Resensie: Aantekeninge teen die skemeruur (Clinton V. du Plessis)

 

Aantekeninge teen die skemeruur deur Clinton V. du Plessis. Cordis Trust Publikasies, 2017.

Resensent: Dewald Koen

 

Wat is dit omtrent die skemeruur wat mens en dier boei? Is dit die betowerende natuurspel wat deur die oog waargeneem word of is dit die inherente wete dat ’n siklus amper voltooi is? Vir my persoonlik word die skemeruur van elke dag met neerslagtigheid geassosieer. Vir baie jare het ek onder die indruk verkeer dat ek die enigste persoon was wat so gevoel het. Ek kon nooit verstaan waarom my gemoed skielik verander sodra die dag einde se kant toe staan nie. So lees ek tydens ’n Desembervakansie in my vroeë twintigerjare Leon Rousseau se biografie oor die lewe en werk van Eugène Nielen Marais. In Die groot verlange (1974) vind ek toe die antwoord op ’n gevoel wat ek nooit vantevore kon verwoord of verklaar nie:

Deur waarneming van sowel die bobbejane as ander wilde diere kom hy [Marais] tot die gevolgtrekking dat ’n bepaalde weemoed of ongedurigheid, ’n vae angs, gereeld teen skemeraand intree. Later, nadat hy ’n aantal mense ondervra het, ontwikkel hy die teorie van “hesperiese neerslagtigheid”, waaraan een uit elke twintig mense volgens hom onderhewig is.

Laasgenoemde teorie het my onmiddellik opgeval toe ek die titel van Clinton V. du Plessis se negende bundel Aantekeninge teen die skemeruur gelees het. Op die voorblad verskyn ’n monochromatiese foto geneem deur Du Plessis se skrywersvriend, Etienne van Heerden. Toevallig het ek die oorspronklike kleurfoto op Facebook gesien. Die besluit om die monochromatiese foto in plaas van die oorspronklike kleurfoto te gebruik, sluit simbolies aan by die titel van die bundel. Dié denimbaadjie wat aan ’n stutpaal van ’n draadheining opgehang is, skep ’n somber atmosfeer. Die oop verlate vlakte in die agtergrond met vlieswolke wat in die horison saambondel dra verder by tot ’n gevoel van eensaamheid en afskeid.

Die titel aktiveer ’n gevoel van bestekopname deur die digter by die leser. Figuurlik gesproke word die skemeruur met veroudering geassosieer en word die mens intens bewus van sy of haar verganklikheid. (Aldus die benaming van menigte aftreeoord as Huis Herfsblaar of iets dergeliks) Die literator, Helize van Vuuren, het in verskeie resensies en artikels na Breyten Breytenbach se “laatwerk” verwys. Alhoewel Du Plessis se bundel allermins as “laatwerk” beskou kan word, kry die leser die gevoel dat die digter in die proses is om bestekopname van sy lewe te maak. Laasgenoemde word ondersteun deur die sewe afdelings waarin die bundel opgedeel is naamlik “Prewelings”, “Littekens van landskappe”, “Kiekies”, “Restant”, “Plakboek”, “Wiegeliedjies” en “Nag!”. Die afdelings bevat gedigte wat verskeie temas aanspreek en fokus veral op herinnerings uit die verlede asook op hedendaagse sosio-politiese gebeure wat mense regoor die wêreld, maar spesifiek Suid-Afrika affekteer.

Du Plessis se gedigte kan as die ‘aantekeninge’ waarna die titel verwys beskou word. Hy maak hoofsaaklik van die vrye versvorm gebruik en die gedigte lees soos ’n persoon se lewensverhaal. Die gedigte is op geslaagde wyse georden om die sikliese metafoor van die menslike lewe te ondersteun. Die bundeltitel figureer reeds in die programgedig getiteld “Ou digter”:

Pen weifelend in die hand,

twyfelend op die rand van onthou

die blanko bladsy bleek

en ongeduldig op die swarthouttafelblad. […]

Niks sal duur, besef hy,

selfs nie sy verbete woordverset

teen die naderende skemeruur. (13)

Du Plessis as digter is bewus van sy eie verganklikheid as mens, maar ook as digter. Die motief word tot in die slotafdeling aangevoer met twee gedigte onderskeidelik getiteld “Helaas” (143) en “Nuusberig as lykdig” (144). Persoonlik sou ek die twee gedigte omgeruil het aangesien “Helaas” ’n beter keuse sou wees om die bundel mee af te sluit weens die meer intieme toon van die gedig.

Dit dan die relaas van ’n lewe:

geboekstaaf, berym,

die skryfskyn om die dood

doelgerig te probeer ondermyn.

.

Meermaal

tussenin

die twyfel, die weeklaag, die verlies

en geduld, Jobs van omvang.

.

Tussen die bladsye van ’n boek,

subtiel of minder subtiel,

skuil merkers, bakens, aanwysers,

maar tog nog die verdwaal.

.

Oorleef van boek na boek

en die slot

van hierdie lewe se verhaal,

soms bruut, soms banaal, soms broos,

bly geslote, toe, ’n rots

voor die graf in die grot

wat woorde nie kan wegrol nie. (143)

.

Die dood van bekendes soos die joernalis Suna Venter (“Nuusberig as lykdig”), die Nederlandse skrywer Joost Zwagerman se selfdood (“Bly te kenne”) asook Leonard Cohen kom aan bod. Ten spyte van die somber toon van die gedigte, skroom Du Plessis nie om ’n onderwerp soos die dood in woord te takel nie. Talle mense vrees die dood. Die dood is nie ’n onderwerp waaroor die mens wil gesels nie en tog word die mens daagliks deur die dood gekonfronteer – die mens se eie verganklikheid, maar ook die dood van ander deur middel van terreurdade of selfdood. In “Verloën” (69) bring Du Plessis hulde aan die onskuldige kerkgangers wat in Charleston in die Verenigde State van Amerika tydens ’n kerkdiens afgemaai is. In “Geografie” (71) word die lyding van die inwoners van Aleppo in Sirië uitgebeeld en word die leser intens bewus gemaak van die absolute futiliteit van oorlogvoering.

Aantekeninge teen die skemeruur bevat nie slegs gedigte vol hartseer en doodslag nie. Du Plessis lewer belangrike sosio-politiese kommentaar oor die uitdagings wat veral Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar. Armoede en die onregte van apartheid figureer in talle gedigte. Die menslike lyding word op eerlike en onpretensieuse wyse aangespreek. Die digter lewer ook kritiek op die Afrikaanse literêre establishment. In “Werkswinkel” (19) word die skryfproses ondersoek terwyl “Handleiding” op ’n meer humoristiese toon die ‘moets en moenies’ van die digkuns uitstippel. Opvallend is die invloed van veral Antjie Krog, Adam Small, D.J. Opperman en N.P. van Wyk Louw op Du Plessis se verse. In “Stelwerk” (18) tree die spreker intertekstueel met Krog en selfs die skrywer/digter Jeanne Goosen in gesprek. Liefhebbers van Krog se poësie sal die raakpunte tussen “Stelwerk” en Krog se gedig “Onderwyser” uit haar debuutbundel Dogter van Jefta (1970) raaklees.  In “Janfiskaal” (25) maak die digter op geslaagde wyse van die Janfiskaal as metafoor gebruik om die voorskriftelike Afrikaanse literêre establishment te verskeur (dit is dalk nodig!). Die gedig “In my kanon” (35) wat sinspeel op die literêre kanon, skryf Du Plessis soos volg:

Gebloemlees deur Olivier

voorgelees deur Hugo

op die versprogram sonder grense

’n versigtige, miskien ja-knik van Hambidge –

só, fluit-fluit

is ek my randfiguurstatus byna kwyt

maar ver sal ek bly sit van dáárdie Verseboek.

Een aspek waaroor ek gereeld wonder is waarom Du Plessis as digter nog deur talle Afrikaanse poësielesers as randfiguur beskou word? Tot dusver het slegs sy debuutbundel Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar (1984) by ’n hoofstroom uitgewer verskyn. Du Plessis het wel die doelbewuste besluit geneem om homself van die literêre hekwagters te distansieer en het ook geweier dat sy gedigte deur André P. Brink in die Groot Verseboek (2000) opgeneem mag word. Is Du Plessis ’n rebel wat homself doelbewus eenkant hou of voel hy hom bloot nie tuis binne die Afrikaanse literêre establishment nie? Digters soos Nathan Trantraal, Ronelda S. Kamfer en Jolyn Phillips wat hoofsaaklik in Kaapse Afrikaans dig, geniet groot aansien binne die Afrikaanse literêre establishment. Tog word Du Plessis myns insiens misgekyk. Is dit omdat hy nie in Kaaps dig nie? (Is daar ’n ongeskrewe reël wat stipuleer dat bruin digters slegs in Kaaps moet dig om ‘kultusstatus’ te bereik?) Du Plessis is myns insiens ’n gevestigde digter wat talle geslaagde verse op sy kerfstok het, maar geniet bloot nie dieselfde erkenning as ander bruin of swart Afrikaanse digters nie. Na die lees van Aantekeninge teen die skemeruur het ek weereens tot die besef gekom dat Du Plessis kán dig en nie noodwendig altyd die erkenning wat hom toekom kry nie. Alhoewel nie al die gedigte in die bundel noodwendig ten volle afgerond is nie, is die oorgrote meerderheid gedigte poëties en stilisties geslaagd. Een so ’n voorbeeld is die gedig “Bekentenis” waarin die digter die slotreël kon weglaat aangesien die gedig op doeltreffende wyse met die tweede laaste strofe afgerond word. Ten spyte hiervan is die oorgrote meerderheid van die verse in dié bundel poësie waarmee die leser sal kan assosieer en sal geniet.

Aantekeninge teen die skemeruur is ’n welkome toevoeging tot Du Plessis se oeuvre. Hierdie bundel verdien om meer as een maal gelees te word. Met geslaagde metafore en beelde wat die verbeelding stimuleer, verleen Du Plessis konteks aan gevoelens en gedagtes waarmee menigte mense op daaglikse basis worstel. Hetsy bekommernisse oor die lewe of vrees vir die dood, sal die leser in dié bundel berusting vind vir daardie letterlike en figuurlike skemeruur-gevoelens wat Eugène Marais dekades gelede ondersoek het.

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Resensie: Aantekeninge teen die skemeruur (Clinton V. du Plessis)”

  1. helize van Vuuren :

    Lekker gelees aan jou knap resensie, Dewald, doe zo voort! Net een vraag: hoekom kan Clinton se “Skemeruur”-aantekeninge glad nie as laatwerk gelees word nie?

  2. Dewald Koen :

    Baie dankie, Helize. Du Plessis se bundel kan moontlik as laatwerk beskou word. Ek was ‘versigtig’ om dit as sulks te beskryf – ek is nie seker hoe oud Du Plessis is nie. Maar aangesien hy reeds nege bundels op sy kerfstok het en die bundel tematies as laatwerk beskou kan word, het jou vraag meriete en gee ek toe dat die bundel inderdaad as sulks gelees kan word.

  3. Marlise :

    Ek sal nogal graag wil weet by die letterkundiges op watter ouderdom publiseer die digter ‘laatwerk’? Vandag leef almal langer met die vooruitstrewende mediese sorg, nuwe niere en harte, kniee en heupe, ens. ‘n 70-jarige is nou soos 60 eintlik. Miskien bepaal die temas die ‘laatwerk’? Temas soos die dood, afskeid, siektes, kleinkinders?

  4. Helize van Vuuren :

    Miskien die beste antwoord is van Cavafy:

    Cavafy started publishing poems and articles in Greek following his second return to Alexandria. His first published text was an article entitled ‘Coral, from a Mythological Viewpoint’ in the newspaper Constantinople on 3 January 1886 but he never found much success; his early poetry was mediocre. In fact it wasn’t until his late-forties that he found his voice. Cavafy is reported to have called himself, late in life, a “poet of old age”[12], comparing himself with Anatole France who “wrote his best poems in his forties”.

    http://jim-murdoch.blogspot.co.za/2013/11/the-cavafy-variations.html?m=1

  5. Marlise :

    Ek kan nogal daarmee saamstem, Helize. Ek dink die ‘forties’ is nogal ‘n soort keerpunt in jou lewe. Byna asof jy dan eers jou verstand- of skryftande begin kry. Nogtans, ek dink tog die tematiek bepaal ook of dit ‘laatwerk’ is. Op 70 weet mens die toekoms is bitter kort, vandaar ‘meditasies/herkouings/besinnings’ oor die ouderdom en die dood.
    Maar op ligter noot: my een kleinseun sit aan tafel om sy kos te eet en sê skielik met n lang gesiggie: “I am sooo tired, and I’m only 3 years old.”

  6. Ja, maar jy weet, Marlise, as jy drie jaar oud is, lei jy ‘n besige lewe en dit put ‘n man uit.

    Wat “laatwerk” betref, dink ek dat die meeste, of alle, digters maar reg deur hulle lewens af en toe dink aan die kortheid van die lewe en die verganklikheid van alles. Ek self is nou al ook ‘n ordentlike skof verby veertig en ek sukkel om nie veertigerjariges “boet” of “sussie” te noem nie. Maar ek is nou in die gelukkige posisie dat ek voltyds kan skryf en ek voel nie genoop (is dit ‘n outydse woord?) om baie oor die skemertyd van my lewe te skryf nie. Die middagson skyn vir my nog lekker!

  7. Marlise :

    Is so, De Waal. Van kleuterwerk tot laatwerk. En tussenin haal ons nog asem en geniet die son.

Los kommentaar