Charl-Pierre Naudé. Glas

Glas

Svendborg, 2017

 

Wat my opval

is die aanleunbousels van glas

teenaan die baksteenhuisies –

 

om ʼn blertsie winterson in op te vang

sonder die koue wat inbreuk maak van buite.

 

Verder kuslangs

staan van dié skoonkykende winterhutte amper óp die water

en die effek van hul refleksies is soos “glas op glas”.

 

Op die dag van my aankoms

het ek langs die seesoom gaan staan

om in die wye stil vlak te staar

nét toe die laatlig skuins tref

só dat die buurt volmaak

 

daar in die oomblik

sowel as in die ewigheid

vasgelê word:

 

soos die gesinsfoto wat nimmer verweer

omdat dit op die maan

 

deur ʼn ruimteman vergeet is.

 

(Praat liefs nie oor ʼn vlag

wat nie kan wapper nie.)

 

En, toe. Rampspoed!

Die veerboot vaar verby.

Klaarpraat, korte mette.

Die universele oomblik

implodeer net daar.

Noem dit maar: ʼn opskroef (van gewone wette).

Bousels verwring, mure rek soos kougom en val om

en vervaard kom al wat straat is op my af gehardloop.

So goed as ʼn tsunami! Net so sleg.

Boonop is týd die medium, nie bloot water nie;

 

die soort prentjie wat ʼn Van Gogh sou geskilder het.

 

Nou kyk, om te vertoef in die huis waarin Brecht

gewoon toe hy van die Nazis gevlug het,

en dan ingesuig te word – deur wat – ʼn terugtrekkende

tydgolf? Dis nie ʼn ligte rimpeling nie.

 

Bertolt kyk nou op na die verlede, nie die toekoms nie.

En Amerika gaan hom nie red nie, nie eens

vir ʼn gwano-sekonde nie.

Amerika gaan hom verraai, soos wat dit óns verraai.

Die deining groei, krul om

en donder met ʼn soliede massa neer.

 

Daar word gesê dat weens die vogtige lug

sommige skeeftrekkende wonings

hier soos ʼn moerstadig wapperende Deense vlag lyk –

sélle blokpatroon:

tipies van weerspieëlings; ʼn kwessie van omkering.

Dus hardloop ons vir ons lewe. Agteruit,

 

dieselfde huis in

wat ek in die water gesien het.

Waar die wynbottels volloop, nie leeg nie,

en die muurhorlosie, getroue meul-eseltjie, teenkloksgewys arbei.

 

En in ál die beddens slaap die blou lug.

 

In die leeskamer staan en wieg

ʼn man heen en weer in ʼn gety.

Hy’t ʼn toom uit die rak getrek oor “ewige wederkeer”.

Onbekend is hy soos môre heeldag

(tipies van die arme Nietszche),

en hy lees nou oor sy voorganger, die vername Naudé.

(Wat in die boek, dis algemeen bekend, ʼn klap

van ʼn vis se stert kry.)

 

Die kamerdeure word in die woud gekap.

En die dekriet groei wild op die grasvlakte.

Al die deursigtige huisornamente

moet nog gegiet word.

Ek sien dit, so duidelik soos gesmelte glas,

 

golf ná golf ná golf:

Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.

 

Die lewe is ʼn nagmerrie waaruit mens wakker word

selfs al is dit so mooi.

 

 

*Die “blokpatroon”: 19de eeuse boumetode: Fachwerk (Duits), Bindingsværk (Deens), waarin houtbalke die struktuur verskaf wat deur klei- of baksteen gevul word.

 

©Charl-Pierre Naudé / 2017

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Charl-Pierre Naudé. Glas”

  1. Margot Luyt :

    Aangrypend!

  2. De Waal Venter :

    Die gedig het heelwat te sê. Eers die beskrywing van die watertoneel en dan die veerboot wat die wêreld “opskroef”. Dan die agteruitbeweeg van tyd, die omkering van die gewone werklikheid. Hier word onder andere die geaardheid van tyd ondersoek: “Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.” Waar lê die grens tussen droom en wakker wees? Is die een meer “werklik” as die ander?

    Dit is ‘n sterk gedig met besonderse beelde en konsepte. ‘n Voortreflike stuk werk, Charl.

    Die gestroopte, dog kragtige taal laat my aan Tomas Tranströmer dink. Byvoorbeeld hierdie reëls uit sy “Nagreis”.

    “Hy droom hy is ’n gevangene in Svalbard.
    Die planeet draai rommelend.
    Glinsterende oë loop oor die ysveld.
    Die skoonheid van wonderwerke bestaan.”

  3. Charl-Pierre Naude :

    Dankie vir jul waardering, Margot en De Waal.

    De Waal, daai vertaalde weergawe van die Transtromer-gedig, dis darem pragtig, watter gedig is dit? Ek wil graag die res daarvan lees. Kanse is dat ek dit sal herken, maar so in jou vertaalde weergawe, is daai reels – veral die laaste twee –
    splinternuut, ek moet se.

  4. De Waal Venter :

    Hallo Charl-Pierre

    Ja, ek hou ook baie van die gedig. Jy kan dit op my webruimte lees (https://inmogale.wordpress.com/), maar ek plaas dit sommer hier ook, want dit is kort.

    Nattlig resa

    Tomas Tranströmer
    Det myllrar oss. Tågen går.
    Hotell Astoria darrar.

    .
    Nagreis
    .
    Dit wemel onder ons. Die treine loop.
    Die Hotel Astoria sidder.
    ’n Glas water naby die bed
    skyn in die tonnels.
    .
    Hy droom hy is ’n gevangene in Svalbard.
    Die planeet draai rommelend.
    Glinsterende oë loop oor die ysveld.
    Die skoonheid van wonderwerke bestaan.

  5. Charl-Pierre Naude :

    dankie, De Waal. Derde laaste reel is besonder mooi gedoen. Jy kry daardie onopsigtelikheid van die klanke, waarmee Transtromer in sy eie taal werk, baie goed oor. Maar dis dalk ook weens die taalverwantskap (Afrikaans/ Sweeds). Met my verwysing na klanke bedoel ek nie om die gevaar te loop om Transtromer as ‘n talige digter te sien, hy is nie, hy is ‘n “betekenisdigter” in terme van waar die klem van sy elemente le; maar juis weens daardie feit is sy hantering van taal, in soverre ek sy strewe kan raaksien, baie interessant.

  6. Maria Snyman :

    Ek hou baie van die laaste regels – dit laat my wonder oor die “golf ná golf ná golf” verwikkelinge hier op eie bodem (ek is mal oor Naudé se humor!):

    “Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.
    Die lewe is ʼn nagmerrie waaruit mens wakker word
    selfs al is dit so mooi.”

    Vergelyk die volgende 2012 artikel van Jeffrey Murray – wat eindig “Catullus has offered himself once more, this time to an Anglo-Afrikaans writer, as a striking model for critically exploring post-apartheid South Africa through his passionate and personal poetry”:

    “Classical Dialogue: Allusion and intertextuality in Charl-Pierre Naudé’s Against the Light”

    Skakel: https://www.ajol.info/index.php/tvl/article/view/80371/70614

  7. Helize van Vuuren :

    Alles hier “gesmelte glas”…en Louw draai in sy graf…

    1. GLAS (1974) – Derrida (drie stemme in d teks: Hegel, Genet & Derrida)
    2. stuk oor opskeur van Rembrandt-doek en afspoel in toilet – Genet
    3. ‘DIe teken op die glas, die skrif:/die lees jy nie, herken jy nie” – Mandelstam (1909), STEIN
    4. Nietzsche – “ewige wederkeer”

  8. Helize van Vuuren :

    “Glas (HvV: van Derrida) extensively reworks the problems of reading and writing in philosophy and literature; questions the possibility of linear reading and its consequent notions of theme, author, narrative, and discursive demonstration; and ingeniously disrupts the positions of reader and writer in the text”.
    https://www.goodreads.com/book/show/738180.Glas

  9. Helize van Vuuren :

    en ook nog Duchamp se “Large Glass” waaroor Perloff skryf:Duchamp’s “Large Glass is also a critique of the very criticism it inspires, mocking the solemnity of the explicator who is determined to find the key”