Wicus Luwes. Erfenisdag: Gaste vir ‘n braai

Ek het vandag saam met my familie op die strand gaan braai. Ek wonder toe in die stilligheid wie ek sou nooi om saam met my te braai, indien ek enige persoon sou kon nooi. Ek verstaan dat Jan Braai graag wil hê dat ons die gedeelde erfenis moet gebruik om mekaar beter te verstaan, maar ek het besluit om gaste te nooi wat ek graag wil ontmoet.

Ek sou graag vir Desmond Tutu wou ontmoet. Hy is vir baie van ons ‘n gedeelde gewete. Hy skroom nie om verkeerde dinge op hul naam te noem nie. Die beeld wat ek van hom oor die televisie vorm, is dat hy nie ongemaklik sou wees by ‘n braai nie. Hy het al uitgehang met die bekendste en grootste name, maar ek kry die idee dat hy ‘n gewone ou ook op sy gemak sal stel. Ek is seker dat hy ‘n paar interessante stories sal kan vertel: die soort stories wat nie altyd polities korrek sou wees voor media en ander groter geleenthede nie. Boonop is Tutu ook deesdae die beskermheer van Jan Braai se Erfenisbeweging.

 

tutu

‘n duif as jou gewete
vlieg moeilik in die nag
sy voetspore is klein
tussen die ander
en stil. maar die vlerke

                                          o die vlerke

‘n duif as my gewete
en somtyds
word die duif
‘n man

 

Foto: Braai.com

Die dinamika van enige sosiale byeenkoms, draai om die samestelling van die gaste. Daar moet ook iemand wees wat die ys kan breek. Ek sou Nataniël hiervoor nooi. Hy het deesdae die rol van Emsie Schoeman begin vervul en hy weet ‘n ding of twee oor etiket. Dit is juis waar die probleem lê: aan die een kant kan hy die ys by die braai breek, maar ek sal redelik bewus voel oor my etiket (of gebrek daaraan) as hy dalk op sou daag. Die skaal swaai egter in sy guns met sy verbintenis aan ‘n groot winkelgroep se kampioen boerewors. Wat is ‘n braai sonder lekker boerewors?

‘n Derde gas sal Marlene van Niekerk wees, want ek sal graag die gedigte wat so dikwels in my gedagtes praat in haar eie stem wou hoor. Ek vermoed dat van die gedigte ‘n ander/nuwe betekenis sou kry indien ek dit in haar stem kon hoor. Ek sou ook graag wou hoor wat die stories agter sekere van die gedigte sou wees.

Daar is iets aan ‘n braai wat geen ander maaltyd het nie: dit is informeel, maar die meeste mense hou daarvan. Dit het seker met die sosiale element te doen. Ek vermoed die hipnotiese effek van vlamme het ook ‘n rol te speel. Ek wonder onwillekeurig wat die feniks sonder die vlamme sou gewees niet. Ek hoop dat die Mzanzi-feniks op hierdie Erfenisdag kan herrys, want die kole word op die oomblik veels te veel gesmeul deur die as.

 

is dit dan al waaruit ‘n vuur bestaan?
die vlam
die hout
die suurstof

is dit dan al vuur wat in ons bestaan?
die dood
die as
die feniks

 

Bo: Digter, Johann Lodewyk Marais, braai in stormsterkte wind in die NKW (foto voorsien)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Erfenisdag: Gaste vir ‘n braai”

  1. Mense soos jy wat die duif se vlerke vry laat klap en die kole aan die gang hou, verseker hoop bly vasstaan in die sterkste winde.

  2. Wicus Luwes :

    Baie dankie vir die lees en vir die pragtige woorde, Renée

Los kommentaar