Resensie: Die sin van die hut (Gilbert Gibson)

Die sin van die hut

Resensie:  Gilbert Gibson – Die sin van die hut.  (Human & Rousseau, 2017)

Resensent: Louise Viljoen

 .

Sedert die verskyning van sy eerste digbundel Boomplaats in 2005 het Gilbert Gibson ’n unieke en eiesoortige digterlike stem ontwikkel, een waarin die logika van drome, stilte en gevoel eerder as die rasionale oorheers.  Kyk ‘n mens terug oor sy oeuvre is dit ook opvallend dat hy besonder avontuurlik is in die konseptualisering van sy bundels.  In sy tweede bundel Kaplyn (2007) het hy geëksperimenteer met die gebruik van (soms idiosinkratiese) woordomskrywings in die trant van ‘n woordeboek om die verskillende afdelings in te lui, in die derde bundel oogensiklopedie (2009) was die gedigte alfabeties eerder as tematies gerangskik soos die items in ’n ensiklopedie en in sy vierde bundel [vii] (2013) was die gedigte genommer met die sewende gedig veelseggend afwesig.

Sy jongste bundel Die sin van die hut sit hierdie eksperimentering met ‘n bepaalde konsep voort.  Die titel van die bundel is ‘n aanhaling uit die Franse filosoof Gaston Bachelard se bekende werk La Poétique de L’Espace, in Engels vertaal as The Poetics of Space, ‘n werk wat dateer uit 1958 en fokus op die huis en ruimtes binne sowel as buite die huis. Die bundel is kennelik geïnspireer deur Bachelard se idee dat die beeld van die huis die topografie van ons intieme wese verteenwoordig, in dié sin dat dit die ruimte verskaf waarin ons drome, verbeelding, herinneringe en verlangens uitspeel.  Die titel van die eerste hoofstuk van Bachelard se boek, “The house. From cellar to garret. The significance of the hut”, is die motto van die bundel en gee ‘n leidraad van hoe ‘n mens die bundel moet lees.  Vir Bachelard is die huis die nes waarin ons droom, die skuiling waarbinne die verbeelding kan bloei.  Hy skryf naamlik in The Poetics of Space dat die belangrikste waarde van die huis is dat “[it] shelters daydreaming, the house protects the dreamer, the house allows one to dream in peace”.  Verder relevant vir die digbundel is die feit dat Bachelard die lees van poësie skakel met die dagdroom (“To read poetry is essentially to daydream”).

Volgens Bachelard bevat elke hoekie, elke duim ruimte waarin ons wegkruip dus die kern van ‘n huis.  Hy skryf:  “For instance, in the house itself, in the family sitting-room, a dreamer of refuges dreams of a hut, a nest, or of nooks and corners in which he would like to hide away, like an animal in its hole” (30).  Daarom besin hy ook oor die sin van die hut.  Die hut verteenwoordig vir Bachelard die mees elementêre vorm van bewoning:  “the hut appears to be the tap-root of the function of inhabiting” (31).  Daar is al geskryf dat Bachelard se siening van die huis ‘n nostalgie vir die pre-industriële landelike omgewing, waar hy grootgeword het, verraai.  Hy worstel met die stad Parys, waar hy later in sy lewe woon en ly aan slaaploosheid, omdat hy voel daar is nie werklik huise nie, net opmekaar-gestapelde bokse.  Een manier waarop hy voel hy sy ewewig kan herwin is om terug te keer na die beeld van die kluisenaar se afgesonderde hut waar ‘n liggie brand wat assosiasies van beskerming en koestering oproep.  Vir Bachelard verteenwoordig die kluisenaarshut nie net hierdie idee van ‘n toevlug nie, maar ook van ‘n gefokusde vorm van afsondering wat geassosieer kan word met meditasie en gebed.  Omdat die kluisenaarshut geassosieer word met intense armoede en destitusie is dit ook die absolute toevlug.

’n Resensie bied nie ruimte om die verwantskappe tussen Bachelard se boek en Gibson se bundel uit te pluis nie.  Dit is wel duidelik dat Gibson hom in hierdie bundel laat inspireer het deur Bachelard se opvattings en dat daar fassinerende raakpunte is met Bachelard se werk:  die beskrywings van die huis, die verwysings na “die sin van die hut”, die klem op die rol van drome, die ontginning van die huis as verbeeldingsruimte, die suggestie van meditasie, die elliptiese skryfwyse en, les bes, die verwysings na ‘n slaapversteuring (vgl. die gedig “(staanpyp)”).  Die nostalgie wat soms aan Bachelard se siening van die huis toegeskryf word, ontbreek in ’n groot mate in Gibson se bundel.  Die wyse waarop die huis as metafoor vir die (digterlike) bewussyn verken word, bied geen simplistiese of versuikerde blik op die huis as veilige toevlug of koesterende ruimte nie.  Die huis is in hierdie bundel eerder ’n ruimte wat die volle omvang van menslike ervaring, in hierdie geval ook die skrikwekkende en beangstigende aspekte daarvan, verteenwoordig.

Die gedigte in die bundel is gerangskik in sewe groepe waarvan sommige slegs een gedig bevat en ander tot soveel as ses-en-twintig gedigte.  Binne hierdie groepe word die gedigte slegs op ‘n losse manier tematies met mekaar verbind.  In aansluiting by Bachelard word die verskillende elemente waaruit ‘n huis opgebou is as struktuurelement in hierdie bundel gebruik en verwys die verskillende gedigtitels na dakke, pilare, mure, gewels, balke, vensters, vensterbanke en vloere, maar ook na meer ‘gespesialiseerde’ elemente wat deel uitmaak van ‘n huis se konstruksie soos dakrame, lintels, spoumure, steenmantels, dreine, parapette, kwartronde, dampskerms, fasies, fondasies, sparre, geute, plaveisel, druprande en kantelbalke.  Al die gedigtitels staan in hakies, dalk om aan te sluit by die geslote en geheimsinnige aard van die gedigte.  Alhoewel konvensionele punktuasie gebruik word, is dit opvallend dat nie een van die gedigte afgesluit word met ‘n punt nie.  Die indruk word dus geskep dat die een gedig oorvloei na die volgende, byna asof dit een lang gedig of gesprek wil wees.

Die huis word gesien met betrekking tot die omringende ruimtes, maar ook met betrekking tot die onderdele waaruit dit bestaan.  Die huis word in sekere gevalle geteken in verhouding met die groter Vrystaatse ruimte, die plaas, die dorp of stad waar dit geleë is;  in andere gevalle word daar weer klem gelê op die verhouding met die straat, erf of tuin waarbinne die huis sigself bevind.  Amper nog meer belangrik is die wyse waarop die ruimtes binne die huis, veral die woonkamer en die slaapkamer, in die gedigte ontgin word.  Hierdie soort struktuur is die ideale voertuig vir ‘n digter soos Gibson in wie se werk ruimtelikheid en die emosionele inhoude wat dit dra van meet af aan ’n baie belangrike rol gespeel het.

Die eerste gedig in die bundel, “(tuin)”, beklemtoon die idee van aanvang deurdat dit verwys na die begin van die dag:

(tuin)

Uit die ooste kom die lig wat soos lig of
bloed deur die tuin spoel dat voëls opvlieg nes oorlewendes
na ‘n ramp van onherstelbare verwoesting

En waarom die dag daarom ten spyte van spyt
na ons naïewe verwagting nie die nodige stabiliteit gaan bring nie.
Net die gebiedende pad van of na waansin

Sodat hierdie oggend soos oggend met ‘n andersoortige mirasie
nou geheue in my harsing verset.
Uit die ooste kom die lig tot waar

Woorde soggens lig soos bloed op die bed
wegraak en hoe die geblaf buite sal bepaal
dat die donker net tot herinnering dreineer

En deur die huis tot stilte.
Buite. Die honde asemhaal

Dié aanvangsgedig bepaal in ‘n groot mate die toonaard van die bundel en stel ‘n aantal elemente aan die orde wat meermale in die loop van die bundel gaan voorkom.  Die vergelyking van die vroegoggend-lig met “bloed [wat] deur die tuin spoel dat voëls opvlieg nes oorlewendes / na ‘n ramp van onherstelbare verwoesting” suggereer dat die nag skrikwekkend was en slegs met moeite oorleef is.  Dit wys vooruit na herhaalde verwysings na nag-ervarings waarin die spreker slaaploos is, wakker lê of in die middel van die nag wakker word.  Op sulke tye is die huis ‘n unheimliche omgewing waarin daarin sprake is van “donker diere[ wat] beweeg deur die gang / hul voete in ‘n giftige sloof”, soos in die gedig In die gedig “(balk)“.

Die eerste gedig gee ook uiting aan die gevoel dat die dag nie beter gaan wees nie, maar slegs die “gebiedende pad van of na waansin” gaan bring.  Die gedig voorspel ook dat die slaapkamer ‘n prominente rol in die bundel gaan speel, deur te verwys na “[w]oorde [wat] soggens lig soos bloed op die bed wegraak”.  Daar word ook verwys na die teenwoordigheid van honde op die erf en dit klink asof hulle ‘n normaliserende teenwoordigheid is.  Hulle verdryf die donkerte en bring alles tot stilte: “die geblaf buite sal bepaal / dat die donker net tot herinnering dreineer // En deur die huis tot stilte”.  Dit blyk mettertyd in die bundel dat die teenwoordigheid van die honde rondom die huis stabiliteit bring in die emosionele turbulensie, angs en waansin wat soms met die huis in die nag geassosieer word.  Dit is asof die honde ‘n besondere aanvoeling het vir die trauma van die huis se inwoners.  In “(vensterbank”) verwys die spreker na die nag as “‘n brullende by die kamerdeur” en noem hy dat die “hond roer langs die huis”.  Wanneer daar in die daaropvolgende gedig “(beddinglaag)” verwys word na die dood van die hond, is dit duidelik dat die hond as sensitiewe registreerder van gemoedstemmings in die huis ‘n soort skans gevorm het teen dit wat die spreker bedreig het.  Die hond se teenwoordigheid is dus intiem verbonde met “die sin van die hut”, soos wat Bachelard dit ook beskryf het, sodat sy dood die “vloed” van tyd en sterflikheid beklemtoon:

Nou’s my hond dood ‘n beddinglaag vorentoe in die donker.
Sy ore wat hang in swart as en okkerneut die
sagte skans van blaf met bitsige gal nog soet uit
sy mond en ek is lief vir hom terug
met my hart en alles wat in riviere van
lang treë met die sin van die hut vorentoe vloed

Vanweë die besonder komplekse en gedronge aard van die gedigte is daar verskillende invalshoeke of ingange tot die bundel moontlik.  Vir die doel van hierdie bespreking sal ek fokus op die uitbeelding van die huis en die verhouding tussen die huis en die aangesproke jy.

Dit is opmerklik dat daar in byna elkeen van die gedigte ‘n jy aangespreek word wat die indruk skep van die bundel as ‘n deurlopende gesprek.  In die meeste gevalle is die aangesproke jy intiem verbonde met die huis en word die emosionele respons op die huis bepaal deur die aard van die houding met die jy.  Die oorheersende indruk wat hier geskep word, is dat die huis die terrein van spanning en konflik is, nie net vanweë die verhouding met die jy nie, maar ook omdat die omringende omgewing as inperkend ervaar word.  Dit wil voorkom asof die huis geleë is in ‘n voorstedelike woonbuurt wat nadelig is vir drome en die verbeelding:  in die gedig “(klinker)” word daar verwys na die heiningpale rondom die huis “soos huursoldate […] in gelid” in ‘n straat waar “die dwelm van voorstedelikheid / al die klinkerhuise se drome verdruk”.  In die gedig “(mure)” word die geslotenheid en ingekeerdheid van die huis ook beklemtoon:  “Agter die warm heining lê die huis met sy geheime so lugtig soos / ‘n laerskool in die straat weggesteek ‘n weermagbasis met die / ingesteldheid van subjektiewe nood”.  In dieselfde gedig word daar ook geskryf:  “Die huis is onbuigsaam. […]  Tien teen een agter / die heining besig met al sy geheime sy stilte sy baie ure. Die huis is / soos jou mond”.

Die weggesteekte of afgeslote huis word ook meermale geteken in terme van stryd, veral wanneer dit verbind word met die verhouding met die jy:  “Jy neem stelling in teen die loopgrawe / van meubels wat oor die drumpel / bal en klou om later die res / van die huis met onrus te vul”.  Die huis word ook herhaaldelik met beelde van oorlog in verband gebring, soos byvoorbeeld in die gedig “(kwartrond)”:  “’n Stormlose oorlog woed in die woonplek / waar ons sonder morele standpunt / donker mure inneem en jy vir my // ‘n Lokval stel in die gang.”  So ook in “(dampskerm)”:  “Ons veldslae is. Oopoog. Niks sal ons / ontbreek nie. Al die woorde kom uit / die gesig.  En woede onbelemmer.  Die koste  // Van venyn.  Ons oorlog.  Lê snags wakker.”  Ook in die gedig “(glas)” word oorlog gesuggereer, hier slegs indirek deur ‘n verwysing na die uitklim van Vegkop en in “(weerhaan)” word soortgelyke beelde gebruik om die spanning in die verhouding aan te stip:  “Nie te lank na die eerste tekens.  Het jou hart / bergagtig geword soos die grens by Lesotho.  Waar / veediefstal ‘n skrikbewind in ons huis voete // Onder die eetkamertafel tot spanning klop”.  In “(balklep)” blyk dit uit ‘n reeks vergelykings dat die spreker en die aangesprokene op ‘n byna fatale wyse aan mekaar verbonde is – die gedig begin en eindig met die vergelyking:  “Soos ‘n loop vir ‘n koeël gemaak is    en ek vir jou”.

Talle van die gedigte speel ook af rondom die bed wat in een geval beskryf word as ‘n bouperseel waar konstruksiewerkers met die wakkerword maal en raas (vgl. “(parapet)” met die reëls:  “jou aandag skrik vir môre skrik / ‘n soort angs wat lyk na die oë wat asof medepligtig kom in golwe / soos konstruksiewerkers”).  Dié gespannenheid kom tot ‘n hoogtepunt in die gedig “(kasse)” waarin die konflik in viserale detail beskryf en selfs genommer word:  “Wil jy  // My tande uit hul kasse steel. Jy (ix) byt / my ore af gulsig (x) jou vinger in my keel”.

Teenoor hierdie beelde van spanning en konflik is daar egter ook momente van respyt.  ‘n Nostalgie vir ‘n gelukkiger tyd in die verhouding blyk uit die mooi gedig “(steenmantel)” waarin verwysings na swem ‘n beeld word vir ‘n tyd van geluk en sensuele oorgawe.  Ook die gedig “(pilare)” suggereer dat daar momente van oplugting is in die verhouding.  In die gedig “(kloset)” is die huis ‘n laboratorium wat te enige tyd kan ontplof met “wetenskaplike buitensporigheid / wat ‘n slagveld genoem kan word”.  In hierdie gedig lyk dit asof die liefde tog wel ‘n balans bring soos wat die slotreëls suggereer”  “Dan diskrimineer die liefde sy / delikate skale. En die saak eindig”.

Dit lyk dus asof die verhouding met die jy onlosmaaklik verbind is met die huis en die “sin van die hut”.  In die gedig “(skuiling)” is daar sprake van ‘n byna letterlike in- en meelewing met die aangesproke jy wat uiteindelik sin gee aan die konsep van die hut oftewel skuiling:

(skuiling)

Ek sit nie my hart in jou hande nie
maar druk dit in jou bors waar dit soos
asemrige verligting elke sug in jou
slaak.  Dan sal jy weet my hart bly
waar jy dit sal moet bewaar
in die skuiling wat drome in jou are
plaak.  So klop ek in jou bloed. So
stuur jy my in die rigting van die hut

Daar is ook die moontlikheid dat die huis wel ’n meditatiewe ruimte en allerlaaste toevlug kan wees.  In die gedig “(teer)” word die positiewe aspekte van afgeslotenheid, ingekeerdheid en stilte uitgelig om die konsep van die huis as skuiling vir die mense se drome, herinneringe en verbeeldingswerk te ontgin:

            (teer)

In die hoek van die erf staan ‘n vyeboom
met lae takke waaronder die honde blaf
teen die heining verby terwyl kransduiwe ‘n
plaag maak op die dak hul ritsel
tot teen die mure en ‘n naburige
venster met nuuskierige oë. Met sy blare
staan die vyeboom om liefde in ons
voor te berei tot die beswyming waar
teer en parataal op ‘n kritieke oomblik ‘n hut
word en die hut ‘n huis en die huis ‘n
bewoonde stilte en die stilte ‘n tempel
in ons straat waar die honde
onderdeur ‘n nuwe geslag inlêvrugte
dieselfde lewe voortborduur.
Wie sou kon dink dat ‘n kind
tuis sou voel hier?

Vra ‘n mens jou self af of daar ‘n bepaalde ontwikkelingslyn in die geheel van die bundel is, lyk dit asof daar wel op subtiele wyse sprake is van ‘n narratiewe progressie.  Soos reeds genoem, begin die bundel met die gedig “(tuin)” wat handel oor die begin van die dag en die toonaard van die bundel aankaart.  Die bundel eindig met die gedigte “(voorskut)” en “(bouval)” wat hierdie stemming van begin tot ‘n hoogtepunt deurvoer.  In die voorlaaste gedig “(voorskut)” klink dit asof die slaap en drome wat in hierdie bundel so ‘n belangrike rol speel binne die huis as droomruimte tot niet gaan (die gedig se slotreëls lui:  “Toe was my slaap en my slaap se drome / Vir altyd weg”).  Die slotgedig heet “(bouval)” wat suggereer dat die huis tot niet gegaan of verval het:

            (bouval)

i.     Die raamwerk van verraad.
ii.    Die inval van wasgoedlyne deur die grasperk.
iii.   Die hoek van koelte oor teëspoed wat voorstede.
iv.   Die aarde van uitgeholde miershope.
v.    Die bure langsaan eenkant De Beers anderkant die Majolas.
vi.   Die keer toe jy weggaan en die huis nooit weer dieselfde.
vii.  Die woonstel wat.
viii. Die dak sonder ‘n skoorsteen dat kommer van my bene.
ix.   Die lyn wat ‘n litteken in die vel.
x.    Die sterre nou net nege in sig.
xi.   Die oorlog wat ek met my.
xii.  Die stelling wat ek teen jou.
xiii. Die traanrook wat onwettige rebelle uit ‘n bouval.
xiv. Die al daardie.

.

In ‘n sekere sin dekonstrueer die slotgedig die nosie van die hut en die huis wat in die loop van die bundel opgebou is deur klem te lê op die aftakeling van die huis tot “bouval”.  Die gedig lig ‘n hele aantal elemente uit wat in die bundel voorgekom het en reeds in die eerste gedig aangekondig is.  Daar is byvoorbeeld die elemente wat ‘n voorstedelike omgewing suggereer (wasgoedlyne, grasperk, voorstede, bure, huis, woonstel, dak sonder ‘n skoorsteen) en ander wat ‘n atmosfeer van stryd oproep (verraad, inval, teëspoed, kommer, litteken, oorlog, stelling, traanrook, rebelle, bouval).  Hoe die skakels tussen hierdie elemente lê en hoe elkeen van die onvoltooide sinne in hierdie gedig voltooi moet word, word nie vir die leser voorgeskryf nie.  Wat hier geëvokeer word, is eerder ‘n bepaalde gemoedstemming wat dui op trauma, verlies en verlatenheid.  ‘n Mens sou dalk kon sê dat die bouval ‘n soort raamwerk verskaf wat nog ingevul moet word (laasgenoemde afleiding word bevestig deur die gedig se genommerde reëls wat dit soos ‘n lys laat lyk) en dat daar dalk hoop is op herstel en opbou.  Dit lyk dus asof die bundel se narratief beweeg in die rigting van vernietiging en verval, maar dat daar ten slotte tog gesuggereer word dat daar iets uit die bouval na vore kan kom.

Daar is ook heelwat ander elemente in die bundel wat ‘n mens sou kon ondersoek.  Dit is opvallend dat droogte en reën belangrike motiewe in die bundel is:  dit skep nie net ‘n ruimtelike raamwerk vir die ervarings van en in die huis nie, maar verskaf ook belangrike beeldmateriaal, soos wanneer die huis vergelyk word met ‘n “’n bees met sponssiekte onder waters wat / die dak bedek die waters wat ‘n rivier maak van Robbeneiland tot Slagtersnek”.  Daar is ook sprake van ‘n sterk meditatiewe, byna religieuse, element in die bundel wat vervleg is met die gegewe van die huis en die hut.  Dit bereik ‘n hoogtepunt in gedigte soos “(spil)”, “(poort)”, “(voorhuis)” en “(lintel)” waarin daar gebruik gemaak word van Bybelse taal en die aangesprokene byna die allure het van ‘n goddelikheid.  Daar is ook ‘n aantal narratiewe gedigte, soos “(skild)”, waarin klein, kriptiese verhale vertel word binne die groter narratiewe gang van die bundel.  Alhoewel hulle hier veel minder is as in Gibson se vorige bundels, sou ‘n mens ook kon ingaan op die metapoëtiese gedigte in die bundel; waaronder die gedig “(steenslag)”.  Ook die intertekstuele verwysings is in hierdie bundel minder as vantevore in Gibson se werk.  Die mees opvallende verwysings is na Eugène Marais en Emily Dickinson.  Wallace Stevens se gedig “Anecdote of the jar” kom ter sprake in “(draers)”.  Anders as by Stevens wat suggereer dat die plasing van die “jar” op ‘n heuwel in Tennessee (‘n doelbewuste skeppingsdaad) veroorsaak dat die wildernis om die heuwel georden raak, word hier gesuggereer dat die Suid-Afrikaanse landskap (vgl. die verwysing na ‘n “temerige koppie” buite Theunissen) moeiliker tot samehang en orde gebring kan word.  Dié gedig sou ook vrugbaar vergelyk kon word met Danie Marais se gedig “Groot-Karoo en voëltjie-klein” in Al is die maan ‘n misverstand.

Dit het nou al ’n gebruik geword om in resensies te verwys na die feit dat Gibson een van Afrikaans se hermetiese digters is, dat sy werk geheimsinnig en geslote is en dat dit die toegespitste aandag en aktiewe medewerking van die leser vra om ontsluit te word.  ’n Vraag wat by die lees van Die sin van die hut by die leser opkom, is waarom Gibson kies om hierdie geslote soort poësie te skryf.  Breyten Breytenbach het indertyd in sy tronkmemoir, The True Confessions of an Albino Terrorist, vertel dat hy die gedigte wat hy in die tronk geskryf het doelbewus ingewikkeld en geslote gemaak het omdat hy nie sy mees intieme en persoonlike gevoelens wou blootlê aan die bewaarders aan wie hy dit moes oorhandig aan die einde van elke dag nie.  Dit mag wees dat Gibson doelbewus geslote poësie skryf om ten minste ’n gedeelte van die belewenis (emosioneel, metafisies, sensueel) wat hy in die gedigte probeer vasvang geheim te hou.  Daar is dus iets paradoksaal aan hierdie soort poësie:  dit word geskryf en gepubliseer sodat dit gelees kan word, maar daar is terselfdertyd ’n behoefte om iets daarvan privaat te hou en nie álles prys te gee in die gedig nie.  Dit is juis hierdie terughoudende element in Gibson se werk wat dit so fassinerend maak vir die leser wat dit wil agterhaal, maar weet dat dit onmoontlik is.  Om jou hand te waag aan die interpretasie van ‘n geslote bundel soos hierdie is beide ‘n waagstuk en ‘n avontuur.

Ten slotte is Die sin van die hut ’n lieflike en diep-melankoliese bundel wat nie anders kan as om die leser te raak nie.  Vir die leser wat hom-  of haarself wil oorgee aan die droomagtige gang van die verse, die verrassende spronge en metafore, die emosionele intensiteit en die evokatiewe sfeer wat hier opgeroep word, sal dit een van die hoogtepunte van die jaar wees.

.

.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Die sin van die hut (Gilbert Gibson)”

  1. Ivan Mocke :

    Kyk – as Louise Viljoen ‘n resensie doen dan bly hy gedoen. Hierna kyk ek met nuwe oë na ‘n bundel wat ek maar net bolangs verstaan het. Soos die omslag ‘n onderstebo huis met ‘n swerm duiwe wys wat ook onderstebo vlieg, draai Gibson omtrent die digkuns op sy kop, lyk dit my.

  2. Bernard Odendaal :

    Ja, dankie Louise Viljoen, vir die insigryke resensie.

  3. Bernard Odendaal :

    Netnou weer een en ander gaan nalees oor die surrealistiese digkuns, en dit lyk my ook daar is ‘n paar sleutels te kry wat toegang tot die bundel kan bied.