Resensie: oop sirkel (De Waal Venter)

 

Resensie : oop sirkel, deur De Waal Venter. (Naledi, 2017, ISBN: 978-0-928316-73-5, Formaat: Sagteband, 121pp.)

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

 

In die vier dekades sedert De Waal Venter laas van hom laat hoor het as digter, het sy naam in hierdie verband slegs ietwat terloops voortgeleef as skepper van liefdesverse en as mederedakteur van die vrysinnige “little magazine” Wurm. Meer bekend was sy bydraes as kinder- en jeugverhaalskrywer, as dramaturg van hoorspele en toneelstukke, en as kortverhaalkunstenaar.

In oop sirkel kom hy vorendag met ’n versameling gedigte wat sterker in die Afrikaanse literêre geheue behoort voort te leef as sy vroeëre Kiem, Pols en Klawer (laasgenoemde met D.P.M. Botes en Menno Stenvert as mede-outeurs).

Die buitebladontwerp van die jongste bundel, wat ook as voorplatontwerp dien, suggereer iets soos ’n stellêre gravitasiekolk. Assosiasies wat dáármee saamhang, en op die verse in oop sirkel betrekking blyk te hê, is die gebeurlikheid dat (oënskynlike of veronderstelde) teenstellings soos ondergang en ontstaan, identiteit en nivellering, werklikheid en onvoorstelbaarheid kan ineenskuif, tesame kan bestaan – al is dit momenteel. Redelikheid, emosionaliteit en sintuiglikheid as fasette van, uiteindelik, dieselfde menslike belewing; wetenskap, filosofie en kunsbeoefening – dié instrumente of vermoëns word uitgebeeld as ewe openbarend van die wonderlike en dikwels onvoorspelbare bestaansdimensies wat vanuit die alledaagse te beleef is. Die belangrikste voorwaardes blyk ’n beskoulike en belewingsoopgesteldheid, en ’n wil tot (self-)ontdekking te wees. So lui dit byvoorbeeld in die prosagedig “Die naakte filosoof, die kaal wetenskaplike, die ongeklede digter” in die slotafdeling van die bundel:

[….] Die wetenskaplike digter is ’n wetenskaplike soos alle ander wetenskaplikes wat glo wat hy ontdek het om te glo; hy eksperimenteer in sy gedagtes en hy neem waar met fanatiese akkuraatheid om die patrone te ontdek wat hy verkies. Hierdie filosofiese wetenskaplike wat ook ’n self-geleerde digter is, trek die werklikheid aan as ’n T-hemp met die slagspreuk: hieronder is ’n naakte man.

Die “[p]oësie as ’n organisme” funksioneer – aldus die gelyknamige gedig in afdeling VII – as één wyse van belewing van die verskynsels en stelsels in die skepping. Dit het sy eie soort “lewenskrag” of “poëson”, funksioneer op ’n manier soos

die pragtige liggaam

van ’n naakte atleet

wat ons vertel

van dinge

waaraan ons nooit voorheen gedink het nie.

Ook ander beelde word in daardie afdeling benut om die ontstaan en funksie van die digkuns te vergestalt, waaronder die van die “verwantsjagter” (assosiatiewe verbandlegger), van die “industriële proses”, van die “maaltyd”, van ’n lemoen, ’n oopgebreekte vy en selfs ’n trop skape. In “Die ongetemde gemoed” (ook die titel van die betrokke afdeling) hekel Venter die stelligheid waarmee ’n verskeidenheid poësieopvattings gehuldig word. Tog blyk dat dit die resultaat van verrassing en/of treffendheid aangaande wat ontdek of blootgelê word, is wat Venter meestal as poëtiese funksie op die voorgrond stel. Soos hy dit aan die slot van “Kies versigtig” verwoord:

[…] daardie van hulle wat byt,

die stil woorde wat hulle oë knip in die lig –

net met hulle, net in ooreenstemming met hulle

kan jy ’n digter wees.

Wat op poëtiese of ander wyses ontdek of beleef word, bly egter oombliklik en vlugtig van aard. Die “sirkel” bly “oop”; geopenbaarde essensies of identiteite, ook die artistieke, emosionele of rasioneel-wetenskaplike vasstelbaarheid of vaslegbaarheid daarvan, is voorlopig. Vergelyk:

Tyd neergeskryf

Die stukkie papier

word in die straat afgeskop,

onvoorspelbaar

deur die onsigbare wind

wat pluk aan die lokke

van ’n klein wilg,

die oorblyfsels van ’n spinnerak

aan die palisade [sic] laat fladder,

’n uitdagende wimpel na ’n nederlaag.

Om daardie papiertjie te vang

moet ek die hek oopmaak,

verby die wilg hardloop

in die straat af,

skrum teen die wind

se spottende skouer.

Waar is dit?

Ek wil sien wat ek daarop geskryf het:

die tyd en posisie van hierdie oomblik.

Die gevoelige intellektueel, die kunssinnige wetenskaplike – dít is beskrywers wat by my opkom aangaande die digterspersona wat uit hierdie bundel uit die verf tree. Daar staan herinneringsgedigte in afdeling I (“Die twintigste eeu sal nooit verbygaan nie”); en (soms eroties getinte) liefdesverse in afdeling II (“Liefde se geure”). Dit is egter die hoofsaaklik beskoulik-beeldende digkuns in die daaropvolgende vier afdelings (en die reeds vermelde poëtikaal beskoulike sewende bundelafdeling) wat myns insiens die meeste boei.

In ooreenstemming met die sirkel-motief wat deur die bundeltitel ingegee word, is daar kwalik duidelike tematiese skeidingslyne te trek tussen waaroor dit in afdeling III tot VI gaan. Breedweg gesien, lyk dit of nuut sien of opnuut kyk in “III En sien die wêreld” die meeste kalklig kry; verbeeldingryke, assosiatiewe voortskepping op die reeds geskapene weer in “IV Voortgesette skepping” (juis ook om te verhoed dat dit tot niksbeduidendheid verval);  die spel (en dikwelse interafhanklikheid) tussen verbeelding/verwondering en wetenskaplike/logiese denke kom aan die beurt in “V Die res is net seëlversameling”; en ’n speels- én tragies-ironiese blik op rasionaliteit oorheers in “VI Noukeurig dink”. Die tien prosagedigte van die ongenommerde slotafdeling belig verdere aspekte van die genoemde tematiekterreine.

’n Soort strewe na onbevangenheid van blikhoek, na afgekoelde werklikheid- en lewensbetrokkenheid, na ’n half-naïewe perspektief op wat is of sou kon wees; veronderstellings waartydens niks beslis hoef te word nie , en humorvolheid dus gemaklik te pas kom – dít alles spreek vir my uit hierdie boeiende bundel. Waarskynlik vandaar dat van die aandringende sosiopolitieke kwessies van die vorige en huidige Suid-Afrikaanse bestelle feitlik geen spoor in die bundel te vinde is nie. En dat veral die benutting van verwysingsgoed en beeldspraakmateriaal uit die natuurwetenskaplike veld, in die besonder wat die fisika betref, so funksioneel aandoen.

Retories gesproke, is derhalwe weinig van die affekwendinge te bemerk; is die dikwels aantreklike beeldspraak ten spyt, ’n sekere ondergestileerdheid en ’n losser versstruktuur dominant. Nie verniet nie sluit die bundel met die vermelde prosagedigte. Selfs ’n strofe waarin die spreker dit het oor sekere vaste versvorme (slotstrofe van “Die gedig as ’n trop skape”), stu op losse verstrant voort:

Veertien in hierdie groep –

vier, vier, drie, drie,

’n sonnet;

vyf en sewe en vyf,

’n haikoe;

nog ’n groep … ses en twintig

wat in los groepe draf –

’n vry gedig, hierdie een,

wat ongeërg

betekenisse uitblêr.

Soms versand van die verse ietwat in ’n enkelgelaagdheid van betekenisstrekking; is daar gedigte wat myns insiens nogal teleurstellend afloop (“Kragtige swak krag”,  “Klanke en stem”, “Ek glo dit is nodig”, “Aantekeningboek van ’n digter”, enkele van die prosagedigte).  Daarby is heelparty tekortkomings aan te stip wat teksredigering betref. Dit is alles ’n jammerte.

Tog ondergrawe dit nie die waardering wat ek vir dié laat-digwerk van De Waal Venter het, alte ernstig nie.

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar