Charl-Pierre Naudé. Skandinawiese speurverhaal

Skandinawiese speurverhaal

Svendborg, 2017

 

ʼn Ydelheidsakkie:

per definisie

verdag. Swart. Die sakkie glím

in die laatlig se bleek stuiptrekke

(en weens die rol van emjambement).

 

Op ʼn rakkie, in die badkamer.

(Let op: die staccato-effek,

dís beduidend.)

 

Swart, soos die priester

se rok. Hy’t ʼn skaduweebaard:

ʼn betekenisvolle leidraad.

Laat mens wonder of die sexy pop

wat deur ʼn venster loer, ook iets wegsteek.

 

Kom in, die tuinier.

Sy reguit antwoord: “Ek sou maai”.

Daai’s verdagte nommer drie.

 

Nog sneeu sak uit, en haar hand

klem stywer om haar boordjie.

 

Wit, wat bedek.

Middernag.

Die verhaal van ’n driehoek.

 

Die sakkie, oopgerits.

ʼn Rok eenkant gewerp.

Skuim, die ligtheid

van haar luim.

En ʼn witter-as-sneeu sneeu

so koud soos skeermeslemmetjies.

 

 

(© Charl-Pierre Naudé / 2017)

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé. Skandinawiese speurverhaal”

  1. carina :

    Charl-Pierre, dis ‘n gedig om nog lank aan te herkou en werklik gepas om juis nou oor Paasnaweek te publiseer. Dankie. Swart (soos ‘n vrou / pop se klassieke nommertjie, maar nou ‘n skeer-of grimeersakkie – my lees) versus wit (sneeu wat bedek, maar so koud is soos skeermeslemmetjies – jou woorde)word gebalanseer deur die tuinier se woorde: “Ek sou maai.” En verder nog ‘n laag – die tegniese verwysings na die klankwaarde van dié gedig. Hoeveel lae lees ek mis? 😉

  2. lisbeth santander :

    Clearly Brecht and Benjamin in Svendborg in the 1930’s, planning a detective novel…very clever, Master Philosopher-Poet! Quite striking, this series around the same theme growing here on these pages. Wonder what the connection with our local constellation of philosophers and poets are, especiallyl in this here perturbed political landscape (not quite yet that of 1933/34, but the heat is escalating as i write…

    You certainly have your poetic finger on the pulse of the times and with such a strong parallel…

    Cannot wait for the rest of this series…

  3. lisbeth santander :

    playing chess while the world teeters on the edge of the abyss, as they were there in Svendborg – and here? playing poetically?

  4. ‘Wit, wat bedek./Middernag./Die verhaal van ’n driehoek’
    “Rietfontein” van ID du Plessis doem op uit die eggo-kamer…
    Wit is die water
    Maar bleker die maan,
    Wie is dit wat daar so
    Doelbewus gaan?
    Verdonkerde bome
    Bewe in die laan;
    Wit is die water
    Maar bleker die maan.
    Kortstondig soos die dou wat smôrens skitter op die roos,
    Kortstondig was die enkel uur van samesyn se troos,
    Op bloedbevlekte bloeisels lê die paartjie in die laan,
    Terwyl ‘n swart gestalte onder peerboomtakke staan.

  5. Waldemar Gouws :

    Charl-Pierre se digwerk hierbo laat my dink aan ‘n paar reëls uit “Wenke” deur Yannis Ritsos:

    ‘n Man staan in die donker en glimlag ‘n geheime glimlag.
    Is dit omdat hy in die donker kan sien? Dalk; of dalk
    omdat hy die donker kan sien.

Los kommentaar