De Waal Venter. Die gedig as instrument van ondersoek

In hierdie essay word poësie op ’n baie eng en beperkte manier gedefinieer: dit is ’n “instrument”. Maar daarmee word nie bedoel dat dit ’n volledige definisie van poësie is nie. Dit is een van die vele aspekte van hierdie kunsvorm. Die uitgangspunt is dus “eng” in die sin dat dit konsentreer op net een eienskap van poësie om dit sodoende des te deegliker te kan ondersoek.

Watse soort “instrument”? Soos die titel aandui, word dit hier gesien as ’n instrument om die werklikheid te ondersoek. Die ondersoek is tegelykertyd ’n intellektuele, emosionele en intuītiewe proses. Die doel van ondersoek is om te verstaan. Die mens het nou eenvoudig die drang om dinge en gebuere te verstaan. Dit is so deel van menswees dat jy jou nie kan indink wat menswees sal wees sonder die beoefening van “verstaan” nie.

Verstaan

Kom ons kyk kortliks na wat met verstaan bedoel word en probeer ’n werkende definisie daarvan kry. In Wikipedia kry mens die volgende (vertaal):

“Om te verstaan is ’n psigologiese proses wat verband hou met ’n abstrakte of fisiese voorwerp soos ’n persoon, situasie of boodskap waar mens dan daaroor kan dink en konsepte gebruik om voldoende met die voorwerp te werk. Om te verstaan is ’n verhouding tussen die persoon wat weet en ’n voorwerp wat verstaan word. Om te verstaan impliseer vermoëns en ingesteldhede ten opsigte van ’n kennis-voorwerp wat voldoende is om intelligente gedrag te onderhou.

Iemand wat ’n meer gesofistikeerde begrip het, meer voorspellend-akkurate begrip, en/of begrip wat hom in staat stel om verduidelikings te gee wat ander mense as baie goed beskou – van so ’n persoon word gesê dat hy ’n ‘diep’ begrip het. Aan die anderkant, iemand wat ’n beperkter begrip het van iets wod beskou as ’n persoon met ’n ‘vlak’ begrip.”

Poësie maak die wêreld sinvol

Liza Hayes Percer van Stanford University skryf in haar verhandeling, “Going Beyond the Demonstrable Range in Educational Scholarship: Exploring the Intersections of Poetry and Research”, onder andere die volgende:

“At the same time, as I delve deeper into studying the poetic process (for the time being, I mean the process of authoring poems), I am more convinced that crafting through poetic language results in a richly textured, insightful, and complex means by which to make sense of the world and that the educational community will greatly benefit from scholarship that brings this to light.

Allen Ginsberg … spoke of his work with meter and suggested that it was akin to: someone working with his physiological movements and arriving at a pattern. Nobody’s got any objection to even iambic pentameter if it comes from a source deeper than the mind – that is to say, if it comes from the breathing and the belly and the lungs (Ginsberg in Plimpton, 1989, p. 191)

It seems, then, that poetry may be the means by which to understand poetry – it appears that one cannot understand the details of an arguably pre-linguistic, highly emotional, intellectual, and unusual means by which to make sense of the world without using language that is creatively and insightfully manipulated.” (My kursivering)

Hieruit blyk dit dat me Percer nie alleen meen dat poësie kan help om die wêreld te verstaan nie, dit kan ook help om poësie self te verstaan.

Ander vorme van literatuur het dikwels (dalk altyd?) ook dieselfde funksie. Martin Amis van The Observer skryf in sy reklameteks vir John Fowles se “Mantissa” soos volg: “The novel seeks to explore the nature of reality and creativity, the alienations of art, the evolution of literature to its present self-conscious phase, the relationship between men and women, and much more” (my kursivering).

Nou kan ons gerus kyk na ’n gedig of twee en ondersoek hoe dit as instrument van ondersoek en begrip aangewend kan word.

Coral Bracho

En la entraña del tiempo

Coral Bracho

El tiempo cede

y entreabre

In die binneste van die tyd

Coral Bracho

.

Die tyd maak

sy delikate diepte

half oop. (deure

beskerm mekaar;

dat die een by die ander kan ingaan;

die spore,

merke van die see.) ’n Herfs

van dooie stompe en blare. In sy binneste:

ligdeurskynde bos van genot; sy ineengevlegte rankers:

goud:

beblaarde lig: vuur gewortel in ’n metaalblom,

en die fynste mos,

gloeiend.

Uit Spaans vertaal deur De Waal Venter

Wat ondersoek hierdie gedig?

Die titel maak dit baie duidelik. Die gedig is bedoel om die leser insigte te gee in die geaardheid van tyd. Eerstens laat die titel ons verstaan dat tyd gesien kan word as meer-dimensioneel. Daar is ’n “binneste” wat dan ook ’n “buitenste” impliseer. Verder kry die leser toegang tot hierdie “delikate diepte, maar net gedeeltelik, want daar word net “half oopgemaak”.

In die volgende reëls lees ons dat deure “mekaar beskerm” sodat die een by die ander kan ingaan. Hier word die veel-dimensionaliteit van tyd verder uitgebrei en uit ’n ander hoek gesien. Tyd is volgens hierdie gedig nie ’n bloot reglynige voortdurentheid nie, maar eerder ’n verskynsel met meer as een aspek met “onderdele” wat op mekaar inwerk. Deure “gaan by mekaar in”.

Die ondersoek na die geaardheid van tyd in hierdie gedig gee mens nie die soort insig wat ’n wetenskap soos fisika gee nie. In die fisika word gepraat van “ruimte-tyd”. Tyd en ruimte is dimensies van mekaar en die een werk in op die ander – “gaan in by mekaar”.

Die gedig bied mens eerder ’n intuïtiewe begrip van die geaardheid van tyd. Jy “verstaan” die aard van tyd, sonder dat jy dit in ander woorde doeltreffend kan weergee.Die bied jou inligting wat grootliks op onbewuste vlak verwerk en begryp word.

Daar is talle ander gedigte en ander literêre werke wat handel oor tyd en elkeen op sy eie manier probeer om tyd ’n bietjie beter te verstaan. Marcel Proust se ikoniese roman “À la recherche du temps perdu” (Op soek na verlore tyd) is seker een van die bekendste voorbeelde.

Coral Bracho

Alan Gilbert skryf in The Boston Review: “But Bracho has always had the ability to make happiness seem slightly dangerous, as her poetry doesn’t so much speak the unspeakable as voice its constant and quavering proximity.”

Coral Bracho is in 1951 in Meksiko gebore. Sy het ses digbnundels gepubliseer en word as een van die belangrikste hedendaagse Spaanse digters beskou.

Die volgende gedig is deur Jacques Roubaud.

Jacques Roubaud

Jacques Roubaud is op 5 Desember 1932 gebore in Caluire-et-Cuire, Rhône). Hy is ’n Franse digter en wiskundige.

Hy was wiskunde professor aan die Universiteit van Parys. Verder is hy afgetrede professor in poësie aan EHESS en ’n lid van die Oulip groep. Behalwe poësie het hy ook toneelstukke en romans geskryf en uit Engels na Frans vertaal.

Nou kan ons kyk na een van sy gedigte.

Que le monde était là

Jacques Roubaud

M’endormant je voyais que le monde était là,

le monde et tout ce qui s’ensuit

Dat die wêreld daar was

Toe ek aan die slaap raak, sien ek die wêreld is daar,

die wêreld en alles wat daaruit voortkom;

“nou” kleiner as ’n punt

agter geweldige en ernstige kleure.

Zoemende jare kom van ver af terug,

hoek van straat met straat,

spore weggespoel deur die reën,

geel stof versamel in my hand.

Toe ek aan die slaap raak, sien ek al hierdie dinge:

die warmte en ellips van die put,

die aarde, waar die blare gewigloos is,

die water presies, gelykmatig in balans.

Ek het gesien, toe ek aan die slaap raak,

dit wat ek nou al jare lank verwelkom

maar wat ek nie kon onthou nie:

heel jare, vol waarheid,

dit wil sê, as jy wil weet, vol van die dood.

Ek wou nie, terwyl ek aan die slaap raak,

sien wat ek al te veel gesien het nie.

Uit Frans vertaal deur De Waal Venter

Droom

Hoe tree hierdie gedig op as instrument van ondersoek?

Hier sien ons duidelik hoe die gedig op onberwuste en intuïtiewe vlak werk – die spreker in die gedig begin eers nadat hy slaap geraak het, die wêreld waarneem. En sy waarnemings is glad nie soos hy dit sou gedoen het terwyl hy wakker is en rasioneel dink nie.

Eerstens kom ons weer af op ’n “anderse” begrip van tyd – “nou” kleiner as ’n punt. Met “nou” word ’n tydstip bedoel, die tydraamwerk waarin mens jouself bevind in die hede. Dit het nie die betekenis van “smal” of “eng” nie. In Frans het Roubaud die woord “maintenant” gebruik wat ’n tydsaanduiding is.

Die “nou” in hierdie gedig is “kleiner as ’n punt”. Wat beteken dit? Sekerlik dat dit ’n baie kort tydjie is. Dink daaraan. Die oomblik waarin jy jou bevind is onbeskryflik kort, want jy het skaars daaraan gedink, of dit is nie meer daar nie. Dit is nie meer “nou” nie, maar “netnou”.

Die heelal swel uit

Onthou, Roubaud is ’n wiskundige en ’n punt beteken vir hom verskeie dinge. Dit is die teken wat in die desimale stelsel gebruik word om positiewe getalle van negatiewes te skei. Verder word ’n lyn soms gedefinieer as ’n reeks punte. En in hierdie verband is ’n punt oneindig klein.

Dit herinner aan die oneindig klein punt waaruit die heelal begin uitsit het volgens die “Big Bang” teorie. Dit is beduidend dat volgens die teorie tyd nie bestaan het voor die “Ontploffing” nie. Daar was geen ruimte nie ook geen tyd nie. (Dit beskryf nie die begin van die heelal nie, maar die ontstaan van ’n nuwe vorm daarvan waarin tyd en ruimte bestaan en waarin die wette van fisika, soos ons dit verstaan, geldig is.)

Vir iemand, soos ek, wat baie min van wiskunde weet, lyk dit vir my na ’n teenstelling: as ’n punt oneindig is, hoe kan iets “kleiner” wees? Moontlik het die digter ’n wiskundige verklaring daarvoor!

Vanaf hierdie punt (bedoelde woordspeling) het die gedig dan ook met ander aspekte van tyd te doen. “Zoemende jare” wat van ver af terugkom en“Heel jare vol waarheid” en ander herinneringe uit die spreker se verlede. Maar dit alles op onbewuste vlak. Soos in Bracho se gedig, word die leser genooi om die gedig intuītief te lees en “onbewustelik” aspekte van die werklikheid, hier veral tyd, te ondersoek.

Gehoorsaam die werklikheid verkeersreëls?

Die laaste gedig wat ek voorlê, is een van my eie. In ’n radiopraatjie in 1970 wei N.P. van Wyk Louw uit oor die sterk kritiek wat destyds bestaan het op digters wat hulle eie werk verklaar, daaroor praat of dit verdedig. Hy het gedink dit is ’n eng houding. Moontlik is dit vandag nog nie baie aanvaarbaar vir ’n digter om sy eie werk te verklaar nie. Ek wil egter nie my gedig verklaar nie, maar probeer aantoon hoe dit kan optree as “instrument van ondersoek”.

René Magritte. L’ami de l’ordre. (Die vriend van orde)

Daar is ’n gaping in die werklikheid

Dit is ’n sagte oseaan

wat rustig deur die venster spoel,

meesal lig

wat krul en vloei

tot in die hoeke, veryl

soos wasem uit ’n mond op ’n koue dag.

Maar ook klank:

die selfversekerde verklaringe

van oggendvoëls,

oortuig van hulle onsterflikheid.

Verweg mompel ’n motor binnensmonds,

kop omlaag op die teerstraat.

Die vuil smeer

van ’n passasiersvliegtuig

buig versigtig af om te land.

Geen mensgeluide nie.

Miskien is daar geen mense nie.

Miskien onstaan hulle net skielik

wanneer ek hulle waarneem.

En hierdie diep ontstellende kreun –

wat is dit?

Dis dalk

die werklikheid

wat reageer op meer en meer mense

wat begin twyfel of dit klere aan het

en dat dit stadswette, verkeersreëls

en die voorskrifte van fisika gehoorsaam.

Dit word gekwes deur die praktiese verbeelding

van mense soos Magritte.

Soos in die ander twee gedigte is hier verskeie eienskappe van die werklikheid wat ondersoek word. Ek wil egter net een aspek bespreek: “Miskien is daar geen mense nie.”

Solipsisties

Dit lyk met die eerste oogopslag na ’n solipsistiese houding. “Miskien ontstaan hulle net skielik/wanneer ek hulle waarneem.” Maar mens kan sekere denkrigtings in die teoretiese fisika hierby betrek. Daar is die bekende denk-eksperiment van Schrödinger wat ’n teoretiese kat in ’n teoretiese boks geplaas het wat ’n fles met gif bevat het. Volgens Schrödinger kan die kat in die boks óf lewendig óf dood wees. Of tegelykertyd lewendig en dood. Mens sal eers vir seker kan weet wanneer jy die boks oopmaak.

Dan is daar die ander bekende eksperimente wat aan die lig bring dat entiteite soos protone se gedrag verander wanneer dit deur ’n mens waargeneem word. Daar word ook deur party teoretici beweer dat entiteite tot stand gebring kan word deur waarneming. Die oomblik wanneer soiets waargeneem word, kom dit tot stand.

Ons beweeg nou op baie esoteriese terrein, baie ver van wat ons normaalweg as “die werklikheid” beskou. Dit is dan waar aangetoon kan word dat die gedig dien as “instrument van ondersoek”. Dit is juis die raaiselagtigheid van die werklikheid wat onder die leser se aandag gebring word. Ook die antropomorfisering van die werklikheid – “wat reageer op meer en meer mense/wat begin twyfel of dit klere aan het” – het ’n ondersoekende funksie. Mense begin agterkom, volgens die gedig, dat die werklikheid nie so alledaags en gewoon is as wat ons normaalweg dink nie. En kunstenaars soos Magritte “kwes” die werklikheid met hulle ontbloting van die raaiselagtige geaardheid daarvan.

Vanaf die tyd dat die eerste mense instrumente begin gebruik het – ’n klip, ’n dybeen – het ons ’n al groter verskeidenheid fisiese instrumente begin gebruik. Maar dan ook instrumente van die intellek en intuïsie. Dit is wat ’n gedig, onder meer, vir ’n leser kan wees.

einde

Bookmark and Share

Comments are closed.