De Waal Venter. Die taal wat poësie praat

Die goue saal, Stockholm. Swede

Kan poësie geskryf word in elke moontlike taal wat op aarde gepraat word? Wat van kunsmatige tale soos Esperanto? Hier is ’n voorbeeld van ’n gedig in Esperanto. Oordeel maar self oor die gehalte daarvan.

(Oorspronklike Esperanto)

Ho, mia kor’, ne batu maltrankvile,
El mia brusto nun ne saltu for!
Jam teni min ne povas mi facile,
Ho, mia kor’!
(Letterlike vertaling)

Oh, my heart! After long laboring
Will I not win in the deciding hour?
Enough! Calm the beating,
Oh, my heart!

Dit is ’n interessante vraag, maar nie die een wat ek in hierdie essay wil beskou nie. Ek wil “die taal wat poësie praat”, ondersoek. Eerstens dan, maak ek die stelling dat poësie ’n taal praat wat ooreenkomste toon met die standaardtaal, maar ’n eie, outonome struktuur het wat betekenis op ’n ander manier oordra as wat die standaardtaal dit doen.

Metalogies

Die filosoof Philip Wheelwright en die digter Josephine Miles het ’n debat gevoer in die Kenyon Review in 1940. In Wheelwright se artikel “On the semantics of poetry”1 het hy duidelik onderskei tussen die taal van poësie en die taal van wetenskap. Volgens hom moet wetenskaplike taal betekenis konseptueel oordra. Dit moet gelei word deur die beginsels van formele logika en proposisionele waarheid. Aan die ander kant is poësie gekenmerk deur wat Wheelwright “metalogiese” betekenis noem, dit wil sê die semantiek daarvan word nie bepaal deur logika nie.

Grondliggend aan sy argument is dat taaltekens in poësie hoogs veelduidig is, terwyl dit in die wetenskap dieselfde betekenis moet hê in elke verband waar dit voorkom.

’n Aparte taal

Jan Mukařovský2 (1891–1975) literêre akademikus, een van die hooffigure van die Tsjeggiese strukturalisme, het aangevoer dat poëtiese taal onderskei kan word van standaardtaal as ’n afsonderlike en duidelike entiteit. Na sy mening bied die standaardtaal die agtergrond waarteen afwykings afspeel met die doel om ’n estetiese uitwerking te verkry.

Hy het die konsepte van outomatisasie en vooropplasing in verband gebring. Outomatisasie verwys na ’n uiting wat op ’n naastenby outomatiese manier voortgebring word. Vooropplasing word geassosieer met ’n meer bewuste uitvoering van die uiting wat die standaardnorme verbreek.

Vooropplasing is een van die belangrikste begrippe wat kan help om “die taal van poësie” te kenmerk.

In Engels word hierdie begrip as “foregrounding” uitgedruk. Die Tsjeggiese woord is “aktualisace” wat vertaal kan word as “om te aktualiseer” en “op te dateer”. In Afrikaans is die aanvaarde term “vooropplasing”. In hierdie verband beteken die woord dat dinge soos woorde en begrippe in ’n taaluiting sterk onder die aandag van die leser gebring word deur middel van ongewone en unieke taalgebruik.

Een van die betekenisse van die Tsjeggiese woord is interessant genoeg “vreemdmaking” (ook “vervreemding”) of “ostranenie”. In Engels is dit “defamiliarization” en dit sluit goed aan by die “vooropplasing” betekenis. Dit bied die leser ’n nuwe, ongewone, vreemde en verrassende leeservaring.

Vreemd

Dit is vreemd

Viktor Borisovich Shklovsky of Shklovskii (24 Januarie 1893 – 6 Desember 1984) was ’n Russiese literêre teoretikus, kritikus en skrywer. In 1917 het hy die term “ostranenie” (defamiliarization) geskep. Die konsep het voorgekom in sy essay wat vertaal is as “Art as Device” en ook as “Art as Technique”. Hy wou hiermee poëtiese taal onderskei van praktiese taal. Sy basiese stelling is dat poëtiese taal fundamenteel verskil van die taal wat ons alledaags gebruik, omdat dit moeiliker is om te verstaan.

Poëtiese spraak, het Shklovsky gesê, is “gevormde spraak”. Prosa is gewone spraak – ekonomies, maklik, korrek en direk. Poëtiese spraak voorkom “outomatisering” wat ’n leser “volgens ’n formule” laat optree. As die woorde en uitdrukkinge in ’n taaluiting oorbekend is, “outomatiseer” die leser dit – daar word niks nuuts en interessants ervaar nie.

Bewapen met hierdie begrippe kan ons nou kyk hoe lyk die poëtiese taal in die Tranströmer gedig hieronder. Die gedig kom uit die bundel “Den halvfärdiga himlen” (Die halfklaar hemel).

Palatset

Tomas Tranströmer

Vi steg in. En enda väldig sal,

tyst och tom, där golvets yta låg

som en övergiven skridskois.

Alla dörrar stängda. Luften grå.

Die paleis

Ons het ingestap. ’n Yslike saal,

stil en leeg, waar die vloeroppervlakte gestrek het

soos ’n verlate skaatsbaan.

Al die deure toe. Die lug grys.

Skilderye teen die mure. Ons het

prente gesien, leweloos saamgedring: skilde, weegskale,

visse, worstelende figure

in ’n doofstom wêreld aan die ander kant.

’n Beeld is uitgestal in die leegte:

eensaam in die middel van die saal het ’n perd gestaan

maar ons het hom nie opgemerk

terwyl ons so oorweldig was deur die leegheid nie.

Sagter as die asemhaling in ’n skulp

kom daar suisinge en stemme uit die stad

draaiend in hierdie noodlotsruimte

murmelend en soekend na mag.

Ook iets anders. Iets donkers

het hom teen ons sintuie opgestel, vyf

drumpels, sonder oor hulle te trap.

Sand het gestroom in al die stil glase.

Dit het tyd geword om aan te gaan. Ons het

na die perd gegaan. Hy was reusagtig,

swart soos yster. ’n Beeld van eiemag

wat agtergebly het toe die heersers weggegaan het.

Die perd het gepraat: “Ek is die Enigste Een.

Die leeghede wat op my gery het, het ek afgegooi.

Hier is my stal. Ek groei stadig.

En ek eet die stilte hierbinne.

(Uit Sweeds vertaal deur De Waal Venter)

Die eerste strofe se taal beweeg nie te ver weg van die standaardtaal nie. Oënskynlik is dit baie soos mens dit in ’n gesprek sou sê. Maar die vreemdmaking se eerste tekens begin wys met die vloer wat beskryf word as iets wat “strek soos ’n verlate skaatsbaan”. Onmiddellik voel mens verplaas in die ietwat onthutsende atmosfeer van die groot oop ruimte van die skaatsbaan sonder enige mens daar. En al die deure is ’n bietjie onheilspellend toe.

In elkeen van die volgende strofes loop mens vreemdmakende frases en woorde raak. Dit herinner aan wat Herbelot sê: “Poetry is not random, but the stuff of poetry, the ‘fragments’ found in the subconscious of the poet.”ibid In die tweede strofe neem die vreemdheid toe. Die gevoel van starheid word verdiep deur die “lewelose” prente, die warboel voorwerpe wat saamgedring” is. En dan: “’n doofstom wêreld aan die ander kant”.

Watter kant sou dit wees? Dit is seker nie net aan die ander kant van die toe deure in die gewone wêreld nie, want hierdie ander wêreld is uiters vreemd, dit is “doofstom”. Nou het ons ’n punt bereik waar ons die vreemdgemaakte moet verstaan op ’n ander manier as wat ons ’n gewone stuk spraak sou verstaan. Ek gebruik die term “intuïtief” om aan te dui hoe mens die poëtiese taal kan lees.

Aurélie Herbelot sê in hierdie verband, in haar verhandeling, “The semantics of poetry”, die volgende:  “Poetry is not random, but the stuff of poetry, the ‘fragments’ found in the subconscious of the poet, are already there, latent in language use inspired, and an appropriate semantic theory should be able to uncover them. This is compatible with Bruns’s4 reading of Lyn Hejinian’s poetics (2000): ‘The poet […] does not so much use language as interact with uses of it, playing these uses by ear in the literal sense that the poet’s position with respect to language is no longer simply that of the speaking subject but also, and perhaps mainly, that of one who listens.”

Die raaiselagtigste verskynsel in die gedig is die beeld van die perd wat uiteindelik praat en wat stadig groei in sy “stal”. Die perd laat die leser met die gedagte dat hy “die stilte eet”.

Hierdie soort taal kan nie doeltreffend verstaan word met die apparaat van natuurlike, of standaardtaal nie. Die leser moet “intuïtief” lees. Ek haal Herbelot weer aan: “This is compatible with Bruns’s reading of Lyn Hejinian’s poetics (2000): ‘The poet […] does not so much use language as interact with uses of it, playing these uses by ear in the literal sense that the poet’s position with respect to language is no longer simply that of the speaking subject but also, and perhaps mainly, that of one who listens.” (My kursivering).

Die volgende gedig is geplaas met verlof van die digter.

Gisela Ullyatt

Die dag torring los in metrum

Gisela Ullyatt

1

hier ter plaatse

niks te berig.

tog, iewers

2

dag torring los

in norrings duiwe;

die dag ontdaan

van geel geraas.

3

en woorde

wapper aan ’n sterk, hoë lyn

met enjambemente

wat in hierdie wit lig skyn;

silwerjakkals van leuens

herbore in vreemdklinkende

metrum; sillabes van skyn.

4

oral broei die voëls

nimmer voel ek alleen nie

vinke torring aan die palmboom

in grepe klank

langsamerhand verwelk die son

silwer duif van die nag

is in die omtes

haar hart klop in amber

5

song to myself

ek sing in sinonieme

van stilte

deur nodules

van pyn

6

versigtig oor die lente trap

my lief

jou hart ’n sondief

dit glip oor rotse

duik krewe uit

en aas dan rond

in hierdie helder uur.

jy steel vuur,

my lentedief:

pasop,

dis nou die gode se uur.

7

my toeverlaat op jou,

bouvalligheid ten spyt.

nou laat ek jou agter

met Johnny Cash se Jackson

en die wind sny deur my hare

8

ek wag die winter in

knip die somer

af in linte:

ek skink die namiddag

in my koppie tee

en die wolke volroom

9

met apologie aan n.p.

jy het ’n herberg in my bewoon

onder silwer verberg ek jou nou

ek droom jou om

trek luike dig

10

met apologie aan antjie

is dit vir my

vir wie jy blou skoenlappers kweek?

laat my tog eenmaal deur die

doringdraad van jou hart breek

Intuïtiewe werkwyse

Herbelot verwys na I.A. Richards om die intuïtiewe werkwyse van die digter verder te belig: “Conclusion In his literary criticism, Richards (1970) suggests the existence of an intuitive process which guides the poet towards particular linguistic combinations.: The poet […] makes the reader pick out the precise particular senses required from an indefinite number of possible senses which a word, phrase or sentence may carry. The means by which he does this are many and varied. […] [T]he way in which he uses them is the poet’s own secret, something which cannot be taught. He knows how to do it, but he does not himself necessarily know how it is done.”5

Die interessante gedigreeks “Die dag torring los in metrum” is ’n uitmuntende voorbeeld van hoe ’n “poëtiese taal” met groot trefkrag aangewend word.

Ons kyk na ’n paar voorbeelde.

2

die dag ontdaan

van geel geraas.

In die standaardtaal maak dit nie veel sin nie. Waarom is dit dan so evokatief en registreer dit so sterk op die leser se emosionele register? Wanneer dit gelees word as poëtiese taal, skuif die konsepte by mekaar aan en die leser “verstaan” wat die digter uit haar onbewuste gehaal het. Die geaardheid van die geraas wat as “geel” beskryf word, word “ervaar”, eerder as in ’n logiese raamwerk geplaas.

4

silwer duif van die nag

is in die omtes

haar hart klop in amber

Voël in amber

Hoe klop ’n hart in amber? In gestolde amber word ’n voël verstar en onbeweeglik gemaak. So is dit in die wêreld van die standaardtaal. In poëtiese taal beleef die leser die pragtige beeld van die kloppende hart in die goudgeel dieptes van amber.

8

ek skink die namiddag

in my koppie tee

en die wolke volroom

Laastens drie kort reëls waarin ’n handvol konsepte knap te berde gebring word. Die namiddag word “geskink” en in die koppie tee sien mens die pragtige wit van die wolke wat tegelykertyd die volroom is in die tee. Hier is ’n goeie voorbeeld van hoe poëtiese taal in die algemeen meer sê in minder woorde as standaardtaal.

Ek wil afsluit deur nog ’n element van poëtiese taal te noem wat ek die “poëson noem. Dit sluit aan by wat hierbo gesê is oor fragmente uit die onbewuste wat die digter inspan om die gedig te bou. Die poëson bestaan uit sulke elemente, maar wat die hoofeienskap daarvan is, is dat dit konsepte met mekaar verbind op ’n manier wat nie in standaardtaal gebeur nie.

Die poëson

Die poëson resoneer deur die gedig en bring verbande tussen elemente in die gedig en met ander poësons in die gedig. Mens kan ’n volledige bespreking van die poëson lees in ’n blog wat ek op 12 April 2017 in Versindaba geplaas het met die titel “Kwantumpoësie”.

Om af te sluit toon ek graag een van die poësons aan in Gisela Ullyatt se gedigreeks. Kyk na die volgende sinsnedes:

niks te berig

die dag ontdaan

vreemdklinkende metrum; sillabes van skyn.

silwer duif van die nag is in die omtes

dis nou die gode se uur.

ek droom jou om

laat my tog eenmaal deur die doringdraad van jou hart breek

Ons begin by die laaste sinsnede, wat nie die einde van die poëson is nie; poësons het nie ’n begin en einde nie.

Die spreker in die gedig voel uitgesluit van ’n ander persoon se “hart”, dit wil sê, die persoon se innerlike gemoedswêreld. Die een sinsnede na die ander vertel in die taal van poësie hoe die spreker hieroor voel en daarop reageer: droom jou om, gode se uur (pasop!), silwer duif van die nag is in die omtes, haar hart klop in amber, sillabes van skyn, die dag ontdaan, niks te berig.

Hierdie poëson dra dus spreker se gevoel van alleenheid en haar behoefte om binnegelaat te word. Dit is egter glad nie die hele gedig nie! Dit is net een aspek daarvan. Ander poësons bring ander vondste en vreugdes.

In afdeling 4 is daar ’n reël wat as ironie gelees kan word:

“nimmer voel ek alleen nie”

Mens dink onwillekeurig aan die oudste stukkie teks in Oud-Hollands, ’n kort gediggie:

“Hebban olla vogala nestas hagunnan hinase hic enda thu wat unbidan we nu.”

“”Al die voëls het begin neste bou behalwe ek en jy. Waarop wag ons?”

Ten spyte van die stelling dat die spreker “nimmer alleen voel” nie, toon die poëson dat die teenoorgestelde eintlk waar is.

Om mee af te sluit: Richardsibid sê: “T]he way in which he uses them is the poet’s own secret, something which cannot be taught. He knows how to do it, but he does not himself necessarily know how it is done.”5

Digters weet waarskynlik nie dat hulle poësons gebruik nie. Hulle weet nie noodwendig presies wat hulle doen nie, maar hulle weet hóé om dit te doen.

Ek raai lesers aan om die poëtiese taal, die poësontaal, van hierdie gedig te ontgin. Dit het baie om te bied.

Verwysings]

1. The semantics of poetry: a distributional reading Aur´elie Herbelot University of Cambridge, Computer Laboratory.

https://www.cl.cam.ac.uk/~ah433/LLC.pdf

2. Standard language and poetic language. Jan Mukařovský

https://digilib.phil.muni.cz

3. “Art as Technique” by: Viktor Shklovsky

https://pdfs.semanticscholar.org

4.Vergelyk ook: “What are poets for?” Gerald L. Bruns

http://www.full-stop.net/2012/07/27/reviews/sam/what-are-poets-for-gerald-l-bruns/

5.Richards, I. A. (1970). Poetries and Sciences: a reissue of Science and Poetry (1926, 1935) with commentary. London: Routledge & Kegan Paul.

Bookmark and Share

11 Kommentare op “De Waal Venter. Die taal wat poësie praat”

  1. Maria Snyman :

    Die poëson, as dit wat “konsepte met mekaar verbind op ‘n manier wat nie in standaardtaal gebeur nie”, as letterkunde in die geheim, as ‘n spelende beweging, as spore (traces, merke, gapings) van spore (traces, merke, gapings), as skrywing in die algemeen, as ‘n geskenk, as ‘n geskenk van die dood (vgl. byvoorbeeld o.a. Breyten Breytenbach se oeuvre)? Dink ek nou De Waal, toe ek weer na Albright se “Quantum poetics. Yeats, Pound, Eliot, and the Science of Modernism” (1997)* kyk via my lees van Yeats se “The Second Coming” en Achebe se “Things fall apart” in ‘n poging om ‘n opstel oor Marechera se gedig “Hooked a-gallop” saam te stel …

    Terloops, ek lees toe ook op Wikipedia: “A 2016 analysis by Factiva showed that lines from the poem were quoted more often in the first seven months of 2016 than in any of the preceding 30 years[5] in the context of political turmoil after the Brexit referendum and Donald Trump’s election with commentators repeatedly invoking its lines: “Things fall apart; the centre cannot hold.”**

    *http://assets.cambridge.org/97805215/73054/sample/9780521573054ws.pdf

    ** https://www.nytimes.com/2017/02/13/books/a-world-in-disarray-richard-haass.html?rref=collection%2Fsectioncollection%2Farts

  2. Hallo Maria

    Ek het jou kommentaar met genot gelees. Mnr. Haass voel die wêreld is in “disarray”. Obama vra of jy ooit in enige tydperk van die menslike geskiedenis in ‘n beter tydperk gebore kon wees, alle faktore in ag genome. (Hoe meer Haass hoe minder moed?).

    Voorspoed met die opstel oor Marechera se gedig. Skrywers soos hy, met wanordelike, katastrofale en tragiese lewens is moeilik om te verstaan en te bepaal. Hy laat my dink aan Herman Charles Bosman, Gide en Charles Baudelaire. Móét ‘n mens so swaarkry om te kan skep?

    Jy vuur ‘n hele paar skote af om die begrip van die poëson deur die kloutjie in die oortjie te skiet. Vervlaks moeilik. Ek het al ‘n paar keer essays oor die poëson gepubliseer, maar worstel nog om te verstaan wat die begrip nou eintlik is. Ek lees onlangs dat die filosoof, Karl Barth, ‘n kenner van die Calvinisme, gesê het dat hy Calvyn glad nie kan verstaan nie. (He?)

    Jou mededelings is altyd soos dié van ‘n voorsanger van ‘n groot komponis se koorsang, Beethoven of Bach msikien. Jy het menings wat deur honderde ander stemme onderskraag en uiteengesit word.

    Die poëson: in my jongste bundel, “Oop sirkel” is daar ‘n gedig wat een van die baie ontwykende eienskappe van die poëson beskryf.

    Poësie as ‘n organisme

    Woorde is selle
    in die liggaam van die gedig.
    Woorde bymekaar gesit
    op sekere maniere
    vorm die weefsel van die gedig.
    Reëls in die gedig
    vorm verskillende weefsels
    wat verskillende organe vorm.
    Organe in die gedig
    bestaan uit groeperinge van reëls
    op sekere maniere
    wat die liggaam van die gedig vorm.

    Daar is ‘n lewenskrag in die gedig
    wat die poëson genoem word
    en wat die selle bymekaar hou,
    die weefsels aanmekaar hou,
    die organe laat funksioneer,
    die pragtige liggaam
    van ‘n naakte atleet
    wat ons vertel
    van dinge
    waaraan ons nooit voorheen gedink het nie.

  3. Breyten Breytenbach :

    woorde metamorfeer
    maar bly amorf eer
    die droom gestalte
    kan kry?

    vere omvorm egter
    nie die voël
    tot ‘n noodwendiger
    éénheid nie

  4. Breyten Breytenbach :

    dis om’t ewe:
    elke skrywe is ‘n vingeroefening
    vir die instandhouding van skrywe

    so soos die weduwee elke oggend om sewe
    hoedjie opsit voor die skemerspieël
    vir die klokkelui wat lankal nie meer beier nie

  5. Breyten Breytenbach :

    sien:
    groei is beweging
    na nie-bestaan
    so soos nie-bestaan
    die ontweging
    van groei is
    om aan te hou beweeg
    na die gewiglose
    gesigloosheid

  6. Breyten Breytenbach :

    die s(e)in van menswees?
    ‘n beswering van die (b)ek se verswering
    tot pyn

    en te fluit
    dat dit donker mag word
    in die mond

  7. Breyten Breytenbach :

    woordlose meditasie:
    veerligte fluittaal

    weerskote rammel deur die hemel
    en die kleurlose bloed van engele
    plas neer

    en wanneer die want
    van woordverbande en verwantskappe
    ontbind tot landskappe
    se gesiglose sien
    is jy vry oplaas
    om die syn te besweer

  8. De Waal Venter :

    Dankie vir hierdie verse, Breyten. Ek dink hulle illustreer presies wat in die essay gesê word: in poësie word ‘n ander taal gepraat as in alledaagse gesprekke. En poësie kan ten beste intuïtief verstaan word, nie rasioneel benader word nie.

    Die verse hierbo is vir my verder interessant in die sin dat hulle titelloos is, geen hoofletters bevat nie en ‘n minimum leestekens bevat. Dit is asof die verse ongekleed wil wees, sonder die “hoed” en “broek” van titel en konvensionele skryfwyse – “die pragtige liggaam van ‘n naakte atleet”, om des te beter met die leser te kommunikeer.

    As mens soek na die poëson in die eerste vers hierbo, kan jy (baie kortliks en onvolledig) wys op “vorm”. In die kort gedig word baie gesê oor vorm en vormverandering. Selfs enkele woorde is swaar gelaai met die verskilende “vorme van vorme”: “metamorfeer, amorf, vere”.

  9. cas vos :

    Breyten, baie dankie vir jou reeks gedigte.Dit is nie net goed nie, dit is manjifiek. Mooi loop, die pad is nog lank en die water min.

  10. Waldemar Gouws :

    Vanaf die kantlyn sien ek daar was seinwagters in dieselfde landstreek wat nag na nag oor hulle woorde wag gehou het.

    Vir De Waal het die volgende woordspeling: ingenome met die sê-genoom, by my opgekom.

  11. De Waal Venter :

    Knap woordspeling Waldemar! Die genoom van die gedig bestaan uit “sê-dinge”, mededelings, kommunikasie aan die leser. Presies soos die biologiese genoom waar die DNS inligting van een geslag na die ander oorgedra word. Leon Retief se essays hieroor is uiters interessant.