Hanna Arendt. Vertaling in Afrikaans

Hanna Arendt. Vertaling uit Duits in Afrikaans deur Helize van Vuuren.

 

Droom

 

Swewende voete in patetiese gloed.

Ekself,

ook ek dans,

bevry van die swaarheid

in die donker, in die leegte.

Gedronge ruimtes van vergange tye,

deurskrede wydtes,

verlore eensaamhede

begin om te dans, te dans

 

Ekself,

ook ek dans.

ironies uitgemeet,

ek het niks vergeet,

ek ken die leegte,

ek ken die swaarheid,

ek dans, ek dans

in ironiese gloed.

  • Hanna Arendt (vert. HvV, 22 Aug 2017)

 

*

 

[Geen woord breek die donker]

 

Geen woord breek die donker –

geen God hef die hand –

waarheen ek ook kyk

in die toringende land.

Geen vorm, wat sig oplos

geen skadu, wat sweef.

en immer nog hoor ek dit:

Te laat, te laat.

  • Hanna Arendt (vert. HvV 22 Aug 2017)

*

Traum

 

Schwebende Füsse in pathetischem Glanze.

Ich selbst,

Auch ich tanze,

Befreit von der Schwere

Ins Dunkle, ins Leere.

Gedrängte Räume vergangener Zeiten,

Durchschrittene Weiten,

Verlorene Einsamkeiten

Beginnen zu tanzen, zu tanzen

 

Ich selbst,

Auch ich tanze.

Ironisch vermessen,

Ich hab nichts vergessen,

Ich kenne die Schwere,

Ich tanze, ich tanze

In ironischem Glanze

  • Hanna Arendt

Bookmark and Share

15 Kommentare op “Hanna Arendt. Vertaling in Afrikaans”

  1. Helize van Vuuren se vertaling van die gedig Droom het my aandag gevestig op Hanna Arendt, wêreldbekende filosoof wat ook gedig het. My baie meer belese eggenote het geweet van haar loopbaan wat my verdere belangstelling gewek het. Vir my is elke nuwe gedig ‘n uitdaging: hoe klink dit? analoog aan: hoe klink dié stukkie musiek

    Hanna Arendt het die eerste wêreldoorlog en die depressiejare daarná as jong vrou in Duitsland belewe en die onvermydelike opkoms van brute, immorele nasionaalsosialisme met sy rassebedreigings. In 193? bevind sy haar in suid-Frankryk waar sy in ‘n vreemdelingekamp beland het. In 1942 sien sy kans om uit wyk na die Verenigde State waar sy haar hele loopbaan voltooi het.

    Arendt het die poësie as die hoogste uitreik na waarheid beskou, hoër selfs as haar vakgebied filosofie. Die feit dat haar eie produksie slegs een per jaar opgelewer het, het o.a.‘n kritikus laat beweer dat sy nie regtig ‘n digter was nie.

    Ek het Helize se vertaling aanhoudend probeer “sê” maar kon maar nie my draai kry nie. Wat gekrap het was veral die woorde pateties en ironies. Arendt verwys in Dans m.i. na ‘n uiters pynlike en verworde verlede, dié in haar geboorteland. Dié twee Afrikaanse woorde wat gevoelsmatig milde afkeer inhou, pas net nie in dié interpretasie nie. Toe gaan kyk ek na die Duits op die Duden webwerf en ontdek ‘n verbluffende aantal betekenisse waarvan die meeste sterk afkeurend, krities of selfs neerhalend is, selfs die Duitse word vermessen.

    Na lang oorweging het ek besluit om die volgende voor te stel, amper woordeliks met dié van Helize.. Die betrokke woorde is dus nie vertalings nie maar my, selfs wisselende, interpretasies. Dus gun ek my ook ‘n paar meer “digterlike” vryhede.

    Droom

    Swewende voete in bedrieglike glans
    Ek self, ook ek dans
    bevry van die swaarkry
    in die duister, die leegte
    Beklemmende ruimtes van vergangene tye
    deurkruisde vertes, verlore eensaamhede
    begin om te dans, om te dans

    Ekself, ook ek dans
    Sinies aanmatigend
    het ek niks vergeet nie
    ken ek die leegte, ken ek die swaarkry
    Ek dans, o ek dans
    In oormoedige glans

  2. Helize van Vuuren :

    Dié gedigte van Hannah Arendt (1906-1975) is lank na WO II ontdek en pas in 2015 postuum uitgegee, Bart. Dit was nie vir publikasie bedoel nie. Heelwat daarvan ook maar flou en epigonisties. Meer rymelary as iets anders. Die mooi “Traum”-vers kom uit haar vroeë werk, toe sy 18 tot 20 jr oud was (1923-1926), lank voor Hitler en sy Nasionaal-Sosialistiese kataklisme o.a. vir haar, Benjamin, Brecht, Adorno en ander Joodse skrywers en intellektuele getref het: http://www.deutschlandfunk.de/hannah-arendt-die-denkerin-als-dichterin.700.de.html?dram:article_id=349844

    Dis eers vanaf 1942 dat sy oor die ervarings van die Jode-vervolging, soos ’n vers oor Walter Benjamin se selfdoding-op-vlug in 1940, begin skryf het.

    Hier ’n 2016-stuk uit die Vrij Nederland wat meer verhelder:

    Wat bleef, ook na haar vlucht naar de Verenigde Staten in 1940 en tijdens haar hernieuwde academische carrière aan Amerikaanse universiteiten, was de Duitse taal. Haar boeken schreef ze in het Engels, haar gedichten in haar moedertaal. Want, vertelt ze in het gesprek met Gaus, de Duitse taal zat altijd in haar hoofd en die konden ook de nazi’s haar niet afnemen: ‘Het is tenslotte niet de Duitse taal die is doorgedraaid.’
    Toen Arendt eens gevraagd werd of ze haar gedichten niet wilde publiceren, lachte ze haar diep doorrookte lach en antwoordde: ‘Wacht tot minstens tien jaar na mijn dood.’

    Het werden er veertig: eind vorig jaar verschenen 71 gedichten van haar in de bundel Ich selbst, auch ich tanze.

    Dat Arendt niet stond te juichen bij het idee dat haar poëzie in de openbaarheid zou belanden, doet vermoeden dat ze geen al te hoge dunk had van haar dichttalent. Wat haar er overigens niet van weerhield bijna een leven lang gedichten te blijven schrijven.

    Het gros van de nu gebundelde gedichten is eerder gepubliceerd, in Arendts Denktagebuch, of in de briefwisseling tussen haar en Martin Heidegger. In Ich selbst, auch ich tanze staan ze genummerd, zonder enige context, verdeeld over de perioden 1923-1926, haar studietijd in Marburg, en 1942-1961, toen Arendt in de VS woonde. Bij elk gedicht zou je willen weten waar Arendt was, aan wie ze dacht, of een titel als W.B. inderdaad naar de bevriende Walter Benjamin verwijst (Ferne Stimmen, naher Kummer/ Jene Stimmen jener Toten/ Die wir vorgeschickt als Boten/ Uns zu leiten in den Schlummer) en welke liefdesgedichten ooit voor haar leermeester en minnaar Martin Heidegger waren bestemd (dacht ze aan hem, toen ze schreef over witte seringen: Sehn wir uns wieder/ blüht weisser Flieder).
    (https://www.vn.nl/in-haar-gedichten-wilde-hannah-arendt-dansen/)

    Die gedigte heet
    Hannah Arendt, Ich selbst, auch ich tanze, Die Gedichte, Piper München Berlin Zürich, 2015

  3. Helize van Vuuren :

    haar werk is plotseling in Trump se VSA glo weer topverkopers, soos veral The Origins of Totaliarism – te make met mag en geweld, en hoe regimes wat mag verloor, of bedreig word, geweld aanblaas (soos ook hier te lande)…

  4. Dis verheugend dat Helize van Vuuren so vinnig en uitvoerig op my (Balt is die naam) se opsetlik kort maar nodige, kommentaar reageer. Inderdaad, wou ek nog verder uitbrei oor Arendt se moedertaal, waarmee sy, netsoos Paul Celan Duits as moedertaal beskou het. al was hy in Roemenië gebore. Helize het baie daarvan afgehandel. Baie dankie.

    Dit was dié twee digters (opsetlike meervoud) se selfde probleem: die taal wat hul besig was ook die taal van ‘n nog onstabiele moederland, hoogsontwikkeld maar vol van diep-gewelddadige stromings met ‘n taal van verbluffende veelsydigheid en komplekse, dikwels absurdistiese sinswendes. Dink aan: “Ich weiss nicht was mir Wurst wäre”, aan Bismarck toegeskryf. Albei het op verskillende tye probeer om die woorde te vind vir hul gevoelens.

    Ek staan gekorrigeer oor my tydsinskatting van die ontstaan van “Droom”. Ek had geen toegang tot al Arendt se gedigte of hul ontstandatums nie. Maar daar was in die mid-twintiger jare in Duitsland reeds nuut-groeiende anti-semitisme vanweë die haglike na-oorlogse ekonomie, slegs later deur die Nazi’s as magsmiddel aangegryp. En dit was al baie ouer. Dink aan Wordsworth se gedig oor die Joodse familie wat hy in 1828 raakloop in ‘n smal sy-klofie van die Ryn oorkant St. Goar.
    …Mysterious safeguard, that, in spite
    Of poverty and wrong,
    Doth here preserve a living light…
    Hy was hom dus al deeglik bewus as ‘n ontwikkelde Engelsman van onstellende Duitse antisemitisme. Dat ‘n familie vir suiwer oorlewing hom moes terugtrek in ‘n klofie onder primitiewe lewensomstandighede. Soos ons San mense van ouds.

    Wat Helize nog nie op reageer het nie is die vertaling van die gedig Droom en die interpretasie van drie woorde wat ek gewaag het. Vir my het dit my doelwit van sêbaarheid baie nader gebring omdat die inhoud nader kom aan wat ek vermoed ‘n soort wanhopige poging uitbeeld om die teenstrydighede in Hanna wese soos ‘n loskop dans uit te beeld. Dus onverlee, lag (dans) ons maar mee.

    .

  5. Helize van Vuuren :

    Wie sal weet en wie kan sê wat presies daar in “Traum” alles die revue passeer? jou vertaling is goed, Bart – maar vertalings is altyd ook verdraaiings, omdat steeds verder weg van die oorsrponklike, en sy klanke en rym en musikaliteit in die oorspronklike taal. Laat ons as vertalers ons geen goue mantels om hang of enige illusies oor die waarde daarvan koester nie…

    Nog ’n paar wetenswaardighede om nader aan die persoon en haar werk te kom:
    1. ’n Boeiende onderhoud met Arendt:
    https://www.youtube.com/watch?v=dsoImQfVsO4
    2. die gedigte kan op amazon.de bekyk en bestel word.
    3. ook van belang vir Versindaba, ’n onderhoud met Arendt oor Bertolt Brecht: https://www.youtube.com/watch?v=V3uNW7s5T8U

  6. Bravo, Balt – ek hou baie van jou ‘”bedrieglike glans”, “sinies aanmatigend” en
    “oormoedige glans”!

  7. @ Helize van Vuuren

    My ou vriend en mentor, aanmoediger, mede-besorgde oor die lot van dié Suiderland en oer-digter Uys Krige het destyds my aandag getrek op dié Franse gesegde oor ‘n vertaling:
    “Quand elle est fidèle elle n’est pas belle et quand elle est belle elle n’est pas fidèle..”. Objektief bekyk, you just can’t win. En tog: dink net aan Uys se monumentale vertaling van Federico Garcia Lorca se Llanto por Ignatio Sanches Mejias. Hier gebruik hy oer-Afrikaans om die passie, donker onderstroom en uiteindelik pynlike berusting van die oorspronklike Spaans weer te gee. Op die keper beskou is Uys se enigste beduidende digterlike vryheid hier sy meesterlike gebruik van sy taal met plattelandse terme, bv. : “…en die liefde, gedrenk in trane van sneeu, verwarm hom op die klipkoppies van die veeplase”, eerder as ‘n meer akkurate letterlike vertaling. Slegs as selfstaande gedig kan ‘n vertaling werklik verantwoord wees. Ek het dit al tientalle jare in my kop en dis altyd ‘n geslaagde “tour de force” by voordragte (ongeveer 45minute. Uitputtend) en werk nou aan die oorspronklike Spaans.

    Soos ek van staanspoor genoem het, vir my moet ‘n gedig sê-baar wees, dat ek sy stemming kan aanvoel en probeer om weer te gee. Met my enkele aanpassings, het ek vatkans op Arendt se gedig en kan ek dit met sy m.i. bedoelde passie sê. Dieselfde geld nou ook vir ‘n voordrag van die oorspronklike Duits, nou onbelemmer deur dieselfde gematigde terme pateties en ironies, wat ek ook die met kleur Afrikaans inhou, meer van die gematigde 20e eeuse Angelsaksies as van die baie meer komplekse en gepassioneerde Duits.

    Engela Geyer wat by die debat aangesluit het, sien dit en dit verheug my. Poësie as litteratuur interesseer my min. Poësie word vir my kuns en waarheid slegs as uitvoerbare “musiekpartituur”. De la musique avant tout chose.

  8. @ Engela Geyer

    Goed om te verneem dat “iemand daar buite” verstaan wat ek bedoel. Dit gaan oor poësie as lewende kunsvorm, nie akademiese spitsvondighede nie. Is die “iemand” self digter wat publiseer (my onbekend), ungepubliseerde digter, of sommer net ‘n kindred spirit?

  9. Balt, dankie vir jou belangstelling. Sommer n verdwaalde kindred spirit wat al 1971 landuit is – eers in Parys, toe vanaf 1972 in Duitsland (eers 3 jaar in Freiburg im Breisgau, sedert 1974 in Berlyn). Vertaler en liefhebber van
    die digkuns. Groete en beste wense uit die Noorde.

  10. helize van vuuren :

    om gedig te vertaal
    is om die meisie uit te trek
    te kyk of sy kliere ook tot beweging bring
    sonder rym of maat van klere

    —- breyten breytenbach Katalekte 2012 (uit: “frottages”)

  11. Breytie ken seker hierdie lymerick:

    There was a young lady fron Chisester
    that made all the saints in their niches stir –
    one morning, at matins
    a heave of her satins
    made the bishop if Chisester’s breeches stir

    Groete

  12. Breyten Bewebors :

    “Ah… but how to reach the gap?”

  13. Breyten Breytenbach :

    “Ah… but how to reach the gap?”
    Bewebors

  14. Helize van Vuuren :

    “The best craftsmanship always leaves holes and gaps in the works of the poem so that something that is not in the poem can creep, crawl, flash, or thunder in.” – Dylan Thomas, Poetic Manifesto

  15. You can kiss a nun once.
    You can kiss a nun twice
    You can even kiss a nun three times…
    but you can’t get into the habit!

    Du ridicule au sublime.
    Hi Breytie
    Noudat jy ook hier rond kom snuffel wil en net vir jou beken dat ek tientalle jare lank jou digterlike ontwikkeling met belangstelling en waardering gevolg het. Het selfs van jou gedigte by voordragprogramme ingesluit. maar het ver agtregebly met jou meer onlangse produksie.
    Ek is vyf jaar jou senior en was in die gryse verlede besig om ‘n bietjie poësie te beoefen maar ‘n loopbaan in die natuurwetenskappe het my heeltemal oorrompel. Nou eers, van sorge en moeite vry, my weer na my jeugbelangstelling terugvoer.
    “Lass dem Anfang mit dem Ende
    sich in eins zusammen ziehen –
    schneller als die Gegenstände
    selber dich vorüberfliehen…”

    Jou lieflingsgedig is en bly vir my nog altyd Naakwees. Daarin bereik jy in die Afrikaanse taal ‘n hoogtepunt met die deurleef van die transendente, waar jy die leser, die voordraer of speler saamsleep en nie loslaat nie.

    “Danke, dass die Gunst der Musen
    Unvergängliches verheist
    den gehalt in deiner Buse
    und die Form imdeinem Geist!”

    Right. Ek het my sê uiteindelik gesê.
    Over and out.

Los kommentaar