Wicus Luwes. Wat is ‘n tuiste?

‘n Tuiste as plek

“Ek verkies droë landskappe. Ek hou meer van oopgestrekte veld as tropiese plantegroei,” was ‘n bekende filosoof se woorde aan my. Ek probeer gewoonlik die voor- en nadele van ‘n plek teen mekaar opweeg voordat ek kies. Ek hou van kaggelvure in die Drakensberg se winter. Ek hou van die doringbome in die Noord-Kaap en die Bosveld in die somer. Ek hou van die reuk van die see – selfs die verskil in die reuk van die see by die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Kwazulu Natal. Ek kom gewoonlik nie ver met die negatiewe punte nie, want ek is ‘n seisoenale reisiger of toeris: Ek hou van verskillende plekke op verskillende tye.

Ek kan wel sien dat iemand ‘n plek aan ‘n tuiste kan koppel. Daar is mos ‘n verskil tussen ‘n huis en ‘n tuiste. Die vraag raak interessant wanneer jy dink aan die huis van jou jeug of die plek waar jy graag vakansie hou. Die vraag raak interessant, aangesien die tuiste miskien eerder emosioneel is. ‘n Tuiste is dus eerder ‘n emosie as ‘n plek, maar die plek dien as sneller om die emosie los te wikkel.

‘n Tuiste as sintuig

Ek onthou nog goed die dag toe ek en my pa na ‘n motor gaan soek het. Iets omtrent die verkoopsman het ‘n sneller by my laat afgaan. Ek kon net nie besluit wat die sneller veroorsaak het

nie. Die verkoopsman het my tuis laat voel, alhoewel ek hom nog nie langer as dertig minute geken het nie. Toe die verkoopsman sy pyp begin stop het ek besef wat die sneller was: die verkoopsman het dieselfde tabak as my oupa gerook. Sy reuksintuig was dus ‘n sneller om die gevoel van geborgenheid te aktiveer.

Mense gebruik die krag van die sintuig dikwels by die verkoop van ‘n huis. Ek is seker dat die meeste van ons al gehoor het dat jy koffie moet maak of uie moet braai net voordat voornemende kopers jou huis kom besigtig. Ek is dus redelik oortuig daarvan dat die sintuig van reuk gebruik kan word om ‘n ‘tuiste’te skep. Hoe die ander sintuie gebruik kan word is ‘n ope vraag. Sou jy van ‘n plek hou omdat sy tuinhek op dieselfde manier kraak as die tuinhek van jou jeug? Sou jy ‘n plek as ‘n tuiste sien omdat die klanke van die verkeer jou aan ‘n plek herinner waar jy gelukkig en tevrede was?

‘n Tuiste as persoon

Kerstyd is net nie dieselfde as jy dit nie met jou familie of vriende kan spandeer nie. Goed of sleg, dra die persone wat die huis met jou deel elk by tot jou ervaring van die tuiste. ‘n Mens sou die verhuising van ‘n ouer of grootouer hier as voorbeeld kon gebruik. Die ouer of grootouer trek weg van die huis met die groen grasperk en gaan bly in die woonstelblok met die goeie sekuriteit. ‘n Groot invloed op die gevoel van ‘tuiskoms’ lê in die persoon wat jy by die ‘tuiste’sou ontmoet. Die vraag is dus of die huis voel soos ‘n tuiste omdat ouma, oupa, ma of pa daar teenwoordig is.

Die tyd waarin die plek en die persoon die ‘tuiste’ verlaat, het seker ‘n mate van wisselwerking. ‘n Kind en ‘n volwassene ervaar ook dinge op verskillende maniere. Die plek en die persoon is nie noodwendig twee kante van dieselfde muntstuk nie, maar ervaring word gewoonlik in kombinasie gebou. Ek dink terug aan ‘Siener in die Suburbs’se ‘Wat is ‘n huis sonder ‘n vader’.

Die tuiskoms

Die komponente van ‘n tuiste is belangrik, want dit sou net miskien moontlik wees om die brein te fnuik deur jou eie tuiskoms te skep. Dit kan so eenvoudig wees as om na ‘n gunsteling liedjie uit jou verlede te luister. Dit kan ook gedoen word deur ‘n foto-album nader te trek of ‘n gunsteling gereg te maak. Ek het ‘n paar gunsteling spreekwoorde: Blom waar jy geplant is / `roeien met de riemen die je hebt`. In hierdie tyd waar mense somtyds verlang na ‘n tuiste of ‘n tuiskoms, wil ek die spreekwoord ‘n bietjie aanpas: kom tuis waar jy ookal is. Die brein is ‘n kragtige gereedskapstuk en goeie herinneringe is ‘n tuiskoms. Jou tuiste is miskien nader as wat jy dink en jou tuiskoms is ‘n plek waar jy jou gedagtes kan lei.

tuiste

waar ek vandaankom
is die veld nie oker nie
daar is nie smarag sonsondergange
of omhaal van woorde nie
die veld is geel in die winter
groen in die somer
daar is miershope
en doringbome
ek dink baie daaroor
jy kan dit nie beskryf nie
want die grond
waar ek vandaankom
is hard
dit moet omgeploeg word
met moeite
dit laat jou nie inkom sonder sweet
nie

Bron van foto: http://platinumrealestate.vegas/wp-content/uploads/2017/02/buying-a-home.jpg

Bookmark and Share

Comments are closed.