Emma Bekker. Die laaste sê
Die laaste sê
My ouma het ons op ’n windgekotste dag
uit strandhuismuf gejaag, om strandlangs te loop speel.
Snotsandspore op bolippe,
stofverstopte traankliere,
herekleinekinderbende,
besetenevangadaraseeskuim om enkels,
middeloorontstekingtrotserend,
het ons vir skaars babatoonskulpe
gekrap in die loopsand van die golflyn,
die streep tussen bloubibber en plesierril
so dun soos die sonrokkie onder my handdoekstof strandjakkie.
Ouma was bekommerd oor die sluipaanslae van die duiwel,
die skerpsteek van die son op wit velletjies,
die uitlokkendheid van loslanghare,
die vuurklip van lostonge. Die gesoute seewind se gesang
was vir haar gewyd: “Nader, my God, by U.”
“Eer jou vader en jou moeder,”
het my ma se mond gebodgesnoer
oor Ouma se windgeteisterde telgtoer.
Daar bly Ouma sit,
gestrand in my limbiese streek,
veramber in ’n laaste seevakansie,
haar glasoog op ander einders gerig:
“Kinders moet weet hoe die wind voel.”
© Emma Bekker – 2017
Lekker _ jol met die wind
hoesê lekker jol meddie wind
dit seker mar blind
kannekkie vind
sys so troebelgesind
stomme kind snotstrikgebind