Paul Celan – Vertaling in Afrikaans

Paul Celan – gedigte vertaal deur Helize van Vuuren

.

A. Laatwerk-vertalings

 

Singbare res – die buitelyn

daarvan, wat klankloos

deur die sekelskrif heen breek,

eenkant, by die sneeuplek.

 

Werwelend

onder komete-

vuur

die ligmassa, waarop

die verduisterde klein

hartslaaf aandryf

met die

verjaagde vonke.

 

– Ontvoogde lippe, noem dan

dat iets gebeur, nog altyd,

digby jou.

 

  • Paul Celan “Singbarer Rest” (uit Atemwende 1967; vert. H.van Vuuren 22 Januarie 2018)

 

*

 

Singbarer Rest – der Umriß

dessen, der durch

die Sichelschrift lautlos hindurchbrach,

abseits, am Schneeort.

 

Quirlend

unter Kometen-

brauen

die Blickmasse, auf

die der verfinsterte winzige

Herztrabant zutreibt

mit dem

draußen erjagten Funken.

 

Entmündigte Lippe, melde,

daß etwas geschieht, noch immer,

unweit von dir.

 

  • Paul Celan “Singbarer Rest”. Uit Atemwende 1967.

___________________________________________________________

 

Lippe, swelweefsel van die jy-nag

 

Asimptotiese gestaar beklim,

vorm die verbinding,

naai sig hier vas -;

Toevaartsverbod, swart-tolgeld.

 

Daar hoort nog vuurvliegies te wees

 

  • Paul Celan (Uit Fadensonnen Vert. H van Vuuren 31 Julie 2017)

 

*

 

Lippen, Schwellgewebe der Du-Nacht:

 

Steilkurvenblicke kommen geklettert,

machen die Kommissur aus,

nähn sich hier fest -;

Zufahrtsverbote, Schwarzmaut.

 

Es müßte noch Leuchtkäfer geben.

 

 

Paul Celan. Uit Fadensonnen 1968.

 

___________________________________________________________

.

B. Vroeër werk-vertaling

 

Tuiskoms

 

Sneeuval, digter en digter,

duifkleurig, netsoos gister,

sneeuval, asóf jy steeds slaap.

 

Wydverspreid die lae wit.

Daaromheen, eindeloos,

die sleepspoor van die verlorene.

 

Daaronder, geborge,

stulp boontoe

dit wat die oë so seermaak,

heuwel na heuwel,

onsigbaar.

 

Op elkeen,

behuis in sy hede

’n in-stomheid-verglyde ek:

houterig, ’n paaltjie.

 

Daar: ’n gevoel

aangewaai deur ’n yswind,

wat sy duif-, sy sneeu-

kleurige vaandel vasbind.

.

Paul Celan. Uit Sprachgitter 1959. (Vert. H. van Vuuren 15 Mei 2017)

*

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Paul Celan – Vertaling in Afrikaans”

  1. Knap vertalings.

    Vir my is Celan se werk moeilik en verg dit inspanning om agter die kap van die byl te kom. Partykeer kom ek glad nie agter nie! G’n wonder nie, want volgens die kritikus Shoshana Olidort het hy Duits “verkap” en hersaamgestel – ’n baie individualitiese taal, dus.

    Shoshana Olidort skryf in die Chicago Tribune in haar oorsig van Breathturn Into Timestead die volgende:

    Celan was “a Holocaust survivor, [who] wrote in German, his mother tongue and also the language of his mother’s murderers … As a German-speaking Jewish survivor living in France, Celan harbored feelings of intense estrangement from the language and thus set about creating his own language through what Joris eloquently describes as a “dismantling and rewelding” of German. 

    Ek vermoed dit was moeilik om die gedigte in Afrikaans te vertaal weens die digter se benadering tot taal en die verwikkeldheid van die gedigte.

    Vir my is daar baie netjiese vondse en woordgebruik in die vertaalde gedigte.

    “… klankloos/ deur die sekelskrif heen breek”

    Die woordorde is anders as in die Duits en dit is presies reg. Die vertaling kry lewensreg in Afrikaans en is nie ’n skadu van die Duits nie.

    “Asimptotiese gestaar beklim …”

    “Steilkurvenblicke kommen geklettert …”

    Dit is interessant dat die vertaling hier die wiskundige betekenisvan “Steilkurven” gee, eerder as ’n meer spreektaal-weergawe soos dalk “steil kurwe”. Sou Celan wel die wiskundihe begrip in gedagte gehad het?

    Nietemin, die vertalings is baie genietbaar en help mens om Celan se donker gemoed te verken.

  2. helize van vuuren :

    Jy lees besonder fyn, De Waal – met “asimptoties” het ek gedink aan die gebruik van dié woord in NP van Wyk Louw se “Groot ode” – sonder Tristia byderhand, onthou ek dit as “ons waag nie om asimptoties aan te leun”(in my eie Engelse vertaling meer presies weergegee binne konteks van die strofe wat begin vanaf reël 49:
    we still cling/ to the oxygen, to the prerequisites of the lungs:
    dare not, will not dare to bend asymptomatically
    to a bent-away surface and
    never to touch, to be pure-yet-knowing,
    to be thus. This is our human condition.
    https://www.academia.edu/3079567/NP_van_Wyk_Louw_and_T.S._Eliot

    Wat my getref het, is die ooreenkoms tussen Louw se gebruik van “asimptoties aanleun” as soeke na die sin van bestaan/na meer as net bestaan (uit sy vers met die intens geïsoleerde spreker in die grot, afgekeer van die menslike gedoe daarbuite), en Celan se gebruik daarvan (vanuit die isolasie van ‘n psigiatriese kliniek, die “sneeuplek” – tussen 1967-1969 verskeie kere opgeneem). Albei soek ligpunte (een in die omringende duister grot, die ander in die oorweldigende wit van die kliniek, soos sneeuvelde) – by Celan na “vuurvliegies”. In Louw se vers kyk die spreker na die asimptotiese duikeling van die vlermuise. Maar daar is beslis raakpunte in die vertwyfeling van beide digter-sprekers se soekende perspektiewe – in Louw se vers spesifiek gekoppel aan wiskundige kennis wat nié vir die spreker van nut is nie. Hy(“ons”, die druïdes/die sjamaans soek na die ‘sin van die lewe’. Sonder veel omhaal is dieselfde soeke in die Celan-vers uit 1968 aantoonbaar, veral ook weens die outobiografiese konteks daarvan, tussen ‘n eerste selfdood-poging kort te vore, en die finale een in April 1970.

  3. Dit is ’n baie interessante uiteensetting wat jy gee van die gebruik van “asimptoties” in jou vertaling, Helize. Die aansluiting by Van Wyk Louw se gedig werp nuwe lig op die Celan gedig.

    Enkele woorde in ’n vertaling kan soms ’n gedig in ’n ander koers stuur as wat die digter dalk bedoel het. (Ek verwys nie na jou vertaling hier nie). ’n Engelse vertaling van een van Pablo Neruda se cantos uit “Alturas de Macchu Picchu” lewer “panes” as “loaves” wat die gedig sterk binne die Christelike religieuse sfeer intrek, iets wat Neruda waarskynlik nie bedoel het nie.

    “Quirlend
    unter Kometen-
    brauen”

    Pragtige vertaling hier.

    “Werwelend
    onder komete-
    vuur”

    “Quirlen” beteken onder andere iets soos “klits” of “rondtol”. Die keuse van “werwelend” is uitstekend. Mens ervaar die kosmos met al sy ontsaglike verskynsels in die woord.

    Dan ook “vuur” vir “brauen”. Die Duitse woord het konnotasies soos “brou” en “’n konkoksie maak”. Maar “vuur” is ’n raak keuse in Afrikaans, al beweeg dit weg van die letterlike.

    En dan:

    “Herztrabant zu treibt
    mit dem
    draussen erjagten Funken.

    Die Afrikaans:

    “hartslaaf aandryf
    met die
    verjaagde vonke”

    Mens tref dikwels in vertalings aan dat woorde, soos hierbo, nie letterlik vertaal word nie en dat daar partykeer ekstra woorde ingevoeg word wat nie in die oorspronklike voorkom nie.

    Dit is egter min dat jy sien dat woorde weggelaat word in ’n vertaling. Ek sou graag wou weet waarom die “draussen” in die fragment hierbo nie vertaal is nie. Dit kon iets wees soos: “met die/ verjaagde vonke daar buite”. Wou die vertaler dalk die afgestroopte, kort sinsnedes behou wat in die Duits voorkom?

  4. Helize van Vuuren :

    “Vergeef my nie te wil sê nie”, is eintlik al wat ek wil sê… Celan se laatwerk vorm ‘n verwikkelde kluwe, wat eindelose kou en herkou, en uitputtende spoorsny neem om miskien, altemit (wie sal ooit kan sê?), te begin begryp. Daar is waarskynlik soveel interpretasies daarvan, as wat daar vertalers is – en dis weinig wat hul daaraan waag. Só ‘n vertaling onderneem ‘n mens nie sonder groot durf en selfs angs nie. Om te probeer verduidelik hoe en waarom by spesifieke oordrag na die moedertaal gekom is, sal talle bladsye neem. Saam met so ‘n vertaling moet klaarblyklik liefs ‘n begeleidende essay gaan waarin alle oorwegings en begrip van die vers verhelder word (beoog as moontlike toekomstige projek). Iets van dié verwikkelde verhouding tussen digter, gedig en leser-oordrag in ‘n “ver-taling” of liewer “oordrag” (“om oor te neem, oor te dra”), word miskien duidelik in die volgende passasie, deur Aris Fioretos in die voorwoord tot sy saamgestelde en geredigeerde bundel WORD TRACES: READINGS OF PAUL CELAN (1994):

    “The wound (…) inflicted by reading – is the wound of language. During the twenty-five years Celan wrote in German, this wound both healed and deepened. Yet to say that it is readable may prove problematic, as Jacques Derrida points out in his contribution to this volume: “for it is also unreadable, and this is why it wears out reading to the very marrow.” “But”, he adds, the wound “belongs to the experience of reading…even…to that of translation, for the “setz…über”, which could not be translated by ‘translates’ under any circumstances, also passes over this grammatical impossibility to beckon towards the translation of this reading-wound, passing over the border to the other side, the side of the other.”

    Lees die vertaling en die Celan-vers ook binne ons huidige konteks, en die konteks van resente werk deur ons ouer digters. Lees maar, dit is orals in hul werk, ook op hierdie aanlyn joernaal, die tekens van die “singbare res”, die laaste gesange of psalms, die boodskappe gebring van die bykans uitgestorwe mispels, die “mede-wete”.