Nuwe publikasie: Aantekeninge teen die skemeruur (Clinton V. du Plessis)

omslag

Aantekeninge teen die skemeruur

Clinton V. du Plessis

In hierdie bundel maak die ouerwordende digter aantekeninge teen die naderende skemeruur. Hy loop , deur sewe afdelings,  terug op die spoor van sy lewe en hierdie land, tree in gesprek met ander digters en worstel met die bagasie van taal en die onmag van woorde. (ISBN: 978-0-9946913-5-4, 210 mm x 148 mm; Sagteband, bladsye 145;  Cordis Trust Publikasies, 2017; Prys R200, posgeld ingesluit). Bestel vanaf : clintonvduplessis@gmail.com

 

Taalles 101

 

jy vergeet

die taal was in boipatong

(the place of hiding)

aan ’n stewel wat snags ’n deur

in sy moer kon skop

of koevoet

of in die loop van ’n pistool geknaldemper

op die tweede verdieping van ’n vermeende skuilhuis

in ’n buurland

met twee verdwaasde kinders

wat wees wonder

oor die stillewe

van hul ouers se bloedbedruipte lyke op die vloer

 

die taal het ’n balaklawa gedra

as die derde mag in die donker lokasies van teeninsurgensie

die sweterige hande met kapmesse in mynhostelle

het mombakkies aangesit die aangesig

askariswart gesmeer

handskoene

het die koverte vingerafdrukke van afsku verbloem

 

die taal was ’n fopmyn

 

’n briefbom fraai vermom

 

(Uit: Aantekeninge teen die skemeruur. Clinton V. du Plessis. 2017)

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Nuwe publikasie: Aantekeninge teen die skemeruur (Clinton V. du Plessis)”

  1. Elza Lorenz :

    Sjoe. Hy tref soos ‘n vuishou in die wind.

Los kommentaar