De Waal Venter. Die gedig stap uit sy skoene


Charl-Pierre Naudé

Die gedig stap uit sy skoene

Elke digter het ’n unieke aanslag, ’n unieke “stem”. As iemand homself of haarself aanbied as digter en daardie persoon het nie daardie unieke werkwyse nie, is daardie persoon nie ’n digter nie, maar ’n nabootser van ander.
Daar is wel sekere temas, konsepte en situasies wat telkens deur digters gebruik word en wat op verskillende maniere uiting vind in hulle gedigte. Ek wil in hierdie essay ’n paar sulke konsepte uit die oeuvres van verskillende digters bekyk en vergelyk. Die doel is nie om die gedigte krities te bespreek of waardebepalings te maak nie, maar om te kyk na die verskillende werkwyses en benaderings van die digters.
Ek gebruik Charl-Pierre Naudé se gedig “Glas” as die kerngedig. (Die digter het toestemming gegee om die gedig hier te gebruik). Die ander digters wat ter sprake kom is: Tomas Tranströmer, Coral Bracho, en David Huerta.
Hier is Charl-Pierre Naudé se gedig:
Glas
Svendborg, 2017

Wat my opval
is die aanleunbousels van glas
teenaan die baksteenhuisies –

om ʼn blertsie winterson in op te vang
sonder die koue wat inbreuk maak van buite.

Verder kuslangs
staan van dié skoonkykende winterhutte amper óp die water
en die effek van hul refleksies is soos “glas op glas”.

Op die dag van my aankoms
het ek langs die seesoom gaan staan
om in die wye stil vlak te staar
nét toe die laatlig skuins tref
só dat die buurt volmaak

daar in die oomblik
sowel as in die ewigheid
vasgelê word:

soos die gesinsfoto wat nimmer verweer
omdat dit op die maan
deur ʼn ruimteman vergeet is.

(Praat liefs nie oor ʼn vlag
wat nie kan wapper nie.)

En, toe. Rampspoed!
Die veerboot vaar verby.
Klaarpraat, korte mette.
Die universele oomblik
implodeer net daar.
Noem dit maar: ʼn opskroef (van gewone wette).
Bousels verwring, mure rek soos kougom en val om
en vervaard kom al wat straat is op my af gehardloop.
So goed as ʼn tsunami! Net so sleg.
Boonop is týd die medium, nie bloot water nie;

die soort prentjie wat ʼn Van Gogh sou geskilder het.

Nou kyk, om te vertoef in die huis waarin Brecht
gewoon toe hy van die Nazis gevlug het,
en dan ingesuig te word – deur wat – ʼn terugtrekkende
tydgolf? Dis nie ʼn ligte rimpeling nie.

Bertolt kyk nou op na die verlede, nie die toekoms nie.
En Amerika gaan hom nie red nie, nie eens
vir ʼn gwano-sekonde nie.
Amerika gaan hom verraai, soos wat dit óns verraai.
Die deining groei, krul om
en donder met ʼn soliede massa neer.

Daar word gesê dat weens die vogtige lug
sommige skeeftrekkende wonings
hier soos ʼn moerstadig wapperende Deense vlag lyk –
sélle blokpatroon:
tipies van weerspieëlings; ʼn kwessie van omkering.
Dus hardloop ons vir ons lewe. Agteruit,

dieselfde huis in
wat ek in die water gesien het.
Waar die wynbottels volloop, nie leeg nie,
en die muurhorlosie, getroue meul-eseltjie, teenkloksgewys arbei.

En in ál die beddens slaap die blou lug.

In die leeskamer staan en wieg
ʼn man heen en weer in ʼn gety.
Hy’t ʼn toom uit die rak getrek oor “ewige wederkeer”.
Onbekend is hy soos môre heeldag
(tipies van die arme Nietszche),
en hy lees nou oor sy voorganger, die vername Naudé.
(Wat in die boek, dis algemeen bekend, ʼn klap
van ʼn vis se stert kry.)

Die kamerdeure word in die woud gekap.
En die dekriet groei wild op die grasvlakte.
Al die deursigtige huisornamente
moet nog gegiet word.
Ek sien dit, so duidelik soos gesmelte glas,

golf ná golf ná golf:
Eers kom die einde nader, dan weer ʼn begin.

Die lewe is ʼn nagmerrie waaruit mens wakker word
selfs al is dit so mooi.

*Die “blokpatroon”: 19de eeuse boumetode: Fachwerk (Duits), Bindingsværk (Deens), waarin houtbalke die struktuur verskaf wat deur klei- of baksteen gevul word.

©Charl-Pierre Naudé / 2017
Weerkaatsings
Ek lig ’n moment uit Naudé se gedig wat iets te sê het oor die begrip “weerkaatsing” of “refleksie”. Dit word op verskeie maniere ingespeel reg deur die gedig:
“Verder kuslangs
staan van dié skoonkykende winterhutte amper óp die water
en die effek van hul refleksies is soos ‘glas op glas’”.
Mens sien in jou geestesoog die rye huise wat weerkaats lê in ’n spieël, en onwillekeurig kry jy Arvo Pärt se “Spiegel im Spiegel in jou gedagte. Die musiek skep ’n reeks “oneindige spieëls” wat jou intrek maar op ’n ander manier agteruit laat beweeg.
Met hierdie “verdieping” van die leser se ervaring, stap die gedig as’t ware uit sy skoene en stap ’n ander wêreld binne.
Tomas Tranströmer

Tomas Tranströmer

Uit: Die droewe gondel (1996)
Sorgegondolen

April en stilte

Die lente lê verlate.
Die fluweelswart sloot
kruip hier langs my
sonder weerkaatsings.

Die enigste iets wat glinster
is geel blomme.

Ek is geborge in my skadu
soos ‘n viool
in sy swart kas.

Die enigste ding wat ek wil sê
glinster buite bereik
soos silwerware
in ‘n pandjieswinkel.

Hoe werk Tomas Tranströmer met die idee van weerkaatsing? In een van sy gedigte keer hy die idee om van beelde wat teruggekaats word:
“Die lente lê verlate.
Die fluweelswart sloot
kruip hier langs my
sonder weerkaatsings.”
Hier speel die weerkaatsing ’n meevoerende rol deurdat dit afwesig is. Die sloot is “fluweelswart” en kaats niks terug aan die leser nie. Dit behou die geheime wat daarin verborge is. Die mens neem iets waar as “swart” wanneer ’n voorwerp baie min lig terugkaats na die kyker. Die fluweelswart sloot ontvang al die lig wat daarnatoe teruggekaats word en gee niks terug nie. Maar juis hierdie gebrek aan die oordra van kommunikasie, kommunikeer heelwat: daar is baie wat vir die mens onkenbaar is en sal bly. Hoe meer ons kennis uitbrei hoe groter word die misterië van die wêreld waarin ons onsself bevind.

Coral Bracho

Coral Bracho

Agter die gordyn

Agter die gordyn is ’n wêreld van kalmte,
agter daardie groen
’n skuilplek,
’n diep stilte.
Dit is ’n onaangetaste koninkryk, met sy stilte.
Vanuit die vloeiende verskyning
van ’n ander wêreld,
vanuit daardie ander werklikheid
van verstrooide geluide; vanuit daardie ander tyd
vasgevang, roep hulle my.

Coral Bracho beskryf ’n gordyn in ’n vertrek en onmiddellik verskuif die waarneming na ’n abstrakte register.
“Vanuit die vloeiende verskyning
van ’n ander wêreld,
vanuit daardie ander werklikheid van verstrooide geluide; vanuit daardie ander tyd”
Coral Bracho ervaar ’n “ander werklikheid” verskuil agter die gordyn. Hierdie ander werklikheid word weliswaar “teruggekaats” na die spreker in die gedig. Verder is daar ook ’n “ander tyd” wat geassosieer word met die terugkaatsing. Die verskyning van tyd in verskeie vorme kom ook in Naudé se gedig te berde.
In Naudé se gedig begin die reeks besinnings oor “weerkaatsing” met ’n beskrywing van ’n werklike verskyndel wat visueel waargeneem kan word – die weerkaatsing van huise op stil water. Geleidelik word dit geabstraheer tot dit lei na “omkering” en agteruit beweeg in die tyd. Die wynbottels “loop weer vol”.
In die Bracho gedig is die benadering onmiddellik meer abstrak. Al wat in die werklikheid waargeneem kan word, is die gordyn. Agter dit is die abstraksie van ’n ander wêreld. In albei gedigte word dus ’n konkrete beeld gebruik wat dan geabstraheer word. Die wyse hoe dit gebeur is egter verskillend.
David Huerta

David Huerta

Klanke

Besoedelde ryp uit die luidspreker
in die nomadiese skemerte
van die motor;
’n moeras van klanke
waarin die naald van gehoor
skaars kan beweeg.
Skielik ’n torch singer
bars deur Wittgenstein
met die vurke van de Cante …
Hoe doen sy dit? Hoe
ontkoppel, ontbind sy tale,
laat die wêreld vloei – en bo en behalwe dit
voeg sy grasie
en tragedie by?
Die motor
gaan die nag in
gesalf met musiek.

David Huerta maak eweneens gebruik van die tegniek om iets wat waarneembaar is in die werklike lewe, te abstraheer en metafories om te bou. Die “torch singer1” “ontkoppel en ontbind tale” en laat die wêreld vloei.
“Hoe doen sy dit? Hoe
ontkoppel, ontbind sy tale,
laat die wêreld vloei – en bo en behalwe dit”
Hier het ons nie heeltemal te doen met ’n weerkaatsing nie, maar die “vloeiing” van ’n situasie, soos dit in Naudé se gedig gebeur waar die man staan en wieg soos seewier met ’n boek (toom) in sy hande. Die sangeres in Huerta se gedig “bars deur Wittgenstein” met haar lied. Hier is dit ’n klankervaring in die werklike lewe wat geabstraheer word tot die “ontbinding van tale” en die “vloeiing” van die wêreld.
In hierdie vier gedigte sien ons hoe elke digter ’n werklike ervaring, visueel en klankmatig, a uitgangspunt neem en dit met ’n handomkeer abstraheer sodat daar verdieping kom en die verwysingsgebied van die abstraksie en metafoor geweldig uitgebrei word. Elke digter hanteer hierdie proses egter op ’n unieke wyse. In Naudé se gedig is die oorgang geleidelik, in Tranströmer vinniger en in Bracho en Huerta se gedigte is dit oombliklik.
Dit lyk vir my of alle poësie berus op herkenbare ervaringe, gewaarwordinge, emosies en waarnemings. ’n Suiwer abstrakte gedig wat nie in die menslike ervaring gegrond is nie, kan nie sin maak nie. Dit is wel moontlik om in ’n suiwer abstrakte taal te kommunikeer – in wiskundige begrippe en formules. Maar dan weet mens dat wiskunde nie poësie is nie.
Einde
1. ’n “torch singer” is iemand wat sing van onbeantwoorde liefde. Dis taamlik droewig, maar ook sensueel en verlangend. Bekende sangeresse wat dikwels in hierdie styl sing, is byvoorbeeld Adele en Judy Garland.

Die digters
Coral Bracho was born in Mexico City in 1951. She has published six books of poems: Peces de piel fugaz [Fish of Fleeting Skin] (1977), El ser que va a morir[The Being that is Going to Die] (1981), Tierra de entraña ardiente [Earth of Burning Entrails] (in collaboration with the painter Irma Palacios, 1992), La voluntad del ámbar [The Will of Amber] (1998), Ese espacio, ese jardín [That Space, That Garden] (2003), and Cuarto de hotel (2007). Her poems were translated for the PTC’s 2005 World Poets’ Tour by Tom Boll and the poet Katherine Pierpoint.
David Huerta was born in Mexico City in 1949. He is one the leading poets of the generation that first came to prominence during the 1970s in Mexico. He published his first book of poems, El Jardín de la luz [The Garden of Light] (1972), while still a student in the Faculty of Philosophy and Arts at Mexico’s Autonomous National University (UNAM). It has been followed by numerous collections.
Bron: Poetry Translation Centre
Tomas Tranströmer
Sweedse digter en Nobelpryswenner. Sy gedigte is in meer as 50 tale vertaal.

Die gedigte is uit Spaans en Sweeds vertaal deur De Waal Venter

Bookmark and Share

9 Kommentare op “De Waal Venter. Die gedig stap uit sy skoene”

  1. helize van vuuren :

    Boeiende oorsig/insig, DeWaal. Maar jou stelling “alle poësie berus op herkenbare ervaringe, gewaarwordinge, emosies en waarnemings” is darem bietjie baie dik vir ‘n daalder. “(H)erkenbaar” vir wié? seer sekerlik heel heel dikwels beslís nie vir die leser nie…vandaar die begrip “duister” of “hermetiese”, geslote poësie. “Herkenbaar” vir die digter, seker, meestal (ek probeer dink aan uitsonderings soos drome, invalle van buite, sonder rede of logika, stemme gehoor, sulke soort verskynsels wat tog ook tot verse aanleiding gee.)

  2. Dit verskaf my groot genoeë, Helize, dat jy met my verskil. Verskillende menings stimuleer debat en bring nuwe insigte.

    Nee, ek dink nie my daalder is te dik nie. My stelling: “Dit lyk vir my of alle poësie berus op herkenbare ervaringe, gewaarwordinge, emosies en waarnemings.” Ek het gaan soek na ’n Afrikaanse gedig wat nie berus op herkenbare ervaring nie. En kom af op “woknakwyf!” Hierdie woord bestaan nie, behalwe in Peter Blum se gedig. Maar hierdie uiting van “waansinnige insig” word voorafgegaan deur ’n duidelik herkenbare proses van ego-disintegrasie.

    Of neem ’n voorbeeld uit Charl-Pierre se gedig hierbo: ’n man wat staan en wieg onder water met ’n boek in sy hand, klaarblyklik lewend en nie verdrinkend nie. Soiets is onmoontlik in die alledaagse lewe, maar dit is nie onherkenbaar nie. Die leser kan maklik die toneel visualiseer en begryp as hy die gedig van die begin af gelees het.

    As mens na ’n ander kommunikasie-uiting kyk, ’n wiskundige formule, wil ek beweer dat mens nie daaruit poësie kan vervaardig nie. Vir my is dit nie herkenbaar nie. Eers as dit in taal omgesit word, herken ek dit en kan begin wonder of mens ’n gedig daaruit kan pers.

    xy = (1 – cos2pi thetay)/2

    Dit beteken iets soos: “Is die komplekse gedrag van a = 4 werklik ewekansig of net baie kompleks?” (“The cosmic blueprint” deur Paul Davies p 42)

    Maar ek dink, Helize, dat jy my stelling anders verstaan as wat ek bedoel. Hermetiese en duister poësie, et al, kan moeilik verstaanbaar wees (as dit heeltemal onverstaanbaar is, kan gevra word of dit werklik poësie is), maar sulke gedigte berus steeds op herkenbare begrippe, nie op byvoorbeeld ’n onverstaanbare wiskundige formule nie. Mens moet onderskeid tref tussen ’n gedig verstaan en of jy die boustene van die gedig (begrippe, emosies ens.) verstaan.

    Opsommend dus: ek beweer dat die boustene van alle gedigte herkenbaar en verstaanbaar is, maar dat gedigte soms moeilik verstaanbaar kan wees.

  3. Helize van Vuuren :

    Ek gee jou, aan die hand van “die wat in doderyk reeds rus”, volledig gelyk. Hier Goethe aan die einde van sy lewe (in gesprek met Eckermans):
    Ich habe in meiner Poesie nie affektiert. – Was ich nicht lebte und was mir nicht auf die Nägel brannte und zu schaffen machte, habe ich auch nicht gedichtet und ausgesprochen. Liebesgedichte habe ich nur gemacht, wenn ich liebte. Wie hätte ich nun Lieder des Hasses schreiben können ohne Haß!
    [Ek was in my verskuns nooit geaffekteerd nie.-Wat ek nie beleef het en wat my nie onder die naels gebrand en tot skepping aangevuur het, het ek nie verdig en uitgespreek nie. Liefdesgedigte het ek net gemaak wanneer ek liefgehad het. Hoe sou ek nou liedere van haat kon geskryf het sonder haat!]

    Dit seg hy in 1830, terugkykend op sy oeuvre wat strek oor sestig jaar. hy sterf in 1832.

  4. Helize van Vuuren :

    korreksie: “Hoe sou ek nou liedere van haat kon skryf, sonder haat”.

  5. Helize van Vuuren :

    en die Opperman-sitaat moet wees: “aan die wat in die doderyk reeds rus” gee ek gelyk.

  6. “Hoe (graag) sou ek nou liedere van die haat wou skryf, sonder haat.”

  7. helize van vuuren :

    Daniel, waaruit en van wié is die aanhaling?

  8. helize van vuuren :

    Goethe se hele stelling:
    (Van Wikipedia: Although often requested to write poems arousing nationalist passions, Goethe would always decline. In old age, he explained why this was so to Eckermann:)

    How could I write songs of hatred when I felt no hate? And, between ourselves, I never hated the French, although I thanked God when we were rid of them. How could I, to whom the only significant things are civilization [Kultur] and barbarism, hate a nation which is among the most cultivated in the world, and to which I owe a great part of my own culture? In any case this business of hatred between nations is a curious thing. You will always find it more powerful and barbarous on the lowest levels of civilization. But there exists a level at which it wholly disappears, and where one stands, so to speak, above the nations, and feels the weal or woe of a neighboring people as though it were one’s own.[68]

  9. Ja, ek sien my vertaling klop nie met die konteks nie. Jammer!