Jacobus van der Riet. Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman

Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman

  • deur Jacobus van der Riet

 

Die boek Uit die Iers, dekades gelede aan my geskenk deur my vriend Faan Herholdt, waarin Karel Schoeman vir ons Afrikaanse vertalings van Oud-Ierse gedigte gee, het ‘n groot indruk op my gemaak en my op ‘n speurtog geplaas na die Keltiese Heiliges van weleer. Toe Schoeman toevallig na my verwys word vir ‘n biblioteeknavraag oor sy jongste boek, het ek ‘n gedig oor die Heilige Kevin aan hom gestuur en het ‘n klein korrespondensie ontstaan waarin hy my van nog vele ander bronne oor die Keltiese Christendom vertel het. Ek het toe inderdaad verder gelees, o.a. ook Esther de Waal se wonderbare The Celtic Way of Prayer. Daarom wil ek graag drie gedigte oor die vroeë Britse Heiliges voorlê, ter gedagtenis. Terloops, die Christen-sendelinge na Noord-Europa was meestal uit die Britse Eilande afkomstig.

 

 

 

Die Heilige Brandaen die Seevaarder (ong. 486-575 n.C.)

Feesdag 16 Mei

 

O Vader, altoos voor my uit in die wind en weer,

op die kruin van die golf en ook diep in die trog

op hierdie dolende Eden-soekende pelgrimstog

as my siel soos ‘n kormorant oor die water skeer.

 

O Seun wat lanterns hang aan die hemelgewelf,

wat Abraham uit Ur en my uit mistige Eire roep,

beide stuurman en roer van my haastige sloep,

die Poolster wat rig en ook die Salige Eiland self.

 

O Gees alheilig, Gees alom, wat waai waar U wil,

hetsy as rukwind of bries, hetsy tifoon of sefier,

God se vinger wat pluk aan ‘n snaar van die lier

wat die hart se storms, die gemoed se siklone stil.

 

O Heilige Drie, kom breek soos sproei oor my boeg,

oorspoel my dek waar my kiel deur die deining ploeg.

 

***

 

Die H. Dawid van Wallis (ong.500-589 n.C.)

Feesdag 1 Maart

 

Dank sy God vir die mollige uier en sluike speen,

vir die melkstraal wat skor in die houtemmer gor;

mag U wat immer die koei tot milddadigheid por,

Seun van Maria, die karring en botterskop seën.

 

Dank sy God vir ‘n weiveld waar lammers baljaar,

vir ‘n ram en ‘n trop swartkopooie, juis vir hul wol;

mag U, o Heiland, gee dat ons spinwiel egalig tol,

vir mantels en musse as ons om kaggels vergaar.

 

Dank sy God vir ‘n merrie en hings, ‘n teef en reun,

die sog met haar tepels en telge en ook vir die beer;

mag U ons omgeef, alle onheil en pes van ons weer,

o heilige, frisse Maagd se allerlieflike, minsame Seun.

 

In dier eenvoudige voege leer jy, Dawid, jou kudde bid,

jy wat die eerste sooie in hierdie druïdiese draakland spit.

 

***

 

Die Heilige Bonifatius van Mainz (671-754 n.C.)

Feesdag 5 Junie

 

Ek sou kon wens, Bonifaas, om ‘n boom te wees,

stram van regop stam en skurf van bas en knoes,

met kronkeltak en twyg wat wieg en kraak as hees

die wind weer naglank ween en ek vir weerlig koes.

 

Ek sou skuiling bied in holte of stokkiesnes of mik

aan al wat skarrel, hop, fladder, kruip of sedig sit,

al wat snater, koer, tok-tok pik, fluit of kweel of kik,

vredig in frisse groen, voor die koms van winterwit.

 

Dis dié dat ek deins voor jou byl wat in Thor se Eik

met elke kap al dieper keep terwyl die Hesse-volk

met vloek en skrik na die spattende spaanders kyk.

 

‘n Bliksemstraal splyt die hout om te val in ‘n kruis.

Weg die bloed van mens en dier, weg die offerdolk,

maar balke nou waar soos loof ‘n koor se note ruis.

 

 

© Jacobus van der Riet / 2017

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Jacobus van der Riet. Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman”

  1. Baie mooi sonnette, Jacobus! D.J. Opperman het ‘n reeks sonnette oor Brandaan geskryf in sy bundel Engel uit die Klip. Die bronteks waarop hy sy verwerkings gebaseer het, was die Middelnederlandse manuskrip De Reis van Sente Brandane.

  2. Velen dank Daniel (deelteken op die e). Ek sal beslis Opperman se gedigte gaan opsoek. Omdat die gegewens oor die reise so vergesog (hoewel stigtelik) is, het ek my maar tot sy moontlike ingesteldheid beperk.

  3. Opperman se reeks is ‘n baie interessante herskrywing van die bronteks. Ek het my MA-verhandeling daaroor geskryf: “Brandaan” van D.J. Opperman as verwerking van ‘n Middelnederlandse teks (UP, 1979).

  4. ek sien daar is nou 5 werke by UP se biblioteek aangaande die H. Brandaan, ook ‘n tesis uit 2005. Hopelik word jou tesis, Daniël, gou gedigitaliseer en beskikbaar gestel.

    https://univofpretoria.on.worldcat.org/search?queryString=brandaan&submit2.x=12&submit2.y=8

  5. Dankie, Jacobus!

  6. Zandra Bezuidenhout :

    Aangrypend, Jacobus, en kunstig. Dankie hiervoor.

Los kommentaar