Resensie: ‘n ope brief aan Dorian Gray (Ruan Fourie)

’n ope brief aan Dorian Gray (Ruan Fourie). Pretoria: Protea Boekhuis,2017

Resensent: Marius Crous

Omslag

The Picture of Dorian Gray is seker die bekendste werk van Oscar Wilde. Dit het in 1890 vir die eerste keer in die Lippincott’s Monthly Magazine verskyn. Vanweë die skerp kritiek op die Viktoriaanse samelewing was dit onmiddellik ’n kontroversiële teks en het die redakteur die seksuele passasies, spesifiek Basil Hallward se homoseksuele begeerte na die jong Dorian, gesensor. Op die blog van Harvard University Press (22 Februarie 2011) word selfs genoem dat Stoddart (die redakteur) selfs die verwysing na Dorian se “mistresses” uitgehaal het, omdat dit die Viktoriaanse damelesers aanstoot kon gee.

’n Hernieude belangstelling in die roman het opgevlam na die verskyning van Richard Ellmann se biografie oor Wilde in 1988 en die roman word beskou as een van die sentrale tekste in queer teorie. In Sexual Personae (1990) wy Camille Paglia ’n hoofstuk aan dié roman met as opskrif, “The beautiful boy as destroyer”.  Dorian Gray is die verpersoonliking van iemand wat ander domineer met sy fassinerende skoonheid en persone van albei geslagte na hom aantrek en in die proses breek hy hulle morele wil af.  Die mooi jongman word nie juis geraak deur die rampe wat hy veroorsaak nie en verpersoonlik narsistiese skoonheid.

Dit is teen hierdie agtergrond wat die voornemende leser van Ruan Fourie se debuutbundel vra: Waarom rig hy ’n ope brief aan die figuur van Dorian Gray? Waarom in gesprek tree met hierdie sentrale karakter uit die wêreld van die dekadentisme? Is daar ’n worsteling met skoonheid, verganklikheid en sterflikheid? Waarom hom begeef in die swoele sfeer van die dekadentisme wat ontstaan het uit verset teen die versworende Viktoriaanse fatsoenlikheid?  Is daar by hom ook sprake van ’n skone jongeling na wie hy hunker en wat hom laat skryf?

Die gedig “Dorian” (bl.25-27) staan sentraal in hierdie verband, veral aangesien Dorian Gray direk aangespreek word. Vir die digter lyk Dorian soos “Isaac Levitan / in sy Serof-portret” wat sit op ‘n “Klimt-agtige leunstoel”. In aansluiting by die dekadente sfeer wat deur Dorian Gray opgeroep word, is daar ‘n “Vanitas-stillewe” as ’n tipe memento mori. Dié skildery lyk soos volg:

(https://upload.wikimedia.org/wikipedia/commons/thumb/c/c0/1893_Levitan_-_Portr%C3%A4t_von_Serow.jpg/440px-1893_Levitan_-_Portr%C3%A4t_von_Serow.jpg)

Vir die spreker is Dorian Gray “’n chiaroscuro van barokke oordaad” en na hierdie intellektuele kontekstualisering word die brief meer persoonlik. In aansluiting by die barokke oordaad van streep en kleur by Levitan gee die digter ’n reeks assosiatiewe indrukke van wat hy oor Dorian onthou. Die skilderkode word deur die gedig volgehou en sluit af met “’n portret in letters en bloed”. Net soos die verskillende skilders vang hy sy Dorian in ’n woordportret vas.  Sy Dorian word vir hom ‘n “onwankelbare muse” (22) wat soos sy narsistiese voorloper, sy lewe kleur “with the chaos of trouble” (23).

Naas hierdie gedig is daar ook enkele motto’s uit Dorian Gray waarin die tematiese aspekte van die bundel geaktiveer word, soos bv “unromantic”, “come face to face with someone”, “worship” en “a strange sense of loss”.  In die gedig “ek/stern” (16) verwoord Fourie dit soos volg:

en ek weet ek kom van aangesig

tot aangesig voor jou

wat my gaan oorneem

oorneem wat ek skryf en skilder.

In “pouveer” (45) is ons eweneens in die sfeer van die dekadentisme met sy verwysing na “’n ode aan Dorian Gray”. Sybil Vane is die jong aktrise en eerste minnares van Dorian wat selfdood pleeg. Sybil Vane is ook een van die karakters in Nabokov se “The Vane Sisters” wat die slotreël verklaar: “Icicles from Cynthia. Meter from me Sybil.”

Soms word die digter ook ’n Wronski (die geliefde van Anna Karenina) of Toska of selfs die nimfet Lolita met die “vuur in die fuik”  (En kyk mens na foto’s van die digter is daar selfs ’n sterk ooreenkoms met Wilde.) :

as ek saam met jou is

is ek Wronski

wat probeer om jou

met my oë te vermy

maar soos die son sien ek jou

selfs al kyk ek nie. (31)

Waarvan ek hou in Ruan Fourie se debuutbundel is die herskep van die artifisiële camp sfeer van Wilde en sy dandies. Van glasstolpe en vererangskiksels; hiperboliese liefdesverse, pakkies briewe, swak toneelspel, die halfleë botteltjie parfum rose en ’n kalkwit lyk voor ’n rooi fluweelgordyn.  Vergelyk die volgende reëls uit “catacombes” (49), ’n gedig oor die knekelhuisjes van Parys waarin meer as 6 miljoen mense se oorskot begrawe lê – ’n grieselige ruimte so eie aan die dekadentisme:

op 7 April is ’n jare lange parade

van swartbeklede beenbelaaide

perdaangedrewe dodekoetse voortgesit

agter ’n optog van dreunsingende priesters aan.

kraaie voer ’n danse macabre uit in die dowwe lug

terwyl met die beendere van ses miljoen

weggedoen word in die gange en grotte van l’ossuaire municipal,

die katakombes van Paris.

In sy onderhoud met Gisela Ulyatt op Versindaba merk Fourie soos volg op:

Ek het van die begin af geweet dat ek versigtig moet wees dat my eie stem nie wegraak tussen die honderd ander stemme nie, want ope brief dra swaar aan die intertekstuele verwysings. (Anekdogee?) Dit was egter heeltemal doelbewus […] Die doel met die groot hoeveelheid intertekstuele verwysings is egter om aan te sluit by die spreker se wanvermoë om die sterwende verhouding te verwerk of aanvaar. Die spreker wend hul dus na die woorde van ander skrywers, omdat die spreker self raadop is, maar vertroosting vind in die kommunikatiewe vermoë van ander; “om voort te ploeter in geleende vere.” Dis tog iets waarmee baie lesers kan vereenselwig: die empatie wat ’n mens kan hê met ’n karakter of ’n storie.

Interessante manier van kyk na intertekstualiteit, maar wanneer laat jy toe dat die teksoordaad jou nie so oorskadu nie? Het jyself dan niks te sê nie? Hoekom, moet jy jouself afvra, moet jou verse dan gelees word as ons Wilde, Huysmans en Aucamp kan lees?

 

Die digter is bewus van sy vrese, soos hy dit in die volgende reëls verwoord:

ek plaas veel eerder

die woorde van ander

in daardie jy se mond

pleks van daarvoor

eie woorde uit te dink. (42)

Kan die leser aflei dat dit ‘n sinvolle intertekstuele gesprek is en ’n tipe vraag-en-antwoordsituasie suggereer? Myns insiens is dit nie oral die geval nie, want soms voel ek dit is niks meer as namesdropping nie. Die swaar lading intertekste kon eerder ingekort word en die gesprek met Dorian Gray/ Oscar Wilde meer in besonderheid uitgewerk word. Veel eerder kon die makabere wêreld van Dorian Gray herskep word in ’n herskepte dekadente Potchefstroom, soos die digter doen in “ekwinoks” (48):

jy’s nie die enigste wat omkyk as jy nader kom nie.

as ek sien ons gaan paaie kruis op pad na ’n klas, draai ek af;

op die gras voor die Ferdinand Postma-Biblioteek sien ek

’n kat jag duifies.

ek skuur deur die bosse en ek skuil

agter die giftige blare van die oleander,

die blommende Judasbos wat alle pyn stil.

Ruan, skud af daardie boa van geleende vere en plant steggies aan vir ’n bos lelies van jou eie.

 

Bookmark and Share

Los kommentaar