Wicus Luwes. Argentinië en Aristoteles: die definisie van ‘n siklus

Ek wonder of ‘n siklus moontlik deur ‘n driehoek of sirkel voorgestel kan word: ‘n Driehoek in die vorm van voedselverwantskap of ‘n sirkel in die vorm van bome se jaarringe. Of miskien ‘n spiraal, soos ‘n skulp of langspeelplaat. Ek wonder of die spiraal as voorbeeld kan dien, aangesien ek graag sou wou hê dat ‘n siklus weer terugkeer na sy oorsprong. Wat van ‘n reguit lyn of stuk pad?: kan die Comrades-marathon wat eers van Durban na Pietermaritzburg en dan weer van Pietermaritzburg na Durban dalk ook kwalifiseer as siklus?

Op 27 Mei 2017 lees ek die volgende opskrif by die webtuiste van ‘n aanlyn-koerant: ‘Argentinië goeie Plan B vir SA boere’. Ek kan ongelukkig slegs die opskrifte van daardie aanlyn-koerant lees, aangesien ek nie daarby ingeteken is nie. Ek besef dat ek eintlik die perfekte voorbeeld is van die manier hoe die sameleweing reageer op nuus: ons lees net die opskrifte, maar dink dat ons die nuus goed ken. Ek dink ook weer aan die opmerking van Mark Twain: ‘If you don’t read the news, you are uninformed. If you read the news, you are misinformed.’

In 2012 was ek aan huis van vriende, Oom Hennie en Tannie Paula van den Heever, toe ek die eerste keer van die Argentynse Afrikaners gehoor het. ‘n Groot groep Suid-Afrikaners en Namibiërs het die land verlaat na afloop van die Anglo-Boereoorlog. Die dame van die huis (Tannie Paula) se oupa en vader was self Argentynse Afrikaners (of Afrikaanse Argentyne). Sy het vertel hoe haar vader en sy broers op die ou ent teruggekeer het na Suid-Afrika. Die lewe vir die wat teruggekeer het, was nie altyd maanskyn en rose nie. Hulle moes kos op die tafel sit, maar het nie noodwendig skoolopleiding of tersiêre opleiding gekry nie. Daar het van hulle aan die Rand in die myne gaan werk. Dit was egter ‘n moeilike lewe vir ‘n plaasseun wat sy lewe lank oop vlaktes om hom gehad het.

 

Verskroeide Aarde

Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:
Grootouma Geldenhuys met vier kinders
in ‘n oop beestrok a die kamp by Merebank,
‘n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,
Grootoupa te velde wie weet waar.
Die rooi huis in ge konfiskeer as hospitaal –
gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,
die erfgenaam naamloos in ‘n seepkis iewers in die sand.
Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond
twee bitter woorde: smaad en hoon
en die droewe wete van familiegrond
vir geslagte tevergeefs bewoon.

deur Martjie Bosman uit ‘Landelik’, Protea Boekhuis, 2002

 

PJ Henning (Tannie Paula se oupa) het vele artikels vir Huisgenoot geskryf oor die lewe van die Afrikaners in Argentinië. Die artikels is toe in boekvorm saamgebind. Die titel van die boek: ‘n Boer in Argentinië. Henning het op 5 Desember 1905 as 19-jarige in Argentinië aangeland. Mnre Vietma en Green het namens die Argentynse regering na Suid-Afrika toe gereis om plase aan die ontnugterde Afrikaners aan te bied. ‘n Mens moet seker die ‘verskroeide aarde’-beleid van die oorlog by die vergelyking inreken, aangesien baie gesinne teruggekeer het na verwoeste plase. Hulle sou van voor af moes begin en dit dan onder ‘n regering waarteen hul oorlog gemaak het. Verkenners is uitgestuur om Argentinië te verken en die verkenners se terugvoer was positief: appels wat wild groei in die veld, ‘n enorme vleisbedryf om maar ‘n paar van die kwaliteite van Argentinië te noem. Net een plek moes hul egter vermy: Comodoro. Comodoro was ‘n droë, barre omgewing. Soos die noodlot dit egter wou hê, is dit presies waar die meeste Suid-Afrikaners hulle gevestig het.

Om terug te keer na die definisie van ‘n siklus: ons het ‘n idee van die vorm van ‘n siklus. Die volgende vraag is seker waaruit ‘n siklus bestaan of wat sy samestelling is. ‘n Mens sou seker tyd as antwoord kon bied. Tyd wat verloop in jaarringe van bome of die wentel om die aarde. Tyd in sekondewysers en kinders wat hul opwagting in familie-kringe maak. Tyd wat skemeroggend en skemermiddag amper dieselfde laat lyk. Die dinamika van ‘n siklus is verder dat die skemeroggend vir die een persoon, weliswaar die skemermiddag vir die volgende persoon kan wees in.

Daar is ook die skepper van die siklus of entiteit wat die siklus in stand hou. Suid-Afrikaners se betrokkenheid by Argentinië as siklus laat my wonder oor daardie vraagstuk. ‘n Belangrike komponent in die soeke na definisie is om ‘n siklus van buite te sien. Hoe plaas jy jouself egter buite die Anglo-Boereoorlog? Hoe plaas jy jouself buite die huidige politieke verwikkelinge? Hoe plaas die landboukundige homself buite die grondhervorming as hy daaraan dink dat graan op ‘n sekere tyd geplant moet word en weer op ‘n volgende tyd geoes moet word? Wie is in beheer van ‘n siklus en wie staan by skemeroggend en wie by skemermiddag?

Die Argentynse Afrikaners het ‘n boor laat kom omdat die Comodoro-omgewing in die Chubut-provinsie so droog was. Met water kan ‘n mens diere aan die lewe hou of groter oeste aanpak. In plaas van water het hulle egter op ‘n ander entiteit afgekom: olie, gas en ander brandstowwe. Die eens dorre omgewing het nou ‘n ander rykdom ingehou. Die regte om die olie te ontgin het egter aan die regering behoort en gevolglik kon die Comodoro Afrikaners nie daaruit voordeel put nie. Dit kon ‘n afdeling aan die siklus van die Suid-Afrikaners ingelyf het, aangesien dit ‘n bron van inkomste kon wees. Dit het egter gemaak dat baie Afrikaanse Argentyne eerder die plaaslewe verruil het vir werke op die olie-aanlegte. Die oliebronne is later jare ook genasionaliseer en is steeds ‘n groot bron van inkomste vir die Argentynse regering.

Die boek vertel van  mense wat somtyds vir hulself moes veg in ‘n land met ander gebruike en gewoontes. ‘n Plek waar hul Mate of Yerba Mate (Argentynse tee) leer drink het. Die gebruike rondom die drink van die tee was vir my baie interessant. Die teedrinkery is meer as net die les van dors; dit het ‘n sosiale element aangesien die hele huishouding (vriend en familie) uit een koppie en strooitjie drink. Die koppie sirkel deur die kuierplek, hetsy kombuis of sitkamer, totdat elkeen genoeg gekry het om te drink.

Yerba Mate-tee
(Foto: https: //bebrainfit.com/yerba-mate-benefits/)

Henning se boek skets vele interessante gebeure: die unieke diere wat hul in Argentinië ontmoet het. Die stryd teen roofdiere. Die poema wat maklik ‘n vyftig of meer stuks skaap kan doodbyt en dan net aan een vreet. Daar is ‘n pragtige verhaal van ‘n jag op so ‘n poema. Die poema het vir die groep honde gevlug en in ‘n ondergrondse tonnelstelsel probeer skuil. Op die ou end is Henning agter sy honde (en die poema) aan en moes hy lig maak deur vuurhoutjies te trek. Die jagtog / jaagtog het op die ou end veroorsaak dat hy die poema probeer skiet het in die stikdonkerte en toe amper self verstik het in die stof en suurstoftekort van die tonnel.  Die probleem het ingekom toe twee van sy honde agter die poema in die tonnel ingehardloop het. Die volgende probleem het ontstaan toe die poema vasgekeer is tussen die honde binne die tonnel en die hond by die mond van die tonnel.

Die rede hoekom dit altyd goed is om die siklus van buite te sien, is omdat bitter min dinge in ‘n vakuum gebeur. ‘n Groep Afrikaners wat ook hul lot buite Suid-Afrika gaan soek het, is uit Angola terug na Suid-Afrika ongeveer dertig tot vyf-en-dertig jaar na die afloop van die Anglo-Boereoorlog. Die repatriasie-proses het ‘n moontlikheid of opsie geword vir die Argentynse Suid-Afrikaners. Korrespondensie met die Unie-regering het gevolg. Regeringsverteenwoordigers het besoek afgelê.

Die verhaal in die boek eindig by ‘n tuiskoms in Kaapstad 33 jaar later. ‘n Voltooide siklus? Miskien slegs ‘n legkaartstukkie in die groter siklus wat pas by die legkaartstukkie van ‘Plan B vir SA Boere’. Aristoteles het die vier oorsake voorgehou om definisie aan iets te gee: waarvan dit gemaak is, watter vorm dit aanneem, wie of wat dit laat gebeur en dan laastens wat die doel daarvan is. Die vraag wat ‘n mens dan kan vra is: wat is die doel van die Argentynse-siklus vir Suid-Afrika? Die veronderstelling is dat ‘n mens die entiteit amper in die oorspronklike samestelling moet kan sien, soos ‘n standbeeld in ‘n stuk graniet of ‘n tafel in ‘n stuk hout. Hoe lyk die driehoek van ‘n Argentynse verwantskap-siklus, of die spiraal van ‘n Argentynse skulp. Die doel van ‘n boom en sy jaarringe kan bepaal word, maar nie altyd hoekom die boom op ‘n spesifieke plek geplant is nie.

Die boek noem eiendomsreg en ander beloftes wat die Argentynse regering verbreek het as redes waarom hul besluit het om terug te keer na Afrika. Daar is op die ou end slegs 28 plase op mense se name oorgedra en ander het slegs ‘n 100 jaar huurpag ontvang. Dit klink vir my baie soos wanneer mense ‘n voorspoedige of bankrot-besigheid beskryf: almal weet hoekom dit gebeur het, maar bitter min mense sien die oorsake raak gedurende die siklus. Ek bespreek hierdie Suid-Afrika-Argentinië wisselwerking, maar weet steeds nie wat die (werklike) doel daarvan is nie, want niemand weet presies waar iets begin en waar dit eindig nie. Dit is moeilik om ‘n objektiewe gevolgtrekking te maak wanneer jou toergroep self hul pad probeer vind. Is ons kaartjies werklik net vir een rigting of is ons reis eintlik retoer?

 

langspeelplaat

dag na dag
soos ‘n plaat
om en in
dieper sny die naald

aan die end
weet jy
die lied is klaar
maar jy wil weer luister

 

Lees ook gerus my vorige artikel oor Suid-Afrik se verwantskap met Argentinië: http://versindaba.co.za/2016/10/24/wicus-luwes-n-taal-op-die-aardsdrempel/

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Argentinië en Aristoteles: die definisie van ‘n siklus”

  1. Maria Snyman :

    Googel “rock cycle” Wicus, dit is ook ‘n interessante siklus volgens my. Hierdie skakel bied ‘n lekker eenvoudige diagram wat tog ook die kompleksiteit – ʼn sekere “terrifying dissymmetry” in Derrida (1987:22) se altyd deeglike dramatiese woorde, hierdie keer uit “The Laws of Reflection: Nelson Mandela, In Admiration”? – goed na vore bring http://easyscienceforkids.com/all-about-rock-cycle/

  2. Wicus Luwes :

    Baie interessant! Dankie, Maria.