Wicus Luwes. 3 redes hoekom ons mekaar misverstaan

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: ek geniet ‘n goeie misverstand net soveel soos die volgende persoon. Ek weet nie of ‘n goeie verhoogstuk of Woody Allen-fliek daarsonder klaar kan kom nie. Ek hou van die ontwikkeling van ‘n misverstand, die opbou en afwagting. Die uiteinde van ‘n misverstand is somtyds net ‘n bysaak. Ek is verder van mening dat ons mekaar somtyds moedswillig verkeerd wil verstaan. Persone word uit die storie geskryf en dinge soos konteks en tydsberekening kry die skuld.

Die eerste rede waarom ons mekaar verkeerd verstaan, is moontlik omdat ons na die spreker luister en nie na die boodskap nie. Ons kan nou maar vir die een of ander rede net nie die waarheid van sekere mense aanvaar nie. Ons kan nie aanvaar dat die politieke, religieuse of wetenskaplike mening van ons opponent ‘n stukkie waarheid in kan hou nie.

Die tweede rede is ‘bone conduction’ / been geleiding. Daar is net een persoon wat jou stem op ‘n sekere manier kan hoor – jyself. Die ander mense hoor almal iets anders. Ons kan ons eie stem of stemtoon dus nie glo nie. Ek wonder of daardie stem ook van toepassing is op ons skryfstem of ons tikstem. Dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie, want Beethoven het een van sy grootste werke, die 9de simfonie, as dowe man geskryf. Hy kon staatmaak op sy kennis van musiek en been geleiding. Nie alle vorme van gehoor word deur die oordromme na die brein gedra nie.

Die afgelope Paasnaweek was die eerste keer in jare dat ek stelling agter ‘n Monopoly-bord ingeneem het. Ek en ‘n pêl het ons kinders die strate van die Monopoly-bordspel gaan wys. ‘n Paar dinge het verander – die name het blykbaar jare gelede al verander na Suid-Afrikaanse name. Park Lane en Mayfair is nie meer die duurste eiendom op die blok nie. Eloffstraat het gekom en gegaan en Tafelberg is op die oomblik die duurste plek om te besit.

Die skuifstukke het ook ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Die skuifstukke waarmee ek as

kind gspeel het was metaal, maar deesdae is dit plastiek. Dit is seker die eerste les wat Monopoly ons kan leer: vind maniere om geld te bespaar in die moeilike ekonomie deur metaalkomponente met plastiek te vervang. Ek lees dat selfs die skuifstukke in die nuutste weergawe nou verander gaan word: Die kruiwa, skoen en vingerhoed gaan vervang word deur ‘n T-Rex, bad-eendjie en pikkewyn. Miskien moet ek nie teveel hierby inlees nie. Miskien maak mense nie meer so baie van kruiwaens en vingerhoede gebruik nie en kan gevolglik nie meer daarmee identifiseer nie.

Terug by die spel is die twee pa’s en vier kinders besig om die bord te verken. Monopoly volg ‘n eenvoudige patroon – goedkoopste na duurste eiendomme, met ‘n paar stasies en lughawens tussendeur. Jy kan kies of jy duur eiendomme wil koop en minder kontantvloei  wil handhaaf, of ‘n diverse eiendomsmandjie saam wil stel. Die kinkel in die kabel is dat eers op die eiendomme moet land om dit te kan koop. My pêl vertel my dat sy mededingende natuur dit in die begin vir hom moeilik gemaak het om Monopoly saam met sy kinders te speel. Hy moes sy kinders ook laat wen en dit was nie noodwendig waaraan hy gewoond was nie. Ouerskap laat ‘n mens nou maar vir eens en vir altyd anders dink oor iets so eenvoudigs soos Monopoly.

Monopoly leer ‘n mens werk met geld in ‘n ‘veilige’ omgewing. Jy moet eiendom besit om dit te verhuur, jy moet ongelukkig aanhou beweeg en die ontwikkeling van die spel volg. Ons het net lekker op dreef begin kom toe ons vir ete geroep word. Na ete  het die kinders wye draaie om die Monopoly-tafel geloop en die spel is gevolglik nooit voltooi nie. Ek het die gasheer help oppak, toe dit tyd was om huiswaarts te keer. Onder die bord het ‘n enkele wit noot gelê – die wit monopolie kapitaal waaroor almal praat. Die waarde van die noot was een Monopoly dollar. Daar was al baie misverstande oor geld en mense wat die waarde daarvan slegs in terme van ekonomiese waarde beskryf. Ek het gewonder of die waarde van Monopoly-geld nie miskien oorwaardeer is nie, maar wat weet ek nou in elk geval van speelgoedgeld af.

 

Misverstand

“Die lewe is bitter …,” sê die man wat sit met sy hande wat op sy kierie rus.
“Dis darem vreeslik sinies vir so ‘n mooi dag,” onderbreek ‘n meisie die man terwyl sy vinnig in sy rigting glimlag en dan in ‘n winkel verdwyn.

“Die lewe is bitter … ,” probeer dieselfde man weer terwyl die kelnerin sy leë bord wegneem.
“Party mense sien ook net altyd die slegte,” onderbreek ‘n man in ‘n pak hom terwyl hy sy laaste sluk koffie wegsluk en haastig sy rekening betaal by die toonbank.

Die man maak sy mond oop om te praat, maar wag tot niemand in sig is nie en sê dan met ‘n glimlag in sy oë: ‘die lewe is bittersoet’.

 

 

Bronne:
1. http://www.enca.com/life/new-monopoly-mzansi-seeks-to-celebrate-south-african-heritage-locations
2. http://www.telegraph.co.uk/news/2017/03/17/monopoly-replaces-boot-thimble-wheelbarrow-new-game-board-pieces/

Bookmark and Share

Los kommentaar