Nuwe publikasie: Uittogboek (Johan Myburg)

Uittogboek                 
Johan Myburg

Uittogboek – ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig – is ’n hoogtepunt in die digter Johan Myburg se oeuvre. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Die samebindende gegewe van die bundel is die Romeinse keiser Hadrianus (76–138 n.C.), en die bundel open met sy bekende sterfgedig in Latyn en Myburg se trefsekere vertaling daarvan in Afrikaans. Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower.

OOR DIE OUTEUR

Binne die bestek van drie digbundels het Johan Myburg hom gevestig as een van die mees gerekende digters in die Afrikaanse digkuns; in hoofsaak omrede elke publikasie van hom van ʼn fyn vakmanskap getuig wat nie net sy eie nie, maar die totale digkuns verruim. Hy debuteer met Vlugskrif (1984). Sy volgende bundel, Kontrafak (1994) word met die Eugène Marais-prys bekroon. In 2008 verskyn die indrukwekkende Kamermusiek; ʼn bundel waar die kamer die sentrale ruimte is waarbinne handeling afspeel. Benewens digter is Myburg ook ’n joernalis en kunskritikus. Hy woon en werk in Johannesburg, het filosofie, sielkunde en teologie gestudeer en is tans besig met nagraadse studie in visuele kunste.

Reitzstraat, Potchefstroom
TTC

.
Sommige somers, as jy jou blou Valiant pak
en see toe verkas met jou Anna en kroos,
het ek ’n oog oor jou tuin moes hou teen
verdroging en vir ingeval: ’n Jong tuin is broos
as reën wegbly in Desember. Van oorkant die straat
het ek, toe nog ’n skolier, gesien hoe jy perke laat spit,
buitelyne beplan en beddings vul met struike: vir lower
vir blom vir geur; gesien hoe jy rankers voorlopig stut
met riet. Gaandeweg het ek patrone begin snap:
dat sipresse net in pare alleenheid oorleef; dat die pom-pom
van ’n blomperske net uit kaal takke kartetse kleur
kan skiet; dat die lente, benewens in die kweper, ook blom
in die dweperige pers van die yl tamarisk. In dié tuin
het ek begryp hoe vingers groen kan vroetel,
hoe oog en oor en neus die taal van tuin kan lees.
Na jou voorbeeld het ek groenigheid begin troetel
en algaande woord vir woord aan die groei gekry,
later selfs ryme jasmyn lelie iris roos aangelê, my verloor
in kwatryne. Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket
van tuine en die toorkrag van ’n rymende eindkoeplet.

(Protea Boekhuis, 2017. PRYS: R150.00,BTW  ingesluit,  ISBN: gedrukte boek: 978-1-4853-0776-1, e-boek: 978-1-4853-0777-8, ePub: 978-1-4853-0778-5, FORMAAT: 215 x 153 mm, Sagteband, Aantal bladsye: 100)

.

Bookmark and Share

Los kommentaar