Dewald Koen. ’n Intertekstuele (ligsinnige) Kersbrief

Met apologie .

Prof dr Sonja Verbeek

Thibaultstraat 3

Stellenbosch

7601

14 Desember 2017

Liefste Hetta

Hoe gaan dit met jou my liewe niggie? Ons het so lanklaas lekker gesels. Dit is so duur om langafstand te telefoneer en met al my universiteitsverpligtinge kry ek skaars tyd om te skinder. Boonop het daar vanjaar soveel nuwe digbundels verskyn. Ek hou skaars by met die leeswerk. Al wat ’n dagblad is soek gedurig ’n resensie van my.

Goeiste, maar dit is warm op die plaas. Ek is nou maar nie gemaak vir Afrikasomers nie. Sweet, vlieë en lastige muskiete is nou nie my idee van ’n rustige vakansie nie. Ek kom tog maar elke Desembermaand Welgeskapen toe om my liewe pappa se onthalwe. (Sedert daardie Van Eeden-man destyds op die plaas was, is hy nie meer homself nie.) Die man raak ook al oud. Raai wie sit op die stoep toe ek laas Vrydag na ’n uitmergelende rit daar arriveer? Tant Nonnie! Die ouvrou staar net voor haar uit en ry daai skommelstoel weer bloots. My ma gluur haar weer deur die kantgordyn aan. As die Kersvakansie eers so afskop. Ek voorspel weer onmin op Kersdag.

Het jy my kerskaartjie ontvang? Dit is so jammerte dat mense nie meer vir mekaar kerskaarte pos nie. Onthou jy toe ons kinders was, het ons ’n toutjie in die sitkamer gespan en al die kerskaarte daaraan opgehang. Dit was altyd ’n kompetisie om te sien wie die meeste en mooiste kaartjies ontvang. Deesdae kry ek net rekeninge en advertensies van vermiste katte in my posbus. My buurvrou, Zan/Xan Olivier, (sy het mos vallende siekte) sweer hier is een of ander okkult wat verantwoordelik is vir die vermiste katte. (Lina se kat word juis vermis. Sy sê jy moet vir haar kom kuier.) Maar Zan/Xan is met die maan gepla. Sy lees heeldag gedigte en dan verbeel sy haar sy is een of ander bekende digter. Drie weke gelede betrap ek haar in my tuin onder die akasiaboom. Sy sê toe sy is Bibi Slippers. (Nogal getooi in ’n polkadotrok met geel hakskoene.) Die week daarna was sy Ingrid Jonker en toe op ’n dag Nathan Trantraal – maar haar poging om Kaaps te praat was maar power. Ek sê toe vir haar: “Meisie, los maar. Gaan drink jou pille.”

Het ek jou gesê my vriendin, Joan, se nuwe digbundel verskyn volgende jaar? Ja, ek dink die titel is Astrak. Ek het vir haar die mooiste Lacoste hemp vir Kersfees gestuur. Sy lyk tog so pragtig in pienk. Watter digbundels het jy vanjaar gekoop? Siestog, jy is ook so alleen sonder kind of kraai. Dit is goed dat jy gedigte lees. (Hoe gaan dit met jou dieet? Ek sukkel vreeslik om laas jaar se kersboud af te skud.) Jy moet sterk staan, Hetta. Die regte man sal kom. My drie en sewentigste bundel verskyn vroeg volgende jaar by Buman en Hussou. Dit heet Koffiemasjien. Lekker postmodernistiese aanslag. Ek dink jy gaan daarvan hou.

Gisteraand kon ek nie slaap nie. Ek gryp toe die Groot Vreseboek wat oorlede Opperhoof nog vir my gegee het toe ek destyds gepromoveer het. Ek lees toe weer “Kersliedjie” en verlang na die dae van die letterkundige laboratorium.

Kersliedjie – D.J. Opperman

Opperman deur Philip Terblanche

 

Drie outas het in die haai Karoo

die ster gesien en die engel geglo,

 

hul kieries en drie bondels gevat

en aangestryk met die jakkalspad

 

al agter die ding wat skuiwend skyn

op ’n plakkie,’n klip, ’n syferfontein,

 

oor die sink en die sak van Distrik Ses

waar ’n kersie brand in ’n stukkende fles,

 

en daar tussen esels en makriel

die krip gesien en neergekniel.

 

Die skaapvet, eiers en biltong

nederig gelê voor God se klong

 

en die Here gedank in gesang en gebed

vir ’n kindjie wat ook dié volk sou red…

 

Oor die hele affêre het uit ’n hoek

’n broeis bantam agterdogtig gekloek.

Kersfees is so spesiale tyd van die jaar. (Ten spyte van Tant Nonnie se teenwoordigheid…) Die samesyn, liefde en uitdeel van geskenke. Ek het vir die hele familie digbundels as geskenk gekoop. Die siele lees tog so min en ’n bietjie kultuur sal hul goed doen. (Jy, Hetta, is natuurlik die uitsondering.) Het jy al Bernard Odendaal se gedig “’n Kersdag se ware verhaal” en C. Louis Leipoldt se “’n Kersnaggebed” gelees? Antjie Krog se “kersfees 1992” is ook pragtig.

Ek moet seker afsluit. Ek het ’n vrugtekoek in die oond en die ding moet tog nie verbrand nie. Hetta, mag jy ’n baie geseënde Kersfees hê. Mag die nuwe jaar vir jou baie voorspoedig wees en geniet die digbundels wat ek vir jou vir Kersfees gestuur het. Gaan lees tog nou Versindaba op die internet – ek weet jy is bang vir tegnologie, maar daar is pragtige gedigte en baie interessante nuus oor poësie wat jou leesgierigheid sal prikkel.

Stuur groete vir jou pa en ma. Ek sal poog om vroeg in die nuwe jaar ’n draai op Rust-mijn-ziel te maak.

Liefste groete,

Sonja

NS: Tant Nonnie stuur groete.

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Los kommentaar