Breyten Breytenbach. Nagpsalms

nagpsalms : WOKNAAKWYFWEESHEID

 gebuit uit MOR se fragmentarium

  wanneer woorde weer oorvertel

    hoe vergeetnagte ‘n skeuthede

     mondvertaal om te klankdink

          in dagverval se wondgedigte    


 

                                                    1 die vel vertel die dagverhaal se naggesang

 

1.1

uit watter taal waar sal ek die sin moet haal

om verwoord-dinge uit te tel en stippelspel op ‘n skaal

wat die oorhelbalans van nag na dag gaan bepaal

 

om die gedig  se donkertes te weeg , en met lig

se verwording ook hierdie gesig, reeds koud, te kaal

bevind om die duisternis reise te onthou ?

 

maar ook dit wat opweeg teen die maan

se leegloopvergeet : ‘n vel papier, mnêma

met jou die yk as ewemens-wig : want jy is ook ek

 

1.2

in die nag hoef jy nie oë toe te maak

vir die wete van ‘n stroom sterre

wat alle ewigheid oorvloei

om die geheime verklarings van bestaan

en niebestaan uit te spel

geplof soos klippies in bodemloosheid

in die oënskynlike oorgange tussen lig

en altydstil se donkerte

 

weer te onthou dat ruimtewinde

daardie sterre klingel soos klippies

opgehang bo deurposte van huise

waarvan die sleutels so swaar is

dat dit jou in die aarde laat sink

 

sing bome ook hierdie refrein

en wanneer velddiertjies die ore spits

is dit om te luister na geruisloosheid ?

 

Celan skryf : die gedig is eensaam op reis.  

wie dit afskryf word ‘n ewige roetegesel.

maar is die gedig dan nie juis daarom

en dus ook hiér

in die nie-sê se geheimenis van ontmoeting nie ?

 

1.2.1

wié se skadu spoel uit die stilte

soos ‘n lyk op papier   

terwyl jy aanhou beweeg

agter die woorde aan

met jou sakke vol klippies

om die ewigheid in te haal

en te stenig sonder

om ‘n wêreld

se geraas te maak ?

 

 

1.3

die oorlewende se beloning is nie

net om die self orgasmies

in die lewe nog dood te laat gaan

aan die ekstatiese komkuns van vergang

in die ewigheid se lêkooi

op die ander oewer nie

 

want aan wat uit die skryfpunt vloei

is dit tog nog ‘n vreugde om hier

verknog te bly : die wit bloei

van narsisme as stigmata se etter

 

1.3.1

‘ewigheid’ se einder is immers

altyd net buite begrip se bereik :

die tyebetekening van sterre

reeds onvoorstelbaar genoeg

 

1.3.1.1

lovers don’t finally meet somewhere.

they’re in each other all along »

(Rumi, Selected Poems)

 

1.4

jy sal my moet verskoon

ek sal nie lank genoeg kan lewe

(niemand kan lank genoeg lewe)

met ‘n losglippende vashou aan helderheid

om reg te laat geskied

al sou dit ook net in die opnoem wees

van al die dooies

 

die geraamtes blootgelê

die lyke wat uit die aarde peul

die ledemaatloses

die gefluit in die bome

die geraamde gesigte

dié wat tussen blaaie gebêre

nie begrawe gaan word nie

dié wie se woorde wurms is

dié wat onthou moes wees

 

om die lewendes nie eens te noem nie

 

dié wat aan deure klop

dié wat hul vingers afvee

dié wat agter vensters gebare maak

dié wat langs paaie loop

dié wat in lense staar

dié wat in bome sit en fluit

die gebreklikes

dié wat hande klap

vir die klein bobbejaantjies

sien ?

ek kon nie aanhou vashou nie

 

1.5

verskoon dan dat ek vroegtyds kom

pla met so ‘n agterlaatland-skap

as opmaak erfemis aan jou bemaak :

dis om te kan geniet en baat

by waarna ek so uitgesien het op die reis

na einders waarteen ek so op moes sien

en op uitkyk vir bly :

voor die ronddwaalverblyding kom kla

om en om in die donkerhuis

 

1.6

wanneer die somer verby is

en die land nou leeggeloop

van mensebewegings

stil en diep naklink met nadenke

in grys en in roes

 

dan het wolke die vryheid van die land

om skip te speel, of kasteel of skaap

of sommer net ‘n hand aanwesigheid

statig en vol                 dragtig is die woord

soos wanneer die grootmoeders

mark toe gaan  om narsings te koop

en slegs die kantwerk

van ‘n onderrok se sleepsel lig

nog laat sien dat hulle eens op ‘n goeie dag

naghoere was

 

1.7

die dag daal skerp

die aarde gaan nog somberder smeul

die luglyn reg rondom

waar wolke reeds lê kry

in roos en ligte pers kooigoed

asof hulle verlief is

 

sal hierdie voorspel snoer

in donkerword

 

in ‘n donker wingerd

het ek ‘n brandstapel sien vlam

in die dans van vonke en ‘n vokaal rooksinjaal

en ‘n swerm dartelende voëls

gedompel in donkernis

bevry in die lig

vervleg in die wilde dodevuur

van singende spieëlskerwe

 

1.7.1

« you would rather throw stones at a mirror ?

I am your mirror, and here are the stones. »

(Rumi, Selected Poems)


 

                                                          2 weerklink

 

hoe nader jy kom aan ‘n einde hoe verder sién jy – of moet jy aanhou kyk om jou oë nie toé te maak nie ?

Dood is uiteindelik hier deur Lewe spartelend (om lewe en dood) aan wal gebring. Dikwels het sy probeer om hom te vang, gefassineer deur die wese so slank gefatsoeneer soos ‘n slang of ‘n fetus wat skynbaar gewigloos sonder om te beweeg in die klanklose stagnasie van leweskenkende water  hang.

 

Sy het na die verwerkliking van Dood verlang – en hy na Lewe daar bo in die geheue van voëls. Asof die een ‘n intieme dimensie sou wees van die ander se sang. Wat is bo en wat is binne ? Die een het na die ander gestaar, elk gehipnotiseer deur die ander se bewegings in die spieël van die onpeilbare ruimte van één.

 

Is die oppervlak die enigste vlies, die plasenta waar die hart teen die illusie van syn bons om weerkaats te word in ‘n eggo van klankloosheid ? Wil die ander dan die een ontvlees om deur te breek, verteer te word, na vermenigvuldiging ? Sy het probeer om die na-een soos ‘n watermaan uit te skep en te ledig van alle skyn om daarmee by wyse van uiting die gedig ‘n gesig te gee en die niet weer vol te maak : haar lyn van soeke na die snik-ervaring van sink het gesing en moes breek om ‘n deurbraak na vorm te versin. Soms het Dood haar aas gevat en met haar begeerte na volmaking se versadiging gespeel soos iets wat in ‘n waas van persepsie haar dwase woordnaat se verslawing aan die waan van hoek en sinker en dieptelood koggel.

Miskien het sy honger na lig hom daartoe gedryf om die wurm in die boek in te sluk, aan haar dobberende noodlyn te pluk soos ‘n hand die aandag van ‘n dromende versreël sal prikkel en trek – om haar onder die water in te ruk en syne te maak in die likkewaangrot. Sou sy verdrink en dronk in die lig van sy donker liefde nog kon huil van verlange na ‘n verdronke droom?

 

Wie het besluit genoeg is voldoende ? Wie kon die weerskyning van verval nie meer weerstaan ? Wie het soos ‘n beeldpoetser besluit om die afsonderlikheid skoon te vryf, die soom van gekluisterde kuisheid los te torring, deur die drywende omskrywing te bloei om te saamsaam en soos die so van lip aan lip die verrukking van ‘n verganklike klipkennis van maan in die water te deel? Is déél dan nie ‘n verdeling nie ? Die hart is ‘n padda in die wording van die paddavis. So soos die woord verwording vergestalt om die klopwording daarvan in te sluk en te verduister.

Wie het vir wie aan wal gebring ? Het Dood gesterf in die skyn van Lewe ? Of kon hy die versadigde lig en stof nie verstaan en inneem nie ? Het hy nie kon oorlewe ? Moet hy versmoor in die kom-en-gaap van asemritme ? Moet hy aan die naelstring van geboorte opgehang bly dobber in die skrywe om te mag sing van ‘n verledewordende hede ?

 

Die dooie geboorteling kan nie terug geprop word in die leemte van die lewe se lyf nie. Is die nageboorte van lewe dood ? Of is die dood oplaas ‘n geheue aan lewe se klankruimsoek na die dood se liefdesbewegings ?

Lewe rou oor die afwesigheid van Dood. So soos Dood bly treur oor die verbeelde aanwesigheid van Lewe as gyselaar aangehou in die weerspieëlde labirint.

Die lewe kyk na haar lyk in die water. Sy ween oor die téénskyn van lewe wat daarmee heen is. Wie sal haar tog nou om die lewe kan bring sodat sy toemond en oopoog kan sing van die niet wat gevul moet word met die klip se verwagting van waanskyn ? Watter geboortebloed sal dan die verdonkerde maan laat dans in die droomwater om die afwesige gesig vol te skryf met gedigte se maat ?

Volmaakte syn : volgemaakte skyn.

 

Laat die likkewaan die waterslang dan maar vang en opberg in sy narkêgrot om maanverrot afslukbaar te word vir verorbering.

                                                  

 

3 veillée d’armes


                                                                      bang om in die spieël

                                                                            te kyk te sien

                                                                     jy herken (nie) die ek

                                                                    wat die nag oorleef het

 

skielik is dit helder

omdat alles donker geword het –

jy staan op – oorweeg om koffie te maak –

nog nie – skrywe ? – wat gaan die sjamaanmaan

uit jou binneste buite jou help

tussen die reëls van roetine

en ander rituele paarrymbewegings

om dit wat jy reeds wéét sigbaar

en onleesbaar te maak ? –

skielik is dit donker

omdat alles donker geword het

 

sien jy ? selfs die hand skryf ‘donker’

wanneer dit helder wou spel

 

slierte mis sluip deur die bos bome

teen die hang van die oorkantse heuwel –

soos altyd al deur millennia van lewe

op ‘n planeet se wentelgang in die onmeetbare

duisternis waar teenoorgesteldes

ondenkbaar is – geen lewe geen dood

geen syn in nie-bestaan – geen opsê

van sterfstof met die afdaal na die swyer

se likkewaangrot in jou baie begrafnisdrome –

geen donker nagbreukgedeelte in die lig

gestralekrans om die eendagvlieëvlug van denke nie

 

selfs nie eens die tongvuurtjie-as as troos

wanneer die geheue aan ‘n metafoor van krygsmagte

naakte voetsoldate vlugtelinge

wat die geskiedenis oor grense van transgressie wou neem

om onbevange die skadulyke van ‘n verraaide verlede

soos sangvoëls aan die bome te hang

nou uitgestrooi wegwaai en lankal nie meer

die onthou van erkenning is nie

 

na die noorde enkele ligvingers

om die vesting op die heuwel

gewaas in newel af te tas – geen onhoorbare

weeklaag – ook die mond sal voortaan stil moet sing

van die woordverskroeide verdonkering van helderweet

 

die nederlaag van ‘n stryd om aaanvaarding

in die leë kern van verganklike sin –

alles hier en alles weg – alles nou

om nooit weer te gewees het nie

 

en is jou wagtaak dan verby ?

 

o my mede-dolendes – ek het lank

en hard baklei

verbeel ek my

om die sirkel van donkerte

om die son heilig te maak

en nou verdonkermaan die geheue aan betekening

se gewaande bedoeling

 

jou bestaan was ‘n waghuis vol verroeste wapens –

geen ek geen jy geen vyand

om oor die heuwels die paradys

binne te val geen toeval of vriend

om mee te stry

oor die aflos van die hand

wat die dood wou beskerm

teen die jaloesie van lewe

geen aflaat vir die omkoop-afsê

van die land van verlange

wat die sterfskryfhand na hunker

geen land

geen hand

geen hemel

geen aand of oog of boog van sterwe

 

die waterhuis is leeg –

geen verwagting of afspraak om na te kom

met diesulkes wat na ons kom nie –

van watter aard sal hulle vertraging moet wees ?

 

geen opdrag dat enigiets

onthou hoef te word namens

afwesigheid ‘n na-klank

van wat geheue wou sê –

die nagklanke van gevegte om die dag te kon veroewer

sal soos gerugte in die boorde klepel

vir die voëls van die heelal –

vir die wind woorde om uit te vee

 

bo die dagende uitspansel sweefweeg drie swane

vry en gevang in statige vlug

omskryf deur hierdie draad waarin hul snawels verstrik

geraak het –

kom dan los

om weg te raak in die aanhou beweeg van alle aanraking

met die gesnater van soeke

 

waarvan sou dié hier die versinnebeelding wees ?

 

verlede hede toekoms oorlede

soos hierdie holte holle woordvlug

verwerklik/vergaan

 

en nou vir die helder verblinding van donkerwordwoorde

om  ongewapen in die stof by die nederlaag neer te mag lê

met die vertroue dat jy nie in die hinderlaag gelei is nie –

bang ek is nog wakker 

in die uur van die dooie spieël

wanneer die glasoog tuur

na die partituur van vlugspore

se afwesige vuur

en te erken :

die gek

in die gelapte woordjas

van die blinde voëlverskrikker

wat skynbaar in nagglans oorlewe

is as die asse

se ek

her-ken 


 

 4 naakwoord

                                                                        « wat nie meer daar is

                                                                         kan net nog uitgewys

                                                               maar nooit weer bewys word nie »

 

dit is goed om wakker te word met stilte.

omdat niks onthou is nie ?

stilte dra geen weerklanke nie.

maar daar was ruimte ? onthou jy niks ?

daar was die stilte van ruimte.

het jy niks gesien nie ?

dit was donker.

maar die maan ?

maan is die beweging van stilte se spiraalgang op soek na die donkerte van woorde.

die vrou ?

die maan is die geheue aan vrouwees.

maar die vrou ? hoekom is die voëls so stil vanmôre ?

maan is die kristallisering van die stilte van ‘n vrou se geheue aan die bewegings van die dans sonder om ‘n wêreld se geraas te maak.

wat het jy oorgehou ?

dat niks gesê hoef te word nie want woorde is die spiraal trajek van ‘n man se verlies aan die asem van stilte en sin en herinneringe aan ‘n geheue se woorde om die stilte mee te vang en klee en in te kleur so soos voëls kaal geskryf moet wees om te mag sing.

jy praat van embleme ?

die vrou is nie ‘n embleem nie.

wat onthou jy van die maan ?

dat dit so donker is soos ‘n kaal voël wat nie hoef te bestaan om te wees nie.

wat gaan jy doen ?

niks.

‘n gedig skryf ?

weer ?

weer en weer.

waarom ?

ter wille van die spiraal se stil dieptes.

stilte is die naakte ruimte van die voëls se geheue aan klank. die maan is die weggaanvlug van ‘n vrou se verwoording in beweging na die gedig van niks.

is dit dan al ? is dit wat hier val jou mondvol woorde ?

is dit dan nie genoeg om te weet die maan is die donker se spieëlvrou nie ?

wie sien om na die woorde ?

die voëls.

wat beteken die stil woordsang van kaal voëls ?

die naakte bewegings van die vrou.

is jy nou klaar met die stel van wippe vir blinde voëls sodat die spieël oplaas stilte kan onthou en toevou in afwesigheid ?

dis donker. ek skryf op soek na die spiraalgang van stilte.

woorde vlieg verby om in die maan ‘n toevlug te soek.

weer en weer.

het die voëls hulle te buite gegaan aan woorde ? is dit nie te koud om so sonder vere te wees nie ?

woordgaan sal nog die einde van my beteken… ek wil onthou om sonder woorde te kan aanhou soek na die spiraalstiltes van die vrou in die maan se oopvou.

om tot ‘n spieël te verlyf ?

soos net ‘n gedig kan sing van niks se verwoording in die spieël.        

                                          

 

5 bergdenke

                                                      sneeu is my grafskrif as sang van besinnning

 

Wat beteken dit « om die berg skoon te maak » ? Sinneloosheid is net sneeu, die hemele (die ruim) se verstrooide drome. Dit sal weer uitsak, swart naggedagtes. Wat beteken dit om die berg skoon te maak, die wit uitsaksel van swart nagsneeu berg-af te sleep in sakke om benede oor die klippe water te word sodat die maan se gesig weg mag vloei en die maanlyk uit kan spoel in die klater-ys poel se kolkstilte ? Die waan van betekenis uit die hemel ? Die wit verbygaandheid weg te skraap sodat die berg weer swart mag glim ? Die sneeu is mos soos woorde wat saam sal pak in ‘n gedig se soeke na verdigting se digte sinneloosheid. Maanwaterbeweging laat die woorde smelt tot die vloeisang van weerkaatsing. Jy moet jou hart sterk maak hier. Jou hart moet sterk staan om vir jou te sê jou voete sal nie gly en jy sal nie wegval in die niet nie. As jy jou hart nie sterk maak nie gaan jy val met die doodskreet van vlerke wat om jou val vou.

Ou monnikke loop vinniger omdat hulle bene langer is.

Ek is ‘n ou monnik al is ek ‘n kind met ‘n pampoen vir ‘n hart. Reïnkarnasie is wit sneeu wat die swart hart omkluim met vlerke. Hoe om die berg skoon te maak ? Hoe om te sorg die pampoen vrot nie in die koue nie ?

Ek onthou my vorige lewens soos seisoene van sneeu as dodelakens oor die pampoenland. Die voëls gaan omswagtel in swart lakens teen die koue. Ek is ‘n oupa monnik met die kort beentjies van ‘n kind. In die nag kom my afgestorwe broers na my met hulle geskenkies van offerandes en gebede en besinning geboeddhabeeld uit sneeu. Die voëls skrik net so min vir die niet as vir koue pampoen. Boeddha is ‘n voël wat in die berge woon om te aas op die lyk van die maan. My afgestorwe lewens huil en streel my hande en sê : « Jy is ons ou monnik in die berge, jy moet huis toe kom. »

Wat is huis ? Iewers tussen verstand kry wanneer die berg skoon gemaak word en die niks wanneer donker sneeu uitsak om wit te glim onder die maan. Huis is ‘n beweging van besinning op reis tussen die steil hellings begrawe onder sneeu en die vloei van water waar die klowe skeur.

Ek sal die heilige tekste leer. Ek sal my weer die betekenis van woorde probeer verbeel, geprakseer uit die verbeelding wat weggevloei het in die ink van sneeu.

Die heilige boek is gebundelde vervaging.

Wanneer ek oud en afgeleef is sal ek my klere uittrek – moet dit nie verbrand nie al stink dit ook – om as ‘n lewenslaag vergete gedagtes en gedigte aan te gee vir die jong monnik met die oë so groot en so donker soos vlerke wat ek groot gemaak het. Ek sal huil in die nag en sy hande streel. Ons noem dit  « die aangee van ‘n erfenis van sneeu » van monnik tot monnik oor alle bestaansseisoene heen. Ons doen dit om te onthou om die berg skoon te maak en sodat die aasvoëls – my broers – nie verstik aan die vodde van ons vorige bestaan nie.

Net die wilg sal treur. Dikwels word daar onder ons geargumenteer of die wilgerboom ‘n siel het of nie. Die blare vou toe in die nag wat ‘n bewys is dat hy slaap om te droom van sneeu. En as jy die bas af sou skraap gaan die boom dood. Dit is die betekenis van die teken dat die wilg ‘n siel het. Want wanneer jy die siel afskil kom jy by die dood. Is die siel ‘n droom van die vleesverorberende voël in die boom wat wag vir die sneeu om te smelt en die klipaltaartafels bloot te lê waar die vlae van ou lappe klere aan mag dui dat die sinnelose lyke van vorige lewens nou reeds swart vergaan neergeskryf en uitgelê word vir die oorlewing van illusies ?

 

Kos is skaars. Boeddha het die oumamaan aangesien vir ‘n pampoen.

Sneeu sal weer val soos wit vlerkies uit die verswarting van vlug, om die hemel skoon te maak.

 

6 om in woordstilte tereg te kom

 

6.1

om in woordstilte tereg te kom

soos ‘n dooie boot in die water

met die skeepvrag geheue gepekel en weggelê

in kanne en kruike en kratte vol name

bewaar teen die ewigheid van beenboorde

en wrakke waar geen wind ooit weer ween nie

 

ons het ‘n wit vlag gehys as offermaagdlap

om die nag te vertel ons smag daarna om verlei te mag word

tot die bewegings van ‘n vleitaalfluisterende inlywingsdans …

 

volgens kaart lê ons bestemmingbaken iewers suidwaarts

onder die asem van sterre as kompas

maar koersloos het ons oor stuurboord bly staar

na die witbranderbreek van ons drome

in die donker

wat moederafrikamurmelend aanhou vaar

na die verlangde hier-waar dagbreekdok

 

wat stink dan so ?

die verbygaande kus ?

die lading ontslape ballingverhale toegespyker

in kiste in die ruim ?

maar die deksels is tog verseël met die lood

van skrywe ?

of is dit die naakte self-offerbok vir die see gegooi

om dryfgetye te paai

dat ons huis toe mag gaan

wat so dobber op die dood om nie te verdrink

en sink in die niet nie ?

 

6.2

ons gaan tog nêrens heen

op hierdie hellevaart na die niet

so wat sal dit help om te weet

hoe ons ons vandaan noem

 

laat daar in die skeepsjoernaal

aangeteken staan :  « here be nothing »

 

ons het die donkie ook oorboord gegooi

omdat hy te veel gehuil het

vir Afrika se droë brood

en toe toe moes sien

hoe die maan eweneens naamloos

in haar see van verdriet versuip

(ek kan haar kwalik kwalik neem)

 

maar jy, perfekte palindroom van die dood

wat van moord droom asof dit ewe maklik

sou wees as om ink in die teks te skink

om die niks te vernietig : hoe sal ons ooit

 

kan wéét, my lotsverbonde sterfgenoot,

hoe dit moet wees

om jou hortende dood in die léwe te belewe

anders as om die naggesang te stol

soos versin in die gedig se bewegang

 

kom laat ons sing !

 

 

 

7 voor ons vergeet van stilbly se verlossing

 

7.1

ek sê weer

julle moet kom help hier

waar daar werk is vir vele hande

om die dood by die deur af te keer

en op te fok

voor ek die stilsit van skrywe verleer

tot so ‘n mate

met rym en ritme as die oopmaakhek

en oophouskeure van die proses

dat dit vir dood agtergelaat

kan word, verlate

 

met die anonieme gesig

van ‘n woordmoordenaar

wat die verkeerde adres

uit sy kop geleer het

as aangeewysing

van hierdie uitveegedig

 

7.1.1

om mani padme hoem

 

ek weet, Leser van my stiltes :

my geliefdes gee genoeg

om om my om

te wil praat

om op te hou skrywe:

hulle wéét

in die stilte

skryf ek my dood

 

 


 

(© Breyten Breytenbach/2017)

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Nagpsalms”

  1. Leon Retief :

    Baie dankie Breyten.

  2. Charl-Pierre Naude :

    Ek vind hierdie werk fassinerend. Dit neem die idee van collage een stap verder.

  3. Louis Esterhuizen :

    Ek stem saam, Charl-Pierre. Wanneer Breyten iets pleeg, speel al die ander digters “catch up”. Hoe de hel bly ‘n mens by?! Soos Breyten dit self sê, maar hoe? Ek staan stomverbaas en toetentaal onbekwaam.

    ek sê weer

    julle moet kom help hier

    waar daar werk is vir vele hande

    om die dood by die deur af te keer

    en op te fok

    voor ek die stilsit van skrywe verleer

    tot so ‘n mate

    met rym en ritme as die oopmaakhek

    en oophouskeure van die proses

    dat dit vir dood agtergelaat

    kan word, verlate

  4. Leon Retief :

    Ek stem saam met Charl-Pierre, mens herlees hierdie stuk elke dag.

  5. Hoe vind n mens woorde in aangesig van so n grootmeester van die woordkuns?

  6. Marlise :

    Ek herlees ook nog elke dag! En telkens is daar iets anders/nuuts om weer te herkou en wat weer op n ander manier resoneer. BB is die groot meester van die metafoor!

  7. Melanie Grobler :

    Baie dankie Breyten dat jy namens ons die groot stilte buite hou.

  8. Bostaande is ‘n skakel na ‘n pornowerf!

  9. Breyten Breytenbach :

    Haai Daniël! Sjym vir jou…. Jy bedoel die hoenders hardloop sommer so kaal rond op die werf? Dan’s die Kakies mos weer op ons. Maar Steve-hulle het darem seker ‘n ou ekstra vlag iewers om die honders mee toe te maak?
    ‘Clinton’… Og, ek veronderstel die taal het toe maar toegelaat dat sy finaal ge-Skellumbos word: daar gaat ons geliefde ‘kittelaar’ om tewelso ewe geperm en gefênsie ‘n ‘klitoris’ te wees (van Germaans na Grieks?), of ‘kli-toorus’ soos die vernames dit uitspreek, so asof sy aaagetroude familie van die een of ander generaal sou wees – maar hoekom maak die taalslaners dan toe ‘n ‘clinton’ van haar? Klink nie mooi reg vir my nie.
    So van die taal-os op die kakiejas: ek ontvang gister die vriendelike beriggie dat ek voortaan ook die Tydskrif vir Letterkunde elektronies te lese kan kry – en sommer twee keer! Albei kere slegs in Engels, ief joe dount maaind. Is dit nog moontlik om Afrikaans waar in die wêreld dan ook nie nét via Engels te kan bykom nie?

    Met my mede-clinkende groete

    Buiteblaf

  10. Breyten Breytenbach :

    Sorrie en sorry. Dis die hoenderkop spelvoorsêer se skuld… Moet “so ewe geperm en gefênsie” wees – en nie te veel te té nie. (Ons sal die taal wel leer.)

  11. Webmeester :

    Jammer, maar ek moes n Russiese skakel hier ter ruste dwing… ek hoop niemand het nou die draad verloor nie. Gewoonlik vang ek hulle betyds in n net, maar soms sluip een wel ongesiens om die hoek. Dankie vir die persoon wat my per e-pos laat weet het.

  12. Waldemar Gouws :

    Clinton kon glo toor in sy ovaal kantoor en is soos Stellenbosch ook ergerlik gekompromitteer. Maar is Buiteblaf hierbo surrealisties die hoenders in?

Los kommentaar