De Waal Venter. Die vel van die taal

Die vel van die taal

Ek was baie lief vir my oupa De Waal. Feitlik elke skoolvakansie het ek by my oupa en ouma op die plaas deurgebring. Dit het my opgeval dat oupa ’n bietjie anders gepraat het as ons. Sekere woorde het hy “snaaks” uitgespreek en dan het hy ook partykeer woorde gesê wat ek nooit vantevore gehoor het nie.

“Jy moet spreing jong, anders gaan ek vir jou wegry.”

Die woord wat ek as “spreing” gehoor het, was “spring” in my idiolek. En met “spring” het hy bedoel dat ek vinnig moet beweeg.

Dan kon hy vir my sê: “Staan bietjie troei, jong. Netnou trap die koei op jou tone”.

“Troei” was “tru”, oftewel, as jy tru staan, beweeg jy agteruit.

Ek het ook my vrou se oupa geken. Hy het as penkop in die Anglo-Boere-oorlog geveg. Een van sy woorde wat ek vreemd gevind het, was “pêruiters”. Dit was eintlik “perde-ruiters: en vandag sal ons praat van perdryers.

Taal is soos ’n vel

’n Taal is soos ’n lewende vel. Die ou selle bolangs word gedurig afgegooi en nuwe selle vorm – woorde raak in onbruik en nuwe woorde maak hulle verskyning.

Alle natuurlike tale ondergaan voortdurend verandering. By party gaan dit stadig en by ander vinniger. Daar kom tye dat daar groot veranderinge kom oor ’n relatief kort tydperk.

Taalverandering word gekenmerk deur klankveranderinge, leksikale veranderinge, semantiese veranderinge en sintaktiese veranderinge.

Die Germaanse umlaut is ’n voorbeeld van klankveranderinge. Die umlaut dui aan dat ’n agter-vokaal (die tong agter in die mond geplaas) verander na die geassosieerde voor-vokaal. Dit kan ook beteken dat ’n voor-vokaal nader beweeg aan /i/.

Dit het afsonderlik plaasgevind in verskillende Germaanse tale ongeverr 450 of 500 AD. In Engels sien mens dit in “foot – feet” en in Duits in “der Baum – die Bäumen”.

’n Taal se leksikale veranderinge word gekenmerk deur onder andere “verbreding van betekenis”, “vernouing van betekenis”, “versagting van betekenis” en pejorativering van betekenis”.

Verbreding

“Verbreding” beteken dat ’n woord wat ’n sekere betekenis het, later “verbreed” word en verskeie ander betekenisse verkry. So ’n woord sal “blad” kan wees.In Nederlands is die oorspronklike betekenis van “blad” ’n “blaar”. Dit het betekenisverbreding ondergaan totdat dit in moderne Afrikaans ook “tydskrif” kan beteken, benewens die ander betekenisse soos “bladsy” van ’n boek en die “blad van ’n graaf” of die “blad van ’n tennisbaan” en ’n “mens se blad” wat geskud kan word.

Vernouing

“Gluur” beteken in hedendaagse Afrikaans hoofsaaklik “om kwaai te kyk na iemand of iets”. As mens terugkyk na die vroeë betekenisse van “gluur” (In Nederlands) dan kry jy: “knipoog”, “’n verliefde kyk”, “skelm kyk”, “gloei” en “glinster”.

In Afrikaans het die woord vernou tot feitlik net een betekenis.

Versagting

’n Woord se betekenis “versag” wanneer dit oorspronklik iets beduie wat onaangenaam, sterk, groot, hard ens. is, en dan aangenamer betekenisse kry.

So ’n woord is “bederf”. Dit beteken nog steeds “verrot” of “vernietig”, maar dit word algemeen gebruik in die sin van “iets aangenaams doen”. Mense sê dikwels dat hulle die oumense gaan “bederf” by die ouetehuis, bedoelende dat hulle vir hulle iets te ete gaan bring of hulle gaan vermaak.

Pejorativering

Wanneer ’n “neutrale” woord gebruik word om ’n skeldwoord te word, word dit pejorativering genoem. Onskuldige woorde soos “bobbejaan”, “vark”, “tang” en “roes” kan almal gebruik word om mense sleg te sê.

Woorde met pensioen

In die lewe van ’n taal is ’n eeu nie ’n lang tydperk nie. F.W. Reitz het van die eerste gedigte in Afrikaans geskryf in die negentiende eeu. Sy Afrikaans is volkome verstaanbaar vir die moderne leser, maar daar kom in sy werk woorde voor wat destyds algemeen gebruik is, maar vandag in onbruik is. Die taal het reeds in hierdie relatief kort tydperk begin verander. Die volgende reëls kom uit “Klaas Geswind en syn perd”:

“Maar Klaas, jy is tog al te skelm,

Nog nooit is jy van huis gewees,

Of jy gedraag jou nes ’n bees.”

Die word “bees” is ’n algemeen gebruikte woord vandag, maar in die gedig het dit ’n ander betekenis. Klaas se vrou gebruik dit in die pejoratiewe sin om aan te dui dat Klaas hom “dierlik” gedra, soos ’n skobbejak. Die “bees” in die gedig is baie soos in moderne Engels: “beastly”.

Verder in die gedig:

“Trap hulle algar met malkander;”

“Algar” is al reeds vreemd, maar “malkander” sal nie maklik verstaan word deur ’n jonger leser in Afrikaans nie.

Die laaste voorbeeld uit Reitz se werk wat ek wil aanhaal, is reëls uit De “Lady Roberts”

“Die trekboer en boslanser

Die kom haar hier beskou;”

“Trekboer” kan waarskynlik as ’n “moderne” woord aanvaar word, maar “boslanser”? Laasgenoemde woord beteken ’n ruwe, onbeskaafde persoon wat waarskynlik in die bosveld grootgeword het en nie veel onderwys gekry het nie.

’n Tydgenoot van Reitz, Pulvermacher, het “Dopper Joris en syn seiltjie” geskryf. Hierin kom die reëls voor:

“En ’n borsspeld vol met rooie klippies,

En ’n horssweep met ’n koperknop”

Dalk is hierdie woord nog taamlik bekend onder mense wat lief is vir perdry. Maar vir ons ander is dit seker maar ’n taamlike vreemdeling. Dit is ’n perdesweep en die “hors” deel van die woord is interessant omdat dit feitlik identies is aan die Engelse “horse”. 

Dis ’n mooi aanduiding van die feit dat Afrikaans en Engels ’n gemene ouer het, naamlik Germaans. In Oud Hoogduits was die woord “hros”.

Verder in die gedig tref ons die volgende aan:

“En ’n klok en dertien riempiestoele,

’n Bulsak en ’n ledekant,”

’n Bulsak is natuurlik nie ’n soort sak waarin mens ’n bul moet probeer prop nie, maar ’n sagte verematras. ’n Ledekant is ’n bed met style.

Die laaste voorbeeld uit hierdie gedig:

“En ook nog ’n spul met romlary,

’n Kar op vere en ’n fariseen

’n Eietydse leser sal met ’n klein bietjie dink waarskynlik kan uitmaak wat “romlary” is. Maar wat is ’n fariseen? Dit is iets wat omtrent nog net in museums aangetref word. Dis ’n klein, outydse huisorreltjie of ’n serafyn.

Ons stap nou oor na C.P. Hoogenhout se gedig “Vooruitgang” en  ons word getref deur die ooreenkoms wat dit toon met probleme waarmee ons tans worstel.

“Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;

In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.

Ag, hoe word ons volk verbaster; daartoe werk ons leraars saam;

Hollands nog is sekere skole – is bedrog, ’n blote naam!

Wie hom nie laat anglisere, word geskolde en gesmaad;”

Weer eens ’n onbekende en ’n minder onbekende woord. “Smaad” neem ek aan, is taamlik verstaanbaar. Maar “geskolde”? Ek kon die woord nêrens naslaan nie en ek kan net raai dat dit “skel” of “uitskel” beteken. Vergelyk die Engelse woord “scold”.

S.J. du Toit se bekende gedig “Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het” bevat:

“En ons wat Griekwas was, ons sê:

‘Duusmanners, jul het ons gepier!’”

Mens kan uit die konteks aflei dat dit “kul”, “fop” of “bedrieg” beteken, maar ek het nie geweet dat dit werklik so is nie, tot ek dit nageslaan het. Die woorde “kul” en veral “fop” begin na my mening ook al vervaag.

“Die Afrikaanse Taal” van J. Lion Cachet se laaste strofe bevat die reëls:

“’n Ware towerstaf,

Wat ek nog van myn ouma het,

En niemand weet daaraf.

Mens kan maklik van die konteks aflei dat “daaraf” in hedendaagse Afrikaans “daarvan” sal wees. Ek kan nie die woord in Hollandse woordeboeke kry nie. Kan dit wees dat Cachet  onbewustelik deur die Engelse “thereof” beïnvloed was? Dit sal ironies wees aangesien die gedig juis die skoonheid van Afrikaans besing!

Eugène N. Marais kan beskou word as ons eerste ware digter, teenoor rymelaar, in Afrikaans. In “Skoppensboer” skryf hy:

“Net pagters ons

van stof en dons

om oor te voer

aan Skoppensboer.”

Vandag sal ’n eiendomsagent nie soek na pagters van ’n huis of woonstel nie, maar eerder na huurders.

In “Mabalêl” staan daar:

“Voel jy nog nie, kil en snood,

Om jou hart die handdruk van die dood?”

Wat is “snood”? Dit is “afskuwelik”, “vuig”, “kwaadaardig”. Die dood is vir die meeste mense nie iets wat in aangename woorde beskryf word nie.

Nog een van ons vroeë erkende digters is Jan F.E. Cilliers. In “Die vlakte” vertel die digter:

“Uit die woelende nag van haar jeugdige krag

brag die aarde voort”

Uit die konteks kan mens aflei dat “brag” die sterk vorm van die verledetydsvorm is van (voort)bring. Dus: die aarde het voortgebring.

Die gedig “brand” eindig so:

“Die twye swenk, die takke swaai,

dit is die winterwind wat waai …”

Miskien is die ander vorm van die woord “twyge” meer bekend. Dit beteken “klein takkies” en dit is eintlik maar dieselfde woord as die Engelse “twigs”.

Totius is veral bekend vir sy gedigte met sterk religieuse en emosionele inslag. “Die oue wilg” bevat die volgende:

“’n Eikeboom

het takke wat,

soos uitgestrekte arme,

in wintertyd

na bo bly wys,

sterk-smekend om erbarme;”

Ons sal nie vandag praat van iemand se “arme” nie, maar dit is darem maklik erkenbaar. Maar “erbarme”? HAT gee “erbarmlik” aan. Iets wat jammerlik is of om medelye vra. Was “erbarme” in algemene gebruik in Totius se tyd of het hy dit vervorm om te kan rym met “arme”?

D.F. Malherbe is in 1969 oorlede. Hom en die digters wat jonger as hy is, kan mens seker eietydse skrywers noem. In sy gedig “Verby” kom ons die volgende teë:

“die wit malgasse is verdol,

die wit malgasse buit en buit …”

Hoe sal ’n digter dit in hierdie jare stel? “Mal gemaak”? of “Omgekrap”?

C. Louis Leipoldt se gedig “Kom gee vir my polfyntjie” het die woord polfyntjie nogal stewig laat vestig in ons huidige woordeskat. Daar is winkels wat die woord in een of ander vorm in hulle besigheidsname gebruik. Mens wonder of die betekenis van die woord baie duidelik is vir mense wat snuisterye koop in sulke winkels.

HAT gee die betekenis aan as “Pand by pandspeletjie”. In Leipoldt se gedig lyk dit vir my eerder asof dit ’n aandenking beteken wat vertroetel word deur die ontvanger.

“Ter gedagtenis van Immelman” is ’n gedig deur Toon van den Heever. Daarin kom veral een woord voor wat na my mening werklik grootliks onbekend is vir eietydse sprekers.

“En stygend steeds van kreits tot kreits met kloek gespanne vlerk”

“Kloek” in hierdie verband is al raar genoeg, maar wat is “kreits”? Tot my verbasing kry ek die woord in HAT. Dit is ’n “kring”. Die digter wil blykbaar sê dat Icarus in kringe hoër styg, spiraalvormig.

Die Nederlandse etymologiebank lê dit so uit:

kreits znw., sedert begin 17. eeuw. Ontl. uit nederrijnsch kreytz (sedert de 14. eeuw, ook Teuth.), dat wellicht een jongere compromisvorm is van mhd. kreiӡ m. “kring, omtrek, ingesloten kampterrein, district”

C.M. van den Heever se “Gepensioneerde” doen iets wat ons seker deesdae op ’n ander manier sal beskryf.

“Vergeefs soek hy nou na die donker krag

wat hom verlaat het, en hy meesmuil sag.”

Die woord bestaan uit twee dele: “mees” en “muil”. “Mees is om spottend te wees en “muil” is ’n “mond”. As jy “meesmuil” glimlag jy dus spottend.

Ons beweeg nou aan na een van ons grootste digters, N.P. van Wyk Louw. Het hy ook woorde gebruik wat ons deesdae moeilik sal herken? Sekerlik. Uit “Drie diere”

“… en in die nederwaartse

stort van al my dink en gans ontdaan

het ek in die glans ’n groot dier sien staan.”

Die woord “gans” in hierdie verband sal nog hier en daar gehoor word, veral in die vorm “ganske”. En dit is interessant dat die homograaf “gans”, die voël, nasaal uitgespreek word. Die eerste “gans” word nie nasaal uitgespreek nie en so word die betekenisse van die twee woorde onderskei.

Die woord “ontdaan” is die een wat na myns insiens redelik onbekend is. Dit beteken “ontsteld” of “vanstryk”.

Nog ’n paar woorde uit Louw se werk wat vir my “verouderd” voorkom is “skriklike” uit “Die hond van God” en “stommel” uit “Beeld van ’n jeug: Duif en perd.”

In Uys Krige se bekende “Tram-ode” kom “klapwiek” voor. Vandag sal ons moontlik praat van “klappende vlerke”. Die woord “wiek” is natuurlik ’n ou vorm van “vlerk”.

W.E.G. Louw skryf in “Belydenis”:

“geen stuiwing weg van stoppeling en kaf om vry

te laat die suiwer korrels van gedeerde smart.”

Ek moes die woord “deer” gaan naslaan want ek het dit glad nie geken nie. Dit beteken “leed aandoen” of “benadeel”.

Die laaste woord wat ek wil aanbied, is uit D.J. Opperman se “Vakansiebrief”.

“Die berg se donker lies, vars spore

van die likkewaan en kuttels van ’n bok

roer iets in my van lank tevore;”

Die woord “kuttels” kom nie in HAT voor nie, maar ek weet dit beteken “uitwerpsels” of doodgewoon “bokmis”.

Oor tien jaar?

Woorde in ’n taal kan dus “verslete” en in onbruik raak. Hoeveel van die woorde wat ons daagliks gebruik gaan oor tien of twintig jaar “outyds” lyk vir daardie tyd se sprekers?

Ek glo nie ’n taal word noodwendig “beter” in hierdie dinamiese proses nie. Baie van die woorde wat in onbruik verval het, is dalk doeltreffender en kompakter as die moderne woorde. Die woord “meesmuil” druk ’n begrip in een woord uit, terwyl ons deesdae ’n omskrywing moet gebruik. Hoe dit ook al sy, Afrikaans is ’n kragtige en soepel taal wat uiting kan gee aan enige emosie en begrip wat ’n spreker maar wil oordra.

einde

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Die vel van die taal”

  1. Marlise :

    Baie interessant De Waal! Baie dankie.

  2. Fransi :

    Ek het dit baie geniet. Baie dankie.

Los kommentaar