Andries Bezuidenhout. Elke oog sien anders

Twee weergawes van Matisse se skildery van olyfbome by Collioure

Pas klaar met Hilary Spurling se dubbelvolume biografie van Matisse. Soveel om oor na te dink, maar een interessante tema is Matisse se soeke na landskappe wat hom anders oor kleur laat dink het. Matisse het in dieselfde deel van Vlaandere as Van Gogh grootgeword. Soos Van Gogh was sy hele lewe ʼn reis na die suide – op soek na ʼn ander tipe landskap, landskappe met lig wat ʼn helderder palet in die verbeelding kon laat gloei. Matisse het in Bohain-en-Vermandois grootgeword, aanvanklik ʼn bakermat vir die verbouing van beet en later ʼn nywerheidsdorp vol tekstielfabrieke en werkswinkels. Matisse het sy belangstelling in tekstiel en ontwerp behou, maar wou ʼn ander tipe palet as die een van die landskap en die lae lig, om Brel aan te haal, rondom hom gebruik.

Soos Picasso en baie van die vroeë moderniste is Matisse klassiek opgelei. Skilders moes meesterwerke in die Louvre kon namaak en moes oneindige figuurstudies met gipsbeelde of mense as modelle skets en skilder. Leerlingskilders moes perspektief, vorm, proporsie en tekstuur bemeester. Die donker palet van die Nederlandse en Vlaamse skole is gebruik, met gebrande omber en ander skakerings van bruin as grondtoon.

Matisse, die meester van kleur, het baie van sy deurbrake gemaak as hy Parys verlaat het om op ander plekke te gaan werk: Belle Île, Korsika, Collioure in die Franse deel van Katalonië, Marokko, Tahiti en uiteindelik Nice, waar hy oorlede en begrawe is. Vir Matisse was die landskappe en die ander tipe lig telkens ʼn inspirasie om anders oor kleur en vorm te dink. Sy laaste werk het uit blokke suiwer kleur bestaan – sy ikoniese collages en die loodglasvensters van die Katolieke kapel buite Nice.

*

Sunny Skies se omslag met Walter Meyer skildery

“Ndinomntu Ngelendibik’ Ezulwini.” (As iemand tog net die hemel van my kon vertel)
– Ngqika, soos aangehaal deur S.E.K. Mqhayi

Ek dink op die oomblik baie oor landskappe, lig en kleur na, omdat ek Oos-Kaap toe verhuis het. Ek woon in ʼn klein universiteitsdorpie genaamd Alice, vernoem na Koningin Victoria se dogter. Die magistraatsdistrik heet steeds “Victoria East”, besef ek toe ek ʼn fotokopie by die hof laat waarmerk. Die stadsaal is die Victoria Memorial Hall. Die beroemde Lovedale College is hier, met pragtige Skotse klipwerk in van die neoklassieke geboue, asook die Universiteit van Fort Hare se kampus, wat nou meer as ʼn eeu oud is. Dit als was produkte van die Britte se koloniale sendingskooltradisie, wat teen die 1950s stoom verloor het en toe deur die Afrikanernasionaliste oorgeneem is. Ek wil egter nie nou veel meer oor die sosiale en argitektoniese geskiedenis sê nie – storie vir ʼn ander dag.

Dis die lig wat my fassineer. Alice is naby die Amatolaberge, omring deur heuwels met akasiabome en aalwyne. Die Groot-Visrivier en die Katrivier loop hier naby verby. As jy van hier af Hogsback toe ry, waar die laaste Engelse heen gevlug het, gaan jy ʼn inheemse woud binne. Soos die warm lug bo die Karoo styg, is daar lae wolke wat van die see se kant af aangerol kom, soms onder hoër vlieswolke in. Sonsondergange is asemrowend, op die manier wat pogings om dit te skilder kitsch sal laat lyk. Ek gebruik ʼn animasieprogram om die wolke se beweging te bestudeer.

Ek maak ʼn punt daarvan om nie ʼn plek te skilder as ek dit nie self besoek het nie. Hoe lank moet mens ʼn plek ken voor jy dit werklik kan skilder? Hoeveel skakerings lig moet jy eerstehands ervaar? Daar is soveel van die plante hier waarvan ek die name nog nie ken nie. Vir eers skilder ek dus die binnekant van Healdtown se kerk en nagtonele van Victoria se saal en ʼn meubelwinkel – plekke lyk eerderster as lig deur klein vensters filtreer word, of as daar straatligte is.

*

Sunnyside Flats deur Walter Meyer

“Indlebe ziya kubetabetana.” (Elke oor hoor anders)
– Ndlambe, soos aangehaal deur S.E.K. Mqhayi

Kort na Kersfees word die skilder Walter Meyer vermoor. Die eerste skildery wat ek van hom gesien het, is op die omslag van James Phillips en die Lurchers se album “Sunny Skies”. Die skildery se titel is “Huis met wit boom”. Vir my bly dit ʼn belangrike verwysingspunt. Omdat James Phillips van Springs af kom, het ek my altyd verbeel dat die skildery ʼn Hoëveldtoneel is – waarskynlik die Oos-Rand. Dit kon ook Yeoville wees, waar Walter Meyer in die vroeë-1990s gewoon het. Ek luister steeds elke nou en dan na Phillips se lied “Fun’s not over” – dit herinner my daaraan dat daar in Suid-Afrika nooit besliste breuke met die verlede gemaak word nie: “Just when we thought it’s over, we found it’s only just begun. Just when we thought it’s over, we’re still dying like flies underneath the sun …” Die uittreksel klink waarskynlik meer dramaties op oog as wat die lied op die oor is. Dit kom uit die vroeë-1990s, die tyd van die Derde Mag en die menseslagtings rondom die Oos-Rand se munisipale hostelle. Ek dink nie Suid-Afrika is ooit ʼn plek van nuwe beginne nie, al wil ons onsself verbeel dat daar soms wonderwerke gebeur. Daar is niemand om die hemele van ons te vertel nie. Op Facebook noem Catharina Scheepers, wat voorheen met Walter Meyer getroud was, dat die skildery op “Sunny Skies” van ʼn huis in Beaufort-Wes is.

Gus Silber skryf ʼn pragtige stuk oor Walter Meyer op Facebook, wat hy saam met ʼn foto van ʼn skildery, wat ek nog nie vantevore raakgeloop het nie, plaas. Dis van ʼn woonstelblok, een van daardie regte Johannesburgse modernistiese blokke wat so naby aan mekaar in Hillbrow staan, klinkerstene mynhoopgeel. Later noem Gus Silber die skildery se titel: “Sunnyside Flats”.

My Springs-toneel is toe Beaufort-Wes en my Hillbrow is toe eintlik ʼn voorstad van Pretoria. Die lug en lig in hierdie vier plekke lyk heel verskillend, tog is ek nie in staat om die twee plekke korrek te identifiseer nie. Met die opening van een van Walter Meyer se uitstallings het ek so ewe verduidelik hoe akkuraat hy met die afbeelding van Suid-Afrikaanse lig is. As ek my verbeel dat Beaufort-Wes Springs is, en Sunnyside Hillbrow, moet ek dalk meer versigtig oor Meyer se werk praat en skryf.

Soos Marlene van Niekerk in Louis Esterhuizen se onderhoud met haar noem, moet mens skilderye verkieslik persoonlik leer ken. Mens moet stip na kwasmerke in olie kan kyk, omdat olieverfwerke nie tweedimensionele objekte is nie – ʼn mens verf immers deels op doek omdat dit ʼn tipe tekstuur verkry. Verder lyk digitale afdrukke van kleur verkillend op elke bladsy of skerm, afhangende van die kleurskeidings wat met drukwerk gebruik word of die skerm se kleur- en ligverstellings (afbeeldings heel bo ter illustrasie). Ek troos my daaraan dat ek nog net afbeeldings van die betrokke twee skilderye van Walter Meyer gesien het.

Tog wonder ek oor my letterlike benadering tot die weergee van lig in olieverf en die idee dat elke plek ʼn unieke ligskakering het. Vir Matisse het lig en atmosfeer meer oor ʼn tipe inspirasie gegaan, soos sy naak modelle en vrugtebakke wat hy tot skakerings op sy doeke verwring het. Die realistiese skildertradisie gaan in elk geval deels oor oëverblindery. Doeke skyn nie soos wolke of straatligte nie en daardie vibrasie van lig word deels deur die kontrastering van ligte met donker kleure verkry. Vir eers wil ek nie die idee van plekgebonde lig opgee nie – dat ek die landskap hier veel beter moet bestudeer voor ek dit met oortuiging kan verf.

Bronne:

S.E.K. Mqhayi, Abantu Besizwe: Historical and Biographical Writings, 1902-1944 (geredigeer en vertaal deur Jeff Opland, Wits University Press, 2009). My vertalings is telefoontjiestyl met behulp van Opland se Engelse vertalings gedoen.

Hillary Spurling, The Unknown Matisse: A Life of Henri Matisse: The Early Years, 1869-1908 (Alfred A. Knopf, 2005).

Hillary Spurling, Matisse the Master: A Life of Henri Matisse: The Conquest of Colour, 1909-1954 (Alfred A. Knopf, 2007).

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. Elke oog sien anders”

  1. Juan :

    * Ek het Sunnyside gesien.