Carina van der Walt. Aardse paradys of poel van verderf in “De tuin der lusten”?

 

Die titel van hierdie blog betrek die middelste paneel van Jeroen Bosch se skildery De tuin der lusten. Dit is ’n vraag wat die Nederlandse bioloog dr. Thys Caspers stel en ’n onderskrif in sy essay Gesnawelde viezeriken in plaas van gevleugelde vrienden. Caspers konsentreer op die simboliek van herkenbare voëlsoorte in hierdie skildery. Die voëlsimbole, spreekwoorde en vooroordele oor voël het onder die mense van die middeleeue geheers. Bosch het hom onder andere deur taal laat verlei om die sonde van sy tyd al skilderend te hekel. Hy het ’n baie fyn aanvoelig vir duiwelse verleiding gehad en het voëls oorvloedig ingesluit in sy beeldtaal. Wie na De tuin der lusten kyk, moet onthou dat dit hier gaan oor die lees van afbeeldings binne die konteks van destyds. Voëls het vyfhonderd jaar terug beslis nie die onskuldige betekenis gehad wat hulle vandag het nie. Die soorte sondes wat voëls destyds verteenwoordig het, is onkuisheid, owerspel, ontug, losbandigheid, dranksug, vraagsug, brassery, kwelsug, opvlieëndheid, verdrukking, veglus en bloeddorstigheid. Al hierdie sondes kan saamgevat word tot impulsiewe eet, drink, vry en veg. Hoewel die vierings van die Jheronimus Bosch 500 jaar verby is, ontstaan daar nog steeds interessante dinge om sy werk mee te bewonder of te verwerp. Die jongste daarvan is ’n vituele toer deur De tuin der Lusten in die huis waar Bosch sy lewe lank gewoon het. Dis ’n lekker speletjie vir oud en jonk en kan as ’n app op jou selfoon gelaai word. In die huis op die mark van ’s Hertogenbosch kry jy ’n driedimensionele bril en oorfone in die hand gestop om op ’n vis se rug die drieluik in te swem.

 

 

Die aankondigingsfoto van hierdie blog is ’n uitsnede halfpad tussen onder en bo aan die linkerkant van die middelste paneel. Daarin kom die volgende voëlsoorte voor: ’n eend, hoep-hoep, visvanger, (groen Europese) houtkapper, Europese rooiborsie en Europese goudvink. Oor die algemeen het die volgende beskouing in die middeleeue gegeld: hoe langer ’n voël se snawel, kuif en stert, hoe groter die erotiese toespelings. In hierdie afbeelding kompeteer die hoep-hoep, visvanger en die netjiese geelgroen houtkapper met mekaar betreffende die lengte van hulle snawels. (Tussen hakies: die Suid-Afrikaanse houtkapper lyk in vergelyking met sy Europese neef asof hy deur ’n vliegtuig se enjin deurmekaargeskud, verfomfaai en toe uitgespin is.) Natuurlik is die hoep-hoep met sy ekstra kuif, ongeag wáár in die wêreld, die verleidelikste van almal! Daar het egter ook negatiewe betekenisse van die hoep-hoep bestaan en dit is ingesluit in De tuin der lusten. ’n Venusgek, aldus ’n man wat hoere opsoek, is in die middeleeue ’n kuifvoël genoem. Rondom die jaar vyftienhonderd was die verkleinwoord van “hop” (Nederlands vir hoep-hoep) “hopken” of prostituut. Die hoep-hoep was dus die sinnebeeld van vleeslike liefde, maar dit stop nie daarby nie. In die sewentiende eeu is die hoep-hoep beskryf as “een quaet vogel die selffs sijns nest untreynt”. Vuil en ongebreidelde lyflike wellus – dis die hoep-hoep se negatiewe betekenisse in hiérdie beroemde skildery. As jy mooi kyk, sien jy mense agter hom wegkruip.Die visvanger is weer gesien as onversadigbaar en vraatsugtig, want hy vang en vreet voortdurend klein, onskuldige vissies. Ook die nes van die visvanger kan jy op ’n afstand ruik. Op die vis se rug deur die Paradys begelei klein, swart voëltjies my. Hulle word later kraaie in die middelste paneel en dan moet ek klou, want my vis vlieg!

Al skrywende oor hierdie drieluik die afgelope jaar, ontdek ek dat die benoeming van die middelste paneel problematies is. Hoe meer kennis, hoe groter die verwarring! Die Paradys aan die linkerkant is maklik – alles is relatief onskuldig in hierdie kraakvars tuin van Eden. Dit geld ook vir die Hel aan die regterkant, want daar is alles relatief skuldig in die duistere en immer brandende verdoemenis. Maar die mengsel van goed en kwaad in die middelste paneel ontwyk die krag van benoeming, want wat hét ons hier?

 

 

Dit is propvol geskilder met naakte jongmense in die fleur van hulle lewe – geen bejaardes of kinders is te sien nie. Hulle is almal familie, want die vrouens lyk soos Eva en die mans soos Adam in die Paradys. Bosch was nou nie juis ’n begenadigde skilder van menslike trekke nie! Hulle eet vrugte soos rooibessies, swartbessies, kersies, aarbeie, frambose, moerbeie en brame en word soms gevoer deur ’n eend, ’n goudvink of ’n kraai. Hulle drink met oorgawe, soen mekaar, streel mekaar, vroetel aan mekaar en kruip twee-twee weg in ’n mossel of sit saam in ’n reuse bel van ’n distel (hoe lieflik kan onkruid nie wees nie!) of binne-in die vrugvlees van ’n perske.  In die foto hierbo steek daar ’n bos blomme uit die anus van ’n hurkende man. Dit is duidelik ’n verwysing na anale seks. Regs bo in dieselfde afbeelding dryf weer ’n toe mossel. Miskien is dit ’n belofte van afgeskermde seks na aanleiding van ‘n ánder afbeelding waaruit pêrelsballetjies tussen die vryers ontsnap? Bokant die koppe van die twee in die foto hieronder steek ’n reier kopuit. Sy lang snawel vertel alles wat vir die oog onsigbaar is. Die man gryp gulsig na ’n reuse braam waaraan ’n groep mense in die water staan en hap. Agter dié groep verdrink ’n man in sy eie kalbas en dans ’n paartjie vas.

 

 

Afrikaanse digters bly gefassineerd deur Bosch se De tuin der luste, ondanks die feit dat die voël- en vrugtesoorte, die blom-, plant- en vissoorte daarin nogal on-Suid-Afrikaans is. Marlene van Niekerk se gedig TUIN VAN AARDSE VREUGDES uit die bundel Sprokkelster doen iets heetemal anders as DJ Opperman se JEROEN BOSCH. Dit is moontlik om Opperman se gedig as ’n sedeles te lees en dit pas ook in die tyd van die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans en die Afrikaner. Hy het Bosch se funksie oorgeneem as waarskuwer teen morele verval en sedeprediker in die laat middeleeue. ’s Hertogenbosch was toe saam met Antwerpen, Brussel en Gent die middelpunt van welvaart. Dit het duisende mense na hierdie stede toe gelok met die gepaardaande morele verval van verstedeliking. Daarenteen preek W.E.G. Louw nié in sy gedig Drieluik: die tuin van aardse luste oor De tuin der lusten nie. Dit is die slotgedig in sy bundel uit 1976 – Vensters op die vrees. Hy benoem en beskryf eerder die vreemd-eksotiese in Bosch se skildery.

Van Niekerk trek al die heerlike vergrype in die middelste paneel as ’n aardse paradys na die Suid-Afrikaanse landskap toe. De tuin der lusten word aanvoelbaar Afrikaans met woorde soos “kapokbos, wag-’n-bietjie, jantjieberend, bokgousblom, bokbaaivuur en tjienkerientjee”. Bosch se eend met al sy simboliek van die ‘einde’, soos wanneer iemand aan die einde van sy verstand gekom het van teveel drank of te dronk van die liefde is en daardeur ook nog dom en onnosel optree, kry ’n nuwe baadjie in ’n relatief onskuldige “wildegans” wat “roep” en “hoog trap / met rooi bene / in die riete!”  Van Niekerk se Wes-Kaapse “klokkiesheide” van die Ericafamilie is styf en stokkerige kranse om die vryers se koppe. Dit is iets heeltemal anders as die klokwinde wat Bosch met hulle slap takke skilder. Dieselfde geld waarskynlik ook vir die eenvoudige “bokbaai”-vygie wat omgedig is tot “bokbaaivuur” as simbool van brandende hartstog. Die welluidende Afrikaanse “tjienkeringtjee” is eintlik giftig en veroorsaak maagwerkings en selfs blindheid onder skape volgens prof. Neil Fourie op die webwerf Landbou.com van Media 24. Daarom is dit ’n pragtige Bosch-agtige plant met ’n dubbelle gelaagdheid van bekoring en gevaar.

 

TUIN VAN AARDSE VREUGDES

 

in hierdie tuin van aardse vreugdes

lê ek en jy soos soet kapokbos

in mekaar se hande wag-‘n-bietjie

jantjieberend luister hoe roep

die wildegans saggies

iewers

ek en jy met klokkiesheide

om ons koppe

sy skud sowaar blink vissies

uit die water daar

ek en jy my bokgousblom om-adams-wil

laat die bokbaaivuur tog wind af hou

die wildegans se oog raak stil

ag beesbulletjie stadig-nou ek hoor

viole in my ore tjienkerientjee

wat maak die wildegans

in hierdie tuin van aardse vreugdes o-

genade-kyk sy trap hoog

met rooi bene

deur die riete!

 

Afrikaans is anders as Nederlands deurdrenk van liefdesnaampies. Dit is duidelik in Van Niekerk se “bokgousblom”en “beesbulletjie”. Met hierdie troetelname suggereer Van Niekerk viriele manlikheid. Die “ek” se aandag in die liefdesspel word heeltyd afgetrek deur die wildegans.  Die geliefde en die natuur kompeteer as’t ware met mekaar vir aandag en die geliefde kom tweede.

 

 

Ook Antjie Krog se gedig BOKKIE uit een van haar eerste bundels, Dogter van Jefta, het ’n troetelnaam as titel. “Bokkie” word dikwels in liefdevolle verbintenisse gebruik teenoor beide mans én vrouens. Daar bestaan egter ook die naam “Bokka” uitsluitlik vir mans. In die middelpaneel se uitsnede hierbo snuffel ’n bokkie aan ’n man. Nuuskierig? Besorg?

BOKKIE is waarskynlik nie geskryf na aanleiding van Bosch se middelste paneel in die De tuin der lusten nie. Alhoewel!

 

BOKKIE

 

My bokkie ek en jy

lê onder in die vlei

tussen die wilderiet en vry.

Jou lyfie nes ’n bruin viool

gestrek om eers harpius te kry.

Daar’s bloureën in jou oë

aandblom in jou hare

en uit jou naeltjie peul ware

wit jasmyn.

Ek sny jou mond en drink jou sap

en huil as die bloureën uit jou oë tap.

Ek kneus die blomme in jou hare

breek jou fyngestemde snare

en skreeu hardop as ek jou stukkend kap.

 

’n Opvallende ooreenkoms  tussen bogenoemde twee gedigte is “lê ek en jy” (reël 2, Van Niekerk) en “ek en jy / lê” (reëls 1 -2, Krog), maar die meeste mense staan en dans maar ’n bietjie rond in Bosch se “Onkuisheidsdrieluik” – so genoem deur die Nederlander D. Bax in sy ontleding uit 1956.

Beide die gedigte TUIN VAN AARDSE VREUGDES en BOKKIE bevat tipiese Suid-Afrikaanse landskappe, maar tog verskil hulle hemelsbreed. By Van Niekerk word die leser met geharde plantsoorte van die Karoo en die Weskus in die gedig gekonfronteer. By Krog vertel die “wilderiet, bloureën, aandblom en jasmyn” tog ’n ander storie. Bosch kon netsowel die sagte “wilderiet” en die slap takke van die “bloureën” in sy middelste paneel gebruik het as hy hierdie plantsoorte geken het. Die skaam “aandblom” is net so welriekend soos Van Niekerk se “tienkeringtjee”, maar vriendeliker – nie so gevaarlik nie. Die wit van Krog se “aandblom” en “jasmyn” is amper sereen saam met die “bloureën” en beslis minder speels as in Van Niekerk se gedig. Die liefdespel in BOKKIE is gevaarlik!

Anders as by Van Niekerk betrek Krog ’n kultuurelement in haar gedig – die viool. Sy gebruik veral die hoë, fyn klanke vir ’n verwoestende klimaks, waarin die geliefde “stukkend (ge-)kap” word nadat die “ek” gesny, gedrink, gehuil, gekneus, gebreek en geskreeu het. Alle aandag word opgeslurp in hierdie petite mort. Snaarinstrumente kom ook voor in Bosch se skildery, naamlik in die derde of die Hel-paneel.

Ek sit nog steeds op my vlieënde vis soos die ridder met sy swaard waaraan ’n bloedrooi kersie vir verleiding hang. Bosch se ridder vlieg bo-aan die linkerkant van die middelste paneel sy rivaal op ’n griffioen tegemoet.

 

 

Ek sit nog steeds op my vis as die Hel se luike vir my oopgaan. Ek het in hierdie visuele toer onderdeur die water van die hemelse Paradys geswem na die lug toe in die aardse paradys. Daar het ek rustig gevlieg om alles mooi van bo af te bekyk. Gaan ek nou hartkloppings van benoudheid in die Hel kry? Gaan my keel van angs toetrek? NEE. Dit gebeur nie. Alhoewel ek rakelings onder daardie mes deur is en moes koes dat ek nie ’n bossie hare verloor nie!

Bookmark and Share

Los kommentaar