Nini Bennett. Twee gedigte

Kleindorpse fragment

 

My God
is ‘n posbus
met ‘n mossiehart
en drie verlate eiers.
Ek nael na die cul-de-sac
en die blinde onbewoonde huis, óór
die kreupel paadjies met die duwweltjies
en my voete vonk teer
want my God is weer jonk, my God
is diggeheim en stof
as ek vlug in die hoogbloei
van my jeug met voete stom
teen die duwweltjies
en eensaam
soos die vlegsel singend agter my aan.

 

*

 

Vir Sheila

 

In weerwil van genade
wat so beenmin vra,
die blote bruikleen van ‘n lyf ―
maar ou been vermurwe,
minder beendig
word ou been murg
en sag, ‘n kalkdun lewe
van uitgespaarde krag.
Dalk word ons fossiele
as die see oor sy afgrond stoot
eendag, na groter hoogtes hel ―
ouerwordend
die verwording, die skulpe,
die verlooptes
teruggegee aan land en see.

 

© Nini Bennett / 2017

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Nini Bennett. Twee gedigte”

  1. Lianda :

    Albei gedigte is lieflik!

Los kommentaar