De Waal Venter. Macchu Picchu Deel II

DEEL II HOOGTES VAN MACCHU PICCHU

Hier is die tweede deel van die essay oor Pablo Neruda se beroemde reeks gedigte. In hierdie deel word canto’s V tot VIII behandel.

Die literator en kenner van Pablo Neruda se oeuvre, Kay Engler, meen dat Neruda met “Hoogtes van Macchu Picchu” ’n groot deel van sy siel ontbloot en ’n tipe samesmelting van alle mense wil bewerkstellig:

Just to read this sequence of poems is to reach great heights. Its surge of life—the poet’s, the earth’s, mankind’s—makes a formal analysis seem somehow inappropriate to me. Their spirit balks at that sort of treatment.

Dealing with the most intimate area of each man, the soul, the poet must tread questioningly. This for me is one of the book’s supreme achievements: Neruda reveals a prodigious amount about his soul, respects the mystery of others and gradually fuses us all in a vision of mankind. Neruda the lyricist has triumphed over Neruda the politician.”

Bron: Kay Engler, “Image and Structure in Neruda’s Las alturas de Macchu Picchu,” in Symposium, Vol. 28, No. 2, Summer 1974, pp. 130-45

Engler toon aan dat Neruda met twee sterk temas as agtergrond die “Hoogtes van Macchu Picchu” begin skryf het. Eerstens die verpletterende ervaring van chaos in die wêreld soos weerspieēl in “Residencia en la tierra” en “Tercera residencia”. Dan ook sy vereenselwiging met menslike lyding gedurende Spaanse Burgeroorlog soos hy dit weergee in “España en el corazoón”.Die eerste vier canto’s druk Neruda se smart en wanhoop uit oor die mens se feitlik ondraagbare lot en lyding. Die vyfde canto brei hierop uit.

“Gewone mense”

Canto V

In hierdie kort canto ervaar die digter “’n Donker Nag van die Siel”. Die dood word vergestalt as ’n vrou, soos hy dit ook in Canto III begin doen het. Die dood word beskryf in tipies vanguardista taal (“’n patetiese blomblaar van verweerde tou:”). Ons tref hier die koudste plek aan in die hele reeks cantos.

“Vanguardista” is die Spaanse vorm van die Franse woord “avant-garde”. In die Spaanse uiting van hierdie literêre beweging het die eienskappe van surrealisme en impressionisme veral na vore gekom.

Die verteller in hierdie canto soek na vernuwing:

“Ek het die jodiumverbande opgelig, my hande gedruk / in die armoedige smarte wat die dood omgebring het, / en in die wond kry ek net ’n koue windvlaag / wat deur die vae gapinge in die siel geglip het.”

Hy worstel om die lyding van gewone mense te versag met sy digterlike gawe, maar hy word gekortwiek deur die lewensloosheid van dit wat hy in die gesig staar.

Canto V

Somber dood, dit was nie jy nie, dood, voël met ystervere,

wat die arme erfgenaam van daardie wonings

gedra het tussen haastige slukke kos, onder die leë vel:

dit was iets, ’n patetiese blomblaar van verweerde tou:

’n stukkie hart wat nie die stryd gestry het nie

of die bytende dou wat nie op die gesig geval het nie.

Dit was wat nie herbore kon word nie, ’n stukkie

van die klein dood sonder vrede of plek:

’n been, ’n klok wat in hom sterwend was.

Ek het die jodiumverbande opgelig, my hande gedruk

in die armoedige smarte wat die dood omgebring het,

en in die wond kry ek net ’n koue windvlaag

wat deur die vae gapinge in die siel geglip het.

Canto VI

En toe op die leer

En toe het ek op die leer van die aarde geklim

deur die vreesaanjaende ruigte van verlore oerwoude

op na jou, Macchu Picchu.

Hoë stad van kliptrappe,

uiteindelik ’n woning waar die aardse

nie weggekruip het in sy nagklere nie;

In jou, soos twee parallelle lyne

die wieg van die weerligstraal en die mens

saamgeskommel in ’n doringagtige wind.

Moeder van klip, skuim van die kondors.

Hoë rif van die mens se dagbreek.

Graaf verlore in die oersand.

Dít was die woning, dít is die plek:

hier styg die vet mieliepitte op

en val weer terug soos rooi hael.

Hier is die gouddraad afgeskeer van die vikoenja

om die minnaars, die grafte,die moeders te klee,

die koning, die gebede, die krygers.

Hier het die voete van die mens gerus in die nag

langs die voete van die arende, in die hoë vleislustige

neste, en met dagbreek

aangestap met donderende voetstappe deur die digte mis,

en geraak aan die grond en die klippe

tot hulle dit kon herken in die nag of in die dood.

Ek kyk na die klere en die hande,

die bietjie water in die resonante holte,

die muur verglad deur die aanraking van ’n gesig

my oë het gestaar na aardse lampe,

my hande het verdwene dinge geolie

balke: want alles, klere, vel, potte,

woorde, wyn, brood,

was weg, afgeval grond toe.

En die lug het ingekom met lemoenbloeiselvingers

oor almal wat geslaap het:

’n duisend jaar se lug, maande, weke se lug:

blou lug, ’n yster bergreeks

soos sagte orkane van voetstappe

wat die eensame grens van die klip poleer.

Styging na bo

In canto VI styg die leser saam met die digter na bo. Hierdie tegniek word dikwels in poësie aangetref, dink aan Dante se Commedia Divina. Maar hier het ons nie te doen met ’n godsdienstige gedig nie, eerder ’n spirituele een. Nes in Dante se gedig is die spreker hier nie net die digter nie, maar ook die “gewone mens”.

VII

Dooies van ’n verlate afgrond, skadu’s van ’n rotsskeur,

die diepte, dit is soos die uitgestrektheid van julle grootsheid

daaruit kom die ware, die verterende dood,

en uit die diep deurboorde rotse,

uit die skarlaken pilaarkoppe,

uit die waterleidings vol traplere

het julle geval soos in die herfs

na ’n eensame dood.

Vandag ween die leë lug nie,

dit ken nie julle kleivoete nie,

dit vergeet julle kruike wat die lug suiwer

wanneer weerligmesse uitgegiet word

en die magtige boom deur die newels geëet word

en omgeruk word deur die stormwind.

Dit het ’n hand gelig wat skielik geval het

vanaf die hoogte na die einde van tyd.

Julle bestaan nie meer nie spinnekop-hande, swak

vesels, verstrengelde web.

Wat julle ook al was, het weggeval: gewoontes, verslete sillabes

maskers van verblindende lig.

En tog ’n permanensie van klip en woord:

die stad opgelig soos ’n vaas in die hande

van almal, lewendes, dooies, stilles, ondersteundes,

uit soveel dood, ’n muur, uit soveel lewe ’n slag

van blomblare van klip: die permanente roos, die tuiste:

die ysige buiteposte van hierdie Andes-rif.

Wanneer die kleikleurige hand

in klei verander, en wanneer die klein ooglede toegaan

gevul met skurwe mure, bevolk met kastele,

en wanneer alle mense verstrengeld is in hulle holte,

bly daar ’n verhewe presiesheid oor:

die hoë posisie van die menslike daeraad:

die hoogste kruik wat stilte ingehou het:

’n lewe van klip na so baie lewens.

Canto VII

Hier klim die digter op na Macchu Picchu in ’n soort pelgrimstog na sy verlede. Die opwaartse en afwaarste beweging in die gedigte is funksioneel – terwyl die digter opklim na die stad, daal hy af in die tyd na ’n stad uit die verre verlede. Die stad het “ … geval soos in die herfs na ’n eensame dood.” Die mense het almal verdwyn. Hierdie gesamentlike dood staan in kontras tot die langsame sterfte van enkelinge in die oeroue stad en ook in die huidige, moderne stad. Neruda gebruik sy fisiese en spirituele uitsig om die verlede te koppel aan die huidige, die antieke stad met die moderne een.

Canto VIII

Klim saam met by boontoe, liewe Amerikaan.

Soen saam met my die geheime klippe.

Die stormagtige silwer van die Urubamba

laat die stuifmeel vlieg na die geel beker.

Leegheid vlieg uit die klimop,

die rotsagtige plant, die harde blommekrans

bokant die stilte van die afgrond.

Kom, klein lewetjie, tussen die vlerke

van die aarde, terwyl – kristal en koue, gemokerde lug –

jy vernielde smaragde uittrek,

o wrede water, jy val uit die sneeu.

Liefde, liefde, tot die skielike nag,

uit die resonerende Andes-vuurklip,

na die rooi knieë van die dagbreek,

betrag die blinde kind van die sneeu.

O Wilkamayu van klinkende stroompies,

wanneer jy jou reglynige donderslae afmoker

in wit skuim soos gewonde sneeu,

wanneer jou stormwinde

sing en straf en die lug wakker ruk,

watter taal bring jy na die oor

skaars ontwortel uit jou Andes-skuim?

Wie het die weerlig uit die koue gegryp

en aan die hoogtes vasgeketting,

verdeel in sy gletsertrane,

geskud in sy snydende stroomversnellings,

mokerend met sy oorlog-moeë meeldrade,

voortgedryf op sy oorlogbed,

verskrik in sy rotsagtige einde?

Wat sê jou geplaagde weerligte?

Jou geheime rebelse weerlig

het dit voorheen gereis bevolk met woorde?

Wie gaan bevrore sillabes verbrysel,

swart tale, goue vaandels,

ontsagwekkende monde, gesmoorde gille,

in die dun stroompie van jou bolopies?

Wie sny blomme-ooglede af

wat opkom, starende uit die aarde?

Wie gooi die bondels dooie stingels neer

wat val in jou waterval-hande

om hulle uitgedorste nag uit te dors

tot geologiese steenkool?

Wie gooi die ineengevlegte tak ondertoe?

Wie begrawe weer eens die afskeide?

Liefde, liefde, moenie raak aan die grens nie,

en moenie die versonke kop aanbid nie:

laat tyd sy volheid bereik

in jou sitkamer van gebroke fonteine,

en, tussen die vinnige water en stadsmure,

trek die lug van die rotsskeur saam,

die paralelle windplate,

die blinde kanaal van die bergreeks,

die ruwe groet van die dou,

en klim boontoe, blom na blom, deur die ruigte,

trap op die slang wat van bo af neergegooi is.

In hierdie afgrondelike wêreld, klip en bosse,

stof van groen sterre, helder oerwoud,

bars Mantur uit soos ’n lewende meer

of soos ’n nuwe vloer van stilte.

Kom na my eie wese, na my dagbreek,

na die bekroonde eensame plekke.

Die dooie koninkryk leef steeds voort.

En die bloedskaduwee van die kondor

skuif oor die sonwyser soos ’n swart skip.

Canto VIII met sy drie en sestig reëls, is die langste een in die reeks. Dit is ’n elegiese aanspreking van wat die digter (Latyns) Amerikaanse liefde” noem. Met die reël:

Klim saam met by boontoe, liewe Amerikaan” bedoel Neruda Suid-Amerikaners. Die digter spreek ’n persoon met die naam “Wilkamaya” aan, waarskynlik sy verpersoonliking van die Suid-Amerikaanse volkere. Wilkamaya was die naam vir die melkweg in die naghemel vir die Peruviane van ouds.

Die tema van hierdie canto is ’n evokasie van die natuur in en rondom Macchu Picchu, asof dit die oosprong is van Suid-Amerika, of dit verteenwoordig. Hier is die beweging in die canto steeds boontoe.

Dit is die einde van die tweede afdeling van die essay oor “Die hoogtes van Macchu Picchu”. Die derde afdeling sal die laaste vier gedigte, canto’s IX tot XII, bespreek.

Die canto’s is uit Spaans vertaal deur De Waal Venter.

einde

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. Macchu Picchu Deel II”

  1. Hallo de Waal

    Ek is met stomheid geslaan dat hierdie, alreeds enigsins laat, kommentaar nog die enigste is tot op datum. Òf almal is op vakansie of nog niemand kon hierdie waardevolle bydrae na waarse inskat en dienooreenkomstig iets sê nie. Jy weet wat my gemoeidheid met poësie is. Elke vir my waardevolle gedig is beide uitdaging èn inspirasie en dit geld vir hierdie Neruda-vertalings terdeë.

    Kort gesê : jy het jouself oortref.

    Groete

    Balt

  2. De Waal :

    Dis baie vriendelik van jou, Balt. Baie dankie. Ek hoop die essay sal vir lesers iets beteken. Gelukkig bly dit lank op Versindaba beskikbaar.

Los kommentaar