in vrye klankassosiasie as alligatorpeer en avokadopeer.

Nie dat jy jou hieraan steur nie. Hulle pluk jou eers,
jy besluit self wanneer jy reg vir eet is.
Kyk hoe kneus hulle jou tussen winkelrakke
skud jou om te hoor of jou hart al klop.
Hulle draai jou in koerante toe, kyk daagliks vir rypwordnuus.
Slaan een dag oor en jy’t reeds van groen na grys versmoor.
Nou verstik hulle jou met etileengas, verkwansel jou as “ripe and ready to eat”.
Versigtig! Hulle gaan jou met tandestokkies kruisig,
jou pit in ʼn waterfles doop.

Avokado, wispelturige vrug –
lyk soos peer of knater, klink soos alligator,
maar proe net soos jou heilige self.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Persea Americana”

  1. carina :

    ‘n Ode aan die avokado! Onherhaalbaar goeie gedig, Andries.Ek hou van klein geskiedenisse.

  2. Carina, ek is bly die avokado val in jou smaak! 🙂 Nou gaan ek uie en knoffel ook aanpak.

  3. Pragtig – sien uit na uie en knoffel!

Los kommentaar