Resensie: Uittogboek (Johan Myburg)

Uittogboek. Johan Myburg. Protea Boekhuis, 2017.

Resensent: Tom Gouws

Bundel van resonante grootsheid

Johan Myburg is ʼn digter wat hom langsaam haas – hy word bepaald nie deur ʼn publikasiewaansin gedryf nie. Vanaf sy eerste buiging in 1984, met Vlugskrif, publiseer hy pas sy vierde digbundel, dus vier volwaardige bydraes in drie-en-dertig-jaar. Van hierdie eerste bundel het André P. Brink en T.T. Cloete in resensies gesê dit is ’n beskeie debuut waaruit belangriker werk nog kan voortkom, al is die meeste tekste bloot “verskristalle” en “vlugskrifgedigte”. Dit het die digter ’n verdere elf jaar geneem voordat sy tweede digbundel, Kontrafak, in 1994 uitgegee is. Die rypwordingsproses wat hy die gedigte gegun het, het die digter enorm gebaat. SW van Zuydam skryf in Tydskrif vir Letterkunde dat die digter se eerste twee bundels – veral wat kwaliteit betref – heelwat verskil. Wyl daar in Vlugskrif groot gebreke was, “getuig Kontrafak van ’n besondere rypheid en vaardige digterskap”.

            Van eertydse “poëtiese notisies” (PD van der Walt se mooi formulering), wat soms selfs vir die resensent na aforistiese strooibiljettaal klink, beïndruk die digter nou met woord- en beeldpresisie asook ʼn fyn formuleringsvermoë. In Die Volksblad takseer Joan Hambidge die digter as “’n trefsekere, helder stem”. Vir hierdie bundel word die Eugène Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir 1995 dan ook toegeken.

In 2008, ná veertien jaar van digterlike stilte, verskyn Myburg se derde bundel, Kamermusiek, by Lapa Uitgewers. Daniel Hugo meen op Litnet dat dié digteks die hele poëtiese register bestryk, en dat dit “’n ryk en resonante bundel” is. Andries Visagie se oorsiguitspraak in Beeld wys uit hoe daar onteenseglik ʼn stygende lyn in Myburg se oeuvre is; “en met elke nuwe bundel maak sy poësie ’n stewiger indruk”. Inderdaad is dit die geval.

En nou, nege jaar ná sy vorige bundel, verskyn Johan Myburg se vierde en jongste bundel, Uittogboek. Maar dit was absoluut die wag werd, en bevestig Visagie se stelling met onderskeiding. Hierdie is ʼn bundel wat kop en skouers uitstaan bo die digter se vorige werke, ʼn werk wat ʼn besonder beduidende faktor in die heersende digterlike diskoers is.

2.

Myburg is ʼn digter wat onderlê is in verskeie wetenskaplike dissiplines, onder andere die teologie, filosofie, psigologie asook die beeldende kunste. Dié diversiteit en veral belesenheid vind wonderbaarlik neerslag in sy poësie. Inderdaad is dit waar soos die begeleidende uitgewersbrief oor die bundel opgee: dit getuig van tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang. Die voorgestelde lesersprofiel word voorgehou as “intellektuele lesers”, en bepaald vra die teks ʼn volgehoue bemoeienis van die leser. Daar is duidelik ʼn sprekende subjek in hierdie bundel aan die woord wat hoogs sensitief kyk na die detail van alle dinge, wat ʼn bepaalde literêre estetiek aan sy belewenisse gee, en sodoende sy binnekamerwêreld aanbied as ʼn geskakeerde perspektief van soms duiselingwekkende omvang. Maar dit maak sy poësie nie noodwendig hermeties geslote nie, alhoewel dit dikwels ʼn ingeligte leser veronderstel. ʼn Mens sou kon sê, à la Germanicus: in hierdie bundel “praat drie: Latyn, en groot, en sot” (waar sot dui op die boertige element).

In die jaar 2000 verwerf Myburg sy D.Th.-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika met ‘n proefskrif oor Deconstructing Identity in a Landscape of Ideology, Culture, Belief and Power, ʼn studie wat bepaald ʼn rigtinggewende stemvurk bied vir ʼn bestudering van Myburg se digterlike werk. Die digter is ook veral bekend as joernalis en kunskritikus, met veel gepubliseerde en radiobydraes oor die skilderkuns, musiek en letterkunde. Johannes (My)Burg woon en werk in Johannesburg, ʼn stad waaroor verskeie gedigte in Afdeling IV van die nuwe bundel handel.

3.

Die Afrikaanse letterkunde se gesonde bejaardheid het die laaste jare velerlei digters gelewer wat volgens populêre literêre beoordeling laatwerk van belang lewer. As jy waag om sestig te slaan, word jy literêre pensioen toegeken – o alla Sassa, wat het ek gemaak! Johan Myburg bevind hom nou hier: “Hoe verklaar ’n mens sestig jaar op papier?” (‘Kodisil’, p. 70). Die antwoord hierop is nie voor die hand liggend nie, en neem ʼn ganse bundel, en ʼn lewe ter oorsig, om te antwoord.

Ek persoonlik verkies om soos Breytenbach in sy bundel: die na-dood (die singende hand se oggendboek-hierinneringe) te sê dat “dit te laat is selfs vir laatwerk die kalf is klaar deur die kerk en hy’t nog in die koster se fyntuin gemis ook”. Verraai Uittogboek se titel straks dat Myburg reeds, soos Stephan Bouwer militêr gesproke dit genoem het, aan die uitpasseer is?

            Myburg sê dit in sy derde bundel (s)waarder as wat dit hierbo gestel is: “My memoires is terugskouend blote tanatografie.” (p.13). Op nét die volgende bladsy noem hy homself onskroomvoetig “’n nekromant” wat dubbelsinnig skryf oor “die ylte van oorwintering” (p. 53). Noodwendig roep die titel: Uittogboek die spesifieke transisie op wat die digterspreker vroeër in sy oeuvre op ʼn meer bedekte wyse tog reeds uitgespel het. Maar in hierdie volgende gedig, die uitsonderlike ‘Prosopopeia’, word dié onverwagte gewysigde reisgidsplan pront aangebied:

En nou weet ek my hart wás ligter as ’n veer.

Ek het Anubis nie oor my sien buig nie, nie

gevoel hoe ek oopgeknip en ingesout word

nie, nie hoe ek opgewen word in meters lap

nie. Ek was onbewus van die 72 dae waarin

my goed – op my bestelling – aangekarwei

is, byeengebring is, georden is om ’n ewigheid

lank as proviand te dien. Dit weet ek want

ek het notas daarvan gemaak, laat opteken

in die Uittogboek – dié een wat ek indertyd

op skoon papirus laat uitskryf het: kwotasies

as ’n soort gids deur die git van die onbekende.

Nou weet ek my hart was ligter as ’n veer

op Anpu se skaal. Dis meer as blote eggo

wat ek hoor in kis op kis op kis: Ek hoor my asem jaag,

ek hoor my murmel waar ek kiertsorent

nooit aan die slaap kan raak nie, die dood nimmer

ongedaan kan maak nie. Ligter as ’n veer.

Die gedig gebruik die oernarratief uit die Egiptiese mitologie wat vertel dat die hart by afsterwe aan Osiris oorhandig word, wat dit op sy beurt weer op ʼn weegskaal plaas waar dit geweeg word teen die gewig van ʼn wit veer van Ma’at, die veer van waarheid in die onsterflike realm. As die hart van die siel geweeg en ligter as die veer bevind is, word die siel in die ewige heerlikheid vrygestel. As die hart swaarder as die veer weeg, is dit op die vloer van die Saal van Waarheid gewerp, waar dit deur die god Amenti verorber is. Maar, die insetvers van die gedig bied reeds die onafwendbare uitslag – “En nou weet ek my hart wás ligter as ’n veer.” Drie keer in die gedig word hierdie refrein herhaal as ʼn getuie wat vasstaan – die dood word juis oorwin deur die prosopopoeia.

ʼn Prosopopoeia (προσωποποιία) is ʼn retoriese troop waardeur ʼn spreker of skrywer met ʼn gehoor kommunikeer deur hom/haarself as ʼn ander persoon / saak / karakter / stem / objek voor te hou. Die term word letterlik uit die Grieks afgelei uit die wortelwoorde prósopon (gesig/persoon), en poiéin (om te maak, op Engels: workmanship, verwant aan poiēma, waarin ons die woordjie poësie maklik kan herken.) En viola! Skielik is dit duidelik – die digter het ʼn meganisme gevind wat die dood kan kierang, en dit is niks anders as die digterlike skryfveer nie! Quintilianus skryf in sy Institutes of Oratory (Bk. IX Ch. II) oor hierdie troop, dat dit gebruik kan word “to bring down the gods from heaven, evoke the dead, and give voices to cities and states”. Hier gebeur dit inderdaad presies so.

            Soos DJ Opperman in die slotgedig van Komas uit ʼn bamboesstok, ‘Tot siens’, ʼn prosopopoeia ontdek het wat God agter maskers kan loof (en hoeveel hooggeëerde geleerde weleerdes het dít nie misgelees nie!):

Boelala! Ek hang jou kop graag teen die muur

as trofee, nog ʼn gipsgesig wat moet getuig.

Laat daardie lippe wat formaliteite ken,

dan vir oulaas as heildronk ietsie prewel:

Deo Gratias. Amen. Amen.

In Ian W van Rooyen se baie insiggewende D.Phil-proefskrif (Universiteit van Kaapstad), getiteld: A Methodological Exposition of the Characterisation of D.J. Opperman’s Komas uit ʼn Bamboesstok in terms of Relevance Theory and the Contemporary Theory of Metaphor, skryf hy die volgende oor sy navorsingsbevindinge: “Through another conceptual leap the target domain ILLNESS is replaced by the domain POETRY hence still maintaining the war metaphor. Opperman who was previously the subject under attack by illness is now the war-hungry warrior wielding the weapon, his pen, reviving his art, in his own language, Afrikaans.” (pp. 177-178). Alhoewel die scenarios in die twee bundels uiteraard nie identiek is nie, is daar groot ooreenkoms, veral op ʼn uitgebreide metaforiese vlak. Nes Opperman die verganklikheid triomfantlik oorwin, en die dood letterlik ont-masker as “skyndood”, vind Myburg lewens-ink in die skryfveer as mee(r)sprekende metafoor.

            In die gedig op p. 14, met die dubbelsinnige titel: ‘Keiser, buite homself’, word die substans van die vorige paragraaf poëties verdig:

           Loop haal

iemand wat die onbekende vir my onder taal

kan bring, dié goed wat ek vermoed bestaan

maar nie kan sien nie, die goed wat waan

voed as dit nié bestaan nie.

As niemand iets kan lees

nie, gee ’n stuk papier aan en ink dat ek teen die vrees

in kan skryf. Miskien gee skryf my die vermoë

om die dood tegemoet te gaan met oper oë.

Sien ook die vernuftige, amper terloopse apokoiniese rympatroon hierbo raak. In ʼn bundel waar rym ʼn absoluut bepalende rol speel, demonstreer dit by uitstek die prosodiese vermoëns van die digter. ʼn Ondernemende student kan met veel vrug die kamermusiekmiddele van die digkuns (rym, ritme, alliterasie, assonansie, musikaliteit oor die algemeen) in sy oeuvre ondersoek – Myburg is ʼn meester hiervan (soos Cecile Cilliers ook indertyd in ʼn resensie uitgewys het). Rym spesifiek speel in dié bundel ʼn groot rol om dít wat verbrokkel en degenereer sinryk te bind en te verbind. Dit bring ook mee dat die dikwels lang, prosaiëse versreëls ʼn melodies en liriese inslag het. In die gedig ‘MB3’ verduidelik hy:

Ek hoor hoe woorde ander

woorde lok hoe klank as lokaas ritme nader roep

hoe teksture teks versin en pleks van prosa

’n vers begin.

Die slingerende versreëls word onteenseglik die ritmiese en rymende dubbelspoor van ʼn ware ministreel. (Terloops: Die gedigte met die onnatuurlik lang versreëls, amper soos by Octavio Paz, in Afdeling VIII, is ʼn absolute kragtoer.)

Kyk hoe mooi word rym gebruik om enkelheid en alleenheid in die volgende gedig, ‘Deir al-Qamar’ ikonies te demonstreer, waar die tradisionele konvensie van die paarrymende koeplet verbreek word, maar dit oor strofe-afstande heen wél rym. Die buitestaander word sodoende deur sy vers in ʼn onbekende tongval deur ʼn verbeelde integrasie met die veraf omgewing getroos:

Daar slaap vannag in hierdie stad mense

wat ek nie een ken nie. Hulle trek luike

dig, knip ligte uit en droom in ’n taal

waarvan ek net buitelyne snap. Dis stil. Struike

blom doer onder dalk welriekend in die donker.

Ingeërker in my mandaloen hoor ek hoe ’n kring

swart sipresse afgeëts teen ’n Arabiese nag

soos swart tonge glossolalies sing.

ʼn Eenvoudige maar kragtige, veelseggende gedig soos hierdie, met bedrieglike diepgang soos helder bronwater, toon onteenseglik die statuur van digterlike vermoë. Elke sintuig word sonder inspanning gebruik om die aanwesigheid van gemis gestalte te probeer gee. En uiteindelik word die gedig die metgesel in die vreemde wat in staat is om die dood (= swart sipresse) en die gepaardgaande groot stilte te wéér. Die gedig word die kamermusiek van die spreekwoordelike 1001 Arabiese nagte, die klassieke oorgelewerde Persiese verhaal van Scheherazade. Sy was gekies om vrou van die keiser te word, maar die keiser het geglo alle vroue is ontrou, en ná die huweliksnag het hy elke nuwe vrou laat onthoof.  Scheherazade het egter ʼn plan gehad, en met haar huweliksnag het sy vir die keiser ʼn verhaal begin vertel, wat sy aandag só gevange gehou het dat hy haar laat lewe het om tog dan die volgende aflewering te kon hoor. Só het sy vir ʼn duisend nagte die oorrompelende verhaal laat ontvou, én bly leef. Op die duisend-en-eerste nag het die keiser afgesien van sy plan om haar te laat onthoof.

Michel Foucault, in sy versamelbundel: Language, Counter-memory, Practice (p. 58), sê hieroor: “And in this privileged night … a space is opened”, wat bepaald die dood ophef, en ons laat instap in die ontvouende ewigheid van lewe. Grootliks is dít die versweë doeleinde van Uittogboek – dit is nie ʼn uittog na die dood nie; dit is bepaald ʼn uittog na die lewe! Die konsummasie van die geskryfde is die metaforiese ruimte wat geopen word sodat die dood opgehef kan word. Sodoende vind jy “die argitektuur van geborgenheid. / Om tuis te kom.” (p. 31).

Om saam te vat, soos dit duidelik in die gedig ‘MB3’ verwoord word:

Ek voel my vingerpunte tintel

ek voel hoe kry ek lyf ek kry die snuf van skryf en skryf

myself die lewe in, en meteens myself daaruit.

Die titel van die gedig, ‘MB3’ (p. 30) slaan op die literêre filosoof Maurice Blanchot, wie se denke oor die dood en literatuur Myburg duidelik beïnvloed het (gaan lees byvoorbeeld:  Blanchot & Ann Smock se L’écriture Du Désastre, 1995), maar die digter volg dit nie noodwendig na nie. Blanchot noem byvoorbeeld die dood “the impossibility of every possibility”, presies die teenoorgestelde as Heidegger se konsep van dood as “the possibility of the absolute impossibility” van Dasein. Die perspektief wat Myburg in Uittogboek voorhou, is veel nader aan Heidegger se beskouing. [Die geleentheid ontbreek hier om in te gaan op die interessante tegniek wat Myburg in dié drieluik, waarvan bogenoemde gedig deel is, inspan. Hy gebruik die voorletters MB, wat allereers net sonder verwysing aangebied word, en dui só op die universele gestalte; dan, in die tweede gedig, verwys dit na Marthinus Beukes, die literator en filosoof; en in die derde gedig word Maurice Blanchot as persona verdig. Hierdie doeblering van karakteristiek word ʼn literêre procédé wat nie net belangrike digter/skrywer/-filosowe huldig nie, maar ook ʼn generiese virtuele beeld vorm waarin mensdommes (soos die Groot Sagmoedige Reus dit sou noem) ewige gestalte kan verkry, en sodoende viral bly! In die gedig ‘Memoires’ word dit as volg begrond:

dit is dié enkelinge wat soos bakens

deur die eeue uitstaan waarop ek

sal steun, én die periodieke onsterflikheid.]

Die Chinese duffelsak op die voorblad is ʼn ikoon van tydelikheid en transisie. Dit word in die sesde gedig van die reeks ‘Fremdkörper’ spesifiek “geruite China bags” genoem, duidelik “sakke, gemaak vir migreer” (p. 21). Die digter kan goedsmoeds saamsing: All my bags are packed, I’m ready to go … Maar hierdie bagasie dra geensins net aardse kommoditeite nie, maar word die somtotaal van “wie ek is”:

Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. Met ’n boel bagasie

rondom my gesprei, wat mettertyd gedy het en nie meer

in koffers pas nie. Dié berg ek in geruite China bags wat

tot barstens toe bult, bly ooppeul, by die nate verweer

en rafel. Deur die plastiekmaas lek plek-plek wie ek is,

al die eienskappe wat my op die oog af konstitueer:

wit, man, nie eens meer middeljarig nie, bloot net oud,

op my tong my liewe gutturale taal waarin ek leer

praat het, jare gelede in ’n dorp waarvan die naam nog

net op papier bestaan. In sakke, gemaak vir migreer,

skuil my familie se geskiedenis, my afkoms – ingebed

in stoere geloof – my kultuur wat ek soms wil negeer

dalk omdat dit my soos ’n handskoen pas, die vergrype

van die verlede wat die lewe van soveel mense geruïneer

het, die vergissings van die hede. Dis g’n land vir ’n ou man

dié, nog minder vir een met só ’n pakkaas. Sal ek probeer

pluk aan die spul, poog om dit belyn te kry vir ’n beplande

vaart? Ek voel Bisantium wink – die wil om nie te stagneer

nie. Hier sal ek bly staan, solank ek voortdurend kan bedink

hoe ánders om vreemdheid as die voorhande te formuleer.

Myburg kry dit in die bundel reg om hierdie “uittog”, hierdie “beplande vaart” weliswaar totaal anders te laat verloop as wat ʼn mens tradisioneel verwag, en die feit dat hy sodoende vir homself die dood oortuigend kan transendeer, is waarlik ʼn pluimpie in sy digterlike hoed. Hierdie denkmodus van “gewaande onsterflikheid” wat in die dromende denke van die digterspreker onverpoosd gedy en waarin hy ongestoord kan voortleef, verkry ʼn universele aanbod in die gestalte van die vlugtelingseun Alan Kurdi:

Op drie het klein Alan Kurdi

’n argief betree wat sterflikheid oorskry ’n soort

spektraal met ’n geheue wat onverpoosd gedy.

Die tog oorleef het hy nie. Tog leef hy ongestoord,

digitaal en postuum, in gestoorde stories voort.

Hierdie hartverskeurende foto is van ʼn driejarige Siriese seun wat op 2 September 2015 in die Mediterreense see verdrink het. Sy gesin het probeer om tydens die vlugtelingskrisis Europa te bereik, en hy was ʼn slagoffer wat dit helaas nie oorleef het nie, maar deur sy dood en perpetuele verskyning op die internet én in die gewetegeheue van ʼn mensdom, het hy bepaald ʼn ruimte geskep “wat sterflikheid oorskry”.

Die stellinginname van die episode en agonie hierbo is ʼn baie goeie voorbeeld hoe Myburg verby sy tradisionele Christelike beskouing gegroei het, wat dikwels ontsaglik baie aan die filosofiese en teologiese denke van Ludwig Wittgenstein herinner (daar is ook ander interessante ooreenkomste, wat ʼn mens gerus kan ondersoek). Net twee uitsprake van Wittgenstein om die verband met hierdie bundel uit te wys:

  • “Death is not an event in life: we do not live to experience death. If we take eternity to mean not infinite temporal duration but timelessness, then eternal life belongs to those who live in the present. Our life has no end in the way in which our visual field has no limits.” (Tractatus, 6.431)
  • “To believe in God means to see that the facts of the world are not the end of the matter.” (Notebooks 1914-1916, red. GH von Wright & GEM Amscombe, p. 57).

In ʼn onderhoud wat Alrika Heefers met Myburg in Die Burger (24 Junie 1995) voer, maak hy dié belangrike stelling: “Ek dink die mens reageer volgens oerpatrone en daarin stel ek belang. Die dood is deel daarvan. En dit ondersoek ek graag. Miskien is daar ’n sentrale boodskap in my boek, naamlik dat die dood nie die einde van alles is nie, maar net ’n ander soort lewe is.” Alhoewel hy dit oor Kontrafak sê, is dit dié spektraal van denke wat uiteindelik die persoonlike (r)evolusie van lewensbeskouing in sy werk ten grondslag lê. Myns insiens is dit ʼn grootse bydrae tot die geestelike diskoers, die onvoltooide groot gesprek, in die Afrikaanse digkuns.

5.

Daar is veel, veel meer om in hierdie bundel oop te dek, en ʼn resensie laat geensins reg daaraan geskied nie. Laat my asseblief tog toe om net in die verbygaan die volgende sake aan te stip:

  • In ʼn interessante onderhoud wat Philip John met die digter gehad het, toe hy indertyd nog in Oos-Londen gebly het (http://www.nmmu.ac.za/onseangeltjie/myburg.htm), skryf hy dat bo die voordeur van die digter ʼn bekende aanhaling uit die Middeleeue in groot letters gegraveer is: “olla vogala hebban nestas …”. Dit is ‘n kanttekening van ‘n monnik in sy Latynse Bybel, bes moontlik die eerste variasie van Middelnederlands: “Hebban olla vogala nestas hagunnen, hinase hic enda thu” (“Het al die voëls neste begin bou, behalwe ek en jy?”). Die nes, of dan die binnekamer, en die ontvouende landskap daaromheen, veral die tuin, speel byvoorbeeld ʼn groot rol in Myburg se werk. In ʼn ander onderhoud met Beeld (9 April 2001) gebruik hy die mooi woord “tuinerye”. Daar skuil ʼn ontdekking van paradyslike aard in hierdie kode. Landskap as uitdrukking van die self, die konstruksie van die buiteruimte waarin die ek tot gestalte kom, die bedreiging van daardie territoriale gebied (kyk byvoorbeeld die gedig ‘Sentripetaal’, wat handel oor die vrese rondom huisinbrake in die eietydse Suid-Afrika), en ander fasette, maak dit ʼn boeiende ekskursie, veral as dit byvoorbeeld teen die grein gelees word van Nancy Worman se Landscape and the Spaces of Metaphor in Ancient Literary Theory and Criticism, Gaston Bachelard se klassieke The Poetics of Space en Michel Foucault se konsep van “garden as a heterotopia”, met sy definiëring daarvan as “spaces that may exist as actual places but that serve primarily as fantasy counter-sites to disorderly realities”, ook sy voorhou van “spaces of otherness” (‘Of Other Spaces’ in Diacritics 16 (1): 22–27, Spring 1986). Vertaling: Jay Miskowiec.) Die “taal van tuin” (p. 44) en die jukstaposisie met Historia Naturae is hier veral ook om kulturele, ideologiese en kulturele redes ʼn belangrike fokusperspektief. Die skatpligtigheid aan en invloed van T.T. Cloete as voorvaderdigter is besonder belangrik in hierdie verband.
  • Die gesprek tussen Johan Myburg en DJ Opperman, veral ten opsigte van ʼn spilteks soos ‘Nagwaak’ en die voorgangerdigter se ‘Nagwaak by die ou man’, bring baie interessante aspekte na vore wat smeek om ontgin te word.
  • Die groot rol wat visuele intertekste in hierdie digbundel speel, is glad nie eens aangeraak nie.
  • Myburg se gebruik van vaste gedigvorme in ʼn nuwe jas, is fassinerend en ʼn ondersoek werd.
  • Daar lê ʼn onontginde rykdom in die digterlike geskiedenisoptekening en -skrywing, die herkartografering van ouwêreldse geografie.

6.

Hierdie vierde digbundel van Johan Myburg is miskien een van die hoogste bakens in die Afrikaanse poësielandskap. Dis ʼn bundel wat met die lees en die herlees daarvan telkens weer nuwe vistas sal oopmaak. Dit klink op in ʼn heerlike tongval en met ʼn resonante grootsheid, wat ons jong en klein taaltjie baie, baie trots moet maak. Hierdie bundel is waarlik ʼn wit veer van waarheid in die onsterflike realm.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Resensie: Uittogboek (Johan Myburg)”

  1. Elza :

    Dankie Tom, vir hierdie voorsmaak wat veel belofte inhou en my lusmaak om te lees…

  2. Inderdaad ‘n indrukwekkende bundel!

  3. helize van vuuren :

    “Dis g’n land vir ’n ou man, dié”, met die “hart ligter as ‘n veer” raak snare wat hier rondom ons onophoudelik tril. Dankie vir die uitstekende resensie, Tom: sien werklik daarna uit om hierdie bundel te lees.

  4. Breyten Breytenbach :

    Inderdaad ‘n belangrike en ‘lusmakende’ (in alle kronkels van dié betekenis) resensie. En insiggewend, pedagogies selfs. Dankie!

    Dis goed om te lees van werk wat hoër streef, dieper gaan en klanke laat rym met wat agter die woorde skuil. (Soos agter maskers?)

    Mens is al so fatalisties onttaal deur die afskuwelike verhale van elke dag waar die koei deur die kerk gedryf word tot by die konsistorie uit en waar die koster sommer so in die verbygaan ook nog doodgeskiet word vir die bietjie kollektegeld – die gesamentlike goeie wil – wat die diens opgelewer het… Dankie tog dat daar ook ander benaderings en besinnings is
    (besinging ook, soos die resensent dit uitlê) wat mens laat voel dis die lewe werd om verder te sukkel.