Hein Viljoen. Drie gedigte

Koki bepeins sy swembad

in die kil blou helderte
kan skaars ʼn kiem oorleef skaars
ʼn repie paddaslyk  gechloor
en gealgdood  die pH perfek doodreg

hoe waglik groen was dit verlede week
dik alge die water swartgroen
byna giftig geskik vir Raka
om in te waad te rol te swelg
paddaslyk oor sy vet pens
stringe aaklig groen in sy baard

nie dat Raka juis huis
in hierdie wit voorstad nie
boomryk en groen  die fyngemanikuurde
fyntjiesvatters  geldjagters  knakkers
van mense nie in hulle pasoppens
se laaste spaargeldjies ontfutsel
van kontantjies en leefruimtetjies
luise en uitsuiers van onwaaksames
voorstedelike alfa-leeus meedoënlose
afmakers afmaaiers van die hulle teenstanders
Raka en nogeens Raka

Koki weer die lomerige windjie van sy blaaie
maak seker sy muur is hoog sy hek is heel

bekruipers van agtelose prooi
vroumense oumense swakkeres desperates
hulle wat blikkies hondevleis moet eet
die belt stywer moet trek oor ʼn maag
wat grom van net ʼn koppie water

hy sal sy skouers reguittrek
uitry by sy hek vasgegord in sy BMW
die oerwoud van wolkekrabbers betree
al die Rakas die stryd aansê
bebloed en gebreek in die ISE beland
in ʼn yskas met ʼn kaartjie aan sy toon

reg en geregtigheid
vreemde begrippe maar mooi en kwesbaar

**

Vloed

reën val al heeldag  sif soms
fyntjies-fyntjies neer nouliks voelbaar
op die wang  of stort andersins neer
soos nou  watergeluide klots spoel
plas suis drup oral ʼn wêreld van reën
gorrel guts spoel klater  maak mens
bang dat dit nooit gaan ophou nie
alles gaan oorspoel soos met Noag se vloed
en almal sal verdrink  verskriklike
versmorende dood  hoeveel angs voordat
jou long en maag vol water is en jy versmoor
hoe lank sal dit vat? vyf, tien minute?

reën nou sagter  druppels plens water loop
klots plons spat borrel  eers styg
die angs jou om die hart  jy probeer desperaat
asem kry  versluk spartel dom  is dit
verby jy gee jou oor asem die water
in  gee jou oor aan ʼn ander medium
verloor jou bewussyn sluk vir sluk
liggie vir liggie tot net ʼn donker watergraf
oorbly  swart water swart bewussyn
geen lig  dood  of spook en spartel jy
tot op die laaste  tot jou kragte
jou begewe  spiere verslap  wil uitdoof
jy roerlose materie word
dalk nog dryf in ʼn donker medium
waaruit jou longe geen suurstof kan haal nie

gesuis van die reën nou net ʼn fyn gefluister
hier en daar ʼn gedrup  ons is gespaar

guts borrel klater drup plens spoel verdrink ek
in jou groot water  see  waterwêr-ek waterwerk

**

vinvis Leo

doodgestamp deur ʼn vrugteskip
geraamte uitgestoom aanmekaargesit
opgehys  publieke spektakel
in die katedraal  my baleine
waardeur oseane gevloei het
filtreer nou die dowwe wierooklug van Sint Baafs
my ribbes onbenullig onder die katedraal se boë
gemaakte teken van Jona dalk
diep in my maag aan’t bid  seegras
om sy hoof gedraai – drie dae in die graf
ʼn lam asof hy geslag is  wat die sondes
van die wêreld wegneem  verlosser
eerder ʼn tulband ʼn weerbarstige versetteling
met die sagte oë van Bin Ladin  teken
van die mens se vernuf  doodmaak en red
gesond maak en tot vlamme verdoem
mense met masjiengewere afmaai  of met
te veel suiker, sonneblom-olie  skaaptjops
weer bymekaarmaak rekonstrueer
die beendere aandagtig lees
ek is ʼn aanklag teen daardie wreed-vernuftige dier

..
Kyk https://www.hln.be/regio/gent/vinvis-leo-opgehangen-in-sint-baafskathedraal~a5188d17/

 

© Hein Viljoen / 2017

Bookmark and Share

Los kommentaar