Resensie: Voor ek my kom kry (Pirow Bekker)

VOOR EK MY KOM KRY – Pirow Bekker

(Protea Boekhuis, 2017,  R180.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek): 137 x 213 mm: Sagteband, pp 108)

Resensent: Marlies Taljard

Omslag

Verrassing, verwondering, verbasing, oorbluftheid … alles emosies wat opgeroep word deur die titel van Pirow Bekker se nuwe bundel Voor ek my kom kry … emosies wat hierdie leser eweneens ervaar het op een of ander tydstip in die lees van die bundel as geheel. Pirow Bekker se nuutste bundel is inderdaad vol verrassings, nuwe insigte, ou insigte nuut ingeklee en temas wat op verrassende wyse uit die verf gehaal word.
Die leser wat bekend is met Bekker se werk, sal nie verbaas wees dat die bundel open met ‘n gedig wat sterk mitologiese trekke vertoon nie – al bevat dit ook die sprokie se verwagting van ‘n gelukkige einde – in aansluiting by baie van sy vorige werk (dink byvoorbeeld aan sy vorige bundel, Atlas teen die Vergeetrivier. Dit is ‘n gedig wat herinner aan die groot skeppingsmites in alle kulture. In hierdie gedig, “Skeppingsprokie”, is die element van verrassing sterk teenwoordig. In die verhaal van die “witjasman” wat op die rioolplaas ‘n willekeurige keuse maak “van virusse rusteloos en viriel” en dit “met ‘n edel doel” soos in ‘n broeikas kweek, word die verwagting van ‘n “goeie einde” geskep deur die edele doel van die skepper. Die ontluistering van die verwagting en dekonstruksie van die sprokie se “happy ending” kom in die laaste reël as ‘n skok wanneer dit blyk dat die inherente kwaad van die rioolplaasvirus deur die eksperiment versterk is. Hierdie gedig is, veral wat betref die dekonstruksie van die verwagte en die ironiese teenstellings, tipies van gedigte in die onderhawige bundel, maar kenmerk ook die res van Bekker se werk met sy sterk kritiese en ironiese ingesteldheid. Dat die gedig buite die formele raamwerk van die bundel geplaas word, verleen daaraan ‘n besondere status en suggereer dat – soos in ‘n proloog – die basiese bestanddele en temas van die hoofteks reeds embrionies daarin aanwesig is, iets wat die oplettende leser wel sal agterkom.
Voor ek my kom kry is ‘n lywige bundel wat meer as 80 gedigte bevat en tematies in 8 afdelings ingedeel is. Die eerste afdeling, Aarde inbegrepe bevat gedigte oor die aard van lewe wat dikwels op die aard van menswees sinspeel. Wispelturigheid, bedrieglikheid en kompleksiteit as tema word vergestalt in gedigte soos “Wesp” en “Versoening ná die karsinoom”. In eersgenoemde gedig val die klem op die wesp se dubbele aard:
want sy lyf is wispelturig,
die sonnige sekel van die donkermaan.

In “Versoening ná die karsinoom” word die son as “tweegesig”, as “janus” en as “judasbok” – gewer van kanker én lewe – erken. In hierdie afdeling word dikwels argetipiese figure en simbole geaktiveer, soos in die besinnende gedig “Vervlaks aangedaan” waarin die nawerking van die ou gode in ‘n eietydse kulturele ruimte bepeins word:
Gode het gesterf en het herrys,
maar hoe volkome het hul heengegaan?
Ook oor die aard van die mens word filosofies besin: Die aard van die mens herinner aan dié van die donkie, aldus die gedig “Behoeftes onder Everest”:
Hulle ken die paaie
na die groen weivelde …
maar dwaal altyd weer terug
na die dorre streke[.]

In Afdeling II, Erd-af is daar in baie gedigte ‘n outobiografiese ek aan die woord wat deur verlies gevorm is en wat by nabetragting sin probeer maak van bepaalde momente in die geskiedenis of in die eie lewe. Een van die treffendste beelde in die bundel is dié van die bergskilpad in “Ommekeer” wat na ‘n storm deur ‘n rivier meegesleur is:
en ‘n bergskilpad
wat uit die see klim
en verdwaas tussen opdrifsels
na berge soek[.]

Hoe sterk resoneer hierdie beeld met die bundeltitel … en hoe kan die mens nie met dié arme skilpad identifiseer nie! Die lot van die mens, die dier en die natuur is by Bekker hier, soos immer, met mekaar verstrengel; die berg en die rivier is by hom ou-ou teenstellings van konkreetheid en vloei, van chaos en stabiliteit.
As antitese tot Leipoldt se ‘n Handvol gruis uit die Hantam staan die gedig “Erd-af mens”, waarin die mens wat “uitgetrek word voor jy gaan slaap” beskryf word. Sinies is die gesprek met die ouer digter en sy romantiese toe-eiening van ‘n bepaalde streek binne die politieke realiteite van ons land:
Jou handvol gruis uit die Hantam,
my liewe Leipoldt, is nie joune nie,
jou liewe, lekker Hantamwyk
het uit jou twee hande uit geglip –
skatryk was jy gister en nou brandarm.

In die afdeling Stormvorme oorheers temas van tydsverloop, afskeid en dood. Die konkrete ruimte van Boggomsbaai, sowel as ander see- en waterruimtes kom veral in die eerste deel van die afdeling voor. Ook in die bundel as geheel word verskeie ruimtes betrek wat outobiografies aan die konkrete outeur verbind kan word en verkry die bundel sodoende ‘n sterk outobiografiese betekenislaag. Een van die interessantste gedigte in die bundel kom in hierdie afdeling voor, naamlik “Uitnodiging tot die dans” wat sterk herinner aan Goethe se bekende ballade “Erlkönig”. Vergelyk byvoorbeeld die slotstrofe met die strofe waarin die Elwekoning die seun die eerste keer verlei:
Kom, moenie bang wees nie,
tree uit jou vestings uit, kyk,
ek het fosfor in my hare,
ek laat die maanlig daarop val
en my kleed dra die vuur
wat vir jou so onmoontlik lyk.

Teenoor:
“Du liebes Kind, komm, geh mit mir!
Gar schöne Spiele spiel’ ich mit dir;
Manch’ bunte Blumen sind an dem Strand,
Meine Mutter hat manch gülden Gewand.”

En die vertaling deur S.J. du Toit in Afrikaans:
“Kom, kindjielief, kom saam met my!
So heerlik speel hul waar ek bly;
Veelkleurige blomme groei op die strand,
Van goud gaan jou kleed wees uit moeder se hand.”

Die gedig “Fuik” is ook ‘n sterk gedig waarin die gedrongenheid van die taalgebruik die desperaatheid van die ystervark wat nie uit die fuik kan retireer nie, meesterlik uitbeeld. Die woordspeling “fuik”-“fnuik” is in hierdie gedig besonder geslaagd, in teenstelling met baie ander geleenthede waar woordspelings net té opsetlik en ooglopend voorkom. In “Die patetiek van ‘n blokhuis” word die beveiligingsdrang van die moderne Suid-Afrikaner vergelyk met die vink, “sy nes ’n toeknypnier wat hang / aan die laagste tak oor die rivier”. Dit is opvallend hoe dikwels in hierdie bundel op ooreenkoms tussen die mens en ander aardbewonders gefokus word, eerder as op verskille. Nog so ‘n gedig is byvoorbeeld “Die ou leeu en die karkas” met sy insig dat alle lewe deel is van ‘n groter opset:
Oor jou gekrom
voel ek hoe warm
val ’n lewe,
hoe in die asem oor jou tong
’n storm woed, hoe intiem
’n raasblaar raas,
’n bosveld kwyn,
maar verlaat sal ek jou nie –
jy kon my nie ontduik
en jou bloed is al wat ek ken:
Jy is ek,
ek is jy.

Die vierde afdeling, Ewe-eens, is duidelik outobiografies van aard. In die eerste gedig in dié afdeling word die digter by die naam genoem: “Bekker ingelyf” en word verwys na verskeie konkrete ruimtes wat vir die digter Pirow Bekker besondere betekenis het. Die duidelike mineur-toonaard van hierdie afdeling hang saam met temas van liggaamlike aftakeling en verval, die stryd om siel en liggaam aanmekaar te hou, veroudering, afskeid, bestekopname en die soeke na identiteit. Ook oor die dood word in die slotgedig van die afdeling bespiegel wanneer die digter (weer eens) in gesprek tree met die digter Eugène N. Marais, “Eugène Marais op Pelindaba”. Die slotstrofes van dié gedig tref deur die insig in die mens agter die mite en die onverwagte klem op detail wat getuig van identifikasie met die mens Eugène Marais, wat by herhaling in hierdie bundel opduik by wyse van direkte of intertekstuele verwysing:

Was sy aandag by die geweer: die patroon,
die kolf se bars met kouelym verseël,
die loop dalk aangepak en nie verblou?

Of was hy by Tebes waar van die kruin
die berghaan draaiend opwaarts spoed
óp voor die son met groot geroep?

‘n Tipiese Pirow Bekkergedig is “Teësinnig” waarin die filosofiese bepeinsing oor verganklikheid in die slot skielik onderbreek word met klem op die praktiese alledaagse:
Daar was niks hier
niks wat hulle hou nie.
Boonop het hulle agtergekom
daar is reën
in die ouwind se waai.

En die laaste wasgoed moet af.

Agterweë, die vyfde afdeling van die bundel, bestaan meestal uit gedigte oor die digambag. Die eerste Ars Poetica is die narratief van waar dit begin het (by die dood van die digter se vader) tot op hede waar hy soos Job op die ashoop homself met ‘n potskerf krap – die gedig spruit blykbaar dikwels uit die behoefte om pyn te transendeer. Opvallend is die groot aantal Bybelse verwysings wat juis in hierdie afdeling voorkom.
‘n Aantal liefdesgedigte is byeengebring in Afdeling VI, Kersgevoelig in die liefde. Ons het Bekker reeds in sy vorige werk leer ken as ‘n fyngevoelige skrywer van liefdesgedigte. Lesers kan hulleself gerus die guns doen om dié gedigte in sy vorige werk te gaan naspeur. Ook in hierdie bundel staan eerlike en deurleefde liefdespoësie. Ter illustrasie haal ek een van die treffendste kwatryne in die bundel aan:

Erwarming

Voorste bos, my hart, was lekkerbreek,
met ’n witkersnoors om dit brand te steek –
hul vlam, nou lankal asjaskoud,
flikker nog in hardekool se optelhout.

Wat my in hierdie afdeling egter gepla het, is die herhaling van woorde soos “my lief” en “liefde” – woorde wat enige digter behoort te vermy, omdat dit (soos hier) maklik gebruik word om oor die liefde te redeneer of om ‘n soetsappige emosionele lading tot gedigte te probeer toevoeg wat afbreuk doen aan die res van die gedig. Hoewel die digter se beelde oorspronklik is en die inhoud gevarieerd, sou ek reken dat hier enkele gedigte weggelaat kon wees.

Die voorlaaste afdeling, Mens ontpop bestaan uit ‘n aantal los saamgevoegde gedigte waarvan die tema in enkele gevalle vernietiging en oorlog is, ook vernietiging van die natuur, soos in die gedig “Opdrag vir ‘n vroeë herfs”, ‘n ironisering van Van Wyk Louw se “Vroegherfs”. Ook Toon van den Heever se bekende gedig “Ritrympie” word in hierdie afdeling ingespan om die teenstellende ingesteldhede ten opsigte van oorlogvoering van romantiese digters uit die vroeë Afrikaanse literêre era en die siniese post-Tweede Wêreldoorlogdigters te illustreer:
In jou allitererende “Ritrympie”, oom Toon,
gee hul die perde maar teuel en spoor
en word uit bewondering vir die Boer
“die lug met helmette geel” –

hier word die lug ook geel, grougeel
van ’n giftige boom, gekweek
uit ’n nietige mosterdsaadjie-atoom,
hier moet selfs digters, lyk dit tog, aanvaar
oorlog, oom Toon, het sy speelsheid verloor.

Die slotafdeling, Frontaal, is ‘n soort bestekopname voor die finale afskeid. Weer word ander skrywers intertekstueel bygehaal om ooreenkomste met die eie belewenis te lê, soos in die gedig “Lyf op die spel”. Bybelse verwysings kom dikwels voor, soos in “Lewe-lewe”:
Noudat ek weggaan,
sal die olyfboom traer vergroen,
die suikerkan verbitterd styf
droëkopspeel, die geelhout vraend
skelm uitloop op die grond,
die helejaarseptemberbosse hul blom
rooikappierig verloor, die wildevy
en melkhout mekaar se erbarming soek[.]

In “Hansie slim herbesin” word bestek opgeneem van die tyd wat die “weggaan” voorafgaan. Die slotgedig, “Toe ek my kom kry” met sy direkte inspeling op die titel, insinueer die skielikheid en onverwagsheid van “die oomblik van impak” – wat binne die konteks waarin dit staan, waarskynlik die dood mag beteken.
Globaal gesproke is Voor ek my kom kry ‘n redelike sterk bundel wat in tematiek en tegniek aansluit by die digter se voorafgaande werk. Sterker besinning oor eindes en die dood is redelik algemeen in die werk van ouer digters. Bekker se woordrykheid en sy opsetlike omseiling van eenvoudige woorde en begrippe in ‘n tegniek wat aan die raaisel herinner, doen ook in hierdie bundel (soos in voriges) soms afbreuk aan sy gedigte. So ook steur die gebrek aan duidelike denkspronge – soms is dit nie duidelik op welke wyse die uitgeborduurde beeld toeligtend ten opsigte van die stof staan nie. Ek dink hier onder andere aan die boom-beeld in die gedig “Voortrekker ken agterna”. Tom Gouws verwys in sy resensie van ‘n vorige bundel na hierdie tegnieke as “vernufpoësie”. Daar is sekerlik heelwat gedigte in die bundel wat die illusie van spontane ontstaan skep, maar daar is te veel gedigte waarin die digter nog te duidelik aan die dig is, onder andere by wyse van te veel onsubtiele woordspelings, los en vas gebruikte vaste uitrdukkings en verklarings.
Aan die positiewe kant van die balansstaat moet egter die digter se poëtiese bedrewenheid, sy fyn sin vir die ironie en die statire en sy kennis en ervaring van digterlike tegnieke genoem word. Bekker se kwatryne is steeds skerp soos ‘n tweesnydende swaard. Wat kontraswerking betref, is hy ‘n meester wat die leser soms koue rillings gee. Sy poësie word gekenmerk deur die saambestaan van teenstrydighede binne dieselfde gedig wat dui op ‘n insig in die meerduidigheid en gevarieerdheid van die lewe wat min ander digters in Afrikaans beskore is.

Myns insiens is Bekker se vermoë om steeds in nuwe en treffende beelde te dink een van sy sterkste eienskappe as digter. Weer en weer staan die leser verstom oor die trefkrag van sy metafore. Aan die wesp sê hy: “O brandepyn laat my staan!”; oor die Vredefortkoepel sê hy: “stof is hy, soos jy, / net in die vorm van ’n luit” …
Hoewel nie altyd ewe geslaagd nie, is die digter se intrek van die insigte van ander digters by wyse van intertekstuele verwysing ‘n wyse van kommunikasie met ander kunstenaars. In hierdie bundel bewerk die ongemaklike saambestaan van “ouer” digters se sieninge naas dié van sy eie ‘n spanning wat bydra tot konstante beweging in die bundel – sien in hierdie verband René Bohnen se onderhoud met die digter op Versindaba. Deur ander digters as’t ware uit te vra, kom ‘n kritiese gesprek in die bundel tot stand wat eie is aan die poësie van Pirow Bekker. Neem daarmee saam in aanmerking die digter se gawe om die konkrete uit die filosofiese te abstraheer en jy het ‘n unieke stem in Afrikaans – die stem van een van die min hedendaagse digters met deeglike kennis van klassieke tekste, ‘n denker en ‘n individualis.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Voor ek my kom kry (Pirow Bekker)”

  1. Margot Luyt :

    Wie is die uitgewer?

  2. Marlise Joubert :

    Ons het dit nou bygevoeg Margot. Verskoning.

  3. Fransi :

    By my wenslysie gevoeg. Baie dankie.