Onderhoud met Jolyn Phillips (radbraak)

Jolyn Phillips gesels oor haar

debuutbundel radbraak met René Bohnen

 

Jolyn, baie geluk met die verskyning van jou eerste digbundel, radbraak. Dit volg kort op die hakke van jou versameling kortverhale, Tjieng Tjang Tjerries & other stories, wat op die kortlys is vir die 2017 UJ-debuutprys. Het die kortverhale en die gedigte saam-saam ontstaan, of was dit twee aparte prosesse?  Wat is volgens jou die verskil tussen prosa en poësie in die skryfproses?

Ek dink Tjieng Tjang Tjierries & other stories en radbraak het parallel gehardloop eerder as saam-saam.  Tjieng Tjang Tjerries and other stories moes onstaan om ruimte te maak vir radbraak. Na Tjieng Tjang Tjerries and other stories het ek begin sin maak met die woorde wat oor/agtergebly het. Die taal wat ek vir Tjieng Tjang Tjerries and other stories geskep het, het my tong verander. Ek het besef ek praat nie meer dieselfde nie. Ek het gesit met ‘n klomp ongewerwelde woorde sonder skulpe. Ek wou oopbreek/breuk uit my bestaande woorde vir ‘n begin al was dit gebreekte/breukte woorde.

Ten opsigte van die skryfproses was die prosa en poësie proses anders. Ek het  by prosa veral by die skryf van kortstories geleer dat mens soms deur ‘n duisend woorde gaan vir die bevredigendste sin of vignette. Ek het agter die ritme en die beeld aan geskryf en alhoewel ek ook dieselfde in my poësie doen, was die redigeringsproses anders. Dit was amper makliker om ‘n woord uit te haal in die kortstorie proses en ‘n ander by te sit. Die uithaal van ‘n sin hier of woord daar het by tye helderheid aan my denke gegee, maar nie in my poësie se geval nie. Die enigste manier hoe ek tot dusver hierdie digproses kan verduidelik was deur middel van my analise van ‘n ortopediese chirurg: elke nou en dan maak sy nie net bene gesond nie, maar sy moet ook bene breek en amputeer. Bygesê, met die amputeringsproses is daar ook partykeer tye waar ‘n mens ledemate of bene moet heg. Dit raak al moeiliker …  Hoe vermink jy die vertroue van jou pasiënt/dig-taal om die pasiënt se lewe (gedig) te red en watter waarborg het jy as die gebreekte been of ledemaat “reg” gelas is, dat die liggaam( gedig) dit nie sal verwerp nie? Dit is poësie vir my in ‘n skulpdop.

 

Dit het my opgeval dat jou gedigte ook eintlik klein kortverhale is – beide in die narratiewe element en in die tekening van karakters. Jy het in ‘n onderhoud genoem dat die karakters in Tjieng Tjang Tjerries daarop aangedring het om kortverhale te wees. Wat was die verskil toe jy die gedigte geskryf het? Is daar oorvleueling van karakters in die twee boeke?

My herkoms is ook oraal, dus sal daar seker altyd ‘n narratiewe element in my werk voorkom – dis ‘n element wat ek nog verder mee wil kennis maak. Dié vorm is vir my soos water, kan haarself in enige vorm vermom en ek is bly ek kon hier eksperimenteer daarmee om stem te gee aan karakters in sommige van die gedigte. Soms wil stories hulself vertel en wie is ek om in hulle pad te staan? In Tjieng Tjang Tjerries and other stories het karakters ‘n manier gevind om tyd te oorskry, tussen twee wêrelde te hardloop, alhoewel dit metafories gesproke moeilik was om die storie uit hulle te kry. Ek moes op landskap, taal en by tye herinnering staatmaak om die storie te skryf. Die komponering van radbraak het my forseer om deur al die tale (letterlik en poëties) wat vir my gegee is, deur te ploeg tot ‘n poëtiese helderheid, al was die af-enting daarvan vir my nogal moeilik.

Jolyn, jy kom van Gansbaai en jy weet ook hoe dit is om in Kaapstad te woon. Watter elemente vanuit die kortverhale vind neerslag in die gedigte en hoe het jy outobiografie van fiksie geskei in die gedigte?

Ek sou argumenteer dat as mens outobiografie en fiksie langs mekaar plaas, dit as ‘n oksimoron beskou kan word. Sprekers in geskrewe tekste is egter heeltemal te onbetroubaar vir die doeleindes van ‘n outobiografie, omdat hulle meer as een waarheid of lewe besit. Die konsep van outobiografie fassineer my. Wat noem ‘n mens ‘n spreker of karakter in ’n teks wat haar eie lewe vertel? ‘n Outobiografie, ‘n gedig, ‘n ironie,’n metafisiese gedig, of dit alles saam?  Dink aan Krotoa’s Story deur Karen Press en Anne Carson se Autobiography of Red. Albei ontsnap en oorskry fiksionele en poëtiese tendense vir die doeleindes van ‘n transendentale taal. Ek sou graag my eie skryfwerk tot sulke doeleindes wil benader. My woorde is egter dalk nog te nat agter die ore! Radbraak was ‘n manier om myself aan my eie tong voor te stel en terselfdertyd my tong te breek en sodoende weer daarvan te ontsnap.

 

Tydens die lees van radbraak het ek dikwels die woordeboek nader getrek. Hoe heerlik is jou spel met taal nie! Dit knetter behoorlik van moontlikhede en lewe. Die titel suggereer ‘n taamlike pynlike proses. My 1982 woordeboek sê: “radbraak, ge-, iem. martel deur die ledemate te breek; skend, verknoei, vermink (taal)”¹ Die woord “tong” of “tonge” kom ongeveer 23 keer in die bundel voor (as ek nie woorde soos “biltong” bytel nie) Die woord “taal” kom ongeveer 19 keer voor (as ek woorde soos “betaal” nie tel nie) Op bladsy 36 lees ons dan ook van die spreker se “toiing-tong”. Vertel bietjie meer van jou fassinasie met woorde en met taal.

radbraak ondersoek verskillende dinge: die taal en oorblyfsels waarmee ek grootgeword het, die taal en oorblyfsels wat ek op Genadendal geleer het, asook die geskiedenis van sekere woorde waarmee as leser, digter en student gekonfronteer word. Ek bevraagteken die woorde wat vir my gevoer word. Ek bevraagteken spreekwoorde en hulle praktyke. Die idee van ‘n cliché – dat ‘n woord so oorgebruik word dat die betekenis uitgewas word, is dus wonderlik vir my om woorde soms as net verbrokkelend en mak te sien. In terme van die verminking en marteling wil ek sê dat mens nie moet vergeet nie dat intensie agter marteling nog altyd was: die verkryging van informasie. Taal is mak of selfs onopvallend totdat dit geradbraak word en die volle potensiaal en menswees uitstort.  Dit het my laat besef dat elke woord ‘n geskiedenis het en radbraak se geskiedenis is ‘n fisiese vermink, verknoeing, skending van die ledemate soos wat jou 1982 woodeboek sê maar ook ‘n metaforiese en metafisiese een.

Jolyn, jy spreek onder meer sosiale onreg, verslawing en huishoudelike geweld aan in jou gedigte. Op daardie manier word die ánder betekenis van “radbraak” geaktiveer, naamlik liggamlike leed. Die dopstelsel kom meer as een keer voor, tik word as ‘n skim geteken, bendegeweld word uitgebeeld en jy skram van geen euwel weg nie. Nogtans word die taal nooit banaal nie. Jou beelde het my dikwels tot stilstand geskok in hulle direktheid en in hulle varsheid. ‘n Gedig wat na my mening al hierdie elemente ten toon stel en heerlik met klank tekere gaan, is “Peer se seer”, wat ek hier volledig plaas. Daardie eerste reël is manjifiek vir my. Kan jy asseblief meer sê, of op my stellings uitbrei, dalk selfs van my verskil?

 

Peer se seer

 

Peer loop met Noag se ark in sy keel kraai kan

hy beter as ’n haan tjank kan hy beter as ’n brandsiek brak

Peer koer sy ballade meer getrou as die posduif

wat met oom Fritz se fluit huis toe vlieg Peer

wat in elke hand drie Spar-sakkies vir die anties dra

dis net Peer wat dankiedankiedankie vir ’n rand

 

die kinders kan hom maar terg hy sal knor en blaf

maar later sal hy saam met die kinders broem-broemnê-

nuh-nê wiele reverse wiele skuur

die ma’s vermaan die kinders: Peer is ’n groot man! oppas!

Peer is nie julle speelmaat!

 

Peer tjank deesdae baie en loop met sy stert

tussen sy bene die ma’s wil nie hê die kinders moet

saam met Peer speel nie die oom met die vêr bles

op die heuwel gee vir Peer tjoklitlekkers en geld

om soos wat die kinders koggelvra: Peer waar sit jou seer?

sy broek af te trek en hulle in die rondte te jag met sy tolleman

 

Ek dink Peer is ‘n versameling wesens en omstandighede. Ek glo elke landskap het sy eie Peer. Met “Peer se seer” observeer die spreker dat sy lied sy albatros is.  Ek wou die gevangenis van sy gedagtes illustreer, hoe iemand wat in besit is van “Noag se Ark in sy keel”, nie kon sê hoe die mensdom hom vermink het nie.

Jolyn, jy spreek ‘n wye register van emosies aan en wat my veral getref het, is die uitbeelding van gemengde gevoelens binne ‘n situasie. Ek het hierdie verweefdheid onlangs weer self ervaar toe ek heel onverwags ‘n taamlike klein ruimte met perlemoenstropers gedeel het. Jou waarneming en verwoording is so akkuraat – bereik jy so iets deur lang introspeksie, of hoe ontgin jy so ‘n vaardigheid? Kom die formulering vir jou maklik?

Ek dink die dubbelsinnigheid van verwyt was vir my ‘n interessante observasie as iemand wat teenaan so ’n gemeenskap grootgeword het. Ek is seker baie mense sal nie met die spreker saamstem nie, eintlik sal ek ook nie, maar sy deel haar gedagtes soos sy dit sien en ek gee haar ’n plek om dit te sê en beskerm haar. Haar verwyt is ’n onsekere verwyt. Sy is nie seker of sy die perlemoen of die perlemoenstroper of die perlemoenstroperhelpers verwyt nie. Sy kan ook nie kant kies nie omdat sy aan alle kante behoort. Ek weet nie of ek die vraag beantwoord nie maar hierdie karakter probeer ‘n moeilike situasie verwoord, selfs al bly hoe sy voel en wie sy is, net ‘n gedagte.

Musiek speel ‘n belangrike rol in die gedigte. Verbasend is dit ook nie net hedendaagse popmusiek nie, maar goue oues, soos “The Last Waltz” van Engelbert Humperdinck. Jy het ook ‘n gedig oor die jazz-sangeres Sathima Bea Benjamin ingesluit, wat my dadelik gedwing het om ‘n hele album van haar en Dollar Brand te luister. (Die gretige lesers sal hopelik dieselfde doen!) Jy is as skrywer ook aangetrokke tot kinderdeuntjies en volksliedjies. Soms is hierdie liedjies tradisioneel, maar soms self uitgedink, met ‘n sterk ritmiese bewustheid. Kan jy bietjie meer hieroor vertel?

Musiek speel ‘n baie belangrike rol in my lewe omdat ek ‘n sangeres en musikant is. ‘n Digter het aan my genoem dat sy eintlik ritmies dink voordat die gedig manifesteer op papier wat dus ‘n ritme van sy eie het. Ek het met musiek grootgeword, en ek het bietjie musiek studeer en die teorie het my nog altyd baie gefassineer. Snaaks genoeg het die teorie van musiek my beter help skryf.  Ek dink enige kunssoort kweek dissipline aan en ek probeer baie hard om dit in my skryfwerk aan te kweek. Ek het ook by musiek die krag van ‘n stilte geleer, dat ‘n pouse ook ‘n noot is. By Jazz het ek geleer dat alles wat soms so stukkend en afgetakel in my ore resoneer ‘n produk van georganiseerde estetika is – wat ek hierby bedoel is dat mens eers die vorm goed moet verstaan om dit te kan manipuleer. Ek moet bieg dat ek van die gedigte getoonset het en dat ek by ander interessante maniere van taalgebruik uitgekom het. By die toonset van die gedigte het ek die die ritme ingespan om by die mening te pas en anders om.  Musiek het ‘n bestaande taal en teorie en het reeds vir my soveel toegang gegee om die musiek van elke lettergreep wat ek in die bundel gebruik het, te kon hoor.

Jy kom van ‘n kusdorp, Jolyn, en die see, visse, skippers, die hele maritieme atmosfeer het duidelik neerslag gevind in jou skryfwerk. Hierdie feit alleen, sorg al vir ‘n bindende struktuur in die bundel, al neig dit tematies na die tekening van gebrokenheid. Hoe voel jy oor die idee van ‘n bloudruk op digters, afkomstig van hulle geboorteplek of grootwordplek? Is elke omgewing ewe ryk aan materiaal, dink jy? Was jou eie omgewing vir jou voor die hand liggend inspirerend?

Die idee van ‘n bloudruk uit jou omgewing geld nie net vir digters nie, maar vir enige mens. Jou geboorteplek of grootwordplek gee vir jou ‘n taal om taalsgewys te navigeer deur ‘n plek om ‘n bestemming tot jou eie taalplek te vind, die poësie lê in hoe jy jou taal gebruik as ‘n kompas tot nuwe bestemmings. Ek is altyd opsoek na tale, die heeltyd besig om te soek na die woord wat die naaste kom aan die onbeskryflike…

 

Dankie, Jolyn, vir heerlike antwoorde. Daar is nog soveel wat ek eintlik in hierdie baie opwindende bundel van jou kan bespreek, dit bied ryke stof vir ontleding; byvoorbeeld jou besondere gebruik van selfstandige naamwoorde as werkwoorde. Ek volstaan egter met die opmerking dat jy ‘n wonderlike woord en ‘n wonderlike reël onuitwisbaar in my gemoed getatoeër het, naamlik die “breekwiel” van taal en dat die spreker “bakstene aan … dra…vir ‘n nuwe babel”. Ek plaas daardie gedigte nie hier nie, ek hoop die lesers koop een en elk jou baie prikkelende bundel. Ek vra egter dat jy self, ten slotte, ‘n gedig kies om hier te plaas. Mag radbraak groot hoogtes bereik!

Ek los hierdie gedig ten slotte: “tong trilogie”. Ek dink ek wou ‘n biografie vir my taal, my menswees en denke skryf. Ek het die hele tyd gesit met die idee dat alles wat my taal nou is maar net parte van my taal verteenwoordig. Ek kies die woord ‘part’ eerder as ‘deel’ want vir my is elke gedeelte vir my ledemate wat saam liggaam. Die verskillende ekkes wat in elke part voorkom is altyd op soek om uit ‘n taal te ontsnap, maar terselfdetyd ook vervreemd deur en teen die tale wat haar deel rond- en ontwentel en dan boonop nog ‘n taal aanbid wat haar nie kan verstaan nie (“my liggaam keer om te bid langs die speldekussing-/kompakter se stingels ek wil hoor wat die heelal/ elke dag vir die fynbos fluister”).

Ek dink uiteindelik is die spreker op soek na ‘n simbiotiese taal, ‘n taal wat saampraat, nie die taal wat die heeltyd rondom haar breek nie. Die digter wil vryword van die radbraak in ’n heeltaal.

tong-trilogie

 

part 1

 

die storie van my woord begin toe ek vir die eerste keer

saam met Pa en sy familie Pêreberg toe gaan

die woorde proe sierangs nie vis nie

 

die dennehoutbome-dag onthou Pêreberg

toe my tong dennehoutbolle word

net op Pêreberg proe ek na dennepitte

 

as ’n kind het my geloof buitekant rondgeloop

tussen die bietoubos woorde wil nie

psalmsgesange in die Anglikaanse kerk lof

 

ek fluister vir die speldekussing

as ek die woord in die are

van die adamsvy soek

 

ons besoek Pêreberg net vir begrafnisse

ons besoek die papsak-siek grafte sonder kruise

geeste het nie tonge maar ek verstaan hulle

 

in my gedagtes klim ek op ’n bakkie ek sit skaaphond

met my anties ooms die wind waai sand klap

houe teen my gesig

 

my niggies en nefies sit styf teen mekaar

hulle buig vooroor hulle hande skulp hul ore maar nie ek nie

ek wil later die wind oor-speel by die ghellieblik

 

ek kan nie genoeg kry van die wind se geskinner nie

ek het nog gevra is die see en die wind susterskinders?

my pa se mense lag my nog altyd tot ’n stilte

 

 

part 2

 

uit my liggaam wil ’n ander alfabet simfonie

ek is meer as net ’n vel-taal my liggaam onttaal

die kronieke tong my tale is baie letters

 

wat uitmond my mond proe

na karring-tale ek is toegesluit

in die aswoensdag van my geboorte

 

ek weet my woord het ’n ander stam ander woorde

is vir my gevoer geleer ek belowe ek fluister my

woorde in die grond maar ek kan nie ’n sewejaartjie lospraat nie

 

die speldekussing-kompakter buig

hul koppe binnetoe wat wil jy

speldekussing-kompakter vir my sê?

 

my woorde wil somtyds die als op my lyf pak my woorde wil soms kruie

brousel in ’n skottel ek wil voor dit buig

’n doek oor my kop gooi die kruie van die spelde-

 

kussingwoorde inasem

uitpraat

ek moet vinger op die lip

 

my liggaam keer om te bid langs die speldekussingkompakter

se stingels ek wil hoor wat die heelal

elke dag vir die fynbos fluister

 

 

part 3

 

die biologie van my woord is ’n verbrokkelende fraktuur

hierdie is g’n woordbegrafnis nie hierdie gedig grawe

my woordeskatkiste op                        daar waar hulle spook

 

in die stuyvesant-sitkamer waar hulle dreig by

die siersteen-vensterbank wat elke Saterdag waarskuwings

van die dood los die see herinner my vel van my ekseem

 

my jolliejieks-

allergie verloën my

patattrapper-afkoms

 

ek praat al my tonge gelyk

Ma sê dis gevaarlik as mense

in tonge praat   niemand kan

 

’n prooi-tong vertaal nie slinks is die ekkes

in my besig om bakstene aan te dra

vir ’n nuwe babel          

 

*

  1. van Schaik se Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Kritzinger, Labuschagne. 7de uitgawe. 1982

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Jolyn Phillips (radbraak)”

  1. marie bredenkamp :

    Ek is meegevoer deur hierdie onderhoud – opgewonde om die bundel in die hand te hou – en veral om die bloudruk van grootwordplek- en streekstaal soos skulpe teen die oor te hou. Baie geluk met radbraak Jolyn, en dat jy die nuuskierigheid in ‘n leser wakkermaak met jou goedgekose vrae, René. ‘n Heerlike nuwe stem.

Los kommentaar