De Waal Venter. Kwantumpoësie

Neurone

Kwantumpoësie

Daar is geen duidelike verklaring van wat “denke” nou eintlik is nie. Wat beteken dit om te “dink”? Wat gebeur daar in ons breine wanneer ons dink?

Daar is wel baie kennis oor die elektriese aktiwiteit wat deur die dendriete, neurone en aksons van ons breine vloei. Kenners weet ook baie van die chemiese reaksies in die brein en die rol wat verskeie dele van die brein speel in verskillende breinfunksies.

Maar presies hoe verduidelik mens die dinkproses, en daarmee gepaard, “bewussyn”?

Niemand sal seker ontken dat poësie net kan ontstaan wanneer daar denkprosesse aan die gang is nie. Ek wil in hierdie stuk kyk na ’n interessante teorie oor die geaardheid van die dinkproses in verskeie fasette, en veral hoe dit verband hou met die skep van poësie.

’n Taamlik nuwe teorie oor die denkproses (ongeveer tien jaar) het baie mense aan die praat en het ook baie teenstanders.

Matthew Fisher, ’n fisikus aan die University of California, Santa Barbara, het ’n verhandeling gepubliseer in die gesaghebbende tydskrif Annals of Physics. Daarin postuleer hy dat die wenteling of “spin” van fosforatoomkerne as rudimentêre “qubits” in die brein optree. Dit beteken dat die brein essensieel kan werk soos ’n kwantumrekenaar. (’n “qubit” is ’n “quantum bit” of “kwantumbis”, die basiese strukture waarmee kwantumrekenaars werk.)

Bloudruk vir ‘n kwantumrekenaar

Maar hoe werk ’n kwantumrekenaar? Daar bestaan reeds kwantumrekenaars wat sekere rekenaarfunksies kan uitvoer. (Die Kanadese Wave-D rekenaar word deur Google en Nasa, o.a. gebruik). Eerstens moet verskillende kwantumbisse met mekaar verwikkel word (entangled). Daar is verskeie metodes om dit te doen, een is om fotone deur ’n spesifieke tipe prisma te straal. Wanneer twee partikels of kwantumbisse verwikkel is, ontstaan die situasie dat een kwantumbis verander sodra jy iets doen aan die verwikkelde een, selfs oor afstande van miljoene kilometer, of oor baie klein afstande.

Wat van poësie?

Moenie bekommer nie, ons kom binnekort by poësie uit! Ons moet net eers ’n basiese begrip kry van kwantumverskynsels.

Die verwikkelde kwantumbisse is in ’n delikate staat en kan maklik versteur word. Dit is een van die sterkste besware teen Fisher se teorie: die brein is op elektroniese vlak ’n “raserige” plek en verwikkelde kwantumbisse kan maklik versteur word. Kritici sê verwikkeldheid is onmoontlik in die menslike brein.

In die afgelope paar jaar het dit egter al hoe meer duidelik begin word dat sekere biologiese stelsels kwantum-meganiese verskynsels toepas. Die wetenskaplike tydskrif Quantum Magazine rapporteer dat sulke verskynsels plante help om sonlig in voedingstowwe en energie om te skep. In die hoogs gerespekteerde multi-dissiplinêre wetenskaplike tydskrif PNAS, (Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America) word daar beskryf hoe migrerende voëls hulle “kwantum-kompas” gebruik om hulle weg oor duisende kilometer te vind met minder as 5 grade afwyking van waarheen hulle mik..

Senthil Todadri is ’n fiskus by die Massachusetts Institute of Technology. Hy is ’n goeie vriend van Fisher en hy behou ’n gesonde skeptisisme oor Fisher se teorie. Die volgende is van hom gesê: “But he thinks that Fisher has rephrased the central question — is quantum processing happening in the brain? — in such a way that it lays out a road map to test the hypothesis rigorously.” Todar het gesê: “The general assumption has been that of course there is no quantum information processing that’s possible in the brain,” Verder: “He makes the case that there’s precisely one loophole. So the next step is to see if that loophole can be closed. Indeed, Fisher has begun to bring together a team to do laboratory tests to answer this question once and for all.”

Dit is interessant dat die idee van verwikkeldheid reeds in die 19e eeu bepeins is. Dit is nie gesien as ’n kwantumverskynsel nie, aangesien die begrip destyds nog nie bestaan het nie.

Ada Lovelace 1840

Ada Lovelace (1815-1852), dogter van Lord Byron, het saam met Charles Babbage gewerk aan “die eerste rekenaar”, ’n masjien wat berekeninge kon maak. Ada het die eerste rekenaar-program geskryf. Van hierdie proses het sy gesê: “

“It seizes points in common, between subjects having no very apparent connexion”

‘n Deel van die “Difference Engine”

(Dele van die besinning oor die poëson hieronder is voorheen as ’n essay op Versindaba gepubliseer)

Die poëson

Ek wil die begrip van die “poëson” gebruik om ondersoek in te stel oor hoe kwantumverskynsels soos “verwikkeldheid” oorsprong kan gee aan poësie. Daar is talle ander aspekte wat in berekening gebring kan word wanneer mens hieroor besin, maar vir die doeleinde van hierdie stuk laat ek dit buite berekening.

Die poëson is ‘n begrip wat ek gebruik om spesifieke eienskappe van poësie aan te dui, sowel as die tegniek wat ek (en waarskynlik alle digters) gebruik wanneer mens poësie skep. Die woord “poëson” (in hierdie verband) maak sy eerste verskyning in die openingsgedig Releasing the rock van my bundel Entangling states of mind. lulu.com 2010 ISBN: 978-0557-83905-6

Voor ek die begrip wil probeer definieer, wil ek twee verwante begrippe naderhaal. Die eerste een is “verwikkeldheid” of in Engels, “entanglement”.

Verwikkeldheid

Ek gebruik die woord “verwikkeld” nie in die sin van “ingewikkeld” of “gekompliseerd” nie. Dit word hier in ‘n spesifieke sin bedoel: dit is die verwantskap wat daar tussen woorde en begrippe in ‘n gedig bestaan wat soms nie onmiddellik voor die hand liggend is nie.

Dit toon nogal ooreenkomste met “entanglement” in die kwantumfisika waar daar invloed uitgeoefen kan word op materie oor ‘n afstand, sonder dat daar enige oënskynlike verbinding is tussen die twee hoeveelhede materie. Dit is Einstein se spukhaften fernwirkung waarvan hy net niks gehou het nie.

Die tweede is Conceptual blending

Uit: Wikipedia

Conceptual Blending (aka Conceptual Integration) is a general theory of cognition.[1] According to this theory, elements and vital relations from diverse scenarios are “blended” in a subconscious process known as Conceptual Blending, which is assumed to be ubiquitous to everyday thought and language. Insights obtained from these blends constitute the products of creative thinking.

Uit: Conceptual Blending Theory and the Social Sciences

Cristóbal Pagán Cánovas (cpcanovas@um.es)

Department of Classics, University of Murcia, Campus de la Merced 30001 Murcia, Spain

Conceptual Blending Theory (CBT) provides a model of how meaning is constructed by selectively projecting – according to optimality and governing principles – materials from mental spaces (Fauconnier, 1985, 1997), small conceptual packets built as thought and discourse unfold. These materials – cultural frames, embodied schemata, relations, contextual knowledge – are integrated into new wholes or blends, which retain the links to their inputs, thus forming a network of mappings and projections. According to this theory, conceptual integration is a defining human capacity underlying all major products of meaning construction: metaphor, language, religion, art, etc.

Nou kan ons weer voor begin. Wat is ‘n poëson?

In sy eenvoudigste gesien, is ‘n poëson ‘n hoofelement van ‘n gedig wat konsepte en beelde vervat en wat amper ongemerk met die struktuur van die gedig verwikkeld is.

Dit kan verder so beskryf word: dit is ‘n soort bousteen, omvattender as enkele woorde,  en enkele beelde, wat gebruik word om ‘n gedig te bou.

Woordorde, aspekte van woorde, verwikkeldheid en konnotasie speel alles ‘n rol om ‘n poëson te vorm. Poësons maak dit vir die digter moontlik om konsepte op ‘n subtiele manier te verwikkel – konsepte wat nie noodwendig ruimtelik na aan mekaar geplaas is in die gedig nie.

Die poëson is dus essensieel ‘n stel verwante konnotasies en verhoudinge (noem dit ‘n gestalt) wat mekaar versterk en verryk – dit is wat ‘n gedig ‘n kragtige stelling kan laat maak, iets wat ryk is aan betekenis en emosionele trefkrag.

Wat bedoel ek met “aspekte van woorde”?

Alliterasie, rym, ritme, gevoelswaarde, vreemdheidswaarde (ostranenie ) is party van die aspekte van woorde soos ek dit hier toepas. Dit omvat alles wat ‘n woord verhoogde betekenis en impak in ‘n gedig kan gee.

Ons kyk weer na “verwikkeldheid”

Verwikkeldheid in ‘n gedig beteken dat skynbaar onverwante konsepte (dikwels ruimtelik geskei in ‘n gedig) gekoppel word. Hierdie proses skep nuwe betekenisstrukture (reekse tussen-afhanklike betekenisse) ryker in inhoud as die enkele konnotasies waaruit dit saamgestel is. Verwikkelde betekenisse skep ‘n “Gestalt” in die gedig  en dit is ‘n poëson.

In ‘n gedig raak poësons op hulle beurt weer met mekaar verwikkeld om ‘n semantiese struktuur te skep wat komplekse betekenis dra. Hierdie verwikkeldheid resoneer onverwags in verskeie emosionele en intellektuele dimensies.

Daar het in Desember 2011 ‘n interessante artikel in New Scientist verskyn. (Rhyme and reason: The Victorian poet scientists 30 December 2011 by Paul Collins).

Die artikel vertel van Victoriaanse wetenskaplikes wat ook graag gedig het. Dit was daardie jare blykbaar hoog mode vir wetenskaplike om ook digters te wees.

Een gedig val op. Dit lyk of dit ‘n soort voorloper kan wees van die “entanglement” idee.

“James Clerk Maxwell, famous for his unifying theory of electromagnetism, was one of the most prominent Victorian poet scientists.”

Generations of physics students learned his amusing Robert Burns spoof, Rigid Body Sings, and his take on Valentine’s Day card poetry – Valentine by a Telegraph Clerk (male) to a Telegraph Clerk (female) – still delights:”

The tendrils of my soul are twined

With thine, though many a mile apart.

And thine in close coiled circuits wind

Around the needle of my heart.

Die poëson en Conceptual Blending Theory (CBT)

Uit wat hierbo geskryf is, blyk dit duidelik dat daar groot ooreenkomste is tussen die poëson-gedagte en CBT.

Die volgende beskrywing pas die poëson eintlik baie goed: These materials – cultural frames, embodied schemata, relations, contextual knowledge – are integrated into new wholes or blends …

Die poëson is egter ook iets anders as hierbo beskyf, dit is spesifiek ‘n hoofelement in ‘n gedig wat konstruktiewe funksies het in die literêre kunswerk en wat as sulks nagespoor kan word in die gedig. Dit “versmelt” (blend) die talle elemente waaruit ‘n gedig bestaan tot ‘n sinvolle geheel.

Poësons in die skryf van ‘n gedig

Hoe hou ‘n digter hierdie komplekse idees in sy of haar kop met die skryf van ‘n gedig? Antwoord: die digter hanteer poësons nie op ‘n bewustelike manier nie.

Ek persoonlik skryf so intuïtief as moontlik. Om bewustelik te dink aan die meganika van die skryfproses – beelde, metafore, metrum, ritme, poësons ens. – inhibeer my sodat ek nie kan skryf nie; of anders skryf ek in so ‘n situasies iets wat leweloos en geyk is.

Vir my is die tyd om aan tegniek en meganika te werk, wanneer ek herskryf en redigeer.

Hoe word die poëson dan hanteer?

Ek gebruik myself as ‘n voorbeeld omdat ek naastenby ‘n idee het wat in my kop aangaan, maar ek dink dit geld op een of ander manier vir alle digters.

Sonder om die menslike gemoed, brein en denkwyse in diepte te wil bespreek, moet ek hierby die volgende stellinge maak:

die poëson word grootliks op die vlak van die onbewuste geskep. Hoe dit gebeur, is nie vir my bewuste denke begrypbaar nie. Die onbewuste het bykbaar die vermoë om ‘n komplekse stelsel soos ‘n poëson tot stand te bring – iets wat die bewuste denke nie kan doen nie.

Die digter “konnekteer” die poësons wat geskep is met ‘n bewuste komposisie-proses, d.w.s. die uitdrukking van die poësons ‘n ‘n taalvorm wat vir ‘n leser verstaanbaar sal wees.

Skepping van die poëson

Die gemoedstoestand waarin die digter moet wees om hierdie proses suksesvol te loods, is verwant aan die gemoedstoestand waarin iemand verkeer wat mediteer. Daarmee sê ek nie ‘n digter moet mediteer om te kan dig nie, net dat die twee toestande ooreenkom. Elke digter het ‘n unieke manier om daardie toestand te bereik.

Daar was tye dat digters middels soos dwelms en alkohol gebruik het om die gewenste toestand te bereik. Die newe-effekte daarvan is natuurlik ‘n bietjie rof en neig om die digter taamlik vinnig op ‘n afdraande-pad te plaas.

Ten slotte kan ek net sê dat elke digter op sy of haar manier die gemoedstoestand bereik wat ‘n gedig suksesvol kan laat ontstaan. Daar is geen enkele “regte” metode of werkswyse nie. Elke digter moet sy of haar eie oplossing kry.

Demonstrasie

Ek gaan nou aan die hand van ’n gedig van Tomas Tranströmer wat ek uit Sweeds vertaal het, demonstreer hoe ‘n poëson in die gedig voorkom.

Tomas Tranströmer

Ontstelde meditasie

’n Storm swaai die meul se vlerke wild in die rondte

in die donkerte van die nag, maar maal niks. – Jy

word wakker gehou deur dieselfde wette.

Die gryshaai se buik is jou dowwe lamp.

Vormlose herinneringe sink na die dieptes van die see

en verhard daar tot vreemde gestaltes. – Groen

van alge is jou kruk. Iemand wat

uitgaan op die see kom verstyf terug.

Groot withaai

Ons bekyk die volgende twee poësons:

Lig: donkerte – dowwe lamp – vormlose herinneringe – dieptes

Ontasbaarheid: maal niks – vormlose herinneringe – dieptes – groen van alge

Die “lig”-poëson.

Die eerste reël in die gedig bevat reeds die kiem van die poëson wat ons in die tweede reël aantref. Daar is ’n storm en in sulke weer is daar gewoonlik bewolkte lug en dowwe lig. In die tweede reël kom dit volledig na vore: “donkerte van die nag”.

Die poësom word verder gevoer in die vierde reël, wat ook die begin van ’n ander poëson bevat: “Die gryshaai se buik is jou dowwe lamp”. Die “dowwe lamp” gee min lig en bied ’n ander dimensie aan “donkerte. Dit is asof mens onder water is en die dowwe witterigheid van die haai se buik sien. En daar is die begin van die ander poëson: die haai lei na die “dieptes van die see”.

Maar laat ons eers die eerste poëson navolg reg deur die gedig. In die eerste reël van die tweede strofe lees ons van “vormlose herinneringe”. Die poëson loop nog steeds, alhoewel in effens ander vorm. Die vormlossheid is ’n gewaarwording wat nou verband hou met dofheid en donkerte. En dan neem die poëson ons uiteindelik na “die dieptes”. Weer eens ’n ander manifestasie van “donkerte”, “dofheid” en “vormloosheid”.

Hierdie reeks begrippe wat ek ’n “poëson” noem het geen semantiese verband met mekaar nie en kom in verskilende versreēls voor, onafhanklik van mekaar. Maar hulle is verwikkeld (entangled) met mekaar deurdat hulle ’n betekenissisteem opbou wat een van die boustene van die gedig is. Hier wil ek dan die ooreenkoms sien van die werking van die poëson en die gedrag van kwantums wat verwikkeld is en sodoende dieselfde antwoord gee wanneer die een of die ander getoets word.

Die “ontasbaarheid”-poëson

In die tweede reël lees ons dat die meul “niks” maal. Ten spyte van die geweld van die storm en wild-draaiende vlerke kom daar nie iet tasbaars ba vore nie. Dit lei ons weer eens na een van die kernbegrippe van die gedig, “vormlose herinneringe” in die eerste reël van die tweede strofe. Die herinneringe bestaan eintlik nie, hulle is in wese niks omdat ’n herinering wat “vormloos” is, eintlik geen bestaan het nie.

Weer kry hierdie poëson ’n raakpunt met die vorige een en ons lees weer van “dieptes”. ’n “Diepte” is uiteraard vormloos. Dit geld ook vir “groen”. In die derde laaste en tweede laaste reëls lees ek dat “jou kruk die groen van alge is” en nie dat jou kruk vol groen alge geword het nie. “Groen is ’n kleur en het ook geen vorm nie.  Hierdie poëson maak die leser op ’n ander manier bewus van die spreker se “ontstelde meditering” oor die vreesaanjaende “Niks” van die onverstaanbare groot heelal waarin ons ons bevind.

Is die digter bewus van hierdie subtiele verwikkeldhede en “onsigbare” werkinge van die poësons wat hy skep? Na my mening is die digter heeltemal onbewus daarvan. Die essensiële gedig word geskep op ’n manier wat grootliks ooreenkom met die gedrag van verwikkelde kwanta.

Samevattend

Ten spyte van al die eeue se “dink oor dink”, weet ons eintlik nog maar min van hierdie fenomeen. Af en toe loop ons ’n leidraad raak en  kry ons ’n effense insig in hoe denke werk. Die skepping van poësie is ’n besondere tipe denke en digters soek altyd na maniere hoe om hulle vaardighede te verbeter. Dalk sal insigte in kwantumfisika ook nuwe insigte bring op die gebied van poësie.

einde

Bookmark and Share

17 Kommentare op “De Waal Venter. Kwantumpoësie”

  1. Balt Verhagen :

    Hello de Waal

    Wil nog jou lang en boeiende artikel behoorlik deurlees maar was getref deur jou opsomming oor dink (of denke) – wat my terloops herinner het aan ‘n steekdig van Uys Krige: “..ek dink ons digter denker dink hy dink..” – waarin o.a. “..loop ons ’n leidraad raak en kry ons ’n effense insig in hoe denke werk.” Dit het my laat dink(!) aan een van Ronald Stuart Thomas se gedigte wat weliswaar gaan oor God-soeke; maar wat is ‘n poëson eintlik?

    Ek kon die verleiding nie weerstaan om dit gou-gou te vertaal nie

    Via Negativa

    Wel, nee! Ek’t nooit anders gedink
    as dat God die groot afwesige
    In ons lewens is nie, die leë stilte binne
    In ons, die plek waar gaan om te soek
    Maar nie hoop om aan te kom
    Òf te vind nie. Hy skuil in die gapings
    In ons kennis, die donkerte tussen die sterre.
    Dis sy eggo’s wat ons volg,
    Die voetstappe wat hy nou net
    Agtergelaat het. Ons strek ‘n hand
    Uit na sy lende in die hoop om
    Warmte te vind. Ons kyk na mense
    En plekke soos ons vermoed hy ook na hul
    Gekyk het; maar mis die weerkaatsing.

  2. De Waal Venter :

    Ek is bly jy vind die artikel interessant en ek hoop jy kry tyd om dit in sy geheel te lees.

    Jou vertaling van die Engelse gedig is noukeurig. Ek dink die leser kan in die Afrikaanse weergawe baie dieselfde ervaring kry as wat jy in Engels kry.

    As jy die artikel verder lees sal jy sien daar is nogal ‘n uitvoerige uiteensetting van wat ‘n poëson nou eintlik is.

  3. Leon Retief :

    De Waal, interessant hoe jy die verskillende takkies bymekaarbring om ‘n bondel te vorm. So paar jaar gelede het ek iets vir Versindaba oor bewussyn geskryf. As ek mag vit (en my respons probeer kort hou): daar is nie eenstemmigheid of Wave-D inderdaad ‘n kwantumrekenaar is nie: http://physicsworld.com/cws/article/news/2014/jun/20/is-d-wave-quantum-computer-actually-a-quantum-computer
    En: https://www.technologyreview.com/s/603438/can-a-powerful-new-quantum-computer-convince-the-skeptics/
    Dat kwantumprosesse by sommige biologiese prosesse betrokke is (reuk en fotosintese) is nie te betwyfel nie, daar is navorsers wat reken dat voëls se navigasievermoë nie noodwendig van kwantumverskynsels afhanklik is nie, die tyd sal leer maar dit lyk belowend.
    Roger Penrose het al in die 1980’s, eers alleen en toe saam met ‘n narkotiseur Stuart Hameroff gepostuleer dat kwantumverskynsels in die vorm van mikrotubules by bewussyn betrokke is, maar hul teorie het nie inslag gevind nie.
    Volgens Fisher word pirofosfaat ensimaties afgebreek na twee fosfaat-ione wat pare kwantumbisse kan beskerm teen aftakeling, moontlik selfs vir so lank as ‘n sekonde. Sogenaamde Posner-molekules word gevorm wanneer hierdie fosfaatmolekules met ekstrasellulêre kalsium bind, hierdie Posner-molekules erf die verwikkeldhede dan vanaf die fosfaatmolekules. Die Posner-molekules gaan dan voort om te interreageer met pre-en postsinaptiese neurone wat neuro-oordragstowwe vrystel.
    Daar is (vir wat my mening werd is) ‘n paar probleme met bogenoemde.
    1) Posner-molekules is (nog) nie in vivo gevind nie. Sou dit wel in die mens gevind word dan sal daar vasgestel moet word of dit alleenlik in die brein voorkom (mens dink tog nie buite jou brein nie) en daar sal gesoek moet word na sulke molekules in ander organismes met minder komplekse senuweesisteme. As dit ook in sê nou maar eekhorings of akkedisse voorkom dan sal die funksie daarvan in denke in twyfel getrek moet word.
    2) Die Posner-molekules (lang storie kort) veroorsaak vrystelling van neuro—oordragstowwe wat na alle waarskynlikheid die basis van neurofisologie is – dit het dus te doen met die vrystelling van hierdie oordragstowwe en dit mag dus dalk nie ‘n sentrale rol in denke speel nie.
    3) Dit is (vir my) onduidelik op watter manier die ontstaan van spin in die fosfaatmolekules en dan natuurlik ook in die Posner-molekules beïnvloed word deur eksterne faktore en/of hoe dit tot denke aanleiding kan gee. As Fisher iets daaroor gesê het (en ek het al gesoek) kon ek dit nie kry nie. Daar is nie ‘n onbeperkte getal wentelinge van pare subatomiese partikels nie. As ek dink aan musiek waarna ek gisteraand geluister het, of jy sit en dink aan die gedig waaraan jy werk, hoe beïnvloed die ontstaan van die wentelinge ons gedagtes of andersom? Ek hoop ek het dit duidelik gestel.
    So paar jaar gelede was ek redelik vas oortuig dat kwantumverskynsels nie op noemenswaardige wyse by breinfunksie betrokke is nie. Tans is ek nie meer so seker nie maar as ek nou gedwing sou word om ‘n keuse te maak sal ek nie my geld op kwantum waag nie. Dalk later .

  4. Fransi :

    Ek het hierdie artikel ongelooflik baie geniet. Baie dankie. Dit is werklik besonders.

  5. De Waal Venter :

    Dankie vir jou kommentaar, Leon.

    Ek waardeer die bykomende inligting wat jy gee oor die chemiese prosesse wat in die brein voorkom. Ek wou nie te tegnies raak in my essay nie en dus is ek bly dat jy aanvul.

    Gelukkig hoef jy nie geld te waag op kwantum-aktiwiteit nie, wetenskaplikes en ander dinkendes is hard besig om dit te probeer ontrafel! Maar dink net hieraan: moontlik is die gedoente heeltemal volledig aan die gang in jou kop vanf geboorte (dalk nog voor dit). Kan dink aan homself dink?

  6. De Waal Venter :

    Ek is regtig bly jy het die essay geniet, Fransi. Ek het nogal hard gewerk daaraan en dit is dus vir my aangenaam om te weet dat dit vir iemand anders iets werd kan wees.

  7. Leon Retief :

    De Waal, watter prosesse ook al verantwoordelik is vir denke en bewussyn is tot ‘n mindere of meerdere mate alreeds by geboorte teenwoordig. Kortikale sinapse begin vorm ongeveer twee maande voor geboorte en duur dan voort totdat ‘n kind van 2-3 jaar meer sinapse het as ‘n volwassene, waarna sinaptiese digtheid begin afneem. Die vraag is hoe goed ontwikkel hierdie prosesse voor en by geboorte is. Waarskynlik nie te goed nie.
    Iets wat ek nagelaat het om in my vorige respons te noem: Fisher is aan die dink gesit deur die resultate van ‘n eksperiment met Li-isotope se effek op rotte, ongetwyfeld is jy daarvan bewus. Hy en sy medewerkers het die eksperiment herhaal maar kon nie die resultate repliseer nie alhoewel ek verstaan dat hulle die eksperiment weer gaan herhaal. Om nie die gewensde resultate te kry nie voorspel in terme van sy teorie niks goed nie. Inteendeel.
    Ek is heeltemal bewus van al die aktiwiteit op die gebied van neurofisiologie/bewussyn/denke, maar ek is nie so seker dat dit in my of jou leeftyd ontrafel sal word nie.

  8. De Waal Venter :

    Hallo Leon. Ja, ek weet van Fisher se eksperiment met Lithium. Hy is blykbaar tans besig om befondsing te soek om die eksperiment te herhaal.

    Ek dink baie aan die die twee (miskien) uiteenlopende denkbedrywighede van die mens: wetenskap en literatuur. In 1936 het Thomas Mann ‘n lesing gelewer om hulde te bring aan Freud op sy tagtigste verjaarsdag. Ek haal ‘n stukkie daaruit aan: “”The choice of an artist as the encomiast of a great scientist is a comment upon both. In the first place, one deduces from it a connection between the man of genius we now honour and the world of creative literature …”

    Ek wonder of digters in ons tyd dalk meer bewus is van wetenskaplike en tegnologiese verskynsels as digters en ander skeppende mense van sê nou maar honder of vyftig jaar gelede? Maar dan dink ek aan Marais se “Siel van die Mier”.

    Dit is wel seker dat geen normaal funksionerende mens in ons tyd heeltemal onbewus kan wees van wat in die wetenskap en tegnologie aangaan nie.

  9. Fransi :

    Ek geniet julle gesprek geweldig baie. 🙂 Dit het my nou weer laat dink aan intuïsie en patrone. Miskien sal julle die Numperphile-video geniet:

  10. De Waal :

    Baie dankie vir die video, Fransie. Dis verstommend wat mens met syfers kan doen. 🙂

  11. Balt Verhagen :

    Net nog hierdie stuiwer in die armebeurs. Ware digters (‘n gevaarlike elitistiese? kategorisasie) het altyd baie meer geweet as hulle weet. Daarom staan mens soms verstom oor digters se visionêre gawes. Dink aan die sublieme opsomming van Moses se ses dae van die skepping, verbluffende insig in iemand van sy tydsgewrig wat bitter min empiriese feitemateriaal gehad het. Digters se woordgebruik en meer bewuste èn onderbewuste dinkpatrone was altyd bepaal deur die gangbare van hul tydsgewrig – de Waal, jou digterlike elemente of poënons? – dus is kwantumbegrippe in deesdae in gedigte te verwagte. Regtig boeiend is die ontwikkeling van die digterlikheid in die wetenskap wat by Duitse ontwikkelaars van kwantumfisika te bespeur was. Onder die vooraanstaanders was denkers van joodse afkoms wat uiteraard meer intuitief ingestel was. Hul meer klassiek dogmaties meganistiese kollegas het vinnig afstand geneem en heersende fascisme gou dit as verwerplike joodse wetenskap bestempel. Die swaartepunt van die ontwikkeling is toe deur emigrasie na die VSA verplaas.

    Uiteindelik is al hierdie geestelike doenighede van die mensdom ‘n soeke na die waarheid wat uiteindelik ‘n onbereikbare doel is en ongetwyfeld sal bly. “Ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.” Deesdae hou die wetenskap hom o.a. besig met die groei van die synapse in die ontwikkelende brein van ‘n kind voor en ná die geboorte en gelyktydige belangrike onderwys- of ervaringsproses, so treffend te sien in die geval van die latere Wunderkind Wolfgang Mozart. Mèt die ontwikkelende synapse en gehoor was hy daagliks omring was deur sy familie se musiekbedrywighede. Sy geboorte was ‘n voeglose voortgaan van die proses in die tasbare en sigbare lewe. Vorsprung durch Erfahrung. Ander wetenskappers soek na spinkoppeling van fosfaatmolekules om die werksaamheid van die synapse te verklaar. Hoe dink die mens? Dit vereis toenemende fantasie van die wetenskapper self wat juis deur die wegbeweeg van die wetenskap se starre voorskrif van jou “hou by die feite” hul fantasie en digterlikheid meer en meer moet inskakel.

  12. De Waal Venter :

    Nie ‘n stuiwer nie, Balt, eerder ‘n goue Krugerpond!

    Ja, mens sou sou kan sê dat wat jy as “digters se bewuste en onderbewuste dinkpatrone” beskryf, ooreenkoms toon met poësons.

    Daar is wel digters wat hulle poësie grond op wetenskaplike begrippe. Baie van hulle is digters en ook wetenskaplikes.

    “The ideal scientist thinks like a poet and works like a bookkeeper,” het die inloedryke bioloog E.O. Wilson gesê in ’n gesprek met die vorige Poet Laureate Robert Hass. Die Britse bioloog en digter het die volgende gedig geskryf onder die skuilnaam XYZ:

    Black Hole

    by XYZ/05

    Everything else has its yin and its yang.
    But you – what do you have?
    Your geodesic singularity gives no quarter.
    How is it that you are infinitely vast,
    and yet infinitely small?
    Is this the point where magi lose their minds?

  13. Balt Verhagen :

    Ek buig my gryskop in aanvaarding van die guld(l)e kompliment.
    Ek is besig met ‘n referaatbeoordeling waarvoor ek op my gevorderde leeftyd uitgenooi is deur die Journal of Hydrology – en gretig aanvaar het. Dit gaan o.a. oor oop en geslote hidrologiese bekkens.
    Baie dankie ook vir die gediggie Black Hole. Weereens ‘n rym: “Your geodesic singularity gives no quarter”. Die epitoom van die algemeen gebruikte term “endorheic” vir geslote bekkens waarin alles vloei en niks uivloei nie.
    Beste Paaswense of soos in my oorspronklike moedertaal mensleeftye gelede “Zalig Paschen”.

  14. Leonr Retief :

    De Waal ek dink (hoop) daar is ‘n paar raakpunte tussen die wending wat die gesprek begin neem het en ‘n stuk wat ek laasjaar hier geplaas het:
    http://versindaba.co.za/2016/02/16/leon-retief-boekhou-en-poesie/

  15. De Waal Venter :

    Hallo Balt. Ja, die swart ster (black hole) waarin alles vloei en waaruit niks ontsnap nie, nie eers lig nie. Maar jou geslote hidrologiese bekkens laat my dink aan ‘n metafoor.

    Ons het hier in suidelike Afrika seker een van die bekendste geslote bekkens, die Okavango-stelsel. Maar ek dink aan ‘n oeroue een – die “Witwatersrand” binnelandse see wat miljoene jare gelede opgehou het om ‘n see te wees. Nou sit ons hier op die rand van die Kaapvaal kraton en haal nog steeds die goud uit wat afgespoel het in die deltas van oeroue riviere.

    Die metafoor: digters is sulke stelsels. Hulle versamel geestelike goud en ons lesers kan dit ontgin, soms maklik en soms met taamlike moeite.

  16. De Waal Venter :

    Hallo Leon.

    Ja, ek het jou lekker leesbare artikel gelees toe dit ‘n ruk gelede gepubliseer is. Ek stem nogal met jou saam dat baie wetenskaplikes wat probeer dig, nie baie suksesvol is nie. Daar is tog van hule wat beter vaar. Hier by ons is daar nogal ‘n hele paar.

    In sy artikel “Het die digkuns dokters nodig?” noem Hendrik Botha die volgende klompie: “C. Louis Leipoldt, A.G. Visser, A.D.Keet, Theo Wassenaar, Phil du Plessis, Casper Schmidt, Henk Rall, Menno Stenvert, Gilbert Gibson, Len S. Louw, Hennie Nortjé, Jasper van Zyl en Hendrik J. Botha (myself).”

    Jou opmerkings oor “goeie” en “swakkere” digkuns laat my dink aan die Australiese linguis, Michael Dalvean, se “Poetry Assessor”. Dit is ‘n program wat Engelse gedigte op ‘n glyskaal plaas indien dit ingevoer word in die program. Na een kant besluit die Assessor dat die gedig “minder professioneel” is en na die ander kant dat dit “meer professioneel” is. Jy kan dink dat baie mense, digters en lesers en akademici, hewig gekant is teen hierdie masjienmatige beoordeling! Dit is dalk ‘n seën dat die program nie beskikbaar is vir Afrikaanse gedigte nie 😉

  17. Balt Verhagen :

    Hallo de Waal – of meer persoonlik Hendrik die wetenskapper?

    Nou vermoed ek dat ons in ‘n soortgelyke belangstelling van aardprosesse beland het. Anders gestel: altwee in die water.

    God works in his dum-dum ways his dum-dums to perform (Steinbeck)…jy noem die geslote bekken van die Okavango-stelsel. Dis nou juis die onderwerp van my beoordeling! Die deel van die stelsel wat die Okavango genoem word, die s.g. delta, is varswater d.w.s. nie endorheïes nie. Die groter depressie van proto-meer endpunt die Makgadigadi is die groter endorheïse sisteem wat veral in Sowa pan ‘n enorme vrag vroeër organiese koolstof versamel het. Nes die baie groter en miljarde ouer Witwatersrand bekken waaruit ons die versamelde goud oes, oes ons nou soda-as uit die natuurlike watervervoerde skatte uit hierdie kwarternêre(?) opgaarplek. Ons vindingrykheid is verbluffend danksy ons moontlikheid om vele kultuurelemente (poësons?)in ons dinkproses in te bou.

    Veel is ontsaglik maar niks só ontsaglik as die mens – Sophokles in my vader se vertaling ca.1943.

Los kommentaar