Resensie: Alles het niet kom wôd (Nathan Trantraal)

 

Alles het niet kom wôd. Deur Nathan Trantraal.

Kwela Boeke. ISBN 978-0-7957-0791-9

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit) 

 

Alles het niet kom wôd staan kennelik in die teken van Chokers en survivors, Nathan Trantraal sy dubbele pryswenner-digdebuut van drie jaar gelede.

Veral die dikwels verstikkende werklikhede van die lewe in ’n Kaapse “shacks”-woonbuurt soos Bishop Lavis kom onder die vergrootglas. Kwessies soos dwelmmisbruik, armoede, geweldpleging, seksuele en ander vleeslike vergrype en verstarde klasseverskille word, sonder die omdraai van doekies, te berde gebring.

Weer is die outobiografiese feite en aanslag herkenbaar (en die uitgewersbrief pront hieroor). Dat die digter literêre pryse met sy debuutbundel verower het, en op grond hiervan genooi is om in Nederland te gaan optree (waar hy die gas van die aldaar wonende Afrikaanse literator Annemarie van Niekerk was); dat hy getroud is met mede-digter Ronelda S. Kamfer en dat ’n dogtertjie, Seymor, uit die huwelik gebore is; sekere name van familielede en vriende – dit alles, en nog meer, is bekende feite aangaande Trantraal wat uit heelparty van die gedigte af te lees is.

Meer prominent as in die debuut is religie en digterskap as gedigonderwerpe. Met die moontlikhede dat verdieping in hierdie terreine ontkoming sou kon bied, word nie alte hoopvol omgegaan nie. Die Duitse joernalis en skrywer van sowat twee eeue gelede, Heinrich von Kleist, word derhalwe soos volg (vertaald) aangehaal in een van die motto’s van die bundel: “Paradise is now shut and locked, barred by angels, so now we must go forward, around the world and see if somehow, somewhere, there is a back-way in.”

Trouens, blykens die bundelopdrag verkeer die religieuse en digterlike opdragte vir die digter in ongemaklike balans:

 

Vi my ma se ma,

wie sal gesêret die boek is vannie dywel af

en wie gesêret die Here het haa gewys

ek moet venoem wôd na Natan die profeet

en nie na die singer Rick Astley,

soes my ma wil gehêretie

 

Lelik is my offer

maa ek bring it met liefde[.]

 

Die bundeltitel kry juis in die lig van hierdie temas sy ryker betekeniskante. Sardonies-komies is die titel- en openingsgedig oor ’n demonstratiewe wederdopery in ’n koue see, waar die teenwoordiges, in wit gewade geklee, “soese boy band innie nineties / in matching outfits” lyk. Dié nogals skeefgeloopte nuutmakingseremonie laat die spreker uiteindelik voel:

 

ek het met minner dywels

deerie wate gegaan

as wat ek mee ytgekom het[.]

 

In “Moenie vi hulle sê ôs gan ie, annes wil hulle saamkom” is die epifaniese spirituele belewenis hoog in die berge slegs voorspel op die “comedown” daarna – “epic en brutal / soese boek innie Ou Testament”. Ook seksuele opwekking kan tot gevolg hê dat “jyrie wêreld inne anne lig [sien]” – net om jou, ten slotte (ná masturbasie by die gevonde porno-foto), verskeurd te laat tussen sondebesef en hernude wellusgevoelens (“Silvia Saint”).

Die omslagontwerp, met sy voorstelling van die engel van die lig (pyl in die hand) wat dreigend uittroon oor die kennelik lydende figuur in donker kledy gehul, doen mee aan die oorkoepelende indruk van ironiese relativering wat uit dié versversameling straal.

Daardie “niet” van die bundeltitel lyk, in die lig van al die voorafgaande, ewe ironies-dubbelsinnig. Dit kan op (die Kaapse uitspraakvorm van) nuut dui, maar ook op nie of tot niet.

Onverhuld ontgogeld en bitter is die toon wanneer oor ons land se diskriminerende koloniale erfenis geskryf word (bladsye 38-41, en ook die slotgedig in die bundel) – die vergeefs ervaarde versoeningstrewes van die 1990’s inkluis. Aangaande laasgenoemde word selfs gereken dat “die gif in vergifnis / ôs ammel / siek gemaak het” (“Fiction en estrangement”). Die tekening van familielede, vriende en kennisse (“Saggias”, “Taliban”, “Clichay”, ensovoorts) staan oorwegend in die teken van tragiek en wanhoop. Tog, meermale is daar by sulke uitbeeldings ironiese humorvolheid teenwoordig, wat ’n betreklike opgelugtheid in die hand help werk. In “Ornaments” dryf die digter selfs die spot met sy koestering van eie griewe en wrokke. Ander ligpunte is twee baie onthoubare liefdesgedigte (“Ode to an electric unit” en “Jaloesiegieste”), en deernisvolle verse met raad oor liefdesoeke (“Ezra”) en –betoning (“Rebekah”).

Ook wat styl en toonaard betref, is die verwantskappe tussen Trantraal se twee digbundels opvallend. ’n Meestal ingehoue praattoon, in ’n eiesoortige Kaapse tongval, word benut. Die eiesoortigheid van Trantraal se Kaaps staan uit by die lees van die gedigtepaar “Hoekie vir eensames”, wat ’n gedig deur Trantraal en een deur sy digter-eggenote Ronelda S. Kamfer behels. By hom word die Afrikaanse uitdrukkings veel radikaler foneties weergegee. Die Engelse ekspressies, wat so kenmerkend in Kaaps met Afrikaans vermeng word, word egter byna geheel op standaardspellingwyses en grammatikaal korrekte stelpatrone aangebied. Op die klaarblyklike diskrepansie in hierdie verband het ek in ’n resensie oor Trantraal se debuutbundel gewys.

Tesame met die ironie – wat, soos reeds aangedui, hier sterker op die voorgrond staan as in Trantraal se debuut – werk sodanige styl- en toonaanpak ’n bepaalde afstandelikheid of terughoudendheid van vertelling en uitbeelding in die hand. Die waarnemer- en vertellerbewoëndheid word sodoende minder opvallend gemaak. Tot hierdie effek dra ook die oorwegend nie-estetiserende beelding by, met beeldkeuses wat soms grotesk aandoen. Skildersname soos dié van Hieronymus Bosch, Francisco de Goya, Pablo Picasso en Edward Hopper duik nie verniet hier en daar op nie. ’n Voorbeeld (uit: “Taliban”):

 

Ban se pa onthou soms van hom

Maa laas wat hy hom kom hal et

toe lat val hy vi Ban

vanne moving bakkie af

Ban se brein het soe geswel

dat hy soese political cartoon gelyk et

Ban het meer sere

asse medieval Englishman[.]

 

Trantraal is inderdaad ’n “opspraakwekkende” digter (soos die uitgewersbrief dit wil hê), wat ook met hierdie tweede bundel van hom boei en, veral, onthuts. ’n Mens kan nie anders as om ontsteld te voel as jy by die gefassineerde deurlees van die bundel afkom op ’n gedig soos “Cash for Gold” nie, waarin die digter oor die ironiese afgrond tussen sy digterlike bekroondheid en sy skrynende armoedebelewing skryf.

 

Ek kry respect en awards

wat vi genoeg mense baie beteken

en dan oppe Woensdag

wat niks beteken ie

staan ek innie voorhys en wieg

ie award in my hand

en vra my ma: “Wat dink Mammie,

is dié bronze of copper?”

Assit copper is issit ’n paar dae se kos

assit bronze is beteken it niks vi my nie.

 

Die dae van die Hungerdichter, soos bekend uit byvoorbeeld die era waarin die genoemde Heinrich von Kleist gelewe het, is helaas nie verby nie.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.