Nuwe publikasie: Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Bloemlesing)

Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte

Cas Vos (Samesteller)

‘n Versamelbundel van die gewildste Christelike gedigte in Afrikaans, saamgestel deur Cas Vos. Dit bevat nie net geliefde gedigte uit die kanon nie, maar ook nuwe verse wat spesiaal vir dié bundel geskryf is. Die digters sluit in: Boerneef, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Antjie Krog, Lina Spies, I.L. de Villiers, Joan Hambidge, Sheila Cussons, T.T. Cloete en Daniel Hugo.Die verse is baie toeganklik – ook perfek vir aanhaling vir menige geleenthede. ( Lux Verbi, 2017. Prys R280,    272 pp, 243 x 152 mm. Sagteband, ISBN-13 9780796320148)

Oor die samesteller : Cas Vos was die Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Akademie aan hom toegeken. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Intussen volg menige boeke, artikels, digbundels en vertalings van klassieke werke. Hy bly in Pretoria.

 

God die digter

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie

as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie

in moremis en in die bergpiek

die horison wat in die hemel wegraak

in die rooswolk is daar baie meer liriek

die aarde is deur ’n digter gemaak

 

TT Cloete

 

Bookmark and Share

34 Kommentare op “Nuwe publikasie: Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Bloemlesing)”

  1. Ek het gedigte tot hierdie bloemlesing bygedra toe die werkstitel nog was: “Die mooiste Geestelike gedigte in Afrikaans”. By publikasie blyk dit nou dat die “Geestelik” in “Christelik” verander is. Ek voel mislei deur die samesteller en uitgewer, aangesien ek myself beslis nie as ‘n Christelike digter beskou nie.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Dis ‘n interessante kwessie wat Daniel hier aanraak. Ek dink egter die betekenis van “Christelik’ is histories en ontologies, en nie slegs religieus of kerklik in betekenis nie. Allermins is dit ‘n betekenis wat persoonlik gedefinieer kan word.

    Dus kan ‘n digter wat homself as “nie-Christelik” sien wel deur ‘n samesteller, in’n bepaalde moment van uitdrukking deur daardie digter, as Christelik gesien word ondanks die selfsienings van die digter.

  3. Die digter moet tog sekerlik die keuse gegun word om hom met so ‘n etikettering te assosieer of nie. In hierdie geval het dit nie gebeur nie.

  4. Charl-Pierre Naude :

    Ja, soos ek se dis ‘n interessante – en belangrike sakie – wat jy aanroer, Daniel. En dis ‘n gesprek waardig. Ek kan verstaan hoe jy voel. Ek hoop ek het ‘n kontrapunt neergestip. Maar dit kan allermins die laaste woord wees.

    Wat my eie posisie betref: Ek is werklik dankbaar en trots om in ‘n versamelbundel met so ‘n wye en gewigtige titel – wat soveel respek waardig is soos wat dit is – ingesluit te kan word.

    Maar dis maar MY posisie, en ek kan dit nie van toepassing maak op ander digters nie en wil ook nie.

  5. Beste Charl-Pierre, wanneer ‘n Christelike uitgewery soos Lux Verbi ‘n boek uitgee met die woord “Christelik” in die titel, het dit beslis ‘n veel enger betekenis as wat jy daaraan heg. Dit is ook waaraan die kopers van Lux Verbi-boeke gewoond is. Hulle verwag nie om ‘n digter soos M.M. Walters daarin teen te kom wat bekend is vir sy skerp kritiese en satiriese gedigte oor die Kerk en die Christendom nie. Die woord “Geestelike” is met “Christelike” in die titel vervang op aandrang van Lux Verbi se bemarkers. Dit is niks anders as ‘n verkoopfoefie nie, en in die proses word hulle lojale ondersteuners mislei.

  6. Die samesteller, Cas Vos, het ook beswaar gemaak teen die verandering van die titel, maar hy was magteloos teenoor die bemarkers. Die vlag dek nie meer die lading wat hy ingeskeep het nie. Wie verwag byvoorbeeld ‘n Joodse digter soos Olga Kirsch in so ‘n bundel? Sou sy daarmee genoe”e geneem het? En as die term “Christelik” dan so breed gebruik kan word dat digters van enige oortuiging welkom is, waarom is die Boeddhis Breyten Breytenbach dan afwesig? En ten slotte: Is jy, Charl-Pierre, toestemming gevra om in die bloemlesing opgeneem te word? Die meeste digters is nie.

  7. Charl-Pierre Naude :

    Hallo Daniel. Ek is om toestemming genader om opgeneem te word.

    Ek hoor wat jy hierbo se. Ek dink dit gaan nou afhang van hoe die Voorwoord, as daar een is, die saak oor die betekenis van “Christelik” motiveer.

    Persoonlik voel ek die bermarkers kan hul betekenis aan Christelik toedig, en ek sal my betekenis daaraan toedig. Ek kan duidelik sien dat dit nie ‘n redenasie is wat nie noodwendig in terme van jou argument hierbo kan werk nie, Daniel. Maar dit werk vir my.

  8. Sandra Davel :

    Sjoe. Dis ‘n tameletjie. Omdat ons so Afrikaans is, het ons as Christene grootgeword, maar as digters deur fases beweeg wat ons beslis ver weggevat het van Christelike mensonterende idees. Tog het ekself ook al Christelike gedigte geskryf lank terug en dit was mooi. Nou is ek ook meer into Boeddhistiese en spirituele idees soos Isabel Allende ook skryf. Ek dink ook dis ‘n verkoopsfoefie. Heigend. What next. Ek verstaan beide julle sienings. Gits

  9. Maria Snyman :

    Die mens en sy regverdigende metanarratiewe/briekstreepstories … Hy bly dit maar moeilik vind om dinge daarsonder te verhandel …

  10. Charl-Pierre Naude :

    Mraia, omskryf asb. wat jy nnou se. Dit maak glad nie sin nie.

  11. Maria Snyman :

    Charl-Pierre, ‘n metanarratief, as regverdigende narratief, is vir my ‘n storie wat al die ander stories ‘n begin en einde gee, ‘n sekere streep trek oor waar die ander stories (mag) begin en eindig, ‘n storie wat al die ander stories dus stop … op ‘n sekere skrikwekkende (streep-in-die-broek) wyse … Soos versamelingsteorie egter byvoorbeeld wys, daar sal altyd ‘n versameling (storie) van versamelings (stories) oorbly, een wat deelneem maar nie behoort aan die versameling versamelings nie, soos die middelpunt van ‘n sirkel byvoorbeeld ook, ‘n sekere singulere deel en nie-deel van die sirkel … Die metafisiese mens soek sin en hy moet dus erens ‘n streep trek, maar o wee, ‘n streep het altyd twee kante …

  12. Maria Snyman :

    Indien ek weer te kripties geskryf het, Charl-Pierre: ‘n titel is vir my ‘n soort metanarratief, ‘n sekere storie oor die storie(s), ‘n storie wat die versameling stories ‘regverdig’, die begin/oorsprong en einde van die storie(s), soos party ander konsepte byvoorbeeld ook diens doen, soos byvoorbeeld die Godkonsep, of die dood (vir Heidegger byvoorbeeld), die horison waarteen alles is, ‘n sekere geskenk wat alles sin gee …

  13. Maria Snyman :

    Geestelik is ‘n lekker oop en speelse konsep/metanarratief, Christelik probeer om dinge onnodiglik te beperk/te fokus.

  14. Met jou laaste inskrywing, verstaan ek nou ook, Maria!

  15. Charl-Pierre Naude :

    Ek stem saam met jou tweede laaste verduideliking. Dis in die kol.

    Maar die term “Christelik” kan kwalik te beperk genoem word (myns insiens). Dis nie sinoniem met “Christen” OF “gelowig” nie. Dit behoort moontlik te wees om ‘n Christelike gedig te skryf en nie self ‘n gelowige te wees nie, byvoorbeeld.

    Ek dink dis nodig om die volgende onderskeidings te tref: “Christelik”, “Christen” en “gelowige” (soos die term gebruik word binne die Christelike kulturele konteks). Nie een van die drie terme is sinoniem nie, nie een van die drie terme hoef eens te oorvleuel nie. Die een van die drie wat die wydste betekenis het – so wyd soos die Heer se genade en sy ongenade – is waarskynlik die term”Christelik”. Ek sou graag wou weet waarom jy die betekenis daarvan “beperk” noem. Sou Derrida die betekenis van daardie term “beperk” noem, wonder ek (ek sien jy praat dikwels oor Derrida, Maria?)Ek dink hy sou dit “eindeloos” noem.

    Ek stook so ‘n bietjie, ja. Maar ter wille van helderheid, hoop ek.

    Een van die gedigte in die versamelbundel, soos deur my vertaal, is juis geskryf deur Rainer Maria Rilke. Is dit tipeerbaar as ‘n “Christelike” gedig? Beslis, ja. Was die digter ‘n “Christen” of ‘n “gelowige” of selfs “Christelik”? Toevallig nie een van die drie nie. Of was hy dalk – met ‘n omweg – al drie?

    Boonop is die stem in die genoemde gedig nie sinoniem met Rilke se stem nie, die liriese stem is die van ‘n Russiese monnik wat bid. Is dit Rilke wat daar bid? Nee, hy “luister net in”, hy is die digter van die gedig

    Die saak is dus komplekser as wat dit op die oog af lyk.

    Daniel het vroeer gewonder of van Breytenbach se Zen-Boeddhistiese gedigte in so ‘n versamelbundel soos Cas Vos s’n, met die titel “Christelik” sal tuishoort? Ek sou antwoord: Hoekom nie, dit gaan afhang watter gedig. Miskien kan mens vir Breyten vra, ha ha, hoe-hoe, miskien luister hy ons af daar op die nok van sy dakkamer. Nie dat die resepsie van ‘n gedig enigsins afhang van ‘n digter se eie lesing van sy eie gedig nie, maar dit sal interessant wees om te verneem.

    Sou die Trappistiese mistikus-digter Thomas Merton se gedigte in ‘n versamelbundel met Boeddhistiese temas opgeneem kon word? Persoonlik sou ek reken, beslis, ja. Sonder twyfel. En so ook dalk sommige van Sheila Cussons se gedigte. En as ek so ‘n versamelbundel saamgestel het, sou ek beslis een of twee van Marlene van Niekerk se gedigte uit Kaar opgeneem het, maar nou ja. Ek wil nie vir Cas Vos dink nie. Wel vermoed ek dat hy al baie tekens gegee het dat hy ‘n ruim en wakker gees het. Beslis nie “beperk” nie. Ek sien uit daarna om sy versameling in my hande vas te hou.

    En dan is daar die saak van liefde vir lesers wat nie lees soos jy self lees nie. MAG hulle maar saamlees, mag hulle bestaan? Ek hoop die anderslesers vermenigvuldig soos die korrels op daardie eindelose beach, wat daar geskryf staan in Genesis. Of is dit Openbaring? Maak nie saak nie, dit loop oor die bladsy. Eindeloos is eindeloos, en behoort baie welkom geheet te word deur alle digters, ook in Afrikaans. Soos die betekenis van daardie onomvatbare en baie mooi woord: “Christelik”.

  16. Maria Snyman :

    Charl-Pierre, dit is inderdaad so dat die woord “Christelik”, soos alle woorde, nie beperk kan word nie (soos die digkuns [en Derrida se oeuvre] dit mos deeglik bewys). Maar nou kom konteks in die prentjie – wat natuurlik ook nie maklik beperk kan word nie – en dit is o.a. Lux Verbi en die (Calvinistiese) Afrikaanse kultuur, soos Daniel daarop wys, en waardeur die kwessie van denotasie en konnotasie, soos waarvan kinders al op skool leer, dan ook bykom.

    Soos Losonsky (2006, p. 35) oor die Middeleeuse nosie van “supposition” skryf na aanleiding van sy bespreking van Ockham se hantering daarvan: “The theory of supposition is an account of the different objects terms can stand for, depending on how they are used in a proposition, and thus it appears that this doctrine is an early form of the doctrines of connotation and denotation or sense and reference that we will encounter in Mill and Frege.”

    Ons bly maar lekker aan die rond dans erens (in die nie-man-se-land?) tussen Anglo-Saksiese analitiese en Kontinentale dialektiese / dekonstruktiewe denke. Dit blyk ons heerlik te laat geesvang en ander demoniese dinge doen. Dus, dankie tog vir gedugte digters!

    Ek is dit eens met jou – al gaan dit my verstand te bowe – Christelike digters het inderdaad van die grootste gedigte geskryf. Terloops, is jy bekend met Caputo (1986) se “The Mystical Element in Heidegger’s Thought”?

  17. Sandra Davel :

    Genugtig. Cas Vos het ‘n jakkalsdraai gegooi toe hy die term van “Geestelik” na “Christelik” verander het.

  18. Charl-Pierre Naude :

    Maria, nee ek is nie vertroud met Caputo se boek nie, maar ek weet daarvan en ek dink ek sou dit graag wil aankoop, aangesien ek op die oomblik op ‘n stuk navorsing fokus betreffende Hans Blumenberg se werk Arbeid am Mythos (Work on Myth), wat aansluit by Heidegger, en waarin die tema van die mistieke ook ter sprake kom. (Miskien sal dit verkrygbaar wees by Protea in Pretoria?)(Baie dankie, in elk geval, vir die verwysing, kan jou inskrywings altyd hiervoor vertrou 🙂 )

    Elkeen van jou ander opmerkings is verhelderend ten opsigte van die gesprek, veral wat betref konnotasie, denotasie en aanname. Ek sal die Voorwoord deur Cas Vos moet lees om enigsins iets verder te kan kwytraak hieroor.

    Maar, voorlopig, die volgende: Hoewel die betekenisskkerings van die term “Christelik” in Afrikaans meestal op bepaalde en bekende maniere voorkom, selfs op baie ideologiese maniere, kan daardie wyses nie sonder meer aanvaar word as die kernbetekenis van die woord in ons kulturele konteks(te) nie. Daarvoor is daar gans te veel tekens van onderlinge bevraagtekening en magsstruwelinge in kerklike en teologiese kringe deur die jare en dekades en selfs eeue heen te lande. Ek wil nie myself uitgee as ‘n kenner van die plaaslike teologiese geskiedenis nie. 🙂 Wel weet ek dat die volle spektrum van die betekeniswyses van die term “Christelike”, en van soortgelyke terme, in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse geskiedenis histories en in die huidge tyd onder meer uiteenlopend was/is, en nie slegs, of eers hoofsaaklik, as vernouend en ideologies gesien kan word nie. As ‘n mens DIT doen, gaan jy aan die magspele wat met hierdie woord te lande gepaard gegaan het, meer krediet gee as wat dit moreel gesproke verdien.

    Ek wil weer benadruk: Ek gesels maar en wil nie die persoonlike probleme wat sommige skrywers met die term “Christelik” het, verkleineer nie. Die gesprek bly baie interessant.

  19. Waldemar Gouws :

    Indien Christelik nie “in navolging van Christus” beteken nie, eet ek enige hoed op. (Ek praat nie van Bybelse engele wat die naalddans kan dans nie). Buite die paradigma van die Nuwe Testament, en die opspooksels van sy verlede, is alles dus nie-Christelik.

    Die duisternis ekke van die digter – die moontlike selwe wat gemobiliseer, opgekommandeer, of opgeroep (à la die dame van Endor) kan word, hang af van die wasdom van die digter – hier by ons vanaf Van Wyk Louw en Breyten tot by Hilda en Bibi. (Wie sou hom-/haarself ook beter in die donker kon knyp)?

    Ek verskil van Charl-Pierre se siening van die monnik in Rilke se “Das Stundenbuch” (1905). Hier het Rilke ‘n masker, of persona, gekies waardeur hy iets kon uitdruk van sy eie innerlike lewe. Hy luister nie net in soos C-P dit stel nie. Die jong monnik beliggaam sy eie gevoel van vakleerlingskap by die “donker God” (soos beskryf deur sy indertydse minnares, en latere mentor Lou Andreas-Salomé) tydens die twee se Russiese toer in 1899.

  20. Charl-Pierre Naude :

    Hallo Waldemar, dankie vir jou opmerking. Ek reageer.

    Ek is seker Rilke gee iets te kenne van sy eie innerlike gevoel deur die gedig te skryf. Ek is ewe seker ek self het iets te kenne gegee van my eie innerlike gevoel – is gevoel nie altyd innerlik nie? – deur die gedig te vertaal.
    Die punt is dat die werking: vertaler (Naude), outeur (Rilke), biddende monnik, iets van ‘n palimpsest-effek het waar die betekenis van die gedig nie volledig in die monnik of in Rilke of in die vertaling uit die Duits gesetel is nie, maar ‘n wisselwerking tussen die genoemde palimpsest-lae is. Dit laat my aan ‘n spieel dink waarin ‘n spieel reflekteer.

    “Christelik” kan inderdaad vertaal word as “in navolging van Christus”, Waldermar. Dis waarna die term “Christelik” verwys, maar dis nie noodwendig wat dit beteken nie. Weens die feit dat “navolging” altyd ‘n interpretasie is van die predikaat “Christus”. Daarom is ‘n versamelbundel soos Cas Vos s’n so interessant. Dis juis ‘n kenmerk van die versameling (wat ek intussen gelees het)- ‘n werklik pragtige versameling – dat die begrip “Christelik” absoluut onvasgelegd en meerduidig – legio, inderdaad – is weens die verskillende nervarings daarvan.

    As daar slegs een interpretasie van “Christelik” was, sou Ghandi nie kon gese het: “I like your Christ, but not your Christians.” Van die vroegste tye is die term vervloeiend. En dan is dit eintlik ‘n term wat boonop redelik LAAT in die geskiedenis verskyn, dus NIE van die heel vroegste tye bestaan het van dit waarna dit verwys nie. Al hierdie dinge het implikasies vir die betekenis van “Christelik”. Die punt is “Christus se beweerde “wyse” is die teks, nie die betekenis van die teks nie. Christene deur die eeue sou mekaar nie so rojaal en ON-speels van kant gemaak het nie, in groot orgies van bloedbaddens, as die saak een was van jou hoed opeet. (Miskien nader aan: op jou swaard val?) En jammer dat ek nou so sofisties klink soos hierbo,, maar wat ek kwytraak sal miskien selfs vir sommiges voor die hand liggend wees. Dis ‘n saak van vervloeiende betekenis.

    Ek dink dit sal nou lekkerder wees om oor die versameling self te praat. En vir ‘n rede. Van my gunstelinggedigte sluit in: IV Opstanding (H J Pieterse, bl. 196); Bid (240, Stander); “ek is ‘n klipchristen Here (Jan Spies, 148); die astronoom (Gouws, 200); en E= mc2 (Moll, 253). Die keuse uit die digters se werk doen twee dinge: 1. dit werp nuwe lig op wat ek as leser gedink het daardie digters se oeuvres is, en ek sien deur die kiere dinge wat ek misgekyk het in die ooorspronklike bundels. (Dis een van die dinge wat ‘n versamelbundel as retrospeksiedaad kan doen!) en 2. dit problematisieer JUIS die begrip “Christelik” in terme van die ervaring van die vesrkillende outeurs. Heerlik. (Pun intended.)

  21. Waldemar Gouws :

    Charl-Pierre, baie dankie vir die uiteensetting van dinge. Eerstens ‘n piepklein korreksie – ek het na Rilke se innerlike lewe verwys, en wel nie na sy innerlike gevoel m.b.t. sy gebruik van die gebedsvorm vir sy verse in die 1905-bundel nie (‘n gedeelte van Das Stundenbuch is reeds in 1899 tydens sy eerste besoek aan Rusland geskryf).

    N.a.v. Baudelaire se prosagedig “Om eenuur die oggend” skryf Rilke op 18 Julie 1903 (dus nog twee jaar voor die publikasie van sy gebedebundel): “Dit is n gebed van Baudelaire, ‘n ware ongepoleerde [ongepoetste?] gebed, met die hand bewerk, ongekunsteld, en lieflik soos die gebed van ‘n Rus.”

    En oor die Christelike as begrip of idee: Ek het die woord “Christen” juis sorgvuldig vermy, soos in die ou immergroen gesegde, maar hoe, terwyl ek nou daaraan moet dink, vermy mens die pes? Soveel platoniese siele wat hier rond was en nog is, soveel Christene (dus die waarskynlike mark vir die kommoditeits-fetisj versamelbundel waaroor jy dit hierbo het). So heterogeen, egter, soos kan kom, soos jy weet. Dalk homogeen in (bose? menslike/homo sapiens-tipe?) bloedlus.

  22. Charl-Pierre Naude :

    Ek waardeer hierdie verwysings na Rilke se inskrywings wat jy hierbo noem, Waldemar. Daar kry ons Rilke se siening van wat ‘n gebed is. Dis ‘n bree definisie, soos dit hoort in ‘n geval soos die betekenis van “gebed”, ‘n begrip wat Rilke hoofsaaklik uit die Christelike erfenis gaan haal het, glo ek. En waarskynlik sou daardie gedig van Baudelaire, as dit ‘n Afrikaanse gedig was, self in aanmerking kon kom vir insluiting in Cas Vos se bundel …

    Ek volstaan by ‘n baie meer positiewe siening van ‘n versamelbundel soos hierdie een van Vos, waaraan vooraanstaande literatore soos Marlies Taljard en Bernard Odendaal saamgewerk het. My siening van die verdorwe mensheid kom waarskynlik met joune ooreen. 🙂 Daarin, in daardie siening, is ons waarskynlik albei skatpligtig aan niks minder nie as die konteks van die Christelikheid – wat aan ons, as kinders uit die Judaies-Christelike konteks, meer gegee het as wat dit moontlik is om op objektiewe wyse te peil.

  23. Maria Snyman :

    Charl-Pierre en Waldemar, dink ek nou so daaraan – dalk is die titel van Derrida se werk “The Gift of Death (second edition) & Literature in Secret” ‘n interessante hoek om die kwessie hier onder bespreking vanuit te beskou. Gil Anidjar se baie lesersvriendelik inleiding tot Derrida se Acts of Religion (gratis aanlyn beskikbaar) is ook vol provokatiewe pittighede. Op ‘n sekere vlak doen Derrida niks anders as om ‘n asemrowende speelse skatpligtigheid aan te dui nie, noem dit Christelik of geestelik, die een is die ander gesien hoe ongehoord beide van die konsepte na regte uiteindelik is … Ons bly maar “Jerusalemgangers” (Krog) wat “noordwaarts* onder twee koppe gepoort” neuk, “links met hare duiselende / klip” (waar “engele die woord” “praat”) en “regs” waar die “skale polities gerots” “hang” … * Vergelyk Derrida se opmerking oor Jean-Jacques Rousseau en sy “history [that] goes toward the North as it parts from the origin” … ‘n Sekere geo-grafiese geo-logie blyk onvermydelik, soos Cloete dit ook baie mooi in “God die digter” vasvang so met:

    […]
    die horison wat in die hemel wegraak
    in die rooswolk is daar baie meer liriek
    die aarde is deur ’n digter gemaak

  24. Waldemar Gouws :

    Charl-Pierre en Maria: die diepsee van hegemonie, die speelpaddavoetjies van dogma, en doktrine se kalmeerspuit is nie kinderspeletjies nie.

    Sterkte!

  25. Charl-Pierre Naude :

    More Maria, Die opmerking van Rousseau, van history that goes towards the North is baie interessant. Ek dink sommer lukraak aan Sam Shepard se dramatitel True North, waarin die “noord” die konnotasie van “geroepenheid” dra. Antjie se teks Jerusalemgangers sluit beslis aan. Hierdie verwysings van jou stip ek neer, want ek het eintlik lanklaas Derrida gelees, en ek dink ek kan in hierdie tyd iets daar inwin. Waldemar, jy bring die woord “dogma” ter sprake. “Dogma” is ‘n baie bepaalde soort denke/”teorie'”, wat verskil van wetenskaplike teorie en die logika van letterkundeskepping (byvoorbeeld). Wsat ek eintlik wil se: as ‘n mens die begrip “Christelik” ter sprake bring, bring jy nie noodwendig die begrip “dogma” ter sprake nie. Paddavoetjies is altyd mooi. Sulke snaakse “bidhandjies”, seker ‘n ander denominasie as die hotnotsgot 🙂 (Breyten se bidwyfie) Ek hoop jy en Maria het albei ‘n mooi dag. C-P.

  26. Breyten Breytenbach :

    elke stilbeweegstonde van die dag
    is ‘n gedig
    wanneer jy ontvanklik is –
    elke moment van mou en mansjet
    elke ontmoeting met wat lewe
    of gelewe het
    sal ‘n lewegewende lewensles wees

    alles wat ooit bestaan het
    alles wat ooit gelewe het
    alles wat ‘n ruimte laat bewe het
    om ‘n merk te laat
    wat vergeet word
    en daarom vir altyd sal wees
    want al manier om die lewe
    verby vashou te onthou
    is om dit veilig te bêre
    onder die pols-sing van vergeet –
    elke asemteug grasspriet goejop
    voëlsang wolk potlood tong

    is boeddha, my boet pampoen

    alles wat bloei tot boeddhawees
    is pampoenmaan
    en jy net (‘n) bewuswording
    om onder te gaan in die lewe
    om te bly bewe in die dood

    jy mag maar huil
    want alles huil
    in stilte se syn

    jy mag maar
    die intieme nie-syn wees

    daarom: indien jy boeddha
    teenkom op die weg:
    maak hom dood
    met al die liefde
    van jou vergaanbestaan

    en éét daai pampoen

  27. Amen!

  28. Charl-Pierre Naude :

    Mena.

  29. Waldemar Gouws :

    Hierdie mane (en anagramme was aan in die siklus) – sien ek regtig in die lig van die pampoen hoe die digters met meer as manna aankom? Vir elke oggend, en die grond is gewyd…

  30. brenda :

    Ek dink die titel van die bundel moes gelees het; Mooiste afrikaanse gedigte wat loof; en dit moes ander uitgewers gewees het; loof dan in die konteks van vele ander dinge beteken en nie so direk Christelik nie.

  31. Waldemar Gouws :

    Brenda, ja, jou twee punte is geldig – veral t.o.v. die uitgewer, want waar knak ‘n uitgewer se knieë sommer so sonder dat hy bedoel om te wil kniel? Dalk was die gees te gewillig, maar die rand (die bi-ZAR) te swak.

    Lof, loof, geloof is iets anders, soos lowwe en lower in die Karoo.

  32. Bessie Braambos :
  33. Bessie, baie dankie vir hierdie interessante skakel. Dis altyd verfrissend om Koos Kombuis se half sardoniese kyk op sake teen te kom. Ek sien wel dat hy my aangehaalde woorde in Joan Hambidge se mond l^e.

    Ek kon nie Cas Vos se repliek op Netwerk24 lees nie, maar sien nou in Koos se rubriek dat hy nie IL de Villiers as ‘n Christelike digter beskou nie, hoogstens as een met ‘n Christelike uitstraling – soos hyself ook en TT Cloete. Nou ja, toe.

    In die Christelike teoloog Cas Vos se woordeskat word die term “Christelik” dus totaal inhoudloos. Myns insiens is IL de Villiers, Sheila Cussons en WEG Louw die mees uitgesproke Christelike digters in Afrikaans. Selfs meer as Totius.

  34. Hannes Visser :

    Ek gaan allermins probeer om ‘n geleerde of ingeligte kommentaar oor die oorsprong van “christelik” te probeer definieer. My benadering is veel eenvoudiger en praktieser. As joernalis moet ek myself altyd afvra wat sal die “redelike mens / the reasonable man” aflei uit ‘n woord of ‘n sin of ‘n storie. Charl-Pierre, ongeag die bokspringe en in diepte verduidelikings oor die woord “christelik” en verkalrings op hoër vlakke, heg die redelike mens (jan alleman wat die bundel koop as ‘n Lux Verbi publikasie) ‘n spesifieke betekenis aan die woord. Daardie betekenis is dat die boek christelik is en dat die digters ‘n christelike / christen boodskap oordra. Op grond van die redelike mens se gevoel oor die christengeloof sal hy dan waarskynlik besluit of hy die boek wil koop of nie. Ek sou ook ontsteld gewees het sou ek ‘n bekende digter wees wat in hierdie christelike / christen foefie gevang is.

Los kommentaar