Breyten Breytenbach wen top internasionale toekenning

Breyten Breytenbach

 

PERSVERKLARING

Breyten Breytenbach is aangewys as die wenner van die 2017 Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning. Breytenbach, ’n Suid-Afrikaanse digter, skrywer en kunstenaar, was vir etlike jare ’n politieke gevangene tydens die apartheidsera en het deur middel van sy skryfwerk verset getoon teen die regering van die dag. Die prys sal tydens ’n formele seremonie in Warsaw op 25 Mei aan Breytenbach oorhandig word.

Die Zbigniew Herbert Internasionale Literêre Toekenning is ‘n internasionale literêre eer, vernaam op die gebied van die poësie. Dit word sedert 2013 jaarliks toegeken vir uitstaande kunswerk en intellektuele prestasies gekoppel aan die Poolse skrywer, digter en moralis Zbigniew Herbert.

die singende hand

Volgens die beoordelaars, ’n paneel wat bestaan uit internasionale digters, skrywers en essayiste, herroep Breytenbach se oeuvre Herbert se woorde: “Let the anger of the powerless be like the sea / whenever you hear the voice of the humiliated and beaten.”

Breytenbach het die toekenning as ’n besonderse voorreg beskryf. “Dis inderdaad ‘n besonderse voorreg om ‘n toekenning te kry wat die naam dra van so ‘n groot Europese gees en intellek – digters se ‘digtershart’ (so sou die meeste digters Zbigniew Herbert as denker en kreatiewe mens koester) – en soveel te meer so omdat dit toegeken is deur ‘n jurie van heel uitsonderlike woordmense. As brak uit die buiteveld sal ek maar tjoepstil bly in sulke luisterryke geselskap. ‘Groot honde’ het lang skaduwees oor daardie werf gegooi. Ek verwys nou na vorige pryswenners soos, o.a., William Merwin, Charles Simic en Lars Gustafson… So ek sal maar wye draaie draf en hoop hulle kom nie agter hulle het per ongeluk die verkeerde ou nader genooi nie. Ek is dankbaar en bly namens almal wat in Afrikaans skrywe. Want dis tog insiggewend dat een van die jurielede, Joeri Androekhowietsj van Oekraïene, met die bekendmaking van die toekenning daarop gewys het dat Afrikaans tans met uitwissing bedreig word. Ek sou kon byvoeg dat hierdie totaal sinnelose taalmoord gerasionaliseer word deur die heldhaftige Afrikaansveragtende Stalinistiese pragmatiste aan bewind by die Joenewersitie van Kakiebosch.”

Breytenbach in gesprek met Louise Viljoen

Eloise Wessels, besturende direkteur van NB-Uitgewers, het beklemtoon dat dit ’n merkwaardige prestasie is: “Dié prys bevestig weer Breyten Breytenbach se internasionale statuur en die verweefdheid van sy oeuvre in ’n internasionale netwerk van poësie en verset. Dit bevestig ook die aansien van Afrikaans as literêre taal op die wêreldverhoog. Ons is saam met ons skrywer trots op hierdie welverdiende en betekenisvolle erkenning!”

Vir meer inligting kontak:

Helené Prinsloo

Reklamekoördineerder

helene.prinsloo@nb.co.za

Tel: +27 21 406 3450

 

Bookmark and Share

15 Kommentare op “Breyten Breytenbach wen top internasionale toekenning”

  1. Elza Lorenz :

    Bravo! Het nog altyd geweet die werk en die gees is groot van hierdie blawwer. Oor en oor die toekennings en vererings verdien. En baie dankie van my af.

  2. Lieflike nuus in die vroegoggend! Veels geluk, Breyten!
    Dankieblaffie namens almal wat Afrikaans lees en praat.

  3. Marlise Joubert :

    Hartlik geluk, Breyten! Absoluut welverdiend.

  4. De Waal Venter :

    Ek het die nuus met groot vreugde gelees. Warm gelukwense, Breyten! Dit is nog ‘n oorwinning vir alle Afrikaanssprekendes. Afrikaans word miskien bedreig, maar dit is ‘n toekomstaal, een van die mees lewenskragtige tale wat tans gepraat, geskryf en gelees word.

  5. Cas Vos :

    Beste Breyten, woordenaar van formaat,skywer en digter vir die dorstiges op hulle woestynreis, dis ‘n uitstaande prestasie. Van harte geluk. Ek is trots op jou. Mooiloop en pasop vir die honde se gebyt in die donker.

  6. Leon Retief :

    Veels geluk Breyten!

  7. carina :

    Breyten, by wyse van gelukwensing ‘n metaforiese lees van “Twee druppels” van Zbigniew Herbert vir die verhouding digter – gedig:

    Twee druppels

    De bossen brandden –
    maar zij
    vlochten als boeketten rozen
    hun handen om elkaars hals

    mensen renden naar de kelders –
    hij zei dat zijn vrouw haar had
    waar je je in verstoppen kon

    liggend onder één deken
    fluisteren ze schaamteloos
    hun verliefdenlitanie

    Wanneer het heel slecht werd
    vlogen ze in elkaars ogen
    en sloegen die zo goed dicht

    dat ze zelfs het vuur niet merken
    dat al aan hun wimpers likte

    tot het eind waren ze moedig
    tot het eind waren ze trouw
    tot het eind waren ze gelijk
    als twee druppels
    op de gezichtsrand stilgehouden

    (Nederlandse vertaling Gerard Rasch)

  8. C-P Naude :

    Cas, sulke mooi gelukwensinge, so harlik gestel, verdien op sigself ‘n prys! Mens kan dit miskien noem: Die Lof-prys, of die Prys-prys.

  9. Breyten Breytenbach :

    Goeie vriende en kennisse en kenners van die skryfpyne en -kreune en -vreugdes:

    Dankie vir julle mooi woorde. Eintlik is dit al wat tel – dat daar mense is (julle) wat met meegevoel wéét van die miere en die miserabelheid en die meevallers (nié noodwendig op meriete nie, want wie sou dit tog kon meet en megelyk met wat?) van hierdie gemompel as ‘leë gebaar’ (en dalk daarom essensieel?), oftewel, die verwintering van sentimente.

    Dat julle met medelye bewus is van die meetsnoere, die soeke na meter en maat, die materie van verdwyning. “The best way of honouring the past is by actively engaging with the present,” sou Rosa Luxemburg miskien kon gesê het…” Maar dis miskien nie die geleentheid of die plek om te praat van moersnoete, dropped passes, paashaasmoordenaars, passasies, parasiete en pekelvis nie.

    Dit gaan in die meerste instansie om die menswees wat ons deel, wat ‘n saamsonderlingskap is.

    ek het na die miere gaan kyk
    en niks wyser geword nie
    behalwe dronk beïndruk
    met hoe selfs die kleinste
    stippeltjie bewussyn
    blind heen en weer hol
    op soek na die reuk van lewe

    Vodkagroete vir julle,

    Swartbooi

  10. Waldemar Gouws :

    Baie geluk, Breyten. (Waar was ek tot nou dan). Jy weet hoe om die noodlot te vervang, en herinner my aan Herbert se gedig “Period” in Milosz se Engels:

    “In appearance a drop of rain on a beloved face, a beetle immobilized on a leaf when a storm approaches. Something which can be enlivened, erased, reversed. Rather a stop with a green shadow than the terminus.

    In fact the period which we attempt to tame at any price is a bone protruding from the sand, a snapping shut, a sign of a catastrophe. It is a punctuation of the elements. People should employ it modestly and with a proper consideration as is customary when one replaces fate.”

  11. engemi ferreira: ‘n patatrank langs d treinspoor :

    Beste Breyten, ek het op ‘n keer vir my ma ‘n vers geskryf oor al d dinge wat sy al in haar lewe beleef het, soos o.a. twee Wêreld Oorloë; twee keer ‘n stryd om Afrikaans; d eerste motor, d eerste vliegtuig en meerdere sulke enorme geweldige dinge. Maar my ma was nooit in die tronk vir iets waarin sy só sterk gestaan het om daarvoor te veg nie en dan boonop deur haar ‘eie’ mense verkleineer, verwerp, verraai te word nie. Ek en baie ander ouwtjies soos ek – namens wie ek o.a. ook my mond spoel – is dankbaar én trots dat jy nié geloop het toe jy destyds gegroet het nie, maar sedert d ysterkoei gewoon aanhou sing het tot nou; al die wonderspronge tussen personae wat jy kon orkestreer; die sinkronie tussen Inspirasie en Intuïsie in jou songe en dat jy deur jou um … natuurlike ergerlikheid, as ek só mag sê, verse soos spiese vol lig kon stuur, ons donkerland in.
    Baie geluk met die Zbigniew Herbert prys en natuurlik ver-dien jy dit (wie meer as jy?). Dit was vir my net ‘n plesier om die keer te kon deel wees van dié tyd waarin jy op aarde was. Sela

  12. engemi ferreira: ‘n patatrank langs d treinspoor :

    Beste Breyten, ek het op ‘n keer vir my ma ‘n vers geskryf oor al d dinge wat sy al in haar lewe beleef het, soos o.a. twee Wêreld Oorloë; twee keer ‘n stryd om Afrikaans; d eerste motor, d eerste vliegtuig en meerdere sulke enorme geweldige dinge. Maar my ma was nooit in die tronk vir iets waarin sy só sterk gestaan het om daarvoor te veg nie en dan boonop deur haar ‘eie’ mense verkleineer, verwerp, verraai te word nie. Ek en baie ander ouwtjies soos ek – namens wie ek o.a. ook my mond spoel – is dankbaar én trots dat jy nié geloop het toe jy destyds gegroet het nie, maar sedert d ysterkoei gewoon aanhou sing het tot nou; al die wonderspronge tussen personae wat jy kon orkestreer; die sinkronie tussen Inspirasie en Intuïsie in jou songe en dat jy deur jou um … natuurlike ergerlikheid, as ek só mag sê, verse soos spiese vol lig kon stuur, ons donkerland in.
    Baie geluk met die Zbigniew Herbert prys en natuurlik ver-dien jy dit (wie meer as jy?). Vir my was dit net ‘n plesier om die keer te kon deel wees van dié tyd waarin jy op aarde was.

  13. Erika :

    Ek wonder wat Breyten van die huidige Poolse regering dink.

  14. Breyten Breytenbach :

    Die meer tersaaklike vraag, Erika, sou dalk wees wat Zbigniew Herbert, indien hy nog in lewe kon/moes wees, van die huidige Poolse regering dink. Mens wil nie woorde in sy mond lê nie, maar die integriteit van sy lewe en werk (en die onlosmaaklikheid tussen die twee dimensies) spreek tog boekdele! Of dan: gedigte. In sy geval suiwer, gekonsentreerde syns-essensie wat ook uiters effektief ‘gelees’ en ‘verstaan’ is as stellingname in die politieke en sosiale en selfs religieuse arena.

    Wat my aangaan – ek dink u weet goed genoeg wat ek dink. Die prys (wat ek nie eens naastenby verdien nie) word natuurlik nie aangebied deur die Poolse staat of owerhede nie, maar in die naam van ‘n sterk onafhanklike denker deur ‘n onafhanklike stigting wat sy naam eer en sekerlik ook sy oortuigings eerbiedig. Sy weduwee hou ‘n wakende en rigtende oog!

    Klink dit naïef?

    Wie leef sal sien.

    (Engemi: dis ‘n voorreg om hierdie ‘brewwe moment’ van flikkering wat ons ‘lewe’ noem op hierdie skedonk, ons aardskip, met mense soos jy en jou ma te mag deel. Dankie vir julle.)

  15. Bravo Engemi!

Los kommentaar