Wicus Luwes. Om ‘n vergeetagtige deur wit te verf

Daar is meer aan ‘n deur as ‘n stuk hout en ‘n handvatsel. Hoeveel keer het jy al vergeet wat jy wou gaan doen, alhoewel jy weet dat jy iets in ‘n spesifieke kamer moes gaan doen het? Hoeveel keer het jy al die yskas se deur oopgemaak en vergeet wat jy in die yskas gaan haal het? Hoeveel keer het jy ‘n goeie idee vergeet teen die tyd dat jy by jou studeerkamer uitkom? Ek herken dikwels mense, maar kan hul nie altyd plaas tensy ek my weer in ‘n spesifieke konteks bevind nie – ek onthou dikwels eers waar ek iemand gesien het wanneer ek deur die sportklub of werk se deur loop. Noem dit maar ouderdom, maar ek glo dat ‘n deur deel van die konteks is.

Die kleur van ‘n deur

Die vraag is of die kleur van die deur iets met so ‘n konteks te doen sou kon hê. ‘n Geverfde voordeur verklap meer oor jou persoonlikheid as wat jy sou kon raai. ‘n Blou deur is die gewildste volgens ‘n Amerikaanse webblad. Die inwoners van ‘n huis met ‘n blou deur sien sy huis as ‘n toevlug; so ‘n deur bied kalmte en rustigheid in ‘n gejaagde, uitputtende wêreld. ‘n Groen deur verteenwoordig weer harmonie, veiligheid en goeie gesondheid. ‘n Swart deur straal krag en gesofistikeerdheid uit. ‘n Rooi deur dui natuurlik op ‘n lewendige ruimte, ‘n plek vol energie. ‘n Bruin deur kan gemengde boodskappe stuur: aan die een kant kan ‘n deur wat bruin geverf of vernis is warmte en stabiliteit uitstraal. Aan die ander kant kan ‘n donkerder bruin ‘n soeke na privaatheid uitspel.

Die energie van ‘n deur

Die voordeur is die mond van Chi volgens Feng Shui. Energie vloei daardeur in jou huis in. Feng Shui reken dat die rigting waarin jou voordeur wys kan help met die keuse van verf vir jou deur. ‘n Voordeur wat oos front, behoort aardse kleure soos groen of bruin geverf te word. Deure wat suid front kan baat by vuur-element kleure: rooi, geel, pers en oranje. Wit of grys kan werk vir deure wat wes front. Noord verteenwoordig water: swart of blou kan vir hierdie rigting werk.

Ode aan die deur

By die ingang, sygang –
oraloor, by die voorkant
in, sydelings of agter uit, as toegang
tot al die ruimtes van gang:
die deur.

En die deur open op vertrekke
wat uitloop op die oopgelate deure
van agterkamers en ons loop
deur deure van hout, staal of glas –
enkeldeure, dubbeldeure, skuifdeure
of geheime deure, verbode deure
sonder sleutel of greep.

Uiteindelik, wanneer die stok
daarteen tik, die deur aan die bopant
wat oopkraak, die deur van jou
droom, die deur wat almal vrylaat

die deur wat inperk, toesluit, bewaar –
gegraveerde deure, toegespykerde deure
traliehekke (deursigtig soos deure).
Aan die einde van die tyd

oopgelaat vir die nag
om sterre binne te laat, die deur
wat van jou ‘n deur maak, smal of wyd.
En ek loop jou deur of loop
deur jou na die oorkant, anderkant

dit wat moontlik is verby –
my oomblik met jou in hierdie
tydskarnier

wat uiteraard eensaam is.
Soos ‘n deur.

deur Louis Esterhuizen uit ‘Sloper’, Protea Boekhuis, 2007

Die Kombuisdeur

My soeke na ‘n kleur vir die deur het nie eers die boonste laag verf van die internet verwyder nie. Ek het baie raad oor voordeure gekry, maar ek het gesukkel om raad met kleur vir ‘n kombuisdeur te kry. Ek is seker dat daar ‘n vloei van energie by die kombuisdeur moet uitgaan of inkom. Die kombuisdeur is die werksdeur, die troeteldierdeur. Die reuk van kos op die stoof ontsnap deur die kombuisdeur. Ek het onlangs ons huis se kosbuiskaste verskuif en wit geverf. Ewe skielik het die eenvoudige houtagterdeur nie meer gepas by die res van die kombuis nie. Die kleur van die kombuisteëls is groen, eend-eier groen om volgens die beskrywing op die boks te gaan. Ons het dit oorweeg om die deur eend-eier groen te verf. Ons het dit oorweeg om ‘n nuwe deur te kry. Op die ou end, het ons besluit om die deur wit te verf – ‘n dood-eenvoudige wit. Die keuse het op wit geval omdat ons kombuis redelik donker is.

Die Kosyn-effek

Ek het ‘n interessante artikel gelees oor die effek wat deure op ons het. Die artikel het gegaan oor ‘n studie deur Gabriel Radvansky, Sabine Krawietz and Andrea Tamplin van die Universiteit van Notre Dame. Die studie het bevind dat deure ons geheue aantas: dit word die ‘Doorway-effect’ genoem. Ek het dit vry vertaal na die kosyn-effek. Die studie het probeer bepaal wat die rede is waarom ons iets vergeet wanneer ons van een kamer na die volgende beweeg. Die effek gebeur blykbaar wanneer fisiese en geestelike omgewings verander. Dit is ook nie noodwendig moontlik om iets te onthou deur bloot terug te gaan na ‘n vorige kamer nie. Ek wonder straks wat die oer-rede hiervoor sou wees. Wat het ons oervoorvaders vergeet of agtergelaat by die grot of spelonk se ingang? Hoe kan ons dit tot ons voordeel gebruik, noudat ons dit weet? Kan ons ‘n deurgang gebruik om van slegte herinneringe ontslae te raak? ‘n Soort terapeutiese deur. Ek wonder hoeveel dinge ek al vergeet het deur by die kombuisdeur in te gaan; Hoeveel slegte dae buite die kombuisdeur agtergelaat is. Ek wonder wat Feng Shui sê oor die energie van ‘vergeet’. Miskien kan die kleur van die deur die energie kanaliseer om beter te onthou of beter te vergeet. Ek wou eintlik nog iets hieroor geskryf het, maar ek het dit ongelukkig vergeet.

 

If the doors of perception were cleansed every thing would appear to man as it is, Infinite.
– deur William Blake uit The Marriage of Heaven and Hell

Bronne:
1. Esterhuizen L, Sloper, Protea Boekhuis, 2007
2. Internet. http://www.paintquality.com/en/articles/2012/05/five-popular-front-door-colors-and-what-they-might-say-about-you
3. Internet. https://www.scientificamerican.com/article/why-walking-through-doorway-makes-you-forget/
4. Internet. https://www.thespruce.com/pick-your-perfect-front-door-color-1274393

Bronne van prente:
1. https://www.pinterest.com/pin/146648531591880880/?lp=true
2. http://www.propertycasualty360.com/2016/02/26/as-google-shuts-down-google-compare-new-doors-open

Bookmark and Share

Los kommentaar