Wicus Luwes. Die oorplanting van ‘n digter se hart

“Ek het nie besef dat die dood van jou kind soos fisiese pyn kan voel nie,” het Dr Christiaan Barnard vertel na die afsterwe van sy seun. André Barnard, ook ‘n mediese dokter, was die seun van Christiaan Barnard. André is in ‘n bad water gevind met ‘n inspuitingnaald langs hom. Daar is gereken dat André sy eie lewe geneem het. Ek luister die afgelope tyd na insetsels op RSG oor die historiese eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967.

Klop, klop

Die mediese wetenskap het definitief ‘n groot tree op daardie dag gegee, maar ek dink dat die mediese wetenskap op die skouers van drome en beelde oor die hart gestaan het. Ek wonder oor die volgende: wat is die verband tussen die fisiese hart en die beeld wat ons van die hart het? Die mens se hart is al menigte kere uit sy bors geruk en oorgeplant. Die mens se hart is al van die vroegste tye deur drome en denke terug na die lewe geskok. Ek het probeer dink op hoeveel verskillende vlakke die hart in ons lewens klop. Die hart is ‘n aanduiding van ons ritmes, hoe die lewensbloed deur ons vloei. Die hart is ‘n pomp en voorsien die hele liggaam van bloed. Die bloed dra suurstof, plasma en legio ander entiteite heen en weer. Ek het probeer dink hoe iets soos ‘hartseer’ deur ‘n metafories oorplanting genees sou kon word.

hart

ek het my pa geword
al hoe meer hare
in my ore
en my neus
al hoe minder
op
my kop

hier by veertig
sê my dokter
begin ‘n mens
jou ouers se skete
aanneem
skeur dan ‘n voorskrifstrokie
flink af en sê
jou bloeddruk
is veels te hoog:
150 oor 94!

en ja jou cholesterol
is amper 6 –
maar stadig met die rooivleis
mmm?

jy sê jou pa het ‘n hart gehad?
ook bloeddruk?
en jou ma nou weer?
kanker?

kom ons probeer
dié pilletjie vir ‘n maand –
‘n ligte dosis –
en as dit met jou akkordeer
drink jy dit so
vir dertig jaar
met ‘n aanpassing
hier
en daar?

oor die kanker
kan ons later
praat

deur Johannes Prins uit ‘een hart’, Lapa Uitgewers:2009

Klop, klop

My gedagtes is weggevoer na alles wat nodig sou wees om die metaforiese oorplanting te bewerkstellig. Ek het begin dink aan die volgende:
‘n Skenker se hart
‘n Skryfdokter
‘n Teater

Die Teater

Ek is lid van ‘n boekklub wat ‘n paar keer per jaar bymekaar kom. Tydens so ‘n boekklub-besoek, sien ek die stukke of ‘derms’ van ‘n klavier in die hoek van die kamer. Die gasvrou vertel my dat die materiaal oor die klavier se hamers weggevreet is – heel waarskynlik die werk van muise of ander knaagdiere. Hulle sou op daardie stadium nog besluit na wie hul die ‘derms’ van die klavier sou neem vir die operasie. Ek wonder sommer watter aar ‘musiek’ van bloed moet voorsien. Daar sal definitief ook ‘n literatuur-aar aan die hart gekoppel moet wees.

Die teater wat gebruik word vir die oorplanting kan jou sitkamer wees. Dit kan jou sonkamer wees of selfs die nagwag se wagkamer by die hek.

Klop, klop

Die Skryfdokter

Dr Barnard was ‘n mens van vlees en bloed en Dr Frankenstein een van bekendste literêre karakters wanneer ‘n mens aan oorplantings dink. Die twee se motiewe verskil hemelsbreed, maar beide het iets van die ontstaan en onderhoud van lewe in ons gedagtes los kom maak. Die skywer of digter word ook ‘n Dr Frankenstein wat lewe blaas in ‘n idee of konsep, met die hart van die verhaal as belangrikste orgaan van die boek.

‘n Verhaal is net ‘n hopie organe wat aanmekaar gebind word deur die hart. Een van die verhale oor Barnard se baanbrekerswerk handel oor die toesighouer van die lykshuis. Barnard het kort voor die operasie weer van kadawers gebruik gemaak om te kyk presies hoe alles aan mekaar vasgebind word. Ek probeer dink aan die dissektering van ‘n verhaal. Die spanningslyne en karakterbou. ‘n Skrywer kan sy operasie makliker aanpak as hy ‘n voorbeeld het om na te kyk. Die skrywende dokter is ook ‘n lesende dokter.

Ek het net die hoogste agting vir Dr Christiaan Barnard en sy span se werk. Ek stel dit hier dat drome en denke hul werk en die mediese wetenskap tot hoër hoogtes gedra het. Dit stop nie daar nie: Hulle werk het weer skrywers en denkers laat droom. Baanbrekers, pioniers voed die harte van skrywers. Die onmoontlike word moontlik in die wetenskap. Teorie word praktyk.

‘n Skenker se hart

En dan kom die oomblik van waarheid. Daardie oomblik wanneer die hart oorgeplant word; daardie oomblik wanner jou hart vir iemand anders gegee word. Daar is soveel skakerings van liefde en die hart het ‘n eie taal. Klop … klop … stilte … stilte … stilte … klopklopklop … klop … klop. Die ritme wat deur ons drome loop en deur ons are vloei kom soos musiek bymekaar. Die dinge wat ons voel is wat ons mens maak. Die ritmes verskil, maar die verskillende ritmes maak musiek (al het die muise die hamers se materiaal afgevreet). Die filosoof vra wat die doel van die liefde en die lewe is. ‘n Skrywer ondersoek die aard daarvan. Die skenker van die hart voel die ritme en besef: ons harte klop beter in ‘n ander se borskas.

trapmeultoets

(i)
kan hulle om godsnaam
nie net iets teen die dak sit nie
hier waar ek met my hart lê
en die ronde elektrodes
tussen die hare aan my bors kleef
maak ek my oë toe
dan sien ek die spier spring
in sy kamer en bloed
wat weerbarstig al om
en om gepomp word
fok kan iemand dan nie net
die buisligte afskakel
en my red van aanhoudend
na binne kyk nie?

(ii)
ek hardloop nêrens heen nie
die rolband onder my ryg die kilo’s uit

die monitors biep-biep
en die suster sê sjoe maar jy sweet

kom doen jy dit jou koei
glimlag ek haar kant toe

nog ‘n bietjie vinniger?
en sy wag nie vir ‘n antwoord nie

witmuis dink ek op ‘n wieletjie
al om en om en om

deur Johannes Prins uit ‘een hart’, Lapa Uitgewers:2009

Bookmark and Share

Los kommentaar