Marlies Taljard: Gedigte wat sterk manne laat huil (I)

 

Pas lees ek dat feminisme die Merriam Webster aanlyn woordeboek se woord van die jaar is. Desnieteenstaande volstaan ek by die titel van hierdie blog.

Onlangs sien ek in ‘n bekende boekwinkel die boek Poems that make grown men cry – ‘n bloemlesing wat deur ‘n pa en sy seun saamgestel is, Anthony en Ben Holden. ‘n Interessante bundel, dink ek by myself, want mans praat in die regte lewe (buite filosofiese handboeke) nie graag oor die tema “huil” nie. Ten minste die geslag waarin ek groot geword het en waarmee ek kontak het (my seuns huil gelukkig net so dikwels as hulle vrouens). Nodeloos om te sê, koop ek toe die bundel en geniet dit elke aand soos ‘n beleë vrugtekoek waarvan jy net een stukkie per dag wil eet om dit tot Kersfees te laat hou. En ek wens daar was ‘n ooreenstemmende bundel met Afrikaanse gedigte …

In die inleiding van die boek gee die skrywers rekenskap van hulle werkwyse en die ontstaan van die boek. Anthony Holden vertel dat die idee van die boek eintlik by die bekende literêre kritikus Frank Kermode ontstaan het nadat hy teenoor Holden gebieg het dat hy eenvoudig nie Larkin se gedig Unfinished poem kan klaar lees sonder om aangedaan te raak nie. Dat die dood uiteindelik in die gedaante van ‘n lieflike kaalvoetvrou (“What summer have you broken from?”) sou kom, laat die groot akademikus verkrummel. Die gesprek gaan dan oor “the power of poetry over prose to move”. Later sou Kermode repliek lewer op ‘n lesing van A.E. Houseman oor die emotiewe vermoë van die poësie. Kermode vertel: “A line of poetry can make his beard bristle as he shaves, or cause a shiver down his spine …” Wanneer ‘n mens hoofsaaklik in ‘n kritiese verhouding ten opsigte van digters en die digkuns staan, verloor mens maklik die vermoë om deur gedigte aangeraak te word en in volslae verbystering by ‘n gedig stil te staan en die siddering toelaat om deur jou te trek. Dit het hierdie bloemlesing my weer leer doen. Skielik skiet gedigte en reëls my te binne … Goethe se eenvoudige gedig Wanderers Nachtlied, die slot van sy Erlkönig wat na duisende kere se lees sedert my kleuterjare steeds ‘n rilling langs my ruggraat afstuur, die slot van Klara Majola en – meer onlangs – ‘n gedig van Riël Franzsen oor sy outistiese seun wat ek eenvoudig nie hardop kan lees nie:

Slotgesang

Eendag wanneer U vir my

en my unieke kind

in die verre land Moria

as keuses by die altaar kry,

met U mes, die hout en vuur,

sou ek, gebroke en gebrekkig,

vanuit die bos wou bid

in daardie laaste uur;

 

Contra naturam, o Heer,

contra naturam!

Aanvaar hierdie seun as offer,

maak van hom die lam.

Laat my kind tog eerste wees,

maar slag direk daarna die ram.”

 

Na die gesprek met Kermode het Anthony Holden ‘n aantal mansvriende in die kunswêreld genader om vir hom gedigte te stuur wat hulle bewoë maak. Intussen is Kermode egter in 2010 oorlede en het Ben Holden sy pa oorreed om tog die beplande projek deur te voer. John Carey het sy entoesiasme oor die projek te kenne gegee in ‘n nota aan die samestellers: “It will bring some good poems to public notice, and it will stimulate debate about the emotional power of art and how it affects different people.” Hierdie stelling onderstreep die feit dat kuns (en hier spesifiek poësie) onder andere die funksie het om “mooi” of “aangrypend” of “stimulerend” te wees en dat die oorgrote meerderheid mense gedigte lees (of kuns koop) omdat dit “mooi” is of omdat dit tot hulle persoonlik spreek. Myns insiens verloor ‘n mens (veral as die letterkunde jou loopbaan is) dié suiwer intuïtief-menslike aspek te maklik uit die oog. En hiermee propageer ek nie prulkuns nie, maar wel dat ons onsself sal toelaat om betrokke te raak by kuns wat ons aangryp of bepaalde emosies in ons aktiveer.

Die 100 gedigte wat in Poems that make grown men cry aangebied word, kom uit tydperke in die Engelse letterkunde wat strek vanaf die 17de eeu tot vandag. Sommige digters is meer gewild as ander: W.H. Auden was die gewildste digter, gevolg deur Philip Larken, A.E. Housman en Thomas Hardy. Elke persoon wat ‘n keuse gemaak het, het sy keuse verantwoord en dit is uit hierdie notas duidelik dat mense gedigte op verskeie maniere lees, dat persoonlike omstandighede ‘n belangrike rol speel by die voorkeur vir bepaalde soorte gedigte en temas, maar ook dat mense deur ‘n verskeidenheid dinge aangegryp word. Soms is dit die dood van ‘n geliefde kind, eggenoot of vriend, soms die verlies van ‘n geliefde, soms “die liefde” as sodanig, of die besef van ons sterflikheid, die erkenning van Iets groots buite ons begrip of verstand, die grootsheid van die natuur of die nietigheid van die mens. In ‘n volgende blog gaan ek stilstaan by die keuse van enkele bekende figure en veral by die notas wat hulle as motivering vir hulle keuses geskryf het – notas wat inderdaad ‘n verhelderende blik gee op die lesersingesteldheid van poësielesers en die impak van poëtiese tekste op lesers wat gedigte vir genot lees.

In alle eerlikheid: vir my is daar tóg ‘n verskil tussen die huil van ‘n vrou en die huil van ‘n man – op ‘n manier is dit asof die huil van ‘n man, na alle eeue waarin mans moes sterk wees, in sommige situasies ‘n groter impak op my (en blykbaar ook op ander mense) het.

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Marlies Taljard: Gedigte wat sterk manne laat huil (I)”

  1. Elza Lorenz :

    Aangrypende gedig…

Los kommentaar