Marlies Taljard: … dat ek so breekbaar is

“… it [is] strange indeed that illness has not taken its place with love and battle and jealousy among the prime themes of literature” (Virginia Woolf)

Temas van siekte en pyn is reeds in die vroegste mondelinge vertellings teenwoodig. Dink maar aan die Bybelse Job, aan koning Nebukadneser en aan die talle verhale oor die genesing van siek mense in die Nuwe Testament. Ook nader aan ons eie era is daar talle verhale waarin siekte en pyn ‘n belangrike rol speel. Gedurende die Middeleeue en die Rennaissance het die klem dikwels geval op geestesversteuring, maar ook by moderne skrywers soos Dostojefski vind ons geestesiekte as tema. Tot baie onlangs is siekte, pyn en lyding egter selde vanuit persoonlike perspektief in narratiewe tekste belig, maar eerder as allegorie, as simbool van die kollektiewe boosheid van die mensdom, as metafoor van spirituele verdorwenheid of as straf op sonde. Dikwels was verhale oor siekte sodanig gestruktureer dat die siek mens deur sy siekte tot boetedoening of tot inkeer gebring is. Siekte is dikwels (soos tans nog in mediese vakgeskrifte) deur middel van oorlogsmetafore beskryf: die siekte is iets wat die liggaam aanval en wat beveg en oorwin moet word. Daarom was dit dikwels verhale van restitusie, van chaos en oorwinning: die persoon wat aan ‘n siekte ly, wil haar gesondheid ten alle koste terugwen en werp alles in die stryd om die oorwinning oor die vyandelike indringer wat van haar liggaam besit geneem het, te behaal.

Die tema van die individu as iemand wat op persoonlike vlak lyding as gevolg van siekte verduur en verwerk, is relatief nuut in die wêreldletterkunde. Sedert die begin van die twintigste eeu en veral sedert die 1950’s verskyn daar ‘n nuwe tipe siektenarratief, naamlik dié narratief waarin die klem val op die broosheid en die sterflikheid van die individuele mens en die worsteling van siek mense om die impak van traumatuese en ingrypende veranderde liggaamlike gesondheid te verwoord en te verwerk. Die realiteit van ‘n lewe wat deur siekte, pyn en lyding verander is, lei dikwels tot introspeksie en tot die konstruksie van ‘n nuwe identiteit wat soms radikaal verskil van die “ou” identiteit of die identiteit wat die subjek sou verkies het om te hê. In die proses is dit dikwels ook nodig om op persoonlike vlak sterflikheid en die onafwendbaarheid van die dood te konfronteer. Alexander Solzhenitsyn was een van die eerste skrywers wat, in sy bekende boek Cancer Ward, die persoonlike agonie van kankerpasiënte ontgin het op die mees basiese menslike vlak én op psigologiese en spirituele vlak.

In hulle artikel The disease-subject as a subject of literature bespreek Andrea en Michael Kottow ‘n aantal kenmerke van moderne siektenarratiewe. In hierdie reeks blogs maak ek van hulle insigte gebruik om enkele gedigte wat siekte as tema het, te bespreek. Hierdie blog handel oor die wyse waarop die sprekende subjek haar siek liggaam ervaar.

Merleau-Ponty tref ‘n onderskeid tussen die lewende liggaam en die beleefde liggaam (living body versus lived body). In Phänomenologie der Wahrnemung (1966) beskryf hy die verskil tussen Körper en Leib. Onder Körper (beleefde liggaam) verstaan hy ʼn morfologies bepaalde en funksioneel gereguleerde substratum, terwyl hy onder Leib (lewende liggaam) ʼn steeds veranderende struktuur, bepaal deur sekere omstandighede en hulle belangrikheid verstaan. Hierdie verskil dui op ʼn verskil in fokus: wanneer op die lewende liggaam gefokus word, word hoofsaaklik op die siekte en sy simptome op die konkrete liggaam gefokus. Daar is egter ook ʼn ander fokus moontlik, naamlik die fokus op die belewenis van die siekte deur die subjek-wat-siek-is. Die beleefde liggaam verteenwoordig die beeld wat die subjek van haar liggaam het en wat nie noodwendig ʼn akkurate voorstelling van die konkrete liggaam behels nie. Aspekte soos gesondwees en siekwees, waartoe die liggaam in staat is en ervarings van gemak of ongemak is hier van belang. Dit is hierdie aspek van fokalisasie wat in baie hedendaagse siektenarratiewe op die voorgrond tree en wat Kottow & Kottow in verband bring met ʼn sogenaamde “disease-subject”:

Based on the distinction between living body and lived body, we describe the disease-subject as representing the impact of disease on the existential life-project of the subject. Traditionally, an individual’s subjectivity experiences disorders of the body and describes ensuing pain, discomfort and unpleasantness. The idea of a disease-subject goes further, representing the lived body suffering existential disruption and the possible limitations that disease most probably will impose. In this limit situation, the disease-subject will have to elaborate a new life-story, a new character or way-of-being-in-the-world, it will become a different subject.

Die moderne siektenarratief is dus minder gefokus op die siekte en sy simptome, terwyl die eksistensiële krisis van die mens-wat-siek-is die fokus van belangstelling word.

In Marlise Joubert se bundel Splintervlerk (2011) handel ʼn aantal gedigte oor die digter se belewing van ʼn rugoperasie (lumbale mikrodiskektomie) en die meegaande ongemak, pyn en ingrypende lewensaanpassings. Vir hierdie bespreking is veral twee gedigte, trooslied vir die lyf (p.33) en ode aan die gefolterde lyf (p.61) interessant in terme van die lewende en die beleefde liggaam soos Kottow & Kottow dit beskryf.

 

trooslied vir die lyf

vir jou ryg ek liefs gedigte aan mekaar

soos dun gedroogde appelskille

deur ʼn nylontou

hang ek glaskrale om jou nek

hoe anders kan ek troos

 

vir jou, lyf

met die rugsnoer ʼn donker fluit

verdwaalde note uitgesny

waar jy eenbeen op die voetsooltrom

ʼn lam loopritme speel

vir jou pols ek die leefure nuut

en ʼn vrugteboord om

elke skouerknop

 

ek hou jou vas

ek hou jou vas

 

ek haal deur jou uitgekerfde holtes asem

ek verbind jou weer met taal

appelsoet of vrank

 

dié tou van woorde is

vasgestrik aan jou

 

hoe durf ek jou verlaat

hoe durf ek dit kon dink

 

al verbaster jou vel soos raku

elke nuwe vlek vertel van nog ʼn jaar

 

saam sal ons afvalskille argiveer

en alles wat so afgryslik

slipglad vergaan

 

sagter

al hoe sagter reflekteer

 

Hoewel die titel van die gedig suggereer dat die spreker ʼn gedig skryf aan die konkrete liggaam, kom die verhouding en emosionele binding van die spreker met haar liggaam egter baie duideliker uit die verf as die simptome van ʼn siektetoestand (soos byvoorbeeld in die gedig lumbale mikrodiskektomie, p. 12), en in hierdie geval ook die proses van veroudering wat bepaalde liggaamlike belemmeringe meebring.

In die bogesiteerde gedig is daar duidelik sprake van ʼn spreker en ʼn aangesprokene. Die spreker tref ʼn opvallende onderskeid tussen die “ek” en die lyf asof hulle twee afsonderlike entiteite is. Binne die konteks van die gedig sou ʼn mens dit dalk as ʼn vriendskaps- of susterlike verhouding kon bestempel. In die “gesprek” met die lyf word bepaalde identiteitsaspekte van die sprekende “ek” geopenbaar. Vir my die belangrikste is haar medelye en deernis met ʼn gepynigde en ouerwordende lyf, ʼn lyf waarvan “verdwaalde note uitgesny” is, wat “eenbeen op die voetsooltrom / ʼn lam loopritme speel” en waarvan die vel “verbaster … soos raku”. Uit ander gedigte in die bundel kan afgelei word dat die spreker waarskynlik verwys na ʼn pas afgelope rugoperasie wat in alle waarskynlikheid ook aanleiding gee tot die besef dat die liggaam “afgryslik / slipglad vergaan”. Die gevoel van veroudering en verval word heel waarskynlik geïntensiveer deur die pyn en hulpeloosheid na ʼn ernstige operasie.

Van die twee “persone” of “persoonlikhede” wat in die onderhawige gedig optree, is die “ek” beslis die sterkere. Dit is sy wat die liggaam troos: “ek hou jou vas / ek hou jou vas” en haar verseker van haar verbondenheid met die liggaam: “hoe durf ek jou verlaat”. Die vrees dat die “ek” en die lyf van mekaar vervreem kan word (soos deur die dood) word verder besweer deur die spreker se versekering: “dié tou van woorde is / vasgestrik aan jou” – in terme van die poëtiese woord is dit ʼn baie kragtige beswering, want die woord is immers in staat om nuwe lewe te skep (vgl. Johannes 1 in die Bybel) en nuwe paradigmas tot stand te bring. Deur hierdie versekering word ook die intieme verhouding tussen die spreker en die lyf bevestig – ʼn mens sou dit selfs in terme van ʼn liefdesverhouding kon verklaar, van twee liefdesgenote wat saam oud word: “saam sal ons afvalskille argiveer”. Teen die einde van die gedig – in hierdie woorde – word die aanvanklike tweeledigheid tussen “ek” en “jy” as’t ware opgelos en word liggaam en “siel” – konkrete en beleefde liggaam – versoen. Dié versoening is die resultaat van ʼn proses van nuwe identiteitskepping (en in hierdie geval nuwe identifikasie met die liggaam), soos verwoord in die reël “vir jou pols ek die leefure nuut”. Dat die skrywende “ek” algaande besig is om ʼn nuwe identiteit te skep wat in lyn is met die ingrypende liggaamlike veranderinge wat die operasie teweeg gebring het en wat dalk aanleiding kon gegee het tot die vervreemding/skeiding tussen “ek” en die liggaam, blyk ook uit ander gedigte in die bundel. Die gedig oggendbrief vir Xander is ʼn brief aan die spreker se eenjarige kleinkind waarin sy bely: “jy is beter as ek kleinkind / jy loop vinniger as ek” en:

vergewe my dan as jy my weer sien

ek het pas begin loop

onseker tree op onvaste tree

sleepvoetseer

 

In gedigte soos hierdie kan duidelik gesien word dat die disrupsie wat deur patologie veroorsaak word, ʼn eksistensiële krisis veroorsaak wat die sprekende subjek dwing tot herbesinning van wie en wat sy is. Kottow & Kottow stel dit soos volg:

Shifting the pertinent narrative from the subject of disease – the witness of bodily dysfunctions – to the disease-subject – the witness of existential disruption -, has a profound influence on the way the patient’s narrative evolves and is to be understood. Disease is not merely observed dysfunction, it is also anguish in view of the unknown, vulnerability in the wake of permanent sequelæ, perhaps the shudder of death’s proximity. All these components dislodge the familiar relationsip of the subject with its living body, create the disease-subject that is witnessing a human being whose life-world is visibly collapsing and where possible rearrangements and new existential pathways will be gropingly searched for.

 

Die ineenstrorting van ʼn bekende verhouding met die (geliefde) lyf is ook die tema van die gedig ode aan die gefolterde lyf in die bundel Splintervlerk. Verwyt en selfs Angst spreek uit die gedig, omdat die spreker glo dat die eens bekende en geliefde liggaam haar in die steek gelaat het.

 

ode aan die gefolterde lyf

ek het jou sonder skroom liefgehad

 

na jou het ek omgesien

ek het jou knieë soos twee robyne

in my palms gelym

 

ek het jou bitter lank méégeleef

 

het ek jou dan nie slaafs nagevolg nie

bogronds en ondergronds en niks

niks daarvan bevraagteken nie

 

jy het jou rug op my gekeer

my geheel en al in afgryse afgesonder –

ek vind jou nooit weer terug nie

 

jou arms was warm

soos agaat wat hitte vergaar

jou oë was tieroog se dam

jou skouers simmetries in lyn

met elmboog en pols jou nek oop

met onverwelkte gewig

 

waarom my nou kasty

na ʼn leeftyd saam jou ribbekas sluit

 

jy het my agtergelaat

volg steierend jou eie pad

jy skree jy gil en skel op my

jy draai jou los uit enige liefdeswoord

 

al kyk jy weg

al neuk jy voort

in jou verbrokkeling

al wil jy my vermy

 

ek volg jou steeds

ek wil by jou wees

lyf

 

totdat uitgedoofde frakture

ons paaie skei

 

In ʼn sekere mate kan die gedig ode aan die gefolterde lyf gelees word as antitese van die gedig trooslied vir die lyf. Soos in laasgenoemde gedig, is daar in hierdie gedig ook ʼn duidelike skeiding tussen die sprekende “ek” en haar gefolterde liggaam. Waar die oorheersende stemming in die trooslied dié van troos en deernis is, is verwyt egter aan die orde in die ode. Tog loop beide gedigte uit op ʼn mate van berusting en aanvaarding van die veranderde lyf en ʼn verklaring van verbondenheid met die lyf tot aan die einde van die lewe. ʼn Mens sou dus die stelling kon maak dat beide die gedigte – op die metavlak – identiteitsnarratiewe is waarin die spreker ʼn (vertrouens)breuk tussen haar en haar liggaam moet verwerk ten einde ʼn nuwe persoonlike identiteit te onderhandel, maar ook om vrede te maak met die nuwe, onbekende identiteit wat die konkrete liggaam aangeneem het as gevolg van pyn, lyding, mediese ingreep en verval. Daar moet opnuut beliggaming (embodiment) plaasvind om die werklikheid van die konkrete liggaam en die lank gekoesterde siening van die beleefde liggaam met mekaar te belyn, want die bekende liggaam het skielik onbekend geword en moet van nuuts af verken word. Dié verkenning lei tot ʼn eksistensiële krisis vir die spreker wat die verandering beleef in terme van ʼn liefdesverhouding wat beëindig is:

jy het my agtergelaat

volg steierend jou eie pad

jy skree jy gil en skel op my

jy draai jou los uit enige liefdeswoord

 

Vanselfsprekend lei hierdie insig tot trauma by die spreker, soos dit uitdrukking vind in woorde en frases soos afgryse, kasty, steierend, skree, gil, skel en neuk voort. Daarteenoor staan die beskrywing van die konkrete liggaam se afsonderlike ledemate soos die “ek” daaraan gewoond was. (Hieruit spreek reeds iets van die verbrokkeling van die liggaam.) Tog lyk dit asof die spreker se woede en teleurstelling en die uitspreek van haar emosies uiteindelik tot versoening met die “gefolterde” konkrete liggaam lei. Uiteindelik kan die sprekende subjek dan, soos in die trooslied, haar verbondenheid met haar liggaam verklaar en vind daar dus ʼn vorm van versoening tussen die lewende en beleefde liggaam plaas waarin die aanvanklike breuk tussen die twee aspekte van die “siek” subjek verklein word. In beide die gedigte is aanvaarding die uiteinde van die emosionele proses wat volg op trauma aan die konkrete liggaam. Dit sou nie onvanpas wees om te beweer dat dié aanvaarding deel is van die “nuwe” identiteit van die spreker nie. Versoening met die onbekende gefolterde liggaam bied ook ʼn nuwe perspektief op die toekoms, soos in die slotreëls van kamer 15. saal d (p. 16) wat metafories verwys na die “hegting” tussen konkrete en beleefde liggaam:

soms draai jy om na waar ek slaap

en ek wil my wimpers digter saamtrek

probeer om sonder pyn my heup te draai

sodat jy skaars moet weet

 

van hierdie hunkering

hoe ek saam met jou wag

op ons huis met elke kamer

 

ingerig om alles mettertyd

hegter aan mekaar te bind

 

Dat die worsteling om tot versoening te kom met ʼn liggaam-wat-siek-is in die liefdesmetafoor gestalte vind, is inderdaad veelseggend vir die verhouding wat daar vir hierdie spesifieke digter geleë is tussen haar liggaam as objek en haar persoonlike siening en verhouding met dié liggaam.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.