Wicus Luwes. Notas oor ‘n onvoltooide kunsgalery

Ek lees met ‘n hartseer hart van onvoldoende geologiese studies in die koerantberigte. Ek lees van enorme bedrae wat reeds spandeer is. ‘n Kunsgalery wat iets positiefs moes bydra tot die samelewing het ‘n monument vir die negatiewe geword. Binne-in die gebou is geen werke van bekende of opkomede kunstenaars nie. Daar het nog maar betreklik min van die ontwikkeling van kuns in die omgewing die lig gesien.

Volgens berigte (sien skakels hieronder) is die gallery deur die Departement van Kuns en Kultuur in Richardsbaai gebou. Hierdie hawedorp in Zoeloeland vorm deel van die Stad van Umhlathuze en Uthungulu streeksmunisipaliteit (onlangs herdoop tot Koning Cetshwayo-streeksmunisipaliteit). Die twee berigte wat ek oor die saak gelees het, is onvoldoende om ‘n ingeligte opinie te vorm.

Al wat ek kan bevestig is dit: vyf jaar het verloop sedert die gebou opgerig is. Vyf jaar waarin daar geen kuns in die gebou of kompleks uitgestal is nie. Dit is amper die helfte van ‘n kind se skoolloopbaan. Dit kon lewe geblaas het in ‘n stadige ekonomie. Ek dink maar aan die projekte wat tydens ‘n skoolvakansie aangebied sou kon word. Al lewer die projek geen bekende kunstenaar op nie, het die projek die saadjie geplant dat daar iets soos kuns is.

Ek besef dat die uitstalling van tradisionele items by die taxi-staanplek ook ‘n vorm van ‘n kunsgalery is, maar elke gemeenskap het tog ‘n uitstalplek nodig wat nie slegs op toeriste gemik is nie. Die moontlikhede is net soveel meer. Die doel van kuns is mos beide ‘n reis na buite en na binne. Ek is dus nie kwaad of omgekrap nie. Ek is ook nie moedeloos nie. Ek is hartseer.

Onvoltooide fondasies op die gronde van die kunsgallery

 

Ná ‘n grand uitstalling

op pad huis toe ná ‘n grand uitstalling
ry ek verby
‘n padverwery
die strepe van munisipale semi-mondriane
is ‘n eerlike landskapskildery
ná al die “art for art’s sake” waarna ek moes kyk
(for god’s sake)
selfs rothko kon iets leer
by die verwer in sy overall
gekniel by sy kwas
soos hy sy wit en geel en rooi daar smeer
almal weet wat dit beteken
‘n werker waai sy vlag
dieselfde rooi as onthullingsgordyne
gucci-rokke en stillewe-appels
maar dit sê eenvoudig wag
en ek wag
en ná ‘n tyd kan ek ry
huis toe
soos ek my pad vind op ‘n lyn
wat die verdwynpunt áltyd laat verskyn

deur Loftus Marais uit ‘Staan in die algemeen nader aan vensters’, Tafelberg uitgewers, 2008

 

Koerantberigte oor die kunsgalery
* http://zululandobserver.co.za/114530/arts-building-debacle-on-centre-stage/
* http://zululandobserver.co.za/100551/dismal-performance-at-arts-centre/

Draadkuns deur ‘n Zoeloe-kunstenaar

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Wicus Luwes. Notas oor ‘n onvoltooide kunsgalery”

  1. gallery (Eng.) = galery (Afr.)

  2. Wicus Luwes :

    Baie dankie

  3. Maria Snyman :

    Mooi hartseer geskryf – die foto’s is ook baie vertellend. Die drama van kleurvolle draadwerk?

  4. Wicus Luwes :

    Dankie vir die lees, Maria. Die draadwelk is seker onderliggend aan die storie. Dit is aan die een kant ‘n voorbeeld van kuns wat by die galery uitgestal sou kon word. (Ek is versot op die beweging in die werk en die manier hoe dit ‘n mens intrek. Ek wonder hoeveel ontwikkelings-moontlikhede hierdie kuns sou kon uitoefen as dit ‘n formele staanplek in so galery sou kon kry.)