Resensie: Vuurvas (Carel Anthonissen)

VUURVAS – Carel Anthonissen. (Naledi, 2017)

Resensent: Marlies Taljard

Die eenvoudige voorplatontwerp met vier brandlelies (die bedreigde Cyrtanthus ventricosus) teen ‘n swart agtergrond soos ‘n afgebrande veld, is die eerste interpretasiesleutel tot Carel Anthonissen se bundel Vuurvas. Die tweede strofe van die motto-gedig, “Gratitude” speel in op die aard en wese van die brandlelie wat presies 9 dae na ‘n brand sy blomme uitstoot:

You woke the dormant seed

that silentlty through barren

            years persisted

Ook die titelgedig, “Vuurvas”, teen die einde van die bundel bevat aspekte wat loutering en groei deur vuur suggereer. In ‘n afdeling waarin verganklikheid en sterflikheid die botoon voer, is die slot van dié gedig treffend:

ons speel kordaat met

vuur

Ook elders in die bundel word na vuur as ‘n pynigings-, louterings- en groeiproses verwys, onder andere in “Voetspoor” en “Baken” – opgedra aan oom Bey wat die spreker “in vúúr / gedoop” het. Organiese verbande word deurgaans gelê met stilte en eensaamheid as fasette van loutering en beproewing en dit is ook eienskappe wat die digterspersona wat hier aan die woord is en deur wie ons die hartklop van die bundel hoor, hoog ag. Die digterspersona is dié instansie na wie in gedigte as “ek” verwys word. Dit is nie noodwendig die reële outeur (in hierdie geval Carel Anthonissen) nie. Maar: wanneer sekere persoonlike eienskappe oor die reële outeur op ‘n flapteks verskyn, verlei dit die leser om (ten minste in sommige gedigte) die “ek” van die gedig (die digterspersona) met die reële outeur gelyk te stel. Omdat die flapteks ‘n deel van die boek is en die gegewens wat daarop verskyn deeglik deur die outeur en die uitgewer beplan is en doelbewus op daardie plek openbaar gemaak word, is dit by tekste soos die onderhawige vanselfsprekend dat daar ten minste ‘n mate van oorvleueling tussen die reële outeur en die digterspersona sal wees. In Vuurvas hoor ons die teoloog en gevoelige intellektueel Carel Anthonissen se stem duidelik deurslaan en my insig is dat die digter dalk bewus en onbewus sommige gedigte geskryf het soos dit van hom as teoloog verwag word, eerder as om na die stem van die digter in hom te luister, dalk weens die voorbehoud wat in “’The cloud of unknowing’” gestel word:

mense moet nie te naby kom nie

veral nie as jy heilige goedere moet

verkwansel of beskerm nie

want mense wat téén jou staan,

kan sien (…)

Daarom dalk dat die onegtheid in so baie gedigte deurslaan en die afloop van gedigte wat sterk begin en geweldig plofbare potensiaal het, dikwels met die dominee-weergawe eindig, soos onder andere “Onaantasbaar” wat handel oor ‘n rusie met ‘n geliefde wat dreig om die spreker te verlaat. Hiermee wil ek nie die ironiese relasie tussen die verwagting van die leser en die teenstellende afloop miskyk nie, maar op die duur bewerkstellig dié tegniek ook ‘n soort frustrasie by die leser omdat die spanning nooit ontlont word nie.

Wat beeld- en metafoorgebruik in die bundel betref, wil ‘n mens amper sê dat ons beelde en metafore uit die Bybel verwag – waarvan daar inderdaad ‘n hele aantal is. Ek dink byvoorbeeld aan intertekste soos die Samaritaanse vrou (Johannes 4:1-42) in Samaritaanse vrou, die selfverwyt van ‘n pa in Jefta se wroeging na aanleiding van Rigters 11:30-40 en die vreugde én afguns wanneer ‘n verlore seun huis toe kom in Terugkeer (Lukas 15:11-32). Maar daar is ook die sensuele beelde wat veral figureer in die eerste afdeling van die bundel “Bont krale en ‘n rok wat sing” waarin 18 vroue besing word. Daar is die vrou van die nag in Roep, die Kriptogravin wat “met ringe en ‘n omkaprok wil / dans”, maar “dwarsdeur die nag / die / aftik van ‘n staanhorlosie in / die gang” hoor. Daar is Luminitsa: “elke oggend vroeg skryf sy joernaal, / die dun en sagte uur wanneer die gode / kom” en dan die vrou wat die spreker tot selfkennis lei. Die sterk beeld van die labirint as konsep van selfkennis en spirituele ontwaking is hier gepas:

 

Labirint

 

hy wig hom saggies in by hierdie

oopgesperde oog

 

loop nog ‘n keer die afgeskeepte

reis

 

raak op die spoor wat uitboog,

draai, terugwaaier na die middel

 

verlore, maar bewus van haar

wat peinsend op hom afstap,

deurskynend in ‘n rok wat kleef

en bol

 

dan omdraai, terug, ‘n enkele

skrede saam

 

dít is die groot geheim:

 

die saamhurk in ‘n kern waar

die koninkryke daag

 

‘n lewe laag vir laag geskil word

 

met ‘n sagte bries in die gesig,

‘n rooskwarts teen die wang

 

en dan, terwyl die bome rondom

hom in kleur verskiet

 

die oopgaan van die oë

.

Wat my getref het, is die enkele gedigte met sterk primordiale beelde en simbole, soos in “Diere”:

die gevaarlike tyd is die alleentyd

wanneer die diere ontwaak en

uitkom

.

die tande slyp en geruisloos afsak

om die hart te verteer

(…)

Dit is egter jammer dat die magiese begin van die gedig as’t ware in sand wegsyfer deur ‘n byna apologetiese slot. Dieselfde geld vir ‘n gedig soos “Skok” waarin dit lyk asof die digter skrik vir ‘n kragtige emosie soos “die skuim van jou wrewel … raas in my gesig” en dit dan gou-gou met goud omfloers en mooi-praat voordat dit geleentheid kry om sy eie (vernietigende/suiwerende) loop te neem. Van suiwering deur vuur is in sulke gedigte, waarvan daar verskeie voorkom, ongelukkig geen sprake nie omdat die digter heeltyd op eiers loop en nie instaat is om sy demone end-uit te konfronteer nie. Daarenteen slaag hy egter deur aktivering van argetipiese simbole daarin om by die gedigte “Dood in die huis” en “Vreemde droom” die bisarre, surrealistiese bestaansruimte van die drome optimaal te ontgin en vol te hou:

Vreemde droom

 

hy is die eienaardige,

die een wat engele sien

 

so groot soos stadsgeboue,

en ook duiwels, swart,

geslepe, onverwags.

 

hy dra vannag die dood

weer met hom saam

 

sy eie lyk, drie dae reeds

gestorwe en stinkend van

verweer.

 

die las daarvan raak nou

te veel

 

dit knak sy rug, beroof hom

van sy asem

 

drie dae al bewaar hy dit,

bly traag om die vermaerde

kleinood prys te gee

 

die maaiers sal dit weldra kry.

 

Op dieselfde stramien funksioneer ook die ses gedigte in die afdeling “Om die luike oop te stoot” wat aan die digter se vader gerig is, ofskoon hier dikwels noodsaaklike inligting ter interpretasie ontbreek. Ek het ook gevoel dat die onderliggende drif en onderdrukte emosies wat soms in dié gedigte deur die oppervlak breek, meer oortuigende gestalte kon kry en te dikwels eindig die gedigte teleurstellend, soos “Oor onreg” waarin die belofte van blitse en onweer dreig:

(…)

maar die vonk wat jou tot bloedende arbeid

‘n hele dag gedryf het, het nou gegroei tot ‘n

vlam

.

‘n vuur wat nie langer omgee vir grensdraad

of tyd, maar saam met die koue aandwind

opstaan teen ‘n hol belofte

.

Uncle, jy het nie reg gemaak nie!

(…)

En dan volg ‘n relaas wat die leser nie verstaan nie omdat hy/sy nie weet wie Uncle is of wat hy gedoen het of waarom die vader bitter is nie … nog ‘n verspeelde geleentheid waar die onweer weggetrek het en barre aarde agtergelaat het.

Oor die algemeen bestaan die retoriese inhoud van die bundel uit verhale en indrukke wat deur assosiasies en ironieë op mekaar inspeel en koherensie in die bundel as geheel bewerkstellig. Enkele minder geslaagde gedigte oor sosiaal-politieke kwessies duik op waarin die digter egter – soos ook elders in die bundel – nie daarin slaag om die persoonlike belewenis te transendeer tot poëtiese gegewe nie. Enkelgelaagdheid bly ongelukkig in die meeste gedigte ‘n tekortkoming. In ‘n poëtiese teks soek ‘n mens na meerduidigheid, meerstemmigheid en suggestie. Daarvoor is die bundel nog te woordryk en lei grammatikale verwarring eerder tot onbegrip, soos ook die baie vae, geykte omskrywings en persoonlike voornaamwoorde waarvan die antesedent ontbreek. In ‘n gedig moet die digter instaat wees om met so min as moontlik woorde so veel as moontlik te sê sonder om die leser te verloor. In gedigte soos “Oor onreg”, “Oor geloof”, “Blind” en “Terugkeer” kon hierdie leser nie die kloutjie altyd by die oortjie bring nie, omdat noodsaaklike woorde of inligting ontbreek het. Dit is ‘n kuns om die denksprong wat die leser moet onderneem vanaf die gegewens in ‘n gedig tot by ‘n interpretasie korrek in te skat. Hiervoor blameer ek die uitgewer en die finale redakteur.

Wat rubrisering betref, is die bundel ingedeel in vier afdelings met titels ontleen aan versreëls  wat in dié betrokke afdeling staan. Die eerste afdeling, “Bont krale en ‘n rok wat sing” fokus op vrouefigure wat die digter op een of ander wyse beïnvloed of beïndruk het. In die tweede afdeling, “Om die binneluike oop te stoot” gaan dit oor onthou: van kindwees, ouers, jeug …, terwyl die derde afdeling, “Die verskriklike tamboeryn” gedigte bevat waarin kwessies soos skuld, vrees, aftakeling, geweld en magsmisbruik verreken word. Die laaste afdeling, “Kordaat met vuur” is myns insiens die sterkste afdeling van die bundel en fokus op die problematiek van oudword, aftakeling, siekte en sterflikheid.

Verstegnies gesproke het Anthonissen daarin geslaag om in ‘n eenvoudige en gestroopte styl te skryf, hoewel strofe- en reëllengte tog soms afgewissel behoort te word om eentonigheid te voorkom. Anthonissen het beslis ‘n aanvoeling vir die musikale onderbou van poësie en sy gedigte is dikwels besonder klankryk. Eindrym en binnerym, saam met alliterasie en assonansie, word met oorleg en sinvol gebruik om tegnies goed afgewerkte gedigte tot stand te bring. Waak egter teen oorstilering en ‘n gepaardgaande verlies aan segkrag. Verseindes en enjambemente is oordeelkundig beplan en lewer ‘n besondere bydrae ten opsigte van klemlegging en betekenisgewing.

Vuurvas is inderdaad – soos Marlene van Niekerk dit op die agterblad stel – ‘n “meditasie en belydenis wat die ironie en paradokse van die bestaan nie uit die weg gaan nie.” Dit is ‘n keurige bundel waarvoor ook die uitgewer geloof moet word; ‘n bundel wat nie daarop aanspraak maak om “hoë” letterkunde te wees nie, maar wat beslis geniet sal word deur diegene wat gedigte vir inspirasie en plesier lees.

Ek sluit my resensie af met my gunstelinggedig wat aangryp deur sy eenvoud:

.

Bejaard

 

vreemd tog dat jy wat my

vroeër jare veerlig kon

dra

 

diep in jou lyf en sterk

 

en sonder moeite

tot die lig gebring het

 

nou sukkel om laatnag

jou sleutel

 

deur ‘n enkel slot se spleet

te pas

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: Vuurvas (Carel Anthonissen)”

  1. Joan Hambidge :

    Vir my is daar ‘n handvol aangrypende mooi verse,
    soos “Wintersaandgebed” en “Wete”, daar waar lamentasie, belydenis en meditasie een word.

  2. Waldemar Gouws :

    Joan, ek moet sê, jou sintese van die drie verdigte dissiplines klink so moeilik realiseerbaar. Ek sal die verse moet lees.

Los kommentaar