De Waal Venter. Deel III Macchu Piccchu

Macchu Picchu

Deel III Hoogtes van Macchu Picchu

Dit is die derde, en laaste, essay in hierdie reeks oor Neruda se “Hoogtes van Macchu Picchu”. Die ander twee essays het vroeër op Versindaba verskyn en belangstellende lesers kan hulle maklik opdiep. Die drie essays bevat volledige vertalings van al twaalf canto’s van die Macchu Picchu reeks, gepaard met toeligting en kommentaar oor die gedigte.

Neruda wou ’n Latyns-Amerkaanse mitologie skep met “Hoogtes van Macchu Picchu” en die hele “Canto General”. Hy het nie die bestaande mites van die inheemse bevolking geïgnoreer nie, maar baie van die simbole van hierdie kulture in twaalf canto’s gebruik.

Hy is ontroer deur die armoede van die Suid-Amerikaanse bevolking insluitend dié in sy land, Chile, toe hy in 1943 teruggekeer het. Dit, gepaard met sy verskriklike ervaringe in Spanje gedurende die Spaanse Burgeroorlog, het die digter, wat altyd geneig was tot optimisme en populisme, aangespoor om antwoorde en oplossings te soek. Dit het hy gekry op die begspits in Macchu Picchu in 1943.

Caroll Ullman, ’n skrywer en redakteur, sê die volgende in haar essay oor Neruda:

“Neruda’s journey, from his early manhood to the day he saw Macchu Picchu, was an expedition of mythic quality and he indeed includes this as the first half of the poem. Joseph Campbell, the renowned mythographer, writes about the hero’s journey in his book The Hero with a Thousand Faces. The hero’s journey begins with a summons; throughout his quest he is offered help and he meets with tribulation. He encounters gods, who are simultaneously aid and tribulation to him; he looses friends; and eventually acquires the boon that he seeks. This journey, is, of course, not about the material object the hero returns home with; it is about the hero’s spiritual growth, often symbolic in specific tales as a boy becoming a man, or a prince becoming king.”

Die taal wat Neruda gebruik, is skouspelagtig. Werkwoordtye verskuif, aanspreekvorme verander, party selfstandige naamwoorde het veelvuldige betekenisse en sommige kom reg deur al die gedigte voor. Dit is moeilik om te vertaal.

Robert Pring-Mill skryf in sy inleiding tot Tarn-uitgawe van Neruda vertalings:

“Neruda works with ambiguities, not stating but suggesting, and usually suggesting a number of different lines of thought and feeling at any given time. It is this feature of his approach which makes his poetry so extraordinarily hard to translate.”

Canto IX

Hierdie canto is ’n verbluffende uitstorting van idees en metafore in die vorm van ’n soort dreunsang. Dit wil die leser betrek in ’n religieuse of spirituele – en ook poëtiese belewing. Macchu Picchu en die talle afgestorwenes wat die die stad gebou het en daarin gewoon het, word hierdeur opgeroep. Hierdie canto is die een wat hom die beste daartoe leen om voorgedra te word, selfs as ’n dreunsang. Die gedig bestaan uit ’n lang reeks epitetons, een na die ander: “Sterre-arend, mistige wingerd / Verlore bastion, blink kromswaard …”

Chileense arend

Canto IX

Águila sideral, viña de bruma.

Bastión perdido, cimitarra ciega.

Cinturón estrellado, pan solemne.

Sterre-arend, mistige wingerd.

Verlore bastion, blink kromswaard.

Sterbesaaide gordel, heilige brood.

Stormagtige trapleer, reuse ooglid.

Driehoekige tuniek, stuifmeel van klip.

Granietlamp, brood van klip.

Mineraalslang, roos van klip.

Maanperd, lig van klip.

Tekendriehoek-middernag, damp van klip.

Dak aangeval deur vere.

Vertakte spieëls, basisse van storms.

Trone platgetrek deur klimoppe.

Oorheersing van die bloedige klou.

Stormwind ondersteun op die skuinste.

Roerlose turkoois stroomversnelling.

Vaderlike klok van die slapendes.

Ring van oorheerste sneeu.

Yster wat lê op hulle standbeelde.

Onbereikbare, afgeslote storm.

Puma-hande, bloeddorstige klip.

Skadutoring, gesprek van sneeu.

Die nag opgelig in vingers en wortels.

Venster van die newels, verharde duif.

Nagtelike plant, standbeeld van donder.

Essensie van die bergreeks, dak van die see.

Argitektuur van verlore arende.

Koord van die lug, heuningby van die hoogtes.

Bebloede waterpas, saamgestelde ster.

Andes-slang, voorkop van hanekam.

Koepel van stilte, suiwer vaderland..

Bruid van die see, katedraal-boom.

Tak van sout, swartvlerkige kersieboom.

Besneeude tande, koue donder.

Geskraapte maan, dreigende klip.

Kruin van die koue, stuwing van die lug.

Vulkaan van hande, donker waterval.

Silwer golf, rigting van die tyd.

Inca adel

Canto X

Piedra en la piedra, el hombre, dónde estuvo?

Aire en el aire, el hombre, dónde estuvo?

Tiempo en el tiempo, el hombre, dónde estuvo?

Klip in klip

Klip in klip, en die mens, waar was hy?

Lug in lug, en die mens, waar was hy?

Tyd in tyd, en die mens, waar was hy?

Was jy ook die gebroke stukkie

van die onklaar mens, van die leë arend

wat deur vandag se strate, deur die voetstappe,

wat deur die blare van die dooie herfs

aanhou die siel vergruis tot by die graf?

Die arme hand, die voet, die arme lewe …

Het die dae van ontrafelende lig

in jou, soos die reën

op die vaandels van die fees,

het hulle blomblaar na blomblaar van hulle donker voedsel

in die leë mond laat val?

Honger, koraal van die mens,

honger, geheime plant, wortel van die houtkappers,

honger, het die rand van jou rif opgeklim

tot hierdie hoë drywende torings?

Ek ondervra jou, sout van die paaie,

wys my die lepel, laat my, argitektuur,

laat my klip-meeldrade uitkerf met ’n stokkie,

terwyl ek teen al die trappe opklim tot in die niks

en skraap aan die kern tot ek raak aan die mens.

Macchu Picchu, het jy

klip op klip gepak en heel onder, lappe?

Laag bo laag steenkool en op die bodem die traan?

Vuur na goud, en binne dit, die sidderende rooi

reëndruppel van bloed.

Gee my terug die slaaf wat jy begrawe het!

Skud die harde brood

van die armsaliges, wys my die klere

van die bediende en sy venster.

Vertel my hoe hy geslaap het terwyl hy geleef het.

Vertel my of hy gesnork het, of sy drome

half oop was soos ’n swart gat

deur uitputting gemaak op die muur.

Die muur! Die muur! As elke klipvloer

neersak op sy drome, en as hy onder haar,

soos onder die maan, aan die slaap raak!

Antieke Amerika, versonke bruid,

gaan weg uit die oerwoud na die leë hoogtes van die gode,

onder die bruidsbaniere van lig en respek,

smelt saam met die gedreun van tamboere en lanse,

ook, jou vingers ook,

hulle met die abstrakte roos en die rand van die koue,

dat die bebloede bors van die nuwe koring gevat word

na die net van stralende materiaal, tot die verharde holtes,

ook, ook, begrawe Amerika, het jy wag gehou in die diepste dieptes,

in die bitter binnegoed, soos ’n arend, die honger?

In Canto X vra Neruda of die manne en vroue wat lank gelede geleef het ooreenkom met die mense wat vandag leef. Was hulle ook honger? Die digter praat met ’n persoonlikheid wat Macchu Picchu kan wees of die gevoel van honger. Ten spyte van die vrae oor die dooies in hierdie canto, is die beweging boontoe:

“ …het die rand van jou rif opgeklim …”

Die digter wil verder weet wat die mense se betrokkenheid was by die geskiedenis van Macchu Picchu:

“Honger, koraal van die mens,

honger, geheime plant, wortel van die houtkappers

honger, het die rand van jou rif opgeklim

tot hierdie hoë drywende torings?”

Werkers

Canto XI

A través del confuso esplendor,

a través de la noche de piedra,

déjame hundir la mano

y deja que en mí palpite, como un ave mil años prisoniera

Deur verwarde pragtonele,

deur ’n nag van klip, laat ek my hand wegsink

en laat dit in my klop soos ’n voël gevange vir ’n duisend jaar,

die ou en vergete hart!

Laat my vandag hierdie geluk vergeet, wyer as die see,

want die mens is wyer as die see en al sy eilande

en moet in hom inval soos af in ’n put om terug te klim

met ’n tak van geheime water en verborge waarhede.

Laat ek vergeet, wye klip, die magtige afmetings,

die transendentale wydte, die heuningkoek se fondamentklip,

en laat my hand toe om vandag vanaf die tekendriehoek te gly

oor die skuins sy van ruwe bloed en ’n boetekleed.

Wanneer, soos ’n perdeskoen van rooi dekvlerke,die woedende kondor

my slape toetakel in vlugorde

en ’n orkaan van vleisvretende vere die donker stof

afvee teen skuins trappe, sien ek nie die stormende gedierte nie,

en ook nie die blinde siklus van sy kloue nie,

ek sien die oeroue wese, die slaaf, die slapende

in die veld, ek sien ’n ligaam, ’n duisend liggame, ’n mens, ’n duisend vroue,

neergevel deur die swart rukwind, verdonker deur die reën en die nag,

met die massiewe klip van die beelhouwerk:

Juan Klipkapper, seun van Wiracocha,

Juan Kouemaag, seun van die groen ster,

Juan Kaalvoet, kleinseun van die turkoois,

styg boontoe om saam met my gebore te word, my broer.

Canto XI

In Canto XI keer die digter terug na die primêre aksie van Canto I met die woorde:

Deur verwarde pragtonele,

deur ’n nag van klip, laat ek my hand wegsink

en laat dit in my klop soos ’n voël gevange vir ’n duisend jaar,

die ou en vergete hart!”

Hierdie “hart” is nie dié van die skouspelagtige Macchu Picchu nie, maar eerder die hart van die mense van vervloë dae, die slawe en arbeiders wat Maccu Picchu gebou het. Neruda toon sy meegevoel met die verweerde hande en geboë rûe van hierdie mense. Hy spreek hulle direk aan in die laaste reël van die canto:

“Juan Kaalvoet, kleinseun van die turkoois,

staan op en word gebore saam met my, broer.

Die armes se blyplekke

Canto XII

Sube a nacer conmigo, hermano.

Dame la mano dese la rofunda

zona de tu dolor diseminando

Staan op en word gebore saam met my, broer.

Gee my jou hand vanuit die diepte

van die wêreld van jou uitgestrekte smart.

Jy sal nie terugkom uit die dieptes van rots nie.

Jy sal nie terugkom uit ondergrondse tyd nie.

Dit sal nie jou verharde stem terug gee nie.

Hulle sal nie jou uitgeboorde oë terug gee nie.

Kyk na my uit die dieptes van die aarde,

boer, wewer, stil veewagter:

temmer van die beskermende guanacos:

bouer van die uitdagende steier:

waterdraer van Andes-trane:

juwelier van verpletterde vingers:

boer bewend in die saad:

pottebakker uitgedruk in jou klei:

bring al jou ou begrawe smarte

na die beker van hierdie nuwe lewe.

Wys my jou bloed en jou ploegvoor,

Vertel my: hier is ek gestraf,

want die juweel het nie geskitter op die aarde nie

nie die klip of die graankorrel betyds gelewer nie:

wys my die rots waarop jy geval het

en die hout waarop hulle jou gekruisig het,

laat die oeroue vuurstene vir my brand,

die oeroue lampe, die swepe

wat eeue lank vassit aan die wonde

en die byle glansend van bloed.

Ek kom om deur jou dooie mond te praat.

oor die aarde verenig

al die stil en verstrooide lippe

en uit die diepte praat hulle met my die hele nag deur

asof ons aan mekaar vasgeanker is,

vertel my alles, ketting na ketting,

skakel na skakel, en voetstap na voetstap,

slyp die messe wat julle gehou het,

plaas hulle in my bors en in my hand,

soos ’n rivier van geel weerlig,

soos ’n rivier van begrawe luiperds,

en laat my ween, ure, dae, jare,

blinde eeue, sterbesaaide tydperke.

Gee my stilte, water, hoop.

Gee my stryd, yster, vulkane.

Sit julle liggame aan my vas soos magnete.

Kom na my are en my mond.

Praat deur my woorde en my bloed.

Canto XII

In die laaste canto herhaal die digter die laaste reël van die vorige canto as ’n soort inkantasie: “Staan op en word gebore saam met my, broer.” Die arbeiders en slawe van die verre verlede word aangespreek. ’n Reeks epitetone kom voor waarmee hierdie mense se werk en lewens beskryf word. Dit is baie soos die eptone wat Neruda in Canto IX aangewend het om die aanskoulikheid van Macchu Picchu te beskryf.

Die digter wil die mense weer deur hom laat herleef:

“Sit julle liggame aan my vas soos magnete.

Kom na my are en my mond.

Praat deur my woorde en my bloed.”

Hy wil hulle swaarkry en leed deel en deur oor hulle te skryf, wil hy hulle onsterflik maak. Een van Neruda se bekendste vertalers in Engels, John Felstiner, skryf:

“When the poet says ‘rise to be born with me, brother,’ he is not only summoning the past to the present but urging the present into the future. ‘The Heights of Macchu Picchu’ as mythology is as much about what has already happened as it is about what is yet to come.”

einde

Bookmark and Share

Los kommentaar