Carina van der Walt. Panta Rhei – Panta Klei

Strijdom van der Merwe, Kamiyama Japan (2003)

 

lied uit ’n bamboesriet

 

tussen 2 bamboesringe

kerf hy die eb & vloed

van sy vol gemoed

 

vir die groen toetse

sny hy ’n lagie bas versigtig af:

bedagsaam spaar hy die hout

net hý hoor die dun pynlyne

nog opgesluit in hierdie stok

stilte

laat hy toe & toewyding

tot heimwee hom bespeel

& die hoë note uit laat streel

 

vir die bruin toetse

moet hy dieper klanke kerf:

hom opdring aan die ragfyn nerf

sy knipmes gevoelig na binne rig

die sagte vesel paai & die riet uitlig

geraas

vir ander maak

pynlik sy eie verlange loslaat

& aan aardse toonhoogtes vashou

 

tussen 2 bamboesringe

rittel verwonding & verwondering

yin & yang op die bamboesstam

 

© Carina van der Walt

uit: Panta Rhei – Panta Klei: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam (2018)

 

Strijdom van der Merwe, Sylteiland Duitsland (2009)

 

deur sy vingers

 

die aarde lê doodstil

haar voorkop is warm

koorsig gloei sy van binne

lugspieëlings sidder oor haar wange

 

sy het haar oë toegemaak

teen die messe van die siedende son

wat groewe op haar wange getrek het

teen warrelwindstof – sy huil binnetoe

oor vrugbare grond wat in die lug dwarrel

die aarde sweet & ruik soos swael

sy hou haar gebarste lippe oop

haal vlak asem haar keel droog

 

die woedende wind gryp haar asem

skroei bossies & klippe pikswart

asem verdamp vinniger as asemhaling

verlate: trane loop binnetoe –

’n man bring ’n emmer met skaapwol

stil vul hy haar krake daarmee hy prewel

pers olie uit wol op haar gebarste tong

 

die aarde gaan ten gronde

 

© Carina van der Walt

uit: onder ons mense: Poëziecafé Ongerijmd, Arnhem (2017)

uit: Panta Rhei – Panta Klei: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam (2018)

Bookmark and Share

Los kommentaar