Onderhoud met Ruan Fourie (‘n ope brief aan Dorian Gray)

Ruan Fourie in geprek oor sy debuutbundel

‘n ope brief aan Dorian Gray, met Gisela Ullyatt

.

GU: Baie geluk met jou digdebuut, Ruan. Die voorblad is treffend, dog minimalisties. Vertel ons meer oor hoe die voorbladkuns gekies is?

RF: My redaktrise, Martjie Bosman, het my gevra of ek iets spesifieks ingedagte gehad het vir die voorblad, en ek het van die begin af ’n minimalistiese ontwerp verbeel. Die aanvanklike plan was om iets in die lyn van ’n leë, wit raam op ’n grys agtergrond te gebruik vir die ontwerp. Die portretformaat van die kunswerk op die voorblad herroep natuurlik die “the picture of …” op, wat ontbreek uit mý titel. Vandaar het ek voorgestel dat daar los kwashale in die raam kan wees, verkieslik waterverf; ’n abstrakte kunswerk in die styl van Silvia Peliserro se vroeë werk. ’n Gegewe waarmee ekself gespeel het, was om ’n kalligrafiepenpunt iewers in te sluit in hierdie loperige waterverfskildery. Ek het al hierdie idees vir Martjie Bosman gestuur en van haar af is dit aan Hanli Deysel oorgelaat. Sy het toe twaalf beautiful verskillende ontwerpe teruggestuur, en ek het laat weet waarvan ek hou en waarvan ek nie hou nie. Eindelik is twee van die ontwerpe waarvan ek (en ’n klomp mense by Protea) gehou het, met mekaar gekombineer.

GU: Met die intrapslag is dit duidelik dat die bundel die bladsynommer/titel-konvensie omruil. Hoe het jy as digter hierop besluit?

RF: Ek rangskik al ’n hele ruk lank my gedigte só, met die titel onderaan. Ek “onderteken” dus elke gedig wat ek skryf met ’n titel. Die titel is ’n nagedagtenis wat aansluit by ’n besinnende stemming, I guess. Ek hou boonop meer van hoe dit op die bladsy vertoon. Sekere gedigte se titels lees dan ook asof dit ’n laaste (dog verwyderde) versreël is, soos in “but satisfaction brought it back” (51). Die konsep van ’n brief wat onderteken word het bloot effektief hierby aangesluit, en om die bladsynommers dan bo-aan die bladsy te plaas was ’n manier om dié ruiling se doelbewustheid en bedoeling oor te dra aan die leser (hoewel dit ook eers ter sprake gekom het by die uitleg van die bundel).

GU: Jy kan as deel van die sogenaamde ‘born free’ generasie beskou word; jy is immers in 1994 gebore. Dit is dus interessant dat jy die brief-vorm in plaas van die e-pos benut, iets wat vele jongmense en selfs ouer mense nie meer nut voor het nie. Wat beteken dié ‘outydse’ vorm van kommunikasie vir jou as digter van die jonger generasie?

RF: Ek het, al is ek ’n freedom baby, ’n voorkeur vir die klassieke briefvorm. Daar is wel meer besonne redes vir die keuse van dié vorm, ek het nie net besluit ek hou daarvan nie.

Ek skrum bietjie weg van dinge soos ’n e-pos as ek gedigte skryf, omdat dit vir my baie keer lyk of die digter wat dié vorme aanwend, te hard probeer. Andersins kan dit ook ’n gedig tot gevolg hê wat heeltemal te vanselfsprekend en praterig is, wat die hele funksie van digkuns vir my ontlont. Ek het wel op ’n stadium ’n gedig of twee in die vorm van BBM’s geskryf (toe die BlackBerry die ‘it’-selfoon was), maar dít wys dan ook dat die immer aanpassende tegnologie gedigte in sulke instant-messaging-vorme kwesbaar maak om vinnig verouder te lyk. Myns insiens is ’n voicenote die interessantste (en naaste) hedendaagse reïnkarnasie van die brief. Die gewag op ’n reaksie; die onmoontlikheid om foute heeltemal reg te stel/weg te steek tensy jy die hele ding van voor af begin; dikwels ook die wanvermoë om ware emosies weg te steek. Die konsep van ’n voicenote-digbundel kan dalk verken word . . .

In elk geval. Die klassieke briefvorm, dan, pas bloot vir my meer effektief in die milieu van die vernaamste intertekstuele verwysing hier. Daar’s ’n vervloë sensibiliteit aan die era van Dorian Gray. Die roman is in 1890 gepubliseer, en omdat die verhaal in die digbundel in ’n moderne era afspeel, skep die groot tydsverskil tussen die verhale van die bundel en die roman vir my ’n interessante afstand/verwydering. Ek dink persoonlik ook ’n brief is eintlik opwindend, juis omdat ’n mens dit deesdae net in uitsonderlike gevalle teëkom. ’n Mens skryf nie meer briewe om in kontak te bly met iemand nie; dis gewoonlik een of ander grootse emosie wat ’n mens tot die skryf van ’n brief dryf. En ’n mens koester die briewe wat ’n mens ontvang nietemin; deesdae dalk selfs ’n bietjie meer as voorheen.

GU: Jy benut woordspel in sommige van jou titels: “gema/a/k” (11); “s/tikwerk” (13); “ek/stern” (6); “ar/seer” (19) en “he/ling” (68). Is hierdie gedigte gedurende ’n sekere fase of tydperk geskryf of is die titels later aan die gedigte toegeken?

RF: Ses van die gedigte in die bundel het voor die res van die gedigte bestaan, en vier van dié se titels het onveranderd gebly. Die res van die gedigte het ek in ongeveer drie weke geskryf in Augustus 2015. Al die gedigte (buiten “Dorian”) is heeltemal sonder titels geskryf. Die gedigte waarvan die titels hierdie tipe woordspel met die skuinsstreep in het, is wel redelik ver uitmekaar in die oorspronklike manuskrip (voor ek die verhaal uitgepluis het en die gedigte in die regte volgorde geplaas het). Die volgorde/verhaal het dus ook na die tyd eers by my opgeduik — ek het nie van die begin af bedoel om Dorian Gray te herroep nie.

Ek wil wel noem dat ek aanvanklik aan die manuskrip gewerk het van Desember 2014 tot Julie 2015. Die notaboek waarin alles handgeskrewe was, is in Julie gesteel, toe moes ek herskryf wat ek kon onthou of uit notas kon herroep. Ek het vanuit ’n objektiewe oogpunt probeer werk om alles so gou as moontlik weer op papier neer te lê, en die tematiek van die gedigte was byna presies dieselfde — dalk ’n bietjie meer ontwikkel, juis omdat dit tegnies ’n herskryf was. Die gedigte in die gesteelde manuskrip was ook almal naamloos. Nes die titels onderaan die gedigte, is die volgorde van die gedigte ook meer van ’n nagedagtenis.

GU: In “ek/stern” (16) kom die begrip “lotuseter” voor wat vir lesers die volgende intertekste vir lesers mag oproep, naamlik Homerus se Odusseia; Alfred, Lord Tennyson se “The Lotus-Eaters”; James Joyce se Ulysses waarvan die indeling op die Odusseia s’n berus. Vertel meer oor wat jy beoog het met “lotuseters” in hierdie gedig en het jy hierdie tekste in gedagte gehad?

RF: Ek is mal oor James Joyce, ek wens ek kon hom verstaan. Interessant genoeg het Ulysses my aanvanklik na die Odusseia gelei, in stede van andersom. Die lotuseters bewoon ’n eiland waar hulle stapelvoedsel lotusblomme is, wat daartoe lei dat dié bevolking byna hulle hele lewens in ’n vreedsame, apatiese waas deurbring. Dié apatie was iets wat ek wou betrek by die aangesprokene; dis een van die “red flags” in die verhouding. Bowenal sluit dit ook aan by die spreker se behoefte om ontsnapping; die spreker wil die lotuseter begryp omdat die spreker óók apaties wil wees of aanvaarding bereik ná die teleurstelling.

Die episode in Ulysses wat sinspeel op die Odusseia se vertelling van die lotuseters was een van die treffendste afdelings wat ek al gelees het. Dis die eerste hoofstuk waarin ’n mens Joyce se beroemde gedagtestroomtegniek, sowel as die parallelle elemente tussen sy parodie en die oorspronklike teks, duidelik teëkom. Die hoofstuk eindig met ’n pragtige paragraaf waar Leopold Bloom in die bad klim, en dele van hom word dan self “lotusse”. Ek beweer nie om die hoofstuk te verstaan nie, maar dit was vir my ’n volmaakte kombinasie van ’n karakter met ’n apatiese houding en ’n leser/toeskouer wat brand om te weet wat eintlik aangaan in die karakter se kop; wat eintlik bedoel word met die karakter se dade.

GU: Daar is ’n paar aanhalings uit lirieke van Lana Del Rey, Taylor Swift en verwysings na twee Nirvana songs asook verdere lirieke van ander kunstenaars. Wat beteken musiek vir jou as digter en watter musiek was jou ‘klankbaan’ terwyl jy aan die gedigte in die bundel geskryf het?

RF: Die lirieke wat ek ingesluit het is daar omdat ek ’n sterk geloof het in die poëtiese waarde en die algehele mag van pop. Heelwat mense is geneig om pop te ignoreer, maar daar steek myns insiens eintlik baie waarde in. Gewoonlik luister ek nie eintlik musiek terwyl ek skryf nie, ek hou daarvan om dit in ’n omgewing te doen waar daar nie te veel ander invloede is op my woorde nie. Ekself speel klavier, klawerbord en tjello, en musiek is al my hele lewe lank vir my baie belangrik; wanneer ek dit hoor, fokus ek egter dikwels te veel op die musiek (hoe dit saamgestel is, die instrumente, die akkoordprogressies) en dan kan ek nie altyd op my werk fokus nie. Wanneer ek my werk redigeer doen ek dit ook dikwels in stilte, maar ek luister eintlik ook graag na post-rock in hierdie fase. Tydens die skryf van ope brief het ek wel musiek geluister terwyl ek geskryf het.

Ek het spesifiek en herhaaldelik geluister na die volgende albums: Lana Del Rey se Honeymoon; Kings of Leon se Only by the Night; en Taylor Swift se 1989; met ’n paar lukrake liedjies tussenin wat ek nie nou kan onthou nie. Tydens die redigeringsproses het ek byna uitsluitlik geluister na Explosions in the Sky se All of a Sudden I Miss Everyone en God is an Astronaut se All is Violent All is Bright. Ek is al sedert haar eerste album ’n fan van Lana Del Rey se poëtiese hedonisme en sad core-klank; iewers gedurende die tyd toe ek die bundel geskryf het, is Honeymoon vrygestel. Heelwat mense dink sy is net aesthetic, maar daar’s eintlik baie meer aan haar persona en lirieke as “art for the sake of art”. Beide elemente het beslis ’n invloed op my gehad.

Caleb Followill se growwe vocals, saam met die ongelooflike wyse waarop hulle soveel verskillende klanke saamstel (en die goeie balans wat hulle steeds daarin behou), maak Kings of Leon dan weer vir my net so ’n emosionele luisterervaring. (Terloops, ’n verwysing na hulle liedjie “Crawl” het só ingeglip.) Ek het inderwaarheid deur die loop van 2015 hulle discography van die mees onlangse album af begin luister en geëindig by hulle debuut. Die keuse van Only by the Night was net omdat meeste van my gunsteling liedjies van hulle op dié album is.

Ek wil nie praat oor Taylor Swift nie. Ek sal wel erken 1989 was nogal ’n helende ervaring.

GU: Nie net berus jou debuut op Wilde se The Picture of Dorian Gray nie, maar ook onder andere op Nabokov se Lolita, Pale Fire en The Real Life of Sebastian Knight; Thomas de Quincey se Confessions of an English Opium-Eater; De Saint-Exupery se Terres des hommes; Tolstoi se Anna Karenina; Kundera se The Unbearable Lightness of Being, en Justin Torres se We the Animals.

Waarom hierdie bepaalde intertekste?

RF: Ek het van die begin af geweet dat ek versigtig moet wees dat my eie stem nie wegraak tussen die honderd ander stemme nie, want ope brief dra swaar aan die intertekstuele verwysings. (Anekdogee?) Dit was egter heeltemal doelbewus. Wat my op dié tekste laat besluit het is eintlik maar die geweldigheid van elke afsonderlike teks. Elkeen van hierdie tekste bevat een of ander verskriklike liefdesgeskiedenis of ervaring; ’n karakter wat verstrengel raak en dalk versmoor word in iets of iemand se kloue. Somtyds het ek bloot die beelde waarmee dié ervaring verduidelik word, as potensieel troostend gesien. Die doel met die groot hoeveelheid intertekstuele verwysings is egter om aan te sluit by die spreker se wanvermoë om die sterwende verhouding te verwerk of aanvaar. Die spreker wend hul dus na die woorde van ander skrywers, omdat die spreker self raadop is, maar vertroosting vind in die kommunikatiewe vermoë van ander; “om voort te ploeter in geleende vere.” Dis tog iets waarmee baie lesers kan vereenselwig: die empatie wat ’n mens kan hê met ’n karakter of ’n storie.

GU: In “Marina Joyce” (55) benut jy die weggegooide selfoon en simkaart as metafoor vir  ’n  liefdeskommunikasie wat skeefgeloop het. Die treffende eind-strofe beklemtoon hierdie wankommunikasie:

 

besorgd het ek geraak

toe ek jou naam wel ’n tweede slag

op my selfoonskerm raai,

’n ander nommer dié keer,

dis ongewoon dat jy so kort na mekaar bel,

jou groet was gewoonlik beslis.

maar ek is spyt, ek moes besef:

as ’n mens dink daar is iets fout,

dan is daar.

 

Vertel vir lesers wat nié bekend is met Marina Joyce nie, wie sy is en hoe sy met hierdie liefdesgedig verweef is?

RF: Marina Joyce is ’n Britse YouTuber wat hoofsaaklik videos maak met makeup tutorials en tips vir haarstyle of outfits. Hoofsaaklik die “Beauty & Lifestyle”-kategorie. Sy was altyd baie quirky, liefdevol en vrolik in haar videos, soos ’n feetjie, totdat sy in Julie 2016 op ander maniere vreemd begin optree het. Eerstens het mense in ’n makeup-video opgelet dat daar ’n geweer regop staan teen die muur in die agtergrond van haar video (https://www.youtube.com/watch?v=1_HWSNVrLFQ). Kort daarna het sy ’n video opgelaai (https://www.youtube.com/watch?v=FqhFUbtpiB4) waarin sy ongewoon opgetree het (sy’t frases herhaal en deurmekaar gepraat); op ’n stadium in dié video klink dit of sy fluister “Help me”; ’n mens sien die vensters van haar huis lyk of daar tralies (nie diefwering nie) vooraan is; et cetera. Verdere redes vir kommer was blou kolle op haar arms en bene, asook angswekkende reaksies op vrae tydens ’n YouNow-sessie — mense het byvoorbeeld gevra sy moet ’n hartjie maak met haar hande (’n bekende maniërisme van haar) as sy in gevaar is, waarop sy reageer het deur wel ’n hartjie te maak.

#SaveMarinaJoyce het vir twee dae op Twitter getrend. Daar was verskeie teorieë oor wat fout was. Aanvanklik het mense geglo sy is ontvoer en word gevange gehou en geforseer om videos te maak sodat sy ’n inkomste kan genereer vir die ontvoerder. Sommige mense het geglo ISIS is betrokke. (Omdat sy ’n meet-and-greet wou reël, het baie gedink dis net ’n manier om ’n klomp jongmense op een plek te laat vergader en kwesbaar te maak vir een of ander terroriste-aanval.) Ander het dan weer geglo sy gaan eenvoudig deur ’n psychotic break, of ly aan skisofrenie. Die skisofrenie-teorie is wat ek in hierdie gedig ter sprake wou bring: daar skuil ’n esoteriese waansin in die aangesprokene wat die spreker bel. ’n Mens is geneig om “red flags” te ignoreer (hoewel dit nie in Marina Joyce se geval geïgnoreer is nie) en dit lei dikwels tot baie groter skade of gevaar. In hierdie gedig besef die spreker dat daar eintlik al baie tekens was wat vir hulle moes wys dat iets fout is, maar deur dit in dié gedig eers te erken/besef, word die bewuswording sinneloos: dis heeltemal te laat.

GU: Die tema van geweldige verlies wat uit ’n liefdesteleurstelling spruit, word besonder geslaagd in die volgende gedigte bepeins. Ek haal enkele gedeeltes uit elk aan:

 

“que sera sera” (59):

 

ek mis jou te veel;

hoe pateties is my onvolkome woede.

een van ons

sou van die begin af

eerste bes moes gee.

ek het geweet dit sou daarop uitloop,

want ons het al twee dieselfde mens liefgehad:

ek jou,

jy jouself.

jy het my hele, wye wêreld

afgebrand […]

 

“verval” (60)

 

[…]

innemende, liewe beminde,

weier jy

om in der minne te skik?

sonder wik en weeg

ontaard jou stil glimlag op die skerm

in selfsug […]

 

“tea for one” (61)

 

[…]

daarom en omwille my digterlike selfsug

sal ek jou aanhou sien in die smaak en reuk van tee

en saam met die gedagte aan jou

koud word en toekyk hoe die kleure uit die wêreld gewas word.

meer as ’n peperagtige herinnering

en ’n oorlogsugtige traan of twee

sal ek jou nie gun nie.

ek het saam met die tee

koud geword.

 

Het bostaande liefdesgedigte saam ontstaan en moet die leser hulle direk in verband bring met die Dorian Gray-interteks?

 

RF: Hierdie gedigte is bedoel om van die meer toonaangewende gedigte in die bundel te wees. Die tema in “verval”  — dit wat jou mooi maak ontaard in dit wat jou lelik maak  — is iets waaroor ek van die begin af wou skryf (voordat ek die bundeltitel en narratief presies bepaal het). Ek het gelees dat meeste mense ophou verlief wees om dieselfde redes vir hulle aanvanklike verliefdheid. Die persoon se spontane persoonlikheid lyk dalk later net vir jou roekeloos; hulle introverte persoonlikheid lyk later na skelmwees of wantroue of suinigheid. Dorian Gray is netso deur sy eie skoonheid verlelik. Hierdie gedigte vul mekaar aan nes dit in verband gebring kan word met die Dorian Gray-interteks. Die spreker besef hier dat liefhê eintlik ’n keuse kan wees, en van hierdie gedigte af (veral “tea for one”) begin ’n helende maar woedende verwerking van die seerkry, tot en met die slotgedig.  In ’n mate ontaard die spreker self hier in ’n “beter” Dorian Gray (wat in die roman mettertyd sy eie sondige bestaan nie meer aan homself kan ontken nie, maar dit op ’n baie meer gewelddadige manier konfronteer en nie juis verwerk nie, anders as die spreker in ope brief).

GU: In “he/ling” (68) utiliseer jy die anapestiese voet as metafoor vir die “hel” waardeur ’n mens gaan om die “heling” van gebroke liefde te ervaar:

 

só was ons twee net één

anapestiese voet

in ’n voortskrydende

vers.

 

Verhelder die konsep van die twee wat een anapestiese voet word?

RF: Die bedoeling hiermee is eintlik redelik eenvoudig. Anapes (antidaktilus) verwys natuurlik na ’n metrum waarin twee onbeklemtoonde lettergrepe gevolg word deur een beklemtoonde lettergreep (byvoorbeeld “by the skin of your teeth”). Ek het dit eenvoudig verbeel met die spreker en die aangesprokene as twee onderskeidelike onbeklemtoonde lettergrepe, wat dan saam eindig op ’n verwoestende/beslissende hoogtepunt, asof hulle mekáár verwoes het. Die “hel” in die titel se woordspeling kom dan dalk van hierdie ontploffing af.

GU: In “’n ode vir eendag as jy dood is” (58) lees die laaste reël: “ons generasie is Breyten-bedonderd”. Ontsluit hierdie reël vir die leser?

RF: Ek kan nie al my geheime verklap nie. Ekself weet nie eers wat hulle almal is nie. Maar dis wel interessant: hierdie gedig het ontstaan en is geskryf rondom sy slotreël. Die Breyten-bedonderdheid is volkome positief bedoel. Baie lede van my generasie (en voriges!) ag Breyten Breytenbach as ’n digterlike god te wees, en die nihilisme wat ek hier betrek het, het ontstaan omdat ek as digter wou erken dat geen digter ooit soos Breytenbach sal kan wees nie. Ek dink almal (digters én lesers) moet hulself liewer net afvra “wat gaan ek vandag doen / om te sorg ek behou my waarde en trots / as méns?”

GU: Ruan, is daar ’n gedig uit ope brief wat jy graag met Versindaba-lesers wil deel?

 

as ek saam met jou is
is ek Wronski
wat probeer om jou
met my oë te vermy,
maar soos die son sien ek jou

selfs al kyk ek nie.

voel ek minder by jou?

soos om te vra of ek
elke minuut van die lewe

iéts wil wees

in plaas van

niks.

jou bekoorlike mag maak van jou kuns:

ek wonder
wat in jou kop aangaan:
hoe dink ’n kunswerk?

polichroom? beweeglik?

in jambes?

die gekruisigde wêreld traak my nie

as ek my
in soveel skoonheid
kan verslinger nie.

ek word ’n Modigliani-portret

met tongvisvormige holtes

waar my oë sou wees.

– hedonis

 

Bookmark and Share

Comments are closed.