Wicus Luwes. Herders van die hibriede tydperk

Wat is die hibriede tydperk?

Ek was verbaas om uit te vind dat die informasietydperk iets van die verlede is. Dit wil vir my voorkom of mense al van so vroeg as 2012 oor die hibriede tydperk praat. Ek gaan die informasietydperk mis en was op ‘n sekere vlak nogal trots daarop om in die tydperk te lewe. Die enigste probleem met die informasietydperk is/was die voortdurende informasie wat soos kuikens in ‘n battery daagliks in my keel afgedruk is. Baie het ook al gesê dat ons moontlik ‘n afgestompde generasie is, met kennis wat nie meer by onsself lê nie, maar eerder in ‘n soort gedeelde / kollektiewe / dinamiese informasie-stooreenheid.

Maar wat is die hibriede tydperk dan nou eintlik, het ek gewonder? As ek aan hibriede motors dink, steek kombinasies van elektriese en brandstof enjins in my gedagtes vas. Ek speel my golf met ‘n hibriede stok – ‘n kombinasie van ‘n hout en ‘n yster. Dit is vir my meer van ‘n oorgang of vermenging as ‘n definitiewe tydperk. Dit is soos die plantegroei tussen die grasvelde van die Vrystaat en die doringbome van die Kalahari – op ‘n stadium kry jy beide doringbome en grasveld voordat dit oorslaan van die een na die ander. Ek wonder meteens hoe die oorgangstydperk van die industriële- na die informasietydperk gelyk het.

 

Wat verander in die hibriede tydperk?

Sou goud steeds ‘n manier wees om jouself te verskans teen die onbekende hibriede toekoms? Hoe lyk die moderne mens se goud? Menigte generasies het die manier gehad om weg te kruip in die berge om die vyand te ontvlug. Hoe sou die hibriede berge lyk?

Ek het as deel van my nuuskierigheid oor digkuns as lewende organisme gewonder hoe die digkuns en spesifiek die metafoor verander in ‘n boek soos die Bybel. Die metafoor word al vir millenia ingespan om sin te maak van abstrakte gedagtes. Ek wonder sommer hoe hibriede metafore daar uit sou sien. Ek heg baie waarde aan metafore en voel dat dit ‘n manier is om die abstrakte of onmeetbare wêreld te ontsluit. (Sien bv. my blog oor die genesende effek van metafore by hierdie skakel: http://versindaba.co.za/2017/02/28/wicus-luwes-die-metafoor-as-geneesmiddel/) Die Bybel het die industriële- en informasietydperke gesien. Die Bybel bevat ook ‘n menigte metafore en poëtiese gedeeltes.

Ek het drie kenners in hul vakgebied oor die poëtiese gedeeltes in die Bybel uitgevra: Prof Bernard Combrink, Prof Heilna du Plooy en Dr Rocco Hough. Prof Combrink en Prof du Plooy is tans besig met ‘n nuwe vertaling van die Bybel – ‘n Direkte Vertaling. Dr Rocco Hough was betrokke by die Bybel vir Dowes. Die Bybel vir Dowes het ‘n baie gewilde weergawe van die Bybel geword en is gevolglik uitgegee as die Bybel vir Almal. Die persoon wat van geboorte af doof is, se verwysingsraamwerk is anders as iemand wat op ‘n latere stadium in sy lewe doof geword het. Die blootstelling aan taal en metafore verander ‘n mens se sienswyse.

 

Psalm 23 uit die Bybel vir Almal/Dowes

1
’n Psalm van Dawid. Die Here is my Herder, Hy sorg vir my,
ek het genoeg van alles.

2
’n Herder bring sy skape na goeie weiveld,
hulle eet genoeg en hulle gaan lê.
Hy bring hulle na die water,
en daar gaan hulle lê en rus.

3
So gee die Here ook vir my nuwe krag,
Hy leer vir my om reg te lewe,
want ek behoort aan Hom.

4
Ook wanneer ek
deur ’n diep en donker vallei moet loop,
dan sal ek nie bang wees nie,
want U, Here, is by my.
U beskerm my
soos ’n herder sy skape beskerm
met sy stok en met sy kierie.

5
U nooi my om by u tafel te sit,
maar my vyande moet staan en kyk.
U laat my baie belangrik voel,
U laat my alles geniet.

6
U is goed vir my,
en U doen wat U belowe het,
U doen dit oral waar ek gaan,
so lank soos ek lewe.
Here, ek sal altyd weer terugkom na u tempel,
ek sal dit my hele lewe lank doen.

Kopiereg: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Ek is seker dat enige persoon wat al vertalingswerk aangepak het al gewonder het wat die beste manier sou wees om die vertaling aan te pak: ‘n direkte woord-vir-woord vertaling sou die leser kon verwar omdat beelde/metafore slegs in sekere kulture voorkom. ‘n Vertaler sou natuurlik ook die idees van die oorspronklike skrywer kon probeer vertaal vir die leser. Twee digters kan dieselfde digkuns vertaal en verskillend interpreteer – kyk maar na die verskille tussen Langenhoven en Daniel Hugo se vertalings van ‘Die roebaijat van Omar Khajjam’. Sommige van die veranderinge of verskille was nodig omdat Afrikaans as spreektaal verander of ontwikkel het.

Die Bybel vir Dowes/Almal het my laat wonder oor die manier waarop dowe persone met metafore en poësie omgaan. Ek het Dr Rocco Hough hieroor uitgevra:

Wicus Luwes: Hoe vertaal ‘n mens Psalms se beelde en metafore vir ‘n dowe persoon?

Rocco Hough: Ongelukkig is die taalvermoë van Dowes so beperk, dat hulle meeste van die metafore in Afrikaans nie herken of verstaan nie, en daarom moes ons die poëtiese gedeeltes dinamies vertaal, die betekenis weergee, eerder as om die mooi beeld te behou. Die gevaar om die beelde te behou is groter as wat meeste horendes besef, omdat Dowes meer as dikwels iets anders daar inlees en probeer verstaanmaak wat gewone lesers nie eers sou oorweeg as moontlikheid nie. Een voorbeeld van gewone taalmisverstand:
Verlos ons van die bose, het n hele paar Dowes gelees en in Gebaretaal weergegee as Verlos ons van die BOSSE, wat vir hulle verstaanbaar is.

By laat u wil geskied, gebruik baie van hulle die gebaar vir skiet, soos met n handwapen, wat vir sommige van hulle die idee gee dat die Here sy wil afdwing met geweld.

WL: Hoe verskil beelde en metafore vir ‘n persoon wat van geboorte af doof is teenoor ‘n persoon wat eers later in sy lewe doof geword het?

RH: Indien n persoon doof gebore is of pre-linguaal doof geword het, voor ouderdom 4-6, is sy taalontwikkeling so beperk, dat dit uiters moeilik vir hom is om gewone taalpatrone aan te leer, en word meeste van hulle opgevang in die Dowe kultuur waar Gebaretaal gebruik word. Persone wat later in hul lewe doof word, het reeds hul taal gevestig. Hulle het slegs ‘n kommunikasie-probleem maar nie n taalprobleem soos mense van die Dowe kultuur nie. In hulle geval funksioneer metafore normaal soos by ander horendes, maar nie by Dowes wat n eiesoortige taalontwikkeling ondergaan het nie.

WL: Die Bybel vir Dowes het so gewild geraak dat dit herdoop is na die Bybel vir Almal. Waaraan sou u die gewildheid toeskryf?

RH: Daar is n groot behoefte (groter wordend) aan n eenvoudige dog bron-getroue Bybelvertaling. Die feit dat die algemene leesvermoëns van baie lesers in ons land verswak, dra nog meer by hiertoe.

WL: Enige ander opmerking met betrekking tot digkuns in die Bybel is welkom.

RH: Digkuns by Dowes is redelik problematies, soveel so dat hulle nie eers die woord gedig of poësie goed verstaan nie. In Gebaretaal, hul moedertaal, is daar wel n eiesoortige uitdrukking van kunstigheid wat met die hande uitgebeeld kan word, maar wat vir meeste horendes nie verstaanbaar is nie.

‘Die Bybel – ‘n Direkte Vertaling’ is ‘n vertalingsprojek wat steeds in wording is en ‘n leser kan die projek volg by http://www.bybeldirektevertaling.co.za . Die fokus van die vertaling is as volg op hul webblad aangedui:
” ‘n “Direkte” vertaling is ‘n tegniese term wat ontleen is aan die begrip “direkte rede”.

Wanneer ‘n spreker se woorde “direk” aangehaal word, impliseer dit die spreker se presiese woorde.

‘n Direkte vertaling streef daarna om die bronteks van die Bybel op so ‘n manier te vertaal asof die Hebreeuse, Aramese of Griekse spreker/skrywer se woorde “direk” aangehaal word, maar dan asof gewone idiomatiese en hedendaagse Afrikaans gepraat/geskryf word.

Dit beteken nie dat vorige vertalings nie ook getrou aan die bronteks wou wees nie, maar die huidige vertaling streef daarna om alles wat kenmerkend is van die bronteks (styl, register, struktuur, metafore) in goeie Afrikaans weer te gee.”

My gesprek met Prof Bernard Combrink het my opnuut laat dink oor die rol van vertalers en nuwe weergawes van bekende boeke. Hy het my vertel dat sekere metafore in die nuwe direkte vertaling gebruik kan word, bloot omdat die beelde deur die 1933, 1953 en 1983 weergawes aan die Afrikaanse leser bekend gemaak is. Ander beelde is weer nie bekend vir die Afrikaanse mark nie. Die vertaling is nog nie voltooi nie, maar die verskillende fases is op hul webblad beskikbaar vir kommentaar.

Elke taal het sy eie unieke tegniese uitdagings, soos wat Prof Combrink se verduideliking hieronder wys:
“Wat die hantering van die Hebreeuse bronteks betref, hou in gedagte dat daar nie rym in die Hebreeuse bronteks voorkom nie, maar wel woord- en klankspel. Waar moontlik is veral die woordspel in die vertaling behou (soms met voetnote aangedui). Die klankspel is veel moeiliker om in Afrikaans te behou.  In die vertaling is wel so ver moontlik  rekening gehou met versvoete van die bronteks, maar die verskillende vorms van Hebreeuse metrum (2+3; 2+2+2, 3+3 ens.) kan nie in  Afrikaans weergegee word nie, weens die taaleie van die twee tale. (Dit geld trouens ook die Bybel vir Dowes se weergawe van die bronteks.) Wanneer die
bronteks, soos direk deur die brontaalkenner en eksegete vertaal by die letterkundiges aankom, is dit hulle taak om te kontroleer of dit wel goeie Afrikaans is, en of dit poëties so aanvaarbaar is, of poëties verbeter kan word (sonder om van die bronteks af te wyk).”

 

Psalm 23 (soos in fase 2 van die Bybel – ‘n Direkte Vertaling)

1
‘n Psalm. Van Dawid.
Die HERE is my herder;
ek ly nie gebrek nie.
2
In groen weivelde laat Hy my rus;
na water waar daar rusplek is, lei Hy my.
3
Hy gee my nuwe lewenskrag;
Hy lei my op die regte paaie
ter wille van sy Naam.
4
Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan,
is ek nie bang vir gevaar nie,
want U is by my.
Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.
5
U dek vir my ‘n tafel
voor die oë van my teenstanders.
U verfris my kop met olyfolie;
my beker loop oor.
6
Net goedheid en troue liefde sal my volg
al die dae van my lewe,
en ek sal bly terugkeer
na die huis van die HERE,
tot in lengte van dae.

Kopiereg: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

 

Prof Heilna du Plooy verduidelik die gebruik van metafore in die ‘Bybel – ‘n Direkte Vertaling’ as volg:

Wat die metaforiek betref, moet daar dikwels besluit word of die metafoor direk vertaal gaan word en in ’n voetnoot verduidelik gaan word en of daar ’n ekwivalente Afrikaanse idioom bestaan wat gebruik kan word. Die meer algemene metaforiese taal word vanselfsprekend net so vertaal, maar idiome verg soms ’n eie behandeling. Daar word egter deurgaans gepoog om binne dieselfde semantiese veld te bly. Jy kan nie in Afrikaans sê “hy kom met sy oop mond van bo af op my af” nie maar jy kan sê “hy het sy mond vol oor my” of “hy het te veel te sê oor my”.

Soms is die Hebreeuse idioom vir Afrikaanse ’n wins en soms is die Afrikaans ekwivalent beter en mooier as die Hebreeuse oorspronklike.

Die vertaling van Hebreeus na Afrikaans is ook vir Prof du Plooy van belang vir die volgende redes:
“Wat baie interessant is, is dat die Hebreeuse poësie eenvoudig en klassiek is en dat die aard daarvan goed in Afrikaans tereg kan kom omdat Afrikaans hom sterk leen tot direkte en eenvoudige segging.

Van die belangrikste styleienskappe van Hebreeuse poësie, het te make met woordvolgorde en sinspatrone. Die versreëls is ook wat lettergrepe betref absoluut reëlmatig, met die reëls  soms in twee gedeel. Daar kom ook  baie sterk klankpatrone in die Hebreeus voor. Ander prominente stylfigure is veral parallelisme, d.w.s. herhalende sinstrukture wat soms uitgebreid voorkom, chiasme (kruisstellings) en inclusio (waar die slot van die teks die aanvang herhaal om ’n soort sluitende sirkelvormige struktuur te skep). ”

 

Psalm 121 (soos in fase 2 van die Bybel – ‘n Direkte Vertaling)

‘n •Pelgrimslied.
Ek kyk op na die berge:
Waar sal my hulp vandaan kom?
2
My hulp is van die HERE,
wat hemel en aarde gemaak het.
3
Hy sal nie toelaat dat jou voet struikel nie;
jou Beskermer sal nie insluimer nie.
4
Kyk, die Beskermer van Israel
sluimer nie in nie en Hy slaap nie.
5
Die HERE is jou Beskermer;
die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.

Kopiereg: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

 

Poësie lewer natuurlik ook kommentaar op ons wêreld en die manier hoe ons die abstrakte emosies interpreteer. Sommige van die vertalings voel somtyds vreemd vir ‘n persoon wat met ‘n ander weergawe grootgeword het. Woorde word somtyds spoelklippe in ons gedagtes en haak vas in verskillende strome van ons gedagtes. Somtyds bou die spoelklippe ‘n damwal wat die gedagtes met koel water voed en ander kere bars die damwal oop, soos ‘n sweer.

Uit Louis Esterhuizen se ‘Die afwesigheid van berge’ kom die volgende:

‘n BEDEVAARTSLIED om

kwart voor drie en hoe geyk die geheue
wat soveel sagter as ‘n gister jul gordyn eenkant toe
druk. Op dié reis blyk die reisiger

onverwags ongereed te wees: gedaantes om jul bed
met wapens gerig op die binneholtes
van jul skrik. En slaan jy jou oë op na die berge

om kwart voor nou, vir oulaas,
is jul hulp kasdeure wat oopgeruk word
om alle venster vloeibaar te laat
soos ‘n gebed om kwart voor sterwenstyd.

 

 

Die Here is nie my herder nie

Die Here is nie my herder nie,
ek kom alles kort.
Hy lei my na leegtes,
laat my bloedsweet,
bring my na ‘n woestyn
sonder manna se genade
op die deinende duine.

Hy lei my op omweë
om sy verlore eer te soek.

Ek kruip deur donker dieptes,
my hart skommel bang;
U het u hand teruggetrek,
ek kyk vas teen u rug.

U laat my aan ‘n kruis hang
terwyl my vyande koggel.
U ontvang my soos ‘n rower,
ek is oorlaai met skuld

Al slaan u stilte my stom,
sal ek na U bly roep,
ek, u weggooilam.

deur Cas Vos uit  ‘Duskant die donker’, Protea Boekhuis, 2011

 

Die hibriede tydperk verwys na ‘n tydperk waar al meer integrasie tussen mens en tegnologie plaas gaan vind. ‘n Volgende vraag kan moontlik wees: hoe lyk ‘n hibriede gedig? Ek wonder egter steeds oor die eerste vraag: hoe lyk die hibriede herder of die hibriede skaap? Miskien kan die boek ‘Do Androids Dream of Electric Sheep?’ deur Philip K. Dick ‘n bietjie lig op die onderwerp werp. Die boek en die film daaroor, ‘Bladerunner’, is ‘n poging om realitiet of die metafisiese te bevraagteken. Ek vermoed dat realitiet in die hibrieke tydperk nog meer gaan vervaag. Die mens sal seker altyd bly soek na maniere om metafore aan abstrakte emosies vas te maak.

Welkom in die hibriede tydperk (batterye word nie ingesluit nie).

*** Met groot dank aan Prof Bernard Combrink, Prof Heilna du Plooy en Dr Rocco Hough

 

Bronne:
1. https://d2v9y0dukr6mq2.cloudfront.net/video/thumbnail/man-herding-sheep-through-

fence_wywwnfolh__M0000.jpg
2. http://www.accommodationspringfontein.co.za/data/images/sheep.jpg

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Herders van die hibriede tydperk”

  1. Gert :

    Omtrent ‘n honderd jaar gelede het Eugene O’Neill ‘n drama geskryf met die naam “Strange Interlude”.

    Dit omvat die hele lewe van ‘n vrou, van haar jongdae tot haar oudag.

    Heel aan die einde merk sy op – ons lewe met ons herinneringe van wat was, en ons drome vir wat kom.

    Maar tussenin is altyd ‘n “strange interlude” – die hede – wat nie verby wil gaan nie.

  2. Maria Snyman :

    Baie interessant, Wicus. Ek lees nou al ‘n hele rukkie aan Dambudzo Marechera se gedig “Hooked a-gallop” waarin vertaling (en die moontlikheid van ‘n sekere hibridisering?!) ter sprake kom en wat eindig:

    “Were Eliot African and mermaids dusky grasses
    Would the verse weaken and our flesh respond to
    irresponsible passes?”

    Gert, ek lees Ulmer se “Applied grammatology: Post(e) pedagogy”. Hy betoog vir ‘n meer innoverende benadering tot die pedagogiese en verduidelik sy siening dan o.a. via ‘n paar avant garde kunstenaars, soos byvoorbeeld Antonin Artaud waardeur ek weer kennis geneem het van Moleski (1981-82) se artikel “Eugene O’Neill and the Cruelty of Theater”. Die volgende aanhaling van Artaud uit sy werk “Concerning a Journey to the Land of the Tarahumaras” was vir my mooi:

    “The Peyote dance is inside a grater, in its time-tempered wood, endowed with the occult salts of the earth. It is in the taut and involuted fibres of this wand that the healing virtues of the rite dwell, and it is so complex, so withdrawn, it must be hunted and tracked down like some beast in the forest.”

Los kommentaar